Woestynolifant betaal die prys vir vrot wiskunde

TROFEEJAG

Woestynolifant betaal die prys vir vrot wiskunde

Voortrekker, die eens dominante Ugab-rivierbul, is doodgemaak. 'n Herrie het losgebars nadat hy die skuld gekry het vir die plundering op Namibiese plase en die regering toestemming gegee het dat ’n onbekende trofeejagter die alleenloper doodskiet. JOHN GROBLER het in Omatjete in Namibië gaan uitvind wat die waarheid is.

Die Namibiese olifantbul Voortrekker.
IKONIES ... Die Namibiese olifantbul Voortrekker.
Image: FOTO VERSKAF

NAMIBIË se reputasie as ’n suksesverhaal in bewaring in Afrika is aan skerwe nadat dit aan die lig gekom het dat die ministerie van omgewing en toerisme die permitstelsel misbruik het om die ikoniese woestynolifant Voortrekker drie weke gelede te laat jag.

Pohamba Shifeta, minister van omgewing en toerisme, het in reaksie op die storm van woede foto's op sosiale media uitgereik wat hy sê bewys dat die olifant die lewe en eiendom van die mense van Omatjete bedreig het. Plase in dié gebied, die ou Herero-Wes, is voor onafhanklikheid aan die  Herero-gemeenskap gegee. 

Maar die getuienis is, om die minste te sê, maar skraps.

Slegs een van die hervestigingsplase, Omborondo, kon gedeeltelik die minister se weergawe van die storie bevestig. Behalwe oor een belangrike aspek: Daar was vier olifante, nie een ou bul met gebreekte tande – Voortrekker – nie.

‘Hoewel die regering sê dit is om verliese weens die droogte te keer, is die besluit geneem maande voordat pres. Hage Geingob vroeg in Junie die droogte as ’n nasionale noodtoestand verklaar het.’

’n Verlammende droogte, hope skuld en ’n nasionale verkiesing wat om die draai is, het die Swapo-regering klaarblyklik laat besluit die 120 woestynolifante is ’n inkomstebron om plaaslike kiesers lojaal te hou.

Die kabinet het in April planne goedgekeur om 11 olifante van Omatjete en 16 van die Khaudom Nasionale Park aan die trofeejagbedryf te verkoop. Dit is deel van ’n regeringsvoorstel om 1,000 siektevrye kameelperde, buffels en ander gesogte wild te verkoop.

Hoewel die regering sê dit is om verliese weens die droogte te keer, is die besluit geneem maande voordat pres. Hage Geingob vroeg in Junie die droogte as ’n nasionale noodtoestand verklaar het.

Dit lyk asof daar ook ’n politieke dryfveer is om te bewys dat die jag-gegronde benadering tot bewaring 'n goeie manier is om plaaslike gemeenskappe te ondersteun omdat dit finansieel sin maak en ekologies goed is.

Shifeta het ’n verklaring van agt bladye uitgereik – eers dae nadat die nuus oor die omstrede jagtog deur die onbekende jagter wêreldwyd bekend geword het. Dit het net meer vrae laat ontstaan oor die werklike stand van Namibië se olifanttroppe, asook  die integriteit van die land se bestuur van sy wildlewe-hulpbronne.

Die ministerie het al dikwels beweer dat ’n gemeenskapsgegronde bestuursmodel daartoe gelei het dat wildgetalle sedert 1996 verdrievoudig het.

Vrot wiskunde en bestuur

Maar in ’n bisarre geval van baie vrot wiskunde is die beweerde drievoudige toename in wildgetalle gebruik om die jaarlikse, geraamde optimale groeikoers van die olifanttroppe van 3,3% op te blaas tot ’n verbysterende 9,9%.

So het die direkteur van wildlewebestuur en parke, Colgar Sikopo, verlede jaar beweer dat die 7,500 olifante in 1995 teen 'n konstante 3,3% per jaar gegroei het tot 16,000 in 2004. Teen einde verlede jaar was daar tussen 24,000 en 25,000 olifante, het Sikopo in Desember gesê.

Maar Shifeta se mees onlangse verklaring oor getalle het op 'n paar duisend olifante minder gedui. Hy het beweer daar is “... net meer as 22,000 olifante, die meeste sedert die bevolkingsopnames begin het”, en dit toon volgens hom 'n deurlopende groeitrajek.

Shifeta se verklaring – wat Sikopo se bewerings herhaal het – maak nie sin nie. Hy het byvoorbeeld beweer daar was 2,911 olifante in die Etosha Nasionale Park, 1,716 in die Erongo-, Kunene- en Omusati-streke en 19,549 olifante in die Khaudom-park en die noordoostelike Zambezi-streek.

Soos 'n eenvoudige berekening toon, is dit 24,176 olifante, 'n getal wat so onwaarskynlik is as wat dit onmoontlik is.

Alhoewel die ministerie volgehou het dat Voortrekker geskiet is omdat hy ’n gevaarlike losloperbul was, het 'n drie dae lange ondersoek onthul dat die skade aan eiendom deur 'n trop bekend as die Kamanjab-trop veroorsaak is.

Twee koeie en 'n bul van dié trop is vroeër gemerk om hulle bewegings te monitor – wat daarop dui dat die departement presies moes geweet het watter olifante vir die skade aan waterinstallasies en die dood van vyf beeste in Junie verantwoordelik was.

Omatjete is sowat vier uur se ry van Windhoek.
Omatjete is sowat vier uur se ry van Windhoek.

Voortrekker was nie naby nie

GPS-koördinate van waar Voortrekker was, het getoon dat dit byna 50 km ver was van waar die skade op plase rondom Omatjete aangemeld is, ongeveer 350 km noord van Windhoek. Die oostelike grens van die bewegings van die Ugabrivier-olifante, waaronder Voortrekker, is 50km wes van Omatjete. 

Minister Shifeta beweer die olifanttrofee is vir R120,000 verkoop, waarvan R100,000 na die plaaslike Ohungo-bewaringsgebied gaan om mense te vergoed vir die skade wat hulle gely as gevolg van olifante wat hulle plase vir kos en water gestroop het. 

‘Diegene wat werklik skade gelei het deur waterinstallasies wat vernietig en beeste wat doodgemaak is deur die dorstige olifante, is meegedeel dat hulle nie daarvoor kan eis nie.’

Maar dit blyk dat hierdie geld geoormerk is vir net 'n paar individue met politieke bande wat nie eens enige groot olifantverwante finansiële verliese gely het nie.

Die fooi van R120,000 is ook bevraagteken deur ander professionele jagters, wat gesê het ’n olifantjag – veral van die skaars woestynolifante – sou waarskynlik nie verkoop vir enigiets onder R500,000 nie, indien nie dubbel soveel nie.

Diegene wat werklik skade gelei het deur waterinstallasies wat vernietig en beeste wat doodgemaak is deur die dorstige olifante, is meegedeel dat hulle nie daarvoor kan eis nie. Hulle moet maar met die olifante saamleef.

Hoewel die verliese klein is wat geld betref, is dit ’n terugslag vir mense wat te arm is om dít te vervang wat deur die olifante verwoes is. “Ons het Fabianus (die plaaslike raadslid van die tradisionele owerheid) en die ministerie om vergoeding vir drie dooie beeste gevra, maar hy het gesê dit sal nie moontlik wees nie,” sê Manasse Tjizese van Omborondo, 'n plaas sowat 20 km oos van Omatjete.

Soos almal wat ondervra is in die loop van twee dae, was hy die meeste verbaas om te hoor dat vergoeding betaal sou word aan die Ohungo-bewaringsgebied, maar nie aan diegene wat die meeste skade gely het nie.

