As jou nuwe job ’n sarsie goëlballe afstuur

VREUGDES VAN WERKSOEK

As jou nuwe job ’n sarsie goëlballe afstuur

ALI VAN WYK sê dat hy gelukkig was in sy lewe dat hy omtrent nooit werk hoef te gaan soek het nie. Maar om ’n nuwe werk te vat was wel elke keer ’n verandering met ’n diep impak. Hy onthou een spesifieke avontuur met deernis.

ANGELA TUCK
ANGELA TUCK

JOB soek. Miskien omdat ek gelukkig genoeg was om ’n wit man te wees hoef ek dit nog nooit juis met mening te gedoen het nie.

Oukei, goed, daar was al 'n keer dat ek deur die geklassifiseerde bladsye van koerante se “Loopbane”-bylae moes blaai en ’n paar aansoeke met ’n curriculum vitae en al moes indien, en deur ’n hele gros rampspoedige “waar-sien-jy-jouself-in-vyf-jaar?” onderhoude moes sit, met zero sukses. Nada. Skynbaar is “Marble Hall” nie ’n weldeurdagte antwoord op so 'n vraag nie.


Read this article in English


As daar iets soos die noodlot is het dit my goed behandel deur die jare. Die volgende hoofstuk in my werkslewe het altyd betyds en sonder moeite opgedaag. ’n Gesprek by ’n partytjie, ’n nuwe kennis by ’n vrywillige feeskoerant, ’n ou vriend by ’n aangeklamde lunch. Dis hoe hierdie goed gewerk het.

Die drukmedia het destyds nog op al sy silinders aangeskoffel en die uitsaaiwese se partytjievure het hoog gebrand op kraaknuwe randnote uit die staatskas. Die wêreld was eenvoudiger. Almal wat ’n kwalifikasie gehad het in die bedryf het ’n werk gehad. Selfs ’n paar wat nie kwalifikasies gehad het nie. Selfs ’n paar wat nie talent gehad het nie. Ja, so was dit.

Aan die begin, voor die eeu se draai, was ek so drie jaar lank ’n radioverslaggewer by die SAUK in Johannesburg. Dit was ’n lekker job. Ek het ’n Toyota Corolla tot my beskikking gehad, ’n bodemlose tenk brandstof, en ek moes elke dag iewers in Gauteng ’n storie gaan dek met ’n Marantz-kassetopnemer oor my skouer gehaak. Vragmotorbestuurderstakings. Onwettige myners in mynongelukke. Kontant-in-transitorowe. Die Waarheid-en versoeningkommissie se amnestieverhore – weke en maande lank. Verkiesings. Tussenverkiesings. Besettings van woonstelblokke deur Nigeriese dwelmbase en prostitute in Hillbrow.

Dit was lekker tye. My goeie pel Chris Burgess wat saam met my joernalistiek geswot het, het ook by die SAUK gewerk en ons het ’n huis gedeel. Snags het ons Johannesburg se wye en veelsydige naglewe verken. Die Radium Beer Hall en Club 206 in Louis Bothalaan, Tandoor en diverse ander gate in Rockeystraat. Soms, net vir kicks, clubs in Hillbrow wat seer sekerlik onverantwoordelik was om te besoek, Bohemia in Auckland Park, die Abelarde Sanction in Brixton, Xai Xai in Melville, hotelle met regte egte Hells Angels in Roodepoort en Krugersdorp en Catz Pajamas vir pizzas ná 03:00 tot die son opkom.     

Avontuur roep

Iewers langs die pad het Chris Johannesburg verlaat om terug te keer na die familieplaas in die Oos-Kaap (vae gerugte van “’n boek skryf”) en ek het onrustig geraak by die SAUK. Ja, die job was lekker maar ek wou meer doen, ek wou dokumentêre films maak. Die amptenare by die korporasie se departement van menslike hulpbronne het egter gereken ek is aangestel as ’n radioverslaggewer en basta.

Ek het ook meer geld nodig gehad. Ná drie jaar in die grootmenswêreld wil jy aanskuif van jou 1980 Passat stasiewa-studente-skedonk.

