Liefste vriende
’n Mens rou oor ’n mens of ’n dier, maar jy kan ook rou oor ’n werk of ’n plek. Of ’n koerant. Ek is rou oor die verlies, binnekort, van die werk van my lewe. Hierdie keer spring ek nie tussen haltes van die bus af nie. Ek bly in my sitplek tot in die terminus, tot by die laaste stilhouplek. Ons sien die maand van Maart uit. Maar ek is rou, ek rou.
Ek vermy afskeide. Ek het onlangs in ’n boek gelees dat mense altesaam twee jaar van hulle lewe bestee aan groet ná partytjies. Nie ek nie, hoor. Ek het gemaak of ek badkamer toe gaan en stilweg by die deur uitgeglip – toe dit nog moontlik was om stil te vertrek: Nou moet jy die gasheer vra om die Trellidor oop te sluit en die elektroniese hek vir jou oop te maak, jy moet die drie mense wat jou vas parkeer het, vra om hulle motors te skuif.
Kerneels Breytenbach het my weer herinner aan C.S. Lewis se essays in A Grief Observed, oor sy rouproses by die dood van sy vrou. Jy kan hulle besonderse liefdesverhaal lees in Surprised by Joy.
Daar was nog min mense op aarde wat gevoelens en gewaarwordings so glashelder en eenvoudig kan uitdruk soos Lewis. Byvoorbeeld, en ek vertaal sommer:
Niemand het my ooit vertel dat droefheid soos vrees voel nie. Ek is nie bang nie, maar die sensasie is soos om vreesbevange te wees. Dieselfde onsekerheid in die maag, dieselfde rusteloosheid, die gegaap, ek hou aan sluk.
By tye voel dit of ek dronkerig is, of harsingskudding het. Daar is ’n soort onsigbare kombers tussen my en die wêreld.
Hy verduidelik ook dat droefheid ’n mens lui maak. Alles is moeilik, lees en skryf amper onmoontlik. Hoekom moet hy skeer?
Ek is dáár en ek is dankbaar iemand met soveel helder denke het vooruit gestap en die roete gekarteer. Ek lê in die nag wakker en dink oor wat ek moet skryf. Hoe kan ’n mens skryf as jou innerlike landskap klein en swart is, soos ’n afgebrande veld? Ek loer in die donker op my selfoon na foto's van Tafelberg wat brand.
Mense herinner ’n mens graag daaraan dat elke donker wolk ’n silwer randjie het, dat, wanneer ’n deur toegaan, ’n venster oopgaan en dies meer. Uit die swartste modder kom die witste lelie. Verleentheid word geleentheid. Uit met die oue, in met die nuwe. Hou die blink kant bo.
Nie almal kan dit so treffend verwoord soos kunstenaar Henk Serfontein nie:
Houtskool is verbrande hout. Daar is vir my iets hoopvol opgesluit in die tekenproses, wanneer jy uit as, rook en verbrande hout ’n beeld kan skep.
Daar is ook spesiale mense wat jou net laat weet: Ek kan dink hoe swaar jy kry. My oudste vriendin stuur ’n ode wat sy geskryf het vir haar oorlede hond. Sy wil nie dat ek dit hier aanhaal nie, maar ek steel ’n reël of twee:
Ek mis jou so my hond Thuli, Trioeltjie, Kielie, my hond,
Ek mis jou so.
Ek onthou Kleinboer het in een boek geskryf hoedat hy die aand toe sy hond dood is, na 'n konsertina-vastrap geluister het, want vir so 'n hond moet 'n mens Boeremusiek speel.
Rou en droefheid se skadu is selfbejammering, net ’n halftreetjie agter. Lewis het homself daarteen gewaarsku:
Met ’n terugslag beleef ’n mens trane en patos. Sentimentele trane. Ek verkies amper die oomblikke van pyn. Dis ten minste suiwer en eerlik. Maar die bad van selfbejammering, die rondrol, die laakbare sakkariensoet plesier om jouself daarin te verloor – dit walg my.
Soms wonder ek hoe veerkragtig is die menslike gees werklik? Kan die hart vir ewig bly terugbons, of kom daar ’n dag dat die vere gedaan is, soos ’n ou matras? Uitgebons, net nie meer elasties nie.
Hou droefgeestigheid van geselskap? Ek weet nie. Dis vir my geen troos dat ek nie alleen in hierdie bootjie is nie, dat baie joernaliste in ons land en baie mense in Amerika oornag werkloos is. ’n Doellose skare.
Nog ’n Lewis-aanhaling laat my droef glimlag:
Hulle sê ’n ongelukkige man het behoefte aan afleidings – iets om hom uit homself te lig. Maar, dis soos ’n beenmoë man wat ’n ekstra kombers nodig het op ’n koue nag en eerder sal lê en bibber as om op te staan en een te gaan haal. Dis maklik om te sien waarom eensame mense slordig word en uiteindelik vuil en walglik.
Nog ’n snars uit my vriendin se ode:
Thuli Spaghetti Sneeuwitjie Roodt, jou doopname.
Ek mis jou so my hond.
Ek mis jou reeds, my koerant. Ek mis jou so.
