Liefste vriende
Ons beleef deprimerende dae. Trump het in sy toespraak voor die kongres sy eie trompet geblaas, soos gewoonlik. Hy het gespog oor die hondsdol maatreëls wat hy ingevoer het en gespot met Demokrate en wokegeit. Ek word elke oggend wakker en die dag lyk kakker.
Maar, liewe hemel, ons moet ons gees lig. Ons moet ligstrale vind, silwer randjies, lukrake barmhartigheid, helpers.
Ek hoor oor die radio van ’n man van Australië, James Harrison wat as seun dikwels bloedoortappings gekry het. Dit het waarskynlik daartoe gelei dat daar ’n waardevolle teenliggaam in sy bloed gevorm het, en dit is later in sy lewe weer gebruik om ’n lewensreddende medikasie te vervaardig – veral vir ma’s wie se immuunstelsels hulle fetus se Rh-positiewe bloed as ’n vreemde bedreiging gesien en hulle ongebore baba aangeval het. James is onlangs dood op 88 jaar oud. Sy lewenslange bloedplasma-skenkings het 2,4 miljoen babas se lewens gered. Wat ’n held, wat ’n hersteller van die balans van goedheid in die guns van die mensdom. Sit so iemand op ’n wipplank met Trump, Musk en Putin aan die ander punt en die onheilige trio sal die lug in skiet soos kaf in die wind.
Ek lees ’n boek waar een karakter vir ’n ander vra waarom ’n mens nie soos ’n hond kan wees nie; outentiek, altyd suiwer. I guess we are just not good enough, antwoord die ander.
Hoekom kan mense nie soos watervarke wees nie? Die kapibara is die wêreld se grootse knaagdier en kom in Suid-Amerika voor. Dis ’n semi-akwatiese, plantetende soogdier. Hulle is vredeliewend en sosiaal en knoop vriendskappe met allerlei ander diere aan. Hulle lyk soos reusemarmotte en die grootste wyfie wat nog gemeet is, het 91 kg geweeg. Kyk jy na die ou gevreet met die stomp snoet en oë en ore hoog teen die kop sien jy net verdraagsaamheid en rustigheid.
Ek het lankal bedenkinge oor my spesie. Ek wil nuus lees wat my beter laat voel oor die mensdom. In my soektog kliek ek op skakels soos Good News Agency en Good News Hub. Het jy geweet: Tronke regoor die wêreld verminder vonnisse vir elke boek wat gevangenes lees. Die Brasiliaanse regering doen dit reeds 13 jaar. Hulle “Remission for Reading”-program dien nou as model vir verskeie ander lande soos Kazakhstan en Uzbekistan. Amptenare in die Russiese staat probeer ook om losprys-lees in hulle tronke in te voer. Ek sou my vonnis tjop-tjop opgelees het.
Omdat mense al hoe ouer word, lees jy nou gereeld van bejaardes wat die wêreld ’n beter plek maak, soos Alfie Date, die 110-jarige Nieu-Seelandse man wat tot met sy dood truitjies vir pikkewyne gebrei het. Soos die (ook) 110-jarige Sudanese vrou in Egipte wie se groep El Lama El Helwa (dit beteken “die beste maatskappy”) ’n bedrag gespaar het wat gelyk is aan die gemiddelde Egiptenaar se jaarlikse salaris. Uit hierdie spaargeld staan hulle lenings toe aan weerlose vroue, om aan hulle finansiële sekuriteit te gee.
Plaaslik is daar Pretoria se eie byekoningin, entrepreneur Lulu Letlape, stigter van Bongi Bees wat voorspraak maak vir byeboere in Afrika. Sy beklemtoon die beskerming van die natuurlike hulpbronne waarvan bye afhanklik is om te floreer. Haar maatskappy is in 2017 gestig en gaan van krag tot krag. Hulle beskerm noodsaaklike pollineerders, produseer hoë-kwaliteit heuning en skep werk vir die plaaslike gemeenskap.
En dan is daar natuurlik altyd Gift of the Givers om op groots te wees, en vele anonieme mense wat hand uit die mou steek om te help, te voer, aan die lewe te hou. Onbesonge helde van die alledaagse. Hulle, julle, is my teengif teen Trump en sy vaatjie vol uitvaagsels, magsjagse diktators met harte vol haat en sakke vol gierigheid.
Gee ons die goeie nuus. Ek lees op Facebook ’n plasing van Olinka Nel:
Op die ou einde net hierdie. Kaal voete in die oggenddou. Voëlsang na die reën. Die kleintyd-reuk van pap op die stoof. ’n Kat wat liggies teen jou been kom skuur.
Amen.
Kom ons klou vas aan die moontlikheid van mooiheid, aan eenvoudige oomblikke wat die hart verwarm soos 'n herd.
Groete
Deborah
Ons Boeke- en Agterblad-aanbiedings
Terwyl ons nog hier is, gaan ons julle vermaak en inlig. Daar sal ná Maart geen nuwe fomo-wenke en trends wees nie, geen bespreking van nuwe boeke nie. Op een of ander platform sal ons wel kop uitsteek. Intussen kan julle dié maand nog alles gratis lees.
Ek het vyf boeke gelees wat min gemeen het, behalwe die sogenaamde menslike kondisie. Ons is nie altyd in uitstekende kondisie nie, hoor. Soms is ons in 'n toestand. Dit is daardie mespunt-oomblikke waaroor ek graag lees, wanneer alles in die weegskaal hang en daar veel op die spel is. Van 'n heruitgawe van Eleanor Baker se huishoudelike noir-misdaadfiksie tot die verslag van 'n vrou wat uiteindelik in haar regte lyf beland het: Tshiamo Modise, skitterende plaaslike ster. Diane de Beer het 'n debutant gelees wat haar aan Deon Meyer herinner en Kerneels besin oor skinner nadat hy 'n sappige boek oor die onderwerp gelees het.
Op die Fomolistas se radar is, onder andere: 'n Wêreldklas-koffiewinkel in Kaapstad, fantastiese olyfolie wat in Suid-Afrika gemaak word en ’n fenomenale lyfroom wat jy oral kan koop. Laureen stel haar 15+ vrae aan Chris du Plessis, 'n stigterslid van die eerste Vrye Weekblad en die koerant se eerste kunsredakteur. Hy reken 'n normale dag het hy nog nooit ervaar nie, dis op sy emmerskoplys. Ek pleit vir meer verbeeldingryke taal en gooi name soos Shakespeare en Elisabeth Eybers rond in Die laaste woord.
Kind hearts are the gardens
Kind hearts are the gardens,
Kind thoughts are the roots,
Kind words are the flowers,
Kind deeds are the fruits,
Take care of your garden
And keep out the weeds,
Fill it with sunshine,
Kind words, and
Kind deeds.
– Henry Wadsworth Longfellow
Rook die man wat Amerika gered het
Jy soek na die naam van iemand wat in een van Longfellow se ander beroemde gedigte te vinde is, en na wie ook 'n sigaret-handelsmerk genoem is.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.