’n Banting-gebed en jumpstart sonder ’n broek

DONDERDAG MET CELESTE

’n Banting-gebed en jumpstart sonder ’n broek

Dates verloop nie altyd soos jy wil hê hulle moet nie, meen CELESTE THERON. Ook nie verkenningstogte in huise van kwartsiet wat al jare leegstaan nie. Plus sewe goed wat jy vandag wil weet.

AMERIKA, O AMERIKA | Dink mooi voor jy soontoe trek, waarsku Chris Pretorius.

Kliek hier om te lees


1. Solidariteit en AfriForum het in 'n ontmoeting in die Withuis met senior lede van pres. Donald Trump se regering gevra om Amerikaanse finansiering van 'n “gekonsentreerde" Afrikaner-nedersetting, “kulturele outonomie"  en “gemeenskapsinfrastruktuur" in Suid-Afrika, het News24 berig. Hulle het Trump ook gevra om verdere druk op die Suid-Afrikaanse regering uit te oefen rakende plaasmoorde, die Onteieningswet en die Bela-wet.

2. Tshifhiwa Matodzi, voormalige voorsitter van VBS Bank, het in die hof in Polokwane vir die eerste keer as staatsgetuie verskyn in die korrupsieverhoor van Avhashoni Tshifhango, destydse ANC-burgemeester van die Thulamela-munisipaliteit in Limpopo. Matodzi het getuig hoe hy gereël het dat Tshifhango 'n Jeep Grand Cherokee kry in ruil daarvoor dat die munisipaliteit R30 miljoen by VBS belê.

3. Verskeie vakbondleiers sowel as kenners van plaaslike regering het aan Business Day gesê premier Panyaza Lesufi se planne vir wetstoepassingsagentskappe van Gauteng se 11 munisipaliteite om “onder een vaandel te funksioneer" is onsinnig. Lesufi het in sy provinsiale rede gesê 'n ooreenkoms is onderteken wat onder meer sal beteken dat Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane se metropolisie nie meer aan geografiese grense of afsonderlike jurisdiksie onderworpe sou wees nie.

4. Die manskoshuis Wilgenhof se alumni-vereniging het litigasie teen die Universiteit Stellenbosch laat vaar nadat die twee partye 'n skikking buite die hof bereik het. Die vereniging het gister gesê 'n dooiepunt oor die naam van die koshuis is opgelos, wat die weg gebaan het vir die skikking.

5. Suid-Afrikaners wat 'n formele salaris verdien, kon in Januarie gemiddeld 16,3% meer van hul salaris huis toe neem vergeleke met 'n jaar tevore, blyk uit BankservAfrica se Take-home Pay Index (BTPI).

6. Pres. Volodymyr Zelenskyy sal Vrydag in Washington wees om 'n ooreenkoms oor Oekraïne se minerale in ruil vir Amerikaanse hulp te onderteken, het pres. Donald Trump ná sy eerste kabinetsvergadering gister in die Withuis beweer. Trump het ook gesê ons “sal ons geld [van Oekraïne] terugkry". Zelenskyy, wat tot dusver vasgeskop het teen so 'n ooreenkoms, het teen gisteraand nog nie Trump se aanspraak bevestig nie.

7. ’n Nuwe soektog het begin na tekens van Malaysia Airlines se vlug MH370, meer as ’n dekade nadat die vliegtuig in een van die lugvaart se grootste blywende raaisels vermis geraak het. Die eksplorasiemaatskappy Ocean Infinity het die soektog na die vliegtuig hervat, het die Maleisiese minister van vervoer, Anthony Loke, volgens The Guardian gesê.


Skoene vir ’n Stadskind

Liewe Leser

Ek is 'n uur laat vir ons eerste date. Twee Ubers het geweier om my op te tel, en die derde een het my by die verkeerde restaurant gaan aflaai. Ek dink ek het miskien vier ure lank geslaap. My platforms is goud gespraypaint en die groot pelsjas wat ek by my ouma geëerf het verdoesel die deursigtige nagrok wat ek die vorige aand gedra het na die Love Is Pain Valentynsbal by Villa Simone. Ek het heeltemal vergeet om skaflike klere in te pak vir die ontbyt-date die volgende oggend by Fresh Earth Café.

Hy sit op die stoep en wag vir my in die son met'n koppie tee, sy donker krulhare is netjies teruggekam – drink nie kafeïen nie. “Hierdie is 'n baie klein deel van wie ek is,” begin ek die gesprek. Hy skuif sy bril op sy neus reg: “Ek het reeds 'n security check op jou gerun, Carrie Bradshaw van Pretoria. You write about Seks in Snor City?” 

