Kentridge: Skriba van die geskiedenis en voorspeller van die toekoms

‘NOBELPRYS'

Kentridge: Skriba van die geskiedenis en voorspeller van die toekoms

Die kunstenaar William Kentridge is in 2019 met een van die grootste kunspryse ter wêreld bekroon. Terwyl ’n oorsig van sy werk daardie jaