Sakelui sal aanhou help ten spyte van NGV-woede

DONDERDAG MET MERCY

Sakelui sal aanhou help ten spyte van NGV-woede

MERCY KANNEMEYER meng haar met die bloubloed-semels, WILLEM KEMPEN dink die Amerikaanse verkiesing gaan lelik raak, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 07 Maart 2024
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre!

1. Nikki Haley, voormalige goewerneur van Suid-Carolina wat die laaste oorblywende alternatief vir Donald Trump as Republikeinse presidensiële benoeming was, het haar veldtog gister opgeskort nadat sy op Super Tuesday slegs die deelstaat Vermont kon wen. 

2. Die ondertekening van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal nie afbreuk doen aan die sakesektor se verbintenis om die regering te ondersteun met dinge soos energievoorsiening en misdaadvoorkoming nie, het Martin Kingston, voorsitter van Business for South Africa (B4SA), gister gesê. Dit is ten spyte van sterk teenkanting teen die wetsontwerp onder sakelui.

3. Die polisie in die Wes-Kaap het bevestig dat 'n aantal verdagtes wat in verband met die verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith van Saldanhabaai ondervra is, in hegtenis geneem is en vandag in die landdroshof in Vredenburg sal verskyn. Beweringe word glo ondersoek dat 'n sangoma by haar verdwyning betrokke is.

4. Pres. Cyril Ramaphosa het John Hlophe en Nkola Motata amptelik van die regbank verwyder nadat die Nasionale Vergadering vroeër met die nodige meerderheid vir hul verwydering as regters gestem het. Albei het hulle aan growwe wangedrag skuldig gemaak.

5. Die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings het regsadvies aangehoor dat die koop-en-verkoop-ooreenkoms tussen die SAL en Takatso vertroulik moet bly totdat die transaksie afgehandel is, maar dat alle ander dokumente daaroor openbaar gemaak moet word.

6. Jerome Powell, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad, het in 'n voorlegging aan die Kongres gesê inflasie het aansienlik afgeneem sedert die 40-jaar-hoogtepunte van 2022, maar dat beleidmakers steeds “groter vertroue" in 'n voortgesette daling nodig het voordat uitleenkoerse verlaag kan word.

7. Ses mense is in New York in hegtenis geneem in verband met die onwettige invoer van gans- en eendderms uit China. Amerikaanse federale owerhede het gesê sommige van die items was versteek onder verpakte ratelslange of valslik as troeteldierprodukte gemerk, het AP berig.


Daar is 'n waarskuwing oor swaar donderbuie, hael en moontlike vloede in dele van Gauteng, Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en KwaZulu-Natal, asook 'n hoë brandgevaar in dele van Noordwes, Vrystaat en die Noord- en Oos-Kaap. Die meeste dele van die binneland kan buie en donderbuie verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 31°C • Johannesburg 29°C • Mahikeng 34°C • Mbombela 32°C • Kaapstad 24°C • Durban 30°C • Kimberley 36°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 34°C • Upington 36°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 28°C.


Willem Kempen | Trump v. Biden 2.0:
Nou gaan dit éérs lelik raak

Super Tuesday, ander jare een van die opwindendste dae op die Amerikaanse politieke kalender, was toe bietjie van 'n pap snoek. Omtrent geen verrassings nie, maar ons weet darem nou vir seker: Dis Trump teen Biden op 5 November. Tensy een of albei van hulle onkapabel raak, natuurlik.

Dalk help die ooms se gevorderde ouderdom dat al die lae houe nie so seer gaan maak nie, want 'n skoon geveg gaan dit beslis nie wees nie. Die peilings dui op 'n gelykop-stryd in 'n verdeelde Amerika vol onderlinge wantroue, en ons kan negatiewe veldtogte en persoonlike aanvalle van albei kante verwag. 'n Opname deur The New York Times wys dat tot 10% van Biden se ondersteuners in 2020 nou vir Trump gaan stem; onder destydse Trump-kiesers is Biden steeds nie 'n opsie nie. 

