Die klein wit hasie

AUSCHWITZ IN DIE LAAT-HERFS

Die klein wit hasie

P.P. FOURIE vertel van die verskriklike intimiteit van ’n graffito-hasie teen ’n muur in Auschwitz en die vrae wat dit by hom laat opkom oor die monoteïstiese konstruk van ’n volmaak liefdevolle, almagtige, persoonlike, ingrypende God.

DIT was reeds laatmiddag toe ek in Oświęcim aangekom het. Die bus het my voor die treinstasie afgelaai en van daar het ek ’n huurmotor na my hotel geneem. Ek kon die Poolse laat-herfs voel in die droogheid van my vel, al was daar geen sneeu op die grond nie. Daar was ook nie wolke nie, en die lug was skraal, windloos en koud.

Ek was aan die herstel ná ’n swaar verkoue wat my voorafgaande paar dae in Kraków versuur het. Daar was komiese besoeke aan apteke; ek het geen idee gehad wat in die medikasie was wat ek daar gekoop het nie, maar uiteindelik het dit gevoel of dit begin werk. Visueel, sensueel onthou ek my aankoms in Kraków as werklik eksoties. Ek was al voorheen in ander stede in Oos-Europa, maar Kraków was oudwêrelds en ’n bietjie onwerklik. Dit het my herinner aan Kuifie se avonture in Koning Ottokar se Septer: Hierdie was voorwaar Ou Europa, maar ook anders op onverwagte maniere – merkbaar wild.

Wanneer ek op my eie reis – soos ek dit gewoonlik doen – hou ek daarvan om vir aandete uit te gaan. Ek het ’n klein ritueel. Ek neem ’n boek met my saam, wat ek dan óf lees óf voorgee om te lees, afhangende van die omstandighede. As dit stil is, lees ek; as daar mense naby my is wat te hard praat vir my om nie te hoor waaroor hulle gesels nie, dan maak ek of ek lees, maar eintlik probeer ek luister na wat hulle sê. Hierdie spesifieke aand in Oświęcim het my tafelbure in die restaurant geklink of hulle Pools praat, en daarom kon ek nie die gesprek volg nie. Tog het ek dit geniet om na woorde en sinne te luister wat klink of hulle slegs uit konsonante bestaan...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.