Groete
Deborah
Ons Boeke- en Agterblad-aanbiedings
Ons probeer die blink kant bo hou in die laaste maand van ons bestaan. Soos altyd is daar heelwat wenke vir 'n voller, meer betekenisvolle lewe in ons laaste twee afdelings. Moenie ophou lees voor die einde van die koerant nie.
In onseker dae vind ek my toevlug in spanningsverhale en sielkundige rillers. Ander mense se angs en ellende laat my vir 'n wyle vergeet van my eie omstandighede. Boeke was nog altyd my ontsnaproete. Ek vertel jou van Rudie van Rensburg se nuwe misdaadroman, Leeumens, van Pieter Henning se debuut, Mamba, en van 'n klassieke huishoudelike noir wat my uit die slaap gehou en nagmerries gegee het.
Fomolistas Laureen Rossouw en Anneliese Burgess skryf onder meer oor mikroblare, miso en Japannese TV. Tilda Swindon en ander is ook op hulle radar. Laureen vra haar vrae aan akteur Carel Nel wat getroud is met Cintaine Schutte. In die laaste woord krap ek kop oor tyd en taal. Jy weet jy wil in die agterblad verdwaal.
Ag wat, dis maar ’n hond
Met modderpote, Ha-ga-ga!
Trap hy die voordeur oop –
Trap hy twee rytjies blommetjies
Sovér as wat hy loop.
En lag-lag loop hy, Ha-ga-ga!
Deur voorhuis en kombuis:
Geen plek is vir hom heilig nie –
Geen hoekie in die huis.
En wil hy lê, hy flop hom neer
Op blink-gevryfde vloer –
Op sneeuwit matjie, duur tapyt,
Of waar sy sin hom voer.
Daar lê hy, lag hy Ha-ga-ga!
En skud sy stof daar uit,
En werk sy modder stadig los,
En vas op die tapyt.
En “Buite Jakhals" sê sy nooi,
En “Ha-ga-ga!" sê hy,
En kyk haar lag-lag, vriendlik aan,
En stap bedaard opsy;
En dink dit was 'n groot kordaat
Om in die huis te lê,
En spore vir sy nooi te trap,
En “Ha-ga-ga!" te sê.
Maar “Buite Jakhals!" Uit moet hy –
En voel so skaam en skroom,
Dat hy die arme kat bevlieg:
En dié bevlieg die boom.
Die “Ha-ga-ga" word “Boe-woe-woef";
Hy sukkel om te klim,
En krap die boom se bas en brom:
“Die kat die was te slim."
Hy speel met hoender, vark, en kalf,
Tot hul die doodsangs kry:
En al hoe naarder hulle word,
Hoe vroliker word hy.
Tot ek my naderhand vererg,
En ernstig “Jakhals!" skree;
Dan kom hy kruip-kruip, smekend aan,
Ootmoedig en gedwee.
Hy weet hy het die peits verdien,
En weet hy sal dit kry:
Maar vlug? O nee! “My baas die roep
Ek kom al straf hy my."
En buk-buk, sleep-sleep, kom hy aan,
Met stemloos smeekgebed:
Maar is hy stom, – sy houding spreek
Hoe 'n diep berou hy het.
En is die laaste raps geval,
Dan is hy, ag! so bly:
Hy spring en dans van dankbaarheid –
Die pak die is verby.
Hy kom my smorens handjie gee –
Die beste wat hy het:
“Twee growwe pote," sê sy nooi:
“Kyk nou hoe lyk die bed!"
Dan stap hy naar die nooi se kant,
En “Ha-ga-ga!" lag hy;
En kyk haar so vertrouelik aan,
En eindlik glimlag sy.
So maak hy ons díe lewe lig;
Hy's altyd klaar vir speel –
Nooit nuk'rig of neerslagtig nie –
Sy plig is nooit te veel.
Maar is dit ék wat treurig is,
Hy voel en deel my smart:
'n Natte neusie in my hand
Bring troos uit hondehart.
Geen smaad vervreem sy vriendskap nie,
Geen onreg deer sy trou –
Mishandling, honger, vloek, en skop,
Laat hom sy diens nooit rou.
Hy neem die slegte wat hy kry,
En is daar dankbaar voor:
Hy gee die beste wat hy het,
En dink daar nooit weer oor.
O spraakloos, sielloos, reedloos dier!
Waar is 'n mens soos jy?
O ongeloonde lewensslaaf!
Waar's so 'n vriend te kry?
Jou lus is in jou baas se lief –
In sy verdriet jou leed;
Sy nuk en gril – jou wet en wil,
Wyl jy jouself vergeet.
En is jou troue diens verby
Met laaste lewensstond,
Dan gooi jou baas jou uit sy pad –
Wat is 'n dooie hond?
Maar is dit hy wat eerste gaan,
Dan lê jy op sy graf,
En pas sy rusplaas op, en wag
Vergeefs 'n weersiens af.
– C.J. Langenhoven
Totsiens, Бори́с Спа́сский
Dié grootmeester is vandeesweek oorlede, maar sal ongelukkig deur meer mense onthou word vir die wedstryde wat hy verloor het, veral een van hulle.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.