Jonk, ryk en vasgevang op die Gram

HALLO KAAPSTAD

Jonk, ryk en vasgevang op die Gram

CELESTE THERON gee die welgestelde kinders van Kaapstad eerste prys vir die onsensitiewe aard van hulle weelderige content curation op hulle Instagram-profiele, wat haar aan Oscar Wilde se boek The Picture of Dorian Gray herinner.

ANGELA TUCK
ANGELA TUCK

ONTMOET Kaapstad se stinkryk kinders, wat hulle uitspattige lewens skaamteloos ten toon stel op die gram met hulle boude-wat-bak-op-Bakoven. Sal hulle flat whites ooit vlak genoeg wees om te plas in die onverskillige vervlakking waarmee hulle met die werklikheid van die wêreld omgaan?

Ek joke, ek weet julle drink lankal nie meer die skuim op die oppervlak van ’n flat white nie. Dis die eerste week van Maart, op die kop 01:00 in die oggend. ’n Sekelmaan hang in die lug en glimmer oor die nat gras voor my vensterbank. Ek dwing myself om te werk, maar doom-scroll deur Instagram en probeer om in hierdie waansinnige klein venster se weerkaatsing iets sinvols bymekaar te skraap.

Ek lag vir myself. Sad single-single mom living her best life hier op socials. Oscar-toekennings. Joshlin se ma se walglike gevreet; sy doop haar vingers in KFC-skyfies. Phuthulla-laerskool in Boipatong is al vir minstens agt jaar met rioolwater deurweek. “Maar riool o riool, my nageslag lê in die water,” val die woorde van Ingrid Jonker my by – want dis hoe dramaties ek is. (Of is ek?)

Tog lewe ons in Oscar Wilde se The Picture of Dorian Gray, of is dit Bret Easton Ellis se American Psycho? Vir seker iets van albei. Sorry Kaapstad, ek weet dis nie net julle nie en ek sê nie julle moet julle joie de vivre verloor nie, maar as ’n kurator van kunsmatigheid gee ek julle eerste prys vir die onsensitiewe aard van julle weelderige content curation waar julle spog met julle seiljagpartytjies, skemerkelkies en Botox, alles sommer in een post. Space dit bietjie uit met ’n selfie waar jy huil by een van jou welwillendheidsprojekte.

Read the room, of dalk net die fokken nuus.

Kan nie help jou pa is skatryk

Die Here het gaskommel: Waarom sal jy jou weelderige lewe wegsteek? Ek verstaan, jy kan nie help jou pa is skatryk en dat die res van die land krepeer van ellende nie. Die geweldige ongelykheid en armoede het niks met jou te maak nie. Nee, dis te negatief om oor Israel te praat: bad vibes.

Maar die grillerige apatie en gebrek aan empatie waarmee die halala-Afrika-manewales en kaskenades uitgeleef word by feeste soos Wolfkop Weekender of Bazique is bietjie eienaardig (selfs vreesaanjaend). 

Die noukeurig gemanikuurde Instagram-profiel is die ewebeeld van die vervloekte portret van The Picture of Dorian Gray: ’n tydlose waarskuwing oor groteske ydelheid wat gepaard gaan met ’n gevaarlik materialistiese wêreldbeskouing. Dorian Gray verruil sy siel om vir ewig jonk en beeldskoon te bly, terwyl sy portret die gevolge van sy onsedelike dade dra. Sosiale media, veral in Kaapstad se ryk kringe, werk op ’n soortgelyke manier. Mense skep ’n beeld van ewige jeug, rykdom en perfeksie deur versigtig enige tekens van veroudering, stryd of onvolmaaktheid uit hul openbare beeld te verwyder.

Soms dink ek dit is dalk ’n akkurate weerspieëling van die aristokrasie, ’n massa gevoellose gesigte verwyderd van die werklikheid en betekenisvolle verbintenisse, opgesluit en opgesmuk in hulle ivory tower wat elke dag al hoe witter lyk. Daar is niks om tussen daai geligte wenkbroue te lees nie. Verhoudings is statusgesentreerd. Elke aspek van hulself word versigtig aangebied.

Identiteit is inderdaad ’n kunswerk, en waarom mag jy nie ’n plek skep waar jy in beheer is van hoe jy uitgebeeld wil word nie? Luukse velsorgbehandelings, kosmetiese prosedures en buitensporige wardrobes dra by tot hierdie illusie van die vlekkelose klein robotte. In die konteks van Kaapstad se sosialemedia-kultuur wys dit hoe mense verstrik raak in 'n beheptheid om hierdie geïdealiseerde beeld van hulself te skep en uiteindelik daaronder ly deur hulle sinlose lewens sonder siele. Dis waarom Tali Babes se shows so ’n hit is op Showmax (ek verstaan Tali is van Joburg, but you get what I’m saying).

Dorian se korrupsie haal hom uiteindelik in. Hoe meer hy sondig, hoe leliker word sy portret, totdat hy dit nie meer kan verduur nie. Baie figure in Kaapstad se luukse kringe ervaar ’n soortgelyke afrekening, of dit nou deur finansiële skandale, verslawing of geestesgesondheidsprobleme is: Die waarheid werk in mysterious ways, maak nie saak hoe goed dit versteek word nie.

In American Psycho is Patrick Bateman se smettelose voorkoms ook net ’n fasade: Binne die blink gepoetste laventelhaan is daar net ’n hol kol. Hy besef hy het geen egte gevoelens of sin in sy lewe nie. Die boek eindig met die woorde THIS IS NOT AN EXIT, ’n erkenning dat Bateman vasgevang is in ’n sinlose siklus van die verbruikerskultuur, waar hy mense gebruik, misbruik en uiteindelik vermoor. Hy kan nie ontsnap uit die leë wêreld wat hy vir homself geskep het nie.

Vir baie van die ryk jong crowd op Instagram is daar ook geen maklike “exit” nie. Hulle leefstyl is ’n voortdurende vertoning, vasgevang in ’n eindelose sirkus om hulle status te herbevestig in ’n samelewing wat voortdurend bly verander en teer op mense se wankelrige selfbeeld.

Konfronteer jou selfbeeld

In Oscar Wilde se boek dien Dorian se portret as ’n private rekord van sy morele verval, terwyl sy publieke voorkoms ongeskonde bly. In ’n moderne konteks funksioneer Instagram en ander sosialemedia-platforms soos hierdie portret. Elke perfek gepoleerde prentjie weerspieël ’n geïdealiseerde weergawe van die werklikheid, terwyl die onsekerheid of etiese kompromieë agter die skerms versteek bly.

Soos die gebrekkige toestand van sy portret by Dorian begin spook, voel sommige uitspattiges ook vasgevang in hierdie onrealistiese beeld wat hulle van hulself geskep het. Hoe trap jy oor so 'n portret se goue raam?

Net soos Dorian uiteindelik sy portret moes konfronteer, begin sommige mense bewus word van die valsheid van hulle verbintenis met materialisme. ’n Nuwe beweging van egtheid en eerlikheid gons onder die glans van hierdie oppervlakkigheid, waar mense hulle werklike lewe begin deel, ook hulle foute en uitdagings. Dit bied ’n teenwig teen die Dorian Gray-effek.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.