Daarom sê die gesoute Demokratiese strateeg James Carville dit gaan 'n “weird election" wees: “There's a saying that elections are about the future, but this is the only election I know that is about the past. It's pretty clear that right now we are losing the war on the past."

Ek self wil die verste wegbly van Trump se soort verlede, een waar 'n oppervlakkige, onnadenkende man sonder 'n greintjie ordentlikheid of 'n waardering vir demokratiese waardes dit regkry om goedgelowige mense aan die neus rond te lei net sodat hy sy sin kan kry. Hopelik dink die meeste Amerikaners in November ook so.


Image: ANGELA TUCK

Waar Kate regtig is, en ander dinge wat jy nie behoort te Google nie

Nou kyk, ek verstaan nie altyd hoekom ek bother met die Britse koningsgesin nie. Dalk is dit oor ek The Crown gekyk het

Die royals val nou omtrent uitmekaar. Harry en Megan is nog steeds ge-MegXit, Andrew hoort steeds agter tralies, Charles is siek en Camilla kort glo 'n bietjie tyd af. Terwyl dinge in die monargie aan ’t skerwe lê, het 'n klomp mense groot pret met die vraag “Waar is Kate Middleton?"

Sy is nou al weke lank uit die openbare oog, glo omdat sy vir abdominale chirurgie moes gaan. Kensington Palace het op 17 Januarie ’n verklaring met vier kort paragrawe daaroor uitgereik: Sy moet vir ’n operasie gaan, sy sal eers ná Paasfees weer op die been wees, hulle versoek dat haar privaatheid eerbiedig word, en vra om verskoning vir enige openbare verpligtinge wat sy sou misloop. Tien tot veertien dae  sou glo nodig wees om te herstel, maar dis nou al vyftig dae en geen oog is nog op Kate gelê nie. Sy is 'n oomblik lank in ’n kar saam met haar ma by Windsor-kasteel gesien, en toe ook nie weer nie.

Op sosiale media is druk oor haar “verdwyning" bespiegel. Waar is sy? Wat was die eintlike rede vir die operasie? Sommige mense op sosiale media het selfs gemeen Kate was vir ’n BBL (spaar jouself en moenie dit Google nie!). En in die lig van gerugte oor William se dwalende oog meen sommige skinderbekke dat Kate glad nie geopereer is nie, maar eintlik net haar huwelik probeer red.

Toe sy destyds op die openbare toneel verskyn het, het Kate op die oog af soos ’n vars bries tussen die verkrampte koninklikes gelyk. Sy’s warm en oop, en die soort openbare afsprake wat sy bygewoon het, het ons aan Diana herinner. Maar in The Crown het ons geleer dat Kate (en haar ma!) nogals verskeie strategiese moves gemaak het om in die koninklike familie te kon introu. Dit het gewerk, en Kate gaan Queen Consort wees wanneer Charles en Camilla nie meer daar is nie.

Daar is 'n groot klomp institusionele kennis in die Britse koninklike familie wat behoue moet bly, dink ek. Hulle kan dalk selfs eendag 'n oorlog help keer of iets, maar sál hulle? Hulle het mos geen politieke of uitvoerende gesag nie?

Dink jou in, al daardie kennis en invloed, maar jy mag niks daarmee doen behalwe in die publiek verskyn, liefdadigheidsorganisasies ondersteun en foto’s van jouself laat neem nie. Klink vir my geweldig vervelig, maar nou ja.

In elk geval: Beterskap aan Kate en Charles toegewens, met alle respek.


Franz Kafka

“Als Gregor Samsa eines Morgens aus unruhigen Träumen erwachte, fand er sich in seinem Bett zu einem ungeheueren Ungeziefer verwandelt.” – Franz Kafka

En toe ek wakker word het ek besef:
ek het my inseklyf oornag geërf.
Maar wat my lewensiklus aanbetref
is ek die metamorf wat saggies sterf.

- Mellet Moll

Van: Versindaba

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.