“In daai geval weet jy dat ek nie bestaan nie.” “Mr. Big,” hy steek sy hand uit oor die tafel en kyk vlugtig na my enorme goue skoene.

Ondanks die aardskuddende bewerasies van die vorige aand se paartie, drink ons vir agt ure tee. Binne daai agt ure verduidelik ek vir hom dat ek weer op pad is, elders, en sigeunerbloed deur my are bruis: I will run. Mr. Big se Instagram is Do Better, Be Better, ek lag myself lam toe ek dit in die kleedkamer van die restaurant lees. Okei, hy is 'n The Office fan. Prokureur. Hierdie gaan nie werk nie.

“Moet my nie probeer soen nie,” waarsku ek hom toe hy my gaan aflaai by my vriendin se huis waar ek my karligte die vorige nag aan vergeet het. “Sy hou ons dop op die kamera,” ek wys vir hom al die sekuriteitskameras wat haar huis omring. “Maak vir my die kleinhekkie oop,” text ek haar. “Ek wil nie hê hy moet sien hoe lyk my kar nie.” “Ek dra nie 'n broek nie, is dit okei?” text sy my terug. Alicia sluit die hek oop sonder 'n broek in haar boyfriend se hoody. Nadat hy gery het rol ons my kar uit haar parkeerarea. Sy jumpstart my kar sonder 'n broek.

Hy bel my die volgende oggend en oortuig my na twee ure om nie weg te hardloop nie. Ons tweede date stuur af op 'n ramp. Henk het nie die kinders kom oplaai nie – hy brand vas by die werk. Ek kanselleer ons bespreking by 'n Italiaanse restaurant. Mr. Big daag in elk geval by my huis op toe die kinders reeds slaap. Dis beurtkrag. Ek steek 'n paar kerse aan en maak 'n bottel wyn oop.

Ons gesels dwarsdeur die nag. Ek is so half dankbaar vir die sagte beligting. Hy drink net een glas wyn. Ek verduidelik vir hom dat ek nie slaap nie, ek lei aan PTSD. Hy vat my hand en stap saam met my deur die donker huis. “Jy is veilig.” Hy bespreek vir ons kaartjies vir die band, Cigarettes after Sex. “As jy weghardloop, sal ek kom kuier,” soen hy my op my wang toe ek vir hom die hek oopmaak. Hoe het ek hier beland? wonder ek terwyl ek my draftekkies aantrek, maar stem in tot 'n derde date.

“Moet nie te veel van my verwag nie,” laat weet ek hom op die derde date. “Sê die persoon met geen impulsbeheer nie.” Ouch. Mr. Big lees mense vir 'n lewe. Ek lees boeke. Dit verbaas my toe hy die boeke op my rak erken, en Normal People deur Salley Rooney al gelees het. A reader: Wat 'n groot verligting. Ook 'n drawwer. Ons besluit op radical transparency, wat-dit-ook-al beteken. Hy lag oor my kar, maar sal dit nie eers waag om in die nag te bestuur nie, vat nie kanse nie, en volg die-reëls-binne-die-reëls; so hy kan maar lekker lag.

Liewe leser, ek trek, dit is die werklikheid. Ek het 'n pos aanvaar in Wildernis, en nou is nie die geleë tyd vir 'n verhouding nie. Wild. In April begin ek werk as kunsdirekteur van 'n nuwe series vir KykNet wat in Wildernis afspeel, a love story. Die plot is prikkelend en die karakters is kompleks. Ek gaan in 'n woud bly. Waarvoor kan ek nóg vra?

Julle weet teen die tyd dat ek genoeg gehad het van Snor City en hoe seer my hart is oor Vrye Weekblad wat sluit. Saans gaan draf ek op die berg agter my huis om my gedagtes te orden – indien jy na die kwartsietrug bo hierdie breë vallei (wat as die Moot bekend staan) as 'n berg kan verwys. Deur die ondeurdringbare grasvlaktes ontdek ek twee jaar gelede 'n leë huis wat teen die berg geanker staan. Die huis is uit soliede klip gebou.

