Die glans, die glorie en die kitsch van ’n groot sangstryd

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Die glans, die glorie en die kitsch van ’n groot sangstryd

As jy ooit met die musikale Marmite van die wêreld te doen kry, is daar ’n paar dinge wat jy moet weet, skryf ANESCA SMITH.

Image: ANGELA TUCK

Dagsê

Hulle noem dit die musikale Marmite van die wêreld – jy is óf dol daarop óf jy haat dit – maar as jy in Europa woon, is dit moeilik om daaraan te ontsnap: die jaarlikse Eurovision Song Contest.

Vanaand is die groot eindstryd in Liverpool, maar hier in Nederland kyk ons vanjaar dikbek van die kantlyn af nadat ons inskrywing – ’n duet – twee keer vals gesing het in die opmars na die eindstryd en vervolgens huis toe gepos is. Niemand weet wie se skuld dit is nie, so kom ons blameer maar die media, skyn die konsensus te wees.

Mia Nicolai en Dion Cooper van Nederland.
Mia Nicolai en Dion Cooper van Nederland.
Image: ©EUROVISIONWORLD

Nie dat mens die gevoel kry dat dit werklik oor die musiek gaan nie. Meer oor die spektakel. En nou en dan oor die politiek, soos toe Oekraïne verlede jaar gewen het. Miskien dink jy, soos ek het, dat mense uit simpatie vir Oekraïne gestem het, maar ’n bietjie navorsing wys dat dié land in werklikheid ’n gedugte mededinger is: Oekraïniese deelnemers het al drie keer die kompetisie gewen en was twee keer die naaswenners.

Nogmaals die Nederlandse span. Huis toe gepos oor vals note.
Nogmaals die Nederlandse span. Huis toe gepos oor vals note.
Image: ©EUROVISIONWORLD

Nietemin, as jy dit oorweeg om Europa toe te trek, dít is (van die dinge) wat jy oor die glans, die glorie en die kitsch van die Eurovision Song Contest moet weet:

* Een van die eerste vrae wat jou sal laat kopkrap, is: Waarom, as dit ’n Europese kompetisie is, neem Israel en Australië ook deel? Laasgenoemde moes ’n once-off affêre gewees het maar eenmaal daar, was hy nie meer weg te wens nie.

* Suid-Afrika is nie die enigste land met Vyf Grotes nie. In Eurovision is dit Frankryk, Duitsland, Italië, Spanje en die Verenigde Koninkryk. Saam met die vorige jaar se wenner (in dié geval Oekraïne) kwalifiseer hulle outomaties vir die eindronde. Nie omdat dié lande se inskrywings altyd fantasties kan sing nie, maar omdat hulle die grootste finansiële bydrae tot die kompetisie lewer.

Toe ABBA nog jonk mooi en lief vir mekaar was in 1974.
Toe ABBA nog jonk mooi en lief vir mekaar was in 1974.

* Die beroemdste deelnemers aan die kompetisie ooit is waarskynlik die Sweedse sanggroep ABBA, wat in die 70’s hul debuut gemaak het.

* Die stemprosedure is te ingewikkeld (en vervelig) om in ’n geselsbrief soos hierdie te verduidelik, so moenie stres as jy dit nie die eerste keer volledig verstaan nie. Geniet net die musiek en die spektakel.

* Having said that, dit is wel interessant om te sien hoe politiek sigself in die stemproses laat geld – wie stem of stem nie vir hul buurlande nie? So is daar byvoorbeeld ’n Skandinawiese blok en ’n Slawiese blok, maar gaan Griekeland en Ciprus mekaar wel punte toeken?

* Eurovision was een van die eerste sangkompetisies op televisie wat mense toegelaat het om telefonies van die huis af te stem. Vanjaar is die eerste keer dat mense van oor die wêreld toegelaat gaan word om te stem.

* Ierland het Eurovision al die meeste kere gewen (sewe keer), gevolg deur Swede (ses).

ABBA in 1974.
ABBA in 1974.

Soos reeds gesê, as jy kyk, berei jou maar voor dat jy nie alles waarna jy kyk gaan verstaan nie. Allermins die deelnemers en hul klere- en musiekkeuses. Dit is hemel op aarde vir paradysvoëls. Maar dit is juis die beste deel van die kompetisie.

Mooi naweek
Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.