Een dag lui die foon op my lessenaar in die ondergrondse bunker in Auckland Park. Dit was Chris. Hy was in Durban. Hy’s aangestel as die redakteur van Farmer’s Weekly. Hy was bloedjonk vir ’n redakteur, net 29. Met sy plaasagtergrond en gladde bek het hy hom in die job in gepraat. Waar sien jy jouself oor vyf jaar? By Farmer’s Weekly, natuurlik!

Maar Farmer’s Weekly, die oudste tydskrif in die land, was op sy laaste bene. Die sirkulasie per week was onder 10 000 en die tydskrif was in alle opsigte 25 jaar agter die kurwe van wat in die res van die tydskrifwese aangegaan het. Trouens, dit was muf, onthou ek Chris se woorde nog goed.

Moenie Farmer’s Weekly met Naspers/Media24 se Afrikaanse Landbouweekblad verwar nie – dit is ’n ander titel. Farmer’s Weekly is as ’n landboujoernaal begin deur die eerse Engelse dagblad in Suid-Afrika, The Friend, in Bloemfontein. Dit was ’n trotse ou tyskrif met ’n gesonde sirkulasie in die 1950’s en 1960’s. Maar boere het al minder geword, veral Engelse boere, en die nuwe swart opkomende boere was nog nie naastenby genoeg om ’n nuwe Engelse leserskap op te bou nie. Terselfdertyd het die begroting gekrimp, daar is nie belê in nuwe talent op die redaksie nie, en so aan.   

Hospitaal-aangee? Laat dit kom

Chris het met verskeie meer ervare joernaliste en redakteurs in die bedryf gepraat oor dié werk. Hulle het hom almal afgeraai. Ek onthou die woorde “hospital pass” nog goed. Wel, teen die tyd wat hy my gebel het was hy al twee maande lank aangestel en aan die werk in die redaksionele kantoor in Mobeni in Durban. “Jy moet kom. Jy moet kom help, ek kan dit nie alleen doen nie.” Ek kon hoor hy was nie dik van die lag nie.

“Ek weet fokkol van landbou af. Ek ken net die verskil tussen ’n Fries en ’n Jersey op looks,” sê ek, “en dit is dit!” Ek het dit eintlik meer vir myself as vir hom gesê want op daardie stadium het ek bittermin aanmoediging nodig gehad om ’n bedankingsbriefie te skryf net ter wille van ’n halfgebakte avontuur.

“Ek sal oor die landbou worry, jy doen die res,” was sy oplossing.

En so het dit gekom dat ek ’n paar weke later, op ’n oortrokke Maandagoggend, omtrent 10:30, by die kantore van Republikeinse Pers in Mobeni se industriële gebied in Durban opgedaag het.

Wel, laat ek ’n paar aspekte duideliker maak. Die woorde “industriële gebied” dra daarmee saam ’n suggestie van orde en doeltreffendheid. Nie Mobeni nie. Eiendomsagente sou fabriekseenhede in Mobeni kon bemark as “post-apocalyptic chic”. Soos in baie dele van die afgeleefde humiede subtropiese KZN-kusgebied kry ’n mens die idee dat die beskawing (verwysend na beton, teer en heinings), so ’n jaar of ses gelede al die stryd teen die natuur verloor het.

Graspolle bars plek-plek deur teerpaaie, verflenterde draadheinings is nog net suggesties van grense, die slaggate lê so dig dat net dronk mense hier reguit ry en die onderskeid tussen pad, sypaadjie en onkruidbedding is lankal iets van die verlede.

Binne in die vesting

Toe ek my bestemming uiteindelik met die hulp van ’n Durban-kaartboek opspoor, het ek eers twee of drie keer stadig verby gery, in totale ontkenning. Dit kón tog sekerlik nie die kantoor van ’n nasionale tydskrifmaatskappy wees nie? Ek meen, dit was veronderstel om die tuiste te wees van gerespekteerde titels soos Garden & Home, Country Life, Your Family, Living and Loving, People, Bona, en so aan.

Wat ek gesien het was ’n afgeleefde fabriek, sekerlik uit die 1940’s, met ’n tweeverdieping-rooibaksteen-kantoorgebou aan die voorkant, en agter, die tipiese saagtand-fabrieksdak met die rye venstertjies om natuurlike lig deur te laat. Elke element daarvan was verwaarloos en selfs vervalle.

Die vensters aan die voorkant van die gebou was so lanklaas gewas en taai van die Durban-humiditeit dat jy net hier en daar die ou gebreekte hortjiesluike deur dit kon sien.

Omtrent vier motors was op die oorblywende flertse teer in die parkeerterrein geparkeer en dat een van hulle Chris se ou Isuzu 250KB-dieselbakkie was, het my vrees bevestig. Ek was nog nooit ’n persoon vir die soort glanslewe wat uitgebeeld word in glanstydskrifte nie, en dit was weereens vir my duidelik dat ek nie in die nabye toekoms die kans gestaan het om daardeur verswelg te word nie.

Die laaste beeld in my kop voor ek my nuwe lewe soos ’n man in die gesig gaan staar het was ’n baie vuil Suid-Afrikaanse vlag wat pap en in toiings gehang het aan ’n geroeste paal.

Ná ’n gestoei met die gebreekte dubbel-aluminiumdeur van wat ek geraai het die hoofingang moes wees, het ek my in die portaal van die voormalige hoofkwartier van die Republikeinse Pers bevind. Dit was ’n klein kamertjie met laaghoutpanele en een van daai vensters met ’n gat in die middel waardeur mense praat, sitbankies met geskeurde groen viniel teen die mure en ’n enkeldeur na die interieur van die gebou.

Ek het by die venster met die gat gaan staan en al wat ek aan die binnekant kon sien was ’n besoekersboek met omgekrulde bladsye wat drie dae laas ’n besoekersinskrywing in gehad het. Ek moes seker tien minute gewag het voor ’n geanimeerde Indiërmannetjie aan die anderkant van die venster ingeskarrel het.

“Good day, Sir! I am Joey, Sir!, Can I help you, Sir!”

Ek het verduidelik dat ek aangestel is as die assistentredakteur van een van die tydskrifte, maar halfpad deur die eerste sin gaan hy voort: “Oh yes, Sir! Mr. Chris he told me! Come!”

Hy’t weer agter die venster uitgeskarrel en ’n oomblik later het die deur oopgevlieg. Ek is agter hom aan in ’n lang skemer gang af wat verdag nouer as ’n standaardgang gevoel het.

Net een uit omtrent elke 20 buisligte het gewerk en die blou blokmatte het ’n swart voetpaadie in die middel gehad.

Ons het uiteindelik links gedraai en regs teen ’n stel trappe op by ’n verweerde perspex-bordjie met ’n pyltjie wat gesê het: Rooi Rose, Scope, Keur. Op een trapoorloop het ’n staal-liasseerkabinet gestaan, skuins met ’n prominente duik in, asof iemand dit met geweld geskop het. Vir ’n oomblik het ek trots gevoel dat ek hier in die voetspore geloop het van legendariese joernaliste van die sagteporno-tydskrif Scope, wat Suid-Afrika se eie weergawe van die Rolling Stone en Playboy se gonzo-joernalistiek gedra het. Scope was natuurlik jare vantevore gesluit.

Op ’n stadium het ek oriëntasie begin verloor, want ons is weer twee stelle trappe af, en toe wéér twee stelle trappe op, al dieper in die donker ingewande van die Republikeinse Pers in. Die laaste keer wat ons links gedraai het was daar ’n bordjie wat gesê het Scope (regs) en Rooi Rose (links). Ons het nog so 80 meter in ’n gang af geloop, op ’n stadium versigtig om ’n poel water onder ’n gat in die plafon waar elektriese drade uitgehang het.

Ek het geen ander mense op hierdie reis gewaar nie – slegs oop kamers met hier en daar ’n gebreekte kantoorstoel of afgeleefde lessenaar. Uiteindelik het ons Farmer’s Weekly bereik en Chris se kantoor met twee ooptiep-vensters vol bosduifmis wat oor die vuil saagtanddakkies van die fabriek uitgekyk het. Chris was op ’n antieke kantoorstoel neergeplak met sy voete op die lessenaar, besig om op die foon te praat. Een voet was in gips.

