- 28 Februarie 2025
- Vrye Denker
- 7 min om te lees
- artikel 5 van 28
-
C. Louise KortenhovenKampvegter
TREK tog die sneller, Meneer, en skiet my met jou snertgeweer!
Of soos die uwe, uitdagend en met lendene omgord, in die outobiografiese meesterwerk Allereinde van die Swerfjare van C. Louise Kortenhoven verklaar:
“Hoe ruik so 'n stad na kaas en vis ..."
As jy gereeld snags soos Periandros die Karwag met jou glimfrokkie en fladderende voorvel langs die snelweg talm in die hoopvolle verwagting dat die spookbeeld van Corrie Goosen op sy motorfiets nogmaals gaan verbyblits en sigself oomblikke daarna teen 'n mosbedekte rotswand te pletter jaag, kan jy tog nie verbaas wees as die Voorhangsel van die Heilige van die Allerheiligste saggies oor daardie Skaamtelose Lippe neerdaal in 'n selflubriserende daad van klimaktiese oorgawe nie.
Toe nou liggie, jy moet brand
'n ou man nog 'n entjie oor 'n groot en donker land
lei na die see ... die see wat ewig en sonder rus
sal breek en breek en reinig aan die klipperige kus.
O, jy en jou klipperige kus!
Corrie!
Skorrie!
Morrie!
Ferdi!
Calla!
Staal!
Lafras!
Joe!
Lothar!
Magnus!
Ai, as die burgers maar net wou saamwerk, nè.
Net soos die mis oor die klipperige kus wegwaai om plek te maak vir 'n sonnige soen; net soos die rokerige newels agter in die grot gaandeweg die bedekte voete van die toekomstige Psalmdigter blootlê, net só tokkel hy liggies aan die styfgespande snare van sy siter en sing:
O Bat-se-ba,
jy's in die bad
Ek kyk vir jou,
jou lyf is nat!
Maar Grote Griet,
ek vrees jou lied,
hier kom U-ri-ja die Hittiet!
Maar ek dwaal af. Ek is eintlik gevra om vandag terug te blik na die beskeie bydraes wat ek en gerespekteerde kollegas soos die gevatte dr. Coenie Lingus oor die jare tot die repertoria van hierdie altyd vrye maar helaas te dikwels gratis weeklikse blaaie mog lewer. Dr. Coenie het op sy beurt by ander fakulteite gaan kers opsteek vir hul menings oor wanneer ons akademiese skalpel die suiwerste deur die geraas van 'n pre-intellektuele geprewel gekloof het.
Dit blyk dat daar alom diep waardering is vir 'n studie wat steeds die rekord hou vir die werk wat die meeste aangehaal word in die toonaangewende vaktydskrif Irrelevantium, by name ons trans-dissiplinêre poging om die historiese materialisme van die Duitse denktator Karl Marx te versoen met die Stoïsynse idealisme van die Liverpoedliaanse minnesanger en digter John Lennon. Die resultante ideologie staan steeds as Marxisme-Lennonisme bekend, en die aanhangers daarvan maak in entoesiasme op vir wat hulle soms in getalle ontbreek. Die sentrale tema hier is dat liefde al is wat nodig is, maar dat elke individu daardie liefde volgens vermoë gee en volgens behoefte ontvang.
Sela! Hosanna! Vat so! Balke toe!
Ons had natuurlik ook ons mislukkings. So byvoorbeeld kon die onblusbare ideaal om die Wes-Kaapse drang na selfbeskikking aan die hand van 'n Bophuthatswanese kartograferingsmodel onder die vaandel van die “Republiek van Joumasepoetamia" tot wasdom te bring nie die diepe verdeeldheid oorbrug wat veroorsaak is toe dit blyk dat demografiese sleutelpunte soos N1 City en die Checkers Hyper in Brackenfell aan soveel as drie afsonderlike staatkundige bedelings onderworpe sou wees nie.
Daar was ook oor die jare verskeie sinryke en konstruktiewe interaksies met hierdie publikasie se lesers wat dikwels tot die beduidende verdieping van die bestaande feitepoel gelei het. Ek dink aan mense soos Gert van Rooyen, Marie Wright (wat sedertdien nomenklatories ontwikkel het) en die skryfster Marita van der Vyver, wat by geleentheid beswaar gemaak het teen my suggestie dat tradisionele feminisme oormatige klem op vroueregte lê. Ons kon daarna saam berusting vind in my insig dat 'n meer progressiewe soort feminisme ons toerus om byvoorbeeld te verstaan dat 'n ryk, wit, bevoorregte Engelse “vrou" soos die Harry Potter-pleger J.K. Rowling nie oor dieselfde binêre kam geskeer kan word (by wyse van spreke) as ’n transgender menstruerende Moslem-persoon wat per lekkende boot na Brittanje probeer vlug sonder dat Nigel Farage hulle met sy verkyker van iewers op ’n kaai bespeur nie.