Christine Tjizese wys waar olifante haar stoorkamer se deur afgebreek het om haar bokke se kameeldoringpeule by te kom. Sy gaan geen skadevergoeding kry nie.
SKADE ... Christine Tjizese wys waar olifante haar stoorkamer se deur afgebreek het om haar bokke se kameeldoringpeule by te kom. Sy gaan geen skadevergoeding kry nie.
Image: JOHN GROBLER

Min belangstelling

Amptenare het eers die dag ná die olifante se stropery daar aangekom en min belangstelling getoon in die skade wat aangerig is. Hulle het glo nie eens gekyk na ’n beseerde koei wat later buite die kraal dood is nie.  

Die vier olifante het ook by ’n hut ingebreek en hulself gehelp aan meel en kameeldoringpeule wat gestoor word vir die beeste, vertel Manasse se ma, Christine Tjizese. Sy sê ’n seuntjie wat in dieselfde hut geslaap het, is gered.

Die nuus oor die kind het egter gou versprei en Eric Xaweb, bestuurder van die Tsiseb-bewaringgebied, het beweer die kind is dood.

Xaweb het die plaaslike nieregeringsorganisasie EHRA (Elephant-Human Relations Aid), wat vrywilligers gebruik om mure om waterpunte te bou om die olifante weg te hou, daarvan beskuldig dat hulle nie die plaaslike bevolking gehelp het nie.

“Ek wil nie rassisties klink nie, maar as dit 'n wit persoon was, sou die hele wêreld gehelp het," het hy in 'n onderhoud in Uis gesê. Toe 'n jong seun beseer is deur olifante terwyl hy op soek was na sy donkies in die Ugab-riviergebied in 1999, wou niemand hom vergoed vir sy mediese koste nie, het Xaweb beweer. (EHRA is eers in 2003 gestig.)

Die slagoffer, nou in sy vroeë 20’s, het geweier om ’n onderhoud toe te staan indien hy nie eers daarvoor betaal word nie.

Die probleem is nie opgelos nie

Die Tjizese-familie is hartseer oor Xaweb se bewerings. Ten spyte daarvan dat Voortrekker geskiet is, het “hulle nog nie die probleem opgelos nie”, sê Manasse Tjizese. Die olifante is steeds daar, en skuil in die dag in die digte bosse langs die rivier en soek snags na kos en water.

Die skuldiges, sê hy, is 'n groep van vier olifante – nie die losloperbul soos wat beweer word die grootste probleem is nie.

In 2017 het 'n jong bul 'n vrou in die omgewing doodgemaak en is daarna geskiet, maar dit het nie gekeer dat die konflik tussen mens en dier voortgeduur het nie.

By die kantore van die plaaslike tradisionele owerheid in Omatjete het die Ohungo-voorsitter Ben Haingura geweier om te praat en ergerlik geëis om te weet wie sy naam aan die media gegee het.

Die omstrede jagtog het nou groot gebreke in Namibië se jaggegronde benadering tot bewaring uitgewys, en trek die land se rol in internasionale bewaringskringe in twyfel.

Die amptelike regverdiging van die jagtog het die feit aan die lig gebring dat Namibië se olifantbevolkingsgetalle opgeblaas is deur ’n kombinasie van swak wiskunde en gebrekkige bestuur. Die ministeries se skatting einde verlede jaar – van tussen 24,000 en 25,000 olifante – is verlede week aangepas na 22,000. Dít is gegrond op 'n skatting van 7,000 tot 7,500 diere  in 1995.

’n Hersiening van die syfers wys dat daar nie meer as tussen 14,771 en 15,826 olifante einde verlede jaar kon wees nie.  

Geen kommentaar

Die ministerie het geweier om kommentaar te lewer op hierdie gebrekkige berekening, maar die minister het op sosiale media uitgevaar teen sy kritici se “onakkurate, vals berigte".

‘Voortrekker, wat tussen 50 en 55 jaar oud was, was een van net twee bulle wat nog kon teel in die Ugabriviertrop. Nie een van nege kalwers wat sedert 2014 gebore is, het vir meer as 'n paar dae oorleef nie.’  