Gryp na die bottel

Hy’t die foon neergeplak, opgevlieg en met sy een hand ’n kruk gegryp en sy ander hand aan my kraag en gesê: “Kom!” Ek het nog nie eers die res van die personeel ontmoet nie, toe’s ons alweer daar uit. Ons het die hele uittog deur die stelle trappe en die lewensgevaarlike elektrisiteitswip tot onder in die fabriek gemaak waar die Republikeinse Pers se stokou rolperse soos versteende gorillamannetjies in die halfdonkerte gestaan het.

“Joey, Cressida?”, het Chris gevra, en Joey het die sleutels na vore gebring en dit met ’n knipoog vir Chris gegee. “Of course, Mr. Chris.”

Ek het vinnig geleer dat Joey ons poort tot geluk in die maatskappy was, veral wat mobiliteit betref het. Daar was twee maatskappymotors, ’n lieflike 2,4 liter sessilinder Toyota Cressida uit die tagtigerjare, en ’n flenters ou wit Golfie. Ons was permanent in beheer van een van die twee. Al wat dit gekos het was dat ’n mens so nou en dan, as Joey jou geroep het, sy vrou se kerrie hoef te geproe het, of agter en onder sy toonbank na ’n paar ontstigtende beelde in die goedkoopste pornografietydskrifte in die wêreld moes staar, en dan entoesiasties instem as Joey vir jou die tydskrif oornag wil leen.

Ek het bestuur tot by ’n klein winkelsentrum in ’n woonbuurt en Chris het gehinkepink tot by ’n koffiewinkel met tafeltjies in die gange met pienk geblomde tafeldoeke. “Drie dubbelvodkas met lemoensap”, het Chris vir die oorblufte kelnerin gesê. Die potensie van die bestelling het ook nie ongemerk by my verbygegaan nie, nie want dit was per slot van sake 11:00 op ’n Maandagoggend. Hy het intussen hard aan ’n Camel getrek.

Toe die drank kom het Chris die eerste vodka in drie slukke afgeslaan en die tweede een voor hom neergesit en gesê: “Raait, so hier’s die storie.”

Maar eers bietjie agtergrond. Die ou Republikeinse Pers (RP), met hoofkantoor in Durban (daai twyfelagtige fasiliteit waaruit ons so pas ontsnap het) is nie te lank gelede nie deur die Afrikaanse persgroep Perskor oorgeneem, wat intussen deur die Caxton-groep oorgeneem is, ’n maatskappy met ’n klomp kommersiële drukperse, ’n swetterjoel gratis dorpskoerante (knock and drops), en nou ook ’n tydskrifafdeling.

Die Hymans

Ek het spoedig agtergekom die RP was ’n ryk bron van stories. Dis gestig en vir dekades bestuur deur Hint Hyman en sy vrou, alom bekend as tant Baby. Sy was glo by tye die redakteur van Garden & Home en Rooi Rose gelyk, terwyl sy nog hulle Vrystaatse plaas by Luckhoff oor die foon bestuur het. Tant Baby se oë was glo te sleg om te lees en haar sekretaresse moes als in die tydskrifte vir haar hardop voorlees.

Ek het ook gehoor dat RP baie gesindikeerde oorsese artikels in hulle tydskrifte soos Keur en Bona gepubliseer het. Die artikels het sommer in sulke bondels deur die pos aangekom, en dan was die gewoonte glo dat tant Baby op die sofa gaan lê en die sekretaresse of ’n joernalis lees die een ná die ander storie vir haar voor, en sodra daar ’n traantjie uit haar oog loop, sou die storie onmiddellik opsygesit word, gekeur vir publikasie.

RP was ook die pioniers van die berugte fotoboekies wat ’n mens oral in die land in kafees kon koop. Dit was basies maar net sepies in tydskrifformaat: Kyk, See, Mark Condor, Ruiter in Swart, Dr. Conrad Brand, Die Saboteur en Grensvegter. Die Afrikaanse NG kerk / Nasionale Party-establishment was vreeslik teen hierdie boekies gekant, hoewel dit maar meestal onskadelike leesstof was.

Hoe dit ook al sy, Chris breek toe die nuus aan my dat die man wat hom aangestel het, Willem Struik, die nuwe bestuurder van tydskrifte by Caxton, is twee weke voor Chris moes begin werk het afgedank, en toe Chris by Farmer’s Weekly in Durban opdaag, en hom aan die ou redakteur, oom Corrie, gaan voorstel, toe het oom Corrie nog geen benul dat daar ’n nuwe redakteur aangestel is, en dat hy, soos almal toe afgelei het, nie meer in groot aanvraag is nie. Daar het ’n jong man voor hom gestaan, en hy’t aangekondig hy’s die nuwe redakteur. Dat niemand die nuus aan oom Corrie gebreek het nie, was vir die twee ’n ewe groot skok.

Ek het later gehoor die storie agter die nuus was eintlik nog sappiger. Of hierdie storie waar is of nie, was moeilik om vas te stel, maar dis ’n goeie storie. Ons het gehoor dat die twee groot direkteure van Caxton wat vir mnr. Struik afgedank het, ene Noel Coburn en Terry Moolman, 20 jaar gelede twee jong bestuurder onder in die drukkery van Republikeinse Pers was. Hulle het flink ondernemingsgees getoon en snags wanneer die drukperse afgeskakel word en onekonomies rondstaan en niks doen nie, sou hulle ’n groepie kaderpersoneel inlaat en ’n paar ekstra private drukjobbies in die nag doen, sonder die medewete van die bestuur.

Dit was glo nie lank nie of gerugte oor dié aktiwiteite het die ore van bestuur bereik, en ene Willem Struik is ingestuur om die twee manne met die planne summier in die pad te steek. Die storie loop dat op pad by die deur uit, het óf Coburn óf Moolman vir Struik gesê: “Luister jy nou maar gou-gou vir my. Sowaar as wat ek hier voor jou staan sal ek sodra ek genoeg geld gemaak het terugkom en hierdie drukkery onder jou gat uit koop, en jou eerste afdank.”

Hoeveel waarde ook al aan die storie geheg moet word, die feit was dat Noel Coburn en Terry Moolman vir Willem Struik onder ons gatte uit gefire het en ons was sonder enige bestuurder by Caxton in Johannesburg met ’n tydskrif in Durban opgesaal, en niemand het geweet wat ons daar soek nie, want mnr. Struik het ook nie veel met sy kollegas hieroor gedeel nie. En nou was hy weg.

Chris Burgess en Ali van Wyk bespreek strategie by 'n kafee by die Durbanse hawe. © MAGRIET THERON
Chris Burgess en Ali van Wyk bespreek strategie by 'n kafee by die Durbanse hawe. © MAGRIET THERON

Die lelike kant van kapitalisme

Na die klomp vodka en lemoensap is ons terug kantoor toe en Chris het my aan die oorblufte personeel voorgestel.

“Wat gaan met jou voet aan?” het ek op pad terug gevra.

“Kas geskop,”het hy gemompel.

Soos ek vroeër gesê het, daar is nie oor dekades veel belê in die personeel wat salarisse, opleiding of enige ander menslike hulpbronne betref nie. Dit was ’n groep wat bestaan het uit verbasend talentvolle maatskaplike wanaangepastes, verbasend ontalentvolle maatskaplike wanaangepastes, alkies en mense op verskeie spektrums. Ons het selfs nog ’n permanente tikster op die personeel gehad.

Oom Corrie, ook bekend as The Elephant in die bedryf, was uiteraard ’n groot man in sy sewentigs wat moeilik beweeg het. Hy was ’n goeie en saggeaarde ou, maar die teleurstelling oor waar die lewe hom uitgespoel het, het vlak in sy oë gelê. Hy het agter ’n intimiderend groot houtlessenaar gesit met ’n leer-top en een van daai groot plat lessenaar-almanakke met die blokkies vir elke dag op.