Daar is 'n skryfkamer met vreemde beelde – onder 'n hondekombers een wat lyk soos 'n pous uit die 13de eeu. Die vensters van die vertrek is uitgeslaan, of het nooit bestaan nie. Daar hang vinkneste van die plafon af. Op 'n nederige houttafeltjie staan kerse in 'n koperkandelaar. Verskeie soorte skulpe staan gerangskik in die oop vensterbanke. 'n Bed staan eenkant in die hoek langs 'n leë bottel Tassenberg. Ek snuffel al vir twee jaar deur die papiere en boeke in die huis en leer 'n geweldige intelligente man ken deur sy dagboeke en gedigte. Diep gelowig. In elke vertrek van die huis hang 'n namaaksel van 'n skildery van 'n storm wat bo rotse woed. Ek neem aan die man is dood, want die huis is al lank in die mark.

Verlede week draf ek weer deur die vlaktes toe ek sommer besluit om 'n draai by die verlate huis te gaan maak (ek was nog nie daar vanjaar nie). Groot is my en Paul Banting se verbasing toe hy my in sy skryfkamer aantref. Paul, roep ek uit. Sit eers dogter, hy trek vir my 'n stoel uit, en dring daarop aan dat ek die stoel kry met die beste uitsig oor die berg. Hy wys vir my om stil te bly, en neem diep asem. “Hoe het jy hier beland?” wil hy na 'n geruime tyd weet. “Jou hek staan al vir jare oop ... en jou huis,” sê ek so half-verdedigend. “Ek het 'n pad deur die berg na jou huis gevind.” “En hoe voel jy, wanneer jy hier staan?” “Ek voel die teenwoordigheid van die berg.” “Jy lewe nader aan God as meeste mense.” Ek sien nie kans om sy hart te breek nie, en bly maar liewer stil.

Paul kom kniel langs my stoel en neem my hande: “Mag sy in dié week nog 'n antwoord vind, liewe Vader.” Ek roer nie. Die wind het opgesteek. Hy beduie weer vir my om stil te bly. Dan gaan haal hy 'n boek en lees vir my van sy gedigte voor. Dit begin reën. “Ek het al meer as 'n 1 300 gedigte geskryf, waaroor gaan jou PhD?” vra hy skielik belangstellend. “Ek is al vir jare besig met my meesters, ek weet nie of ek by 'n PhD gaan uitkom nie.” “Jy kort net die regte leermeester, op watter aspek van jou geloof wil jy fokus?” “Nee, ek het kuns studeer...” “Ek sien. Mag ek vir jou iets wys?”

Ek haak by Paul se arm in toe ons die steil klip trappe van sy skryfkamer trotseer af na sy huis onder teen die berg. In elke vertrek hang 'n namaaksel van die stormagtige skildery teen 'n rots. Paul lei my na sy slaapkamer. “My ma was 'n kunstenaar,” beduie hy na die geskilderde doeke teen sy muur. Dan ruk hy 'n kombers af van 'n klein oliedoek in 'n swaar donker gekrulde raam. Dis die oorspronklike werk waarvan die namaaksels in elke vertrek van sy huis hang. Ek beskou die werk van nader. Dis geskilder op hout. “Kan jy die kunstenaar erken?” vra hy statig. “Dit herinner my aan Rembrandt,” gee ek toe, maar daar is geen naam op die skildery nie. “Voel,” dring hy aan. “Jy kan tog sien dis op hout geskilder. Hierdie is geskilder deur Rembrandt se leermeester.” Dit reën al harder.

“Paul, ek groet, ek moet my pad terug vind oor die berg in hierdie reën.” Ons ruil nommers uit en neem 'n selfie in sy slaapkamer. Terwyl ek terugdraf dink ek aan Paul Banting se gebed. Ek dink aan die security checks wat ons op mense run en die gut gevoel waarmee ek meeste van die tyd hardloop: Hoeveel pare skoene, kan 'n mens gemaklik dra? Vir 'n oomblik voel dit of ek en Paul skoene verruil in hierdie vlaktes. Ek gooi my goue platforms in die asblik toe ek by die huis kom. Wat Mr. Big aanbetref, wie weet of hy bereid sal wees om my te volg oor die berg waar ek van die wêreld wil vergeet.

Liefde-van-wie-weet-waar

Celeste


Baseline

My mother’s heartbeat
the first time I heard a baseline.
Her womb, the first room I danced in.
How did it go again?
Kick cloud-soft twirl
stretch
dark gulf
neon on my clay brain.
Kick . . . Then
the melody drops& her vocals come in.

[VERSE 1]

There will be strife,
burnt days, a God
besides me
sex & crueler colours
than the abyss
but there will be this.

– Caleb Femi


Orde! Orde!

Jan Horn het die afgelope week verwys na 'n aanhaling uit dié skrywer se nuutste boek: “To survive and flourish, every human information network needs two things, simultaneously discover truth and create order." Sy naam het altesame 15 letters.

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.