Sy aanvanklike verklaring op sosiale media is begroet met ’n stortvloed van woedende reaksie en dreigemente om toerisme te boikot. Dit is die enigste sektor wat nog groei toon in die siek Namibiese ekonomie.

Die regering beplan nou om nog 11 woestynolifante te jag ten spyte daarvan dat hulle getalle weens die droogte afneem.

Voortrekker, wat tussen 50 en 55 jaar oud was, was een van net twee bulle wat nog kon teel in die Ugabriviertrop. Nie een van nege kalwers wat sedert 2014 gebore is, het vir meer as 'n paar dae oorleef nie.  

Dit het verder aan die lig gekom dat 'n klein, maar baie uitgesproke groep plaaslike beesboere geruime tyd al voorbrand maak vir die algehele uitwissing van die laaste van die olifante in gemeenskaplike boerderygebiede in die suidweste van die Etosha Nasionale Park.

Volgens ’n goedgeplaaste bron in die landbouministerie saboteer sommige boere hul eie waterinstallasies en blameer die olifante dan in ’n poging om steun te kry.

Twee jaar gelede het ’n poging om Voortrekker as 'n probleemolifant te laat verklaar, misluk. Ingevolge ’n 1975-bewaringsordinansie oor spesiaal beskermde diere soos renosters en seekoeie kan slegs diere wat menselewens bedreig, doodgemaak word.

Ordinansie suutjies verander

Sedertdien het die regering stilweg die ordinansie verander sodat olifante (en ander spesiaal beskermde wild) vernietig kon word deur enigeen wie se eiendom beskadig word. Sonder om eers toestemming van die ministerie te kry.

Die uitgebreide stel protokolle wat voorheen in werking gestel is, is vervang deur 'n eenvoudige vereiste dat voorvalle binne drie dae aangemeld moet word. Die jag op Voortrekker was heeltemal in ooreenstemming met die nuwe bepalings, het die bron gesê.

Kritiek op die besluit om Voortrekker te jag was neerbuigend en aanmatigend, het Shifeta in sy verklaring te kenne gegee. “Dit is jammer om te sien dat sommige mense steeds dink dat Afrikane nie hulle eie sake kan hanteer nie en dus onderwerp moet word aan hul eie ideologieë wat geen agting het vir ons mense nie.”

Intussen, in die Ugabriviergebied waar Voortrekker sy laaste jare deurgebring het, ontwikkel 'n nuwe en baie ernstige probleem nou. Die anabome – waarvan die peule die olifante voed - het begin sterf ten spyte daarvan dat die rivier verlede jaar 13 keer in vloed was, sê Chris Pitot van EHRA.

Die rede daarvoor, lyk dit, is die oorbenutting van die grondwater deur die twee jaghuise wat stroomop gebou is en daartoe lei dat die vleie opdroog.

En met die droogte wat almal nou erg begin voel, lyk die toekoms vir die woestynolifante nie goed nie.

“Die groot probleme gaan kom wanneer die eerste ryp al die blare van die mopaniebome doodmaak,” waarsku Louis Geldenhuys, ’n veteraan-wildkenner. “Teen Oktober/November gaan dinge regtig sleg word. Al die moontlike opsies sal baie ernstig oorweeg moet word.”

NOTA: ’n Ongelooflike ding het met hierdie storie gebeur. Oudergewoonte was ek op die punt van bankrotskap, maar dit was vir my belangriker om by Omatjete uit te kom as om my bankbestuurder te paai. Ek het dus 'n klein versoekie vir brandstofgeld op sosiale media geplaas. Die reaksie was absoluut verstommend: Binne ure het duisende rande in my rekening beland. Ek weet nie wat om te sê nie behalwe BAIE DANKIE. Die geld sal gebruik word om daardie troppie uit die trofeejagters se hande te hou. En die beste manier om dit te doen, is om die mense van Omatjete wat skade onder die olifante gely het, te help vergoed vir hul verlore beeste en stukkende watertenke. – John Grobler


PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.