Die groot lessenaar is in ’n klein prefab-kantoortjie ingemanoeuvre, wat skaars genoeg plek aan die kant oopgelos het vir ’n mens om te loop. Op die punt van die lessenaar was ’n asbak in ’n mini-trekkerband wat amper oorgeloop het met stompies en teen die mure was ’n paar vergeelde foto’s van rugbyspanne by die Pannar-rugbyweek. Op ’n kas het ’n paar dowwe silwertrofees vir Farmer’s Weekly-koeie gestaan. Oom Corrie het op ’n kussinkie gesit op sy groot ou kantoorstoel want die leer op die sitplek was al flenters.

As mens vir oom Corrie gevra het hoe dit gaan, het hy altyd geantwoord: “Facing the fast bowling, facing the fast bowling.

In die kantoor langsaan oom Corrie was die assistentredakteur, Faan. Faan was ’n oud-Rhodesiër wat gekom het met gerugte van koverte betrokkenheid in die Rhodesiese bosoorlog. Hy was ’n man van min woorde, maar toe hy my sien verskyn, kon hy vir die tweede keer in ’n maand die berekening maak dat sy plek in die kroonopvolger-hiërargie afgeskuif het, en dat dit nou vierde was, waar dit maar net ’n maand vantevore tweede was, met die ou in die eerste plek op geleende tyd. Boonop was die nuwe twee ouens bogsnuiters.

Hy kon ook my tekort aan landboukennis aan my ruik, soos goedkoop deodorant. Dit het nie saak gemaak hoeveel keer ons aan hom probeer verduidelik het dat Farmer’s Weekly ’n groot nodigheid vir tydskrifkennis gehad het op daardie stadium, en nie noodwendig landboukennis nie.

My en Faan se fragiele verhouding was finaal daarmee heen ná ’n argument oor watter teks ons op ’n voorblad moes plaas. Ek het aangedring dat ons die reëltjie “Big bucks with exotic ducks” as die hoofopskrif moet gebruik, en Faan het gevoel dat ek geheel en al uit voeling met die gehoor was, waarop ek aan hom moes uitwys dat daar skaars ’n gehoor oor is, met die suggestie wat in die lug gehang het dat die gehoor onder, onder andere, sy bestuur weggeraak het.

Nou ja, ’n nuwe uitvoerende hoof is in Johannesburg aangestel in die plek van Willem Struik. Sy naam was Gordon Utian, ’n man met ’n kleurryke agtergrond in die meulebedryf. Hy’t spoedig in die gang bekendgestaan as The Blow Dried Dwarf. Dit het Chris ’n hele paar weke geneem om hom te oortuig dat ons wettiglik aangestel is en daar hoort.

Ek het uiteindelik vier jaar lank gebly. Dit het Chris en my omtrent agt maande geneem om net onsself te oortuig dat ons hierdie monumentale taak kon aanpak en met sukses kon afhandel. Ons het elke oggend vir mekaar gesê: Gaan ons bly of gaan ons gly?

Ons het elke aand die Cressida gevat en na die groot pier in die Durban-hawe gery. Aan die een kant, net 'n paar meter weg, het massiewe houerskepe die hawe binnegevaar, en aan die ander kant het tientalle Indiër-hengelaars op die dolosse gesit, en nou en dan sou een 'n rog haak en 'n epiese geveg tussen mens en vis het gevolg . En in die middel was ’n karavaantjie met smaaklike samosas.

Chris het ’n rookdingetjie gekry en ek het ’n kas bier in ’n drankwinkel in Point Road gekoop, en dan het ons daar gesit en ure en ure gepraat oor wat ons moes doen om hierdie tydskrif te red. Ons het dit uiteindelik reggekry ten spyte daarvan dat dit vir ons onmoontlik gelyk het. Te midde van die slagting in die bedryf bestaan Farmer’s Weekly nog steeds.

Ons het die tydskrif met sak en pak Johannesburg toe getrek (ek en Chris het self die lessenaars en rekenaars oor ’n langnaweek op Caxton se papiervragmotors gelaai). Binne ’n jaar het die tydskrif se ontwerp baie mooi gelyk en die sirkulasie het weer opgetel na gesonder vlakke.

Nou, met die toemaak van Vrye Weekblad, is dit weer tyd vir job soek. Ek is nie seker of die witman-gedeelte weer so baie gaan help nie.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.