So krities belangrik soos ek nog altyd die akademiese gestalt vir my verstaan van die werklikheid gevind het, net so belangrik is dit om blootstelling te behou aan regte mense wat in die drukgange van hierdie droewe land voortstu in die stryd om ware maatskaplike geregtigheid. Dit is dan ook waarom ek my goeie vriend Carl in my heel eerste skrywe vir Vrye Weekblad aan lesers bekendgestel het in die epogmakende vertelling “Situasie kritiek: Whisky Mikes op ons twaalfuur!"
Ek beskryf daar hoe Carl daardie aand uit sy rooi-en-swart Ford Cortina XR6 Interceptor geklim het – nes die een wat André Stander gehad het – met die pers neonligte van die Adult World op die grondverdieping van my woonstelgebou in Jan Smutslaan wat die wit strepies op sy snow camo in die wintersnag laat weerkaats dat dit lyk of hy van lewelose gloeiwurms oortrek is.
“O koud is die windjie en skraal,” het hy sy helfte van die wagwoord gefluister.
“En blink in die dof-lig en kaal, Carl,” het ek geantwoord.
Nou moet ek bieg dat my en Carl se hegte verhouding van daardie tyd bepaald verstram het sedert hy sy politieke affiliasies weg van die militaristiese tradisie en nader aan dié van die anargo-sindikalistiese vakbondwese verskuif het. Min bly deesdae oor van die heroïese Carl wat daardie aand in De Smettelose Boerin in Kyiv die droeftoeter kon blaas en voor almal opstaan en waarsku:
“Wee jou, Dompelvolk van die Swart See, wee jou! Want as in Sodom en Gomorra die kragtige dade plaasgevind het wat in júlle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as bekeer het.”
Soos ek Carl se uitbarsting daardie aand verduidelik het aan Jan Hond, ons gasheer en eienaar van De Smettelose Boerin:
“Carl was in sy vorige lewe ’n dominee, en soms verrys daardie dier in hom weer uit die gruisbeklipperde diepste van sy wese sodat hy sy pluimsaad laat waai tot selfs oor die verste kim, soos ’n bronstige varkbeer wat in die aangesig van die slagpaal se laaste stasie die onkeerbare drang het om weer en weer en weer te penetreer.”
Dalk sou Jan vir Carl beter verstaan het as hy by was op daardie ander ysige wintersnag in Johannesburg toe ons as 'n span die einde van Die Opstand van Julie 2021 gevier het. Dit was ek, Carl, Carl se vriend Kebby, Kebby se vriend Ace, Ace se vriend Dali, en Dali se vriende Dudu-wat-’n-hy-is en Dudu-wat-’n-sy-is. Dan sou Jan gesien het hoe 'n onverskrokke Carl die onverwagse klop aan die deur begroet met die onsterflike woorde:
“Die winter in Praag is besonder fel vanjaar.”
Had ons maar geweet hoeveel feller daardie winter sou word.
Maar dan weer herinner ek my dat Carl en dr. Coenie óók nooit om dieselfde koue vuur gesit het nie. Laasgenoemde het trouens in persoonlike gesprekke dikwels die mening verkondig dat Carl se volgehoue en entoesiastiese orale verkenning van 'n spesifieke dwarsgestreepte kringspier van die toenmalige staatshoof die uitsluitlike verklaring was vir sy uitermatig suksesvolle opgang in die gastro-intestinale kanaal van die man wat tevore ietwat ironies as Number One bekend gestaan het.
Daardie opgang is natuurlik nie net later gestuit en omgekeer nie, maar het 'n eksponensiële terugwaartse versnelling ondergaan voordat dit in 'n klonterige massa walgwater in Liebenberg die Lieplapper se Kaapse jacuzzi geprojekteer is.
Kyk hoe bars die borrels, Louis!
Ek voel hier aan my lies
'n Lieberlike, nat gestoei
oor my anale maagdevlies
Natuurlik geskied hierdie soort historiese vliesverlies nie altyd op plekke waar die res van ons daarvan kan uitvind nie. Sal ons ooit weet wie in ons geledere al 'n kans gehad het om hul sfinkter te laat sag word in die borrelbaddens van Mar-a-Lago, Washington, Tel Aviv of Moskou? As 'n Groot Wrede Wolf jou nooi om in sy bad te kom week, maak dit saak of jy in 'n strooihuisen, 'n houthuisen of 'n steenhuisen bly?
Is het ons Ernst
daar in Trump se borrelbad?
(of is dit 'n Jaco-zzi?)
Speel Kallie met Melania,
of spog hy met Orania?
Dirk gooi 'n dubbel vir Flip
En Flip gooi 'n dubbel vir Dirk
Hier kom ou Donald met sy drietandvurk
Dis die blonde,
dis die blow
dis die veld,
dis die lug
Emirates se Boeing draai bo in eensame vlug
dis al
Hier sit die manne, hier sit die manne
Ja, hier sit die manne in die borrelbad
Ons ken mos vir Elon ons is Elon se pel
Ons vat hom in die krop
En ons vat hom op die ken
Let's all work to Make Azania Great Agên!
Immer voorwaarts in die stryd
– C. (Crescentia) Louise Kortenhoven
Dwarskersbos Sur la Mer, Februarie 2025
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.