Orka-wraak, vervalste siekbriewe en steeds stygende werkloosheid

WOENSDAG MET WILLEM

Orka-wraak, vervalste siekbriewe en steeds stygende werkloosheid

WILLEM KEMPEN meen die president weet baie goed nasionale gesondheidsversekering sal nie gou in werking gestel kan word nie (en is ook vaagweg opgewonde dat hy nooit weer 'n mop sal hoef te koop nie). Soos gewoonlik is daar ook weer sewe goed om vandag te weet.

1. Die Ingenieursraad van Suid-Afrika was reeds sedert Desember verlede jaar besig met 'n ondersoek teen die ingenieur wat toesig gehou het oor die gebou wat in George ineengestort het, het News24 berig. Die raad het glo reeds in Februarie aanbeveel dat Atholl Mitchell aangekla word van oortredings van sy gedragskode.

2. Suid-Afrika se werkloosheidskoers het in die eerste kwartaal van vanjaar tot 33,9% gestyg. Werk is wel geskep in vervaardiging, landbou en mynbou, maar dit is oorskadu deur verliese in finansies, konstruksie en gemeenskaps- en maatskaplike dienste.

3. Moshe Koma van die EFF kan van bedrog aangekla word omdat hy na bewering sedert 2019 die meeste van die sittings van die Gautengse wetgewer “misgeloop" het. Koma is 'n lid van die wetgewer en die EFF se provinsiale sekretaris.

4. Sibanye-Stillwater, een van die land se grootste werkgewers in die privaat sektor, het 59 werknemers by sy Rustenburgse platinumbedrywighede afgedank nadat hulle skuldig bevind is dat hulle siekbriewe vervals het. Die maatskappy sê sulke oneerlikheid kan nie geduld word nie, maar die vakbond Amcu sê hul afdanking was onbillik.

5. Wanneer Donald Trump die integriteit aanval van regters wat sake teen hom aanhoor, reageer sy volgelinge dikwels deur te vra dat hulle aangerand, gemartel en selfs vermoor word, het Reuters in 'n spesiale ondersoek gevind. Toe Trump byvoorbeeld onlangs op Truth Social gesê het regter Juan Merchan bedryf 'n “kangaroo court”, het Trump-ondersteuners onder meer gesê “Treason is a hangable offense,” en 'n ander, “They should all be executed”.

6. Pres. Joe Biden het gister verhoogde tariewe op 'n reeks invoere uit China bekend gemaak. Dit sluit in batterye vir elektriese voertuie, rekenaarskyfies en mediese produkte. “American workers can outwork and outcompete anyone as long as the competition is fair, but for too long it hasn't been fair," het Biden gesê.

7. Wetenskaplikes vermoed daar was dalk 'n wraakmotief in ’n groep orkas se aanval Sondagoggend op ’n seiljag van 15 meter aan die Marokkaanse kus in die Straat van Gibraltar. Hulle het die seiljag gestamp en dit later laat sink in die jongste van 'n reeks sulke voorvalle die afgelope vier jaar in die omgewing, het Live Science berig. Een teorie is dat die leier van die groep, wat as White Gladis bekend staan, wraak neem vir 'n voorval waarin 'n boot teen haar vasgery of sy in vislyn of 'n net verstrengel geraak het.


Daar is weer 'n waarskuwing oor toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou vir dele van die Noord-Kaap waar dit ook baie warm kan word. Die hele land is vandag meestal deels bewolk tot bewolk met buie wat in Limpopo en Noordwes verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 23°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 25°C • Mbombela 25°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 24°C • Kimberley 26°C • Upington 31°C • Kaapstad 21°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 23°C • Durban 26°C.


Willem Kempen | Oorhaastig en alleen

Dis moeilik om aan 'n ander rede as die verkiesing te dink dat pres. Cyril Ramaphosa na verwagting vandag die Wet op Nasionale Gesondheidversekering (NGV) sal bekragtig.

Buite ANC-kringe dink omtrent niemand so 'n stelsel kan binnekort suksesvol in werking gestel word nie, in elk geval nie in sy huidige vorm nie. Dit gaan geld kos wat die staat nie het nie. Dit gaan die privaat mediese bedryf verder van die regering vervreem, die teenoorgestelde van wat nodig is. Dit kan lei tot 'n uittog van medici wat die land ten duurste opgelei het. Dit gaan sleg wees vir die ekonomie en vir sakevertroue.

Dit gaan heel moontlik toegang tot gesondheidsorg verder inperk, nie uitbrei nie. Dis daarom waarskynlik ongrondwetlik, en 'n hele rits organisasies staan gereed om dit in die konstitusionele hof te laat toets, insluitend die Health Funders Association, Business Unity SA (Busa), en die SA Health Professionals Collaboration (SAHPC). Dié organisasies en andere se besware en voorbehoude word eenvoudig geïgnoreer. Dis ondenkbaar dat 'n NGV-stelsel sonder dié soort organisasies se steun en hulp gemaak werk kan word. 

Die SAHPC sê in 'n verklaring: “Where we are now is unprecedented, and we believe that the NHI in its current form will reverse rather than progress equitable, quality healthcare in SA."

Die president weet goed dat 'n bekragtiging niks anders as 'n leë gebaar sal wees nie, want die oomblik dat hy die wet onderteken, sal die hofaansoeke begin instroom en kan implementering op die gouste eers oor maande of jare daarna begin gebeur.

Dalk is dít heimlik waarop die president ook hoop.

Wat van ’n Zuma vir jou vuil vloere?

'n Rukkie terug kry ek opdrag om 'n nuwe mop vir die huishouding te gaan aanskaf. Dis nie so 'n maklike taak soos dit dalk klink nie, want die voornemende koper van 'n mop, ook genoem 'n dweil of selfs meer onverwags 'n “poetsbesem", word met 'n wye verskeidenheid van style en ontwerpe en bowenal pryse begroet.

Maar ek is gelukkig ook geen gewone mop-koper nie, want ek ken danksy die fliek Joy die lewensverhaal van Joy Mangano, die New Yorkse huisvrou wat in 1990 die Miracle Mop ontwerp het en 'n hele sake-empire daarop gebou het.

Lees die volle brief hier.


Binnen

Vroeger had je natuur
al heette het niet zo
wij waren buiten
al zat dat bij ons binnen
ook de vriendjes zaten binnen
daarom kenden wij ze niet
ik was de jager, dan was jij
de indiaan van de jager.
De weilanden stroomden ons de ogen uit
mist was geen enkel probleem
wij zagen genoeg op zolder
kraanvogels namen ons mee
een vossenhol was snel getimmerd.
Was het jammer dat de klok begon te luiden
en binnen naar buiten joeg
alles natuur werd
om te bekijken
om te verlaten
om jou te ontmoeten
in dit moderne café?              

 - Robert Anker

Uit: Versindaba

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.