‘Afgryse’ oor vernietiging by hospitale in Gaza

WOENSDAG MET WILLEM

‘Afgryse’ oor vernietiging by hospitale in Gaza

WILLEM KEMPEN gee 'n kykie in 'n redaksionele gesprek by VWB, en wonder hoe die land se straatsmouse hulle produkte kies. Daar is ook weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 24 April 2024
  • Daagliks
  • 5 min om te lees

1. Palestynse owerhede sê honderde liggame is gevind in massagrafte by die Nasser-hospitaal in Khan Younis in Gaza nadat Israeliese troepe daar onttrek het. Van die slagoffers se hande was glo vasgebind. Die Israeliese regering het die bewerings as “ongegrond en sonder meriete" afgemaak en gesê dit is lyke wat herbegrawe is nadat Israeliese soldate vir tekens van gyselaars gesoek het tussen oorledenes wat vroeër reeds deur die Palestyne begrawe is. Volker Turk, die VN se hoof van menseregte, het die omvang van die vernietiging by mediese geriewe by Nasser en Al Shifa as “afgryslik" beskryf.

2. Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, sê Jacob Zuma word nie meer as 'n lid van die ANC beskou nie, hoewel die party hom nie amptelik geskors het nie.

3. Die ANC se verkiesingshoof, Mdumiseni Ntuli, het erken dat die regerende party in hulle voorbereiding vir die komende algemene verkiesing op die agtervoet betrap is. Onder meer het die ANC se verkiesingsplakkate laat opgedaag en is die gehalte daarvan swakker as dié van minstens die MK Party en die EFF, het News24 berig.

4. Capitec se aandeelprys het gister met byna 8% gestyg nadat die bank goeie finansiële resultate vir die boekjaar tot einde Februarie bekendgemaak het. Capitec beplan om vanjaar 20 nuwe takke in Suid-Afrika oop te maak en kyk ook na internasionale uitbreiding deur vir 'n Europese banklisensie aansoek te doen.

5. Die VSA is besig om 'n militêre hulppakket van $1 biljoen vir Oekraïne voor te berei, het twee ongeïdentifiseerde Amerikaanse amptenare aan Reuters gesê. Die pakket maak onder meer voorsiening vir die Stinger-lugafweerstelsel en ammunisie wat teen tenks gebruik kan word.

6. David Pecker het in die Stormy Daniels-strafsaak getuig hoe hy voor die 2016-verkiesing as uitgewer van die National Enquirer aan redakteurs 'n vertroulike opdrag gegee het om enige stories waarin Donald Trump se naam sou opduik, eers met hom te bespreek.

7. Anne Hidalgo, burgemeester van Parys, sê sy is vol vertroue dat die watergehalte in die Seine-rivier aan Olimpiese standaarde sal voldoen teen die tyd dat die Spele op 26 Julie begin. Die swem-marathon en die driekamp sal onder meer in die Seine beslis word.


Daar is steeds 'n waarskuwing vir toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou vir dele van die Noord-Kaap. Meeste dele van die binneland word vandag warm en sommige gebiede kan selfs baie warm weer verwag. Oggendmiskolle word in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, asook in die Noord- en Oos-Kaap verwag. Dit kan bewolk in  bogenoemde provinsies wees, asook in die Wes-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 32°C • Mbombela 28°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 28°C • Kimberley 31°C • Upington 35°C • Kaapstad 21°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 24°C • Durban 27°C.


Só baklei ons (soms) idees uit hier rond

Gister plaas een van ons op VWB se redaksionele WhatsApp-groep 'n boodskap oor Alan Winde wat onderneem het om oor die volgende vyf jaar nog 800 000 werksgeleenthede in die Wes-Kaap te skep. Met daaronder die kommentaar:

“Die DA se groot paternalistiese toon."

Volgende een:

“Hy's 'n verbasend onindrukwekkende orator. Ten minste is hy 'n harde werker, which cannot be said for a fuckload of our other parasites, including some DA whities."

Gevolg deur:

“I prefer my politicians to be great orators and to have a non-patronising tone. But I also quite like them to do shit, like govern and make sure the garbage trucks go out. Take a mosey through Joburg or Bloem or Durban to see what the right tone gets you… #justsaying"

En toe:

“Winde is 'n yster, Hill-Lewis ook. Jammer van Steenhuisen en Zille."

En:

“Jip. Steenhuisen en Zille gaan hulle kos in die verkiesing."

Maar:

“Ons was laas Maandag sonder water, en gister weer vir 'n paar uur. En Saterdag het ons vir 16 uur geen elektrisiteit gehad nie en dit was nie Eskom se skuld nie. Vullisverwydering het nie laas week in die suidelike skiereiland gebeur nie."

Gevolg deur:

“Nee wat ouens, julle kan maar kla oor julle probleme. Kom bly in die Oos-Kaap…"

En:

“As hulle môre vir Hill-Lewis en Pappas die top dogs in die DA maak, dan sal ek dit selfs oorweeg om 'n stemmetjie vir hulle uit te bring. Ek sien JP is ook in die topstrukture van die party. Bad sign."

Maar:

“Ten minste is JP 'n man van aksie. En nou gaan JP deur Ian Cameron ge-eclipse word."

En tog:

“Ek kies Ian bo JP... Hy't 'n hart vir die armstes."

En, ten slotte, ook 'n ietsie oor die Goudstad:

“Joburg. A world class city. Se fokken gat."

***

Nou weet julle...

– Saamgestel deur Willem Kempen



Shakespeare en die rotte van Harties

Daar kom 'n tyd dat mens dankbaar is vir een van daai smouse by die padkruisings by wie jy 'n koeldrank of iets te peusel kan koop terwyl jy wag dat die verkeersknoop homself ontstrengel of die polisie klaar opgeruim is aan die toneel waar iemand 'n halfuur tevore 'n transito-lorrie van sy vrag bevry het.

Ander kere weer kan ek nie help om te wonder hoe die smouse op hulle produkreekse besluit nie. Ek bedoel, hoe standhoudend kan die mark nou eintlik wees vir opblaas- Power Rangers of Spidermans of daai klippe waarmee sommige mense glo hulle hakskene skuur?

Lees die volle brief hier.


Twee diere is ek:
die een is 'n afshow-gat
'n regte clown
dis ek orraait
Die ander optel-gryse
is skugter
Dis ook ek
immer aan 't
koes koes koes
vir menslike aanraking

– Jeanne Goosen

Uit: Het jy geweet ek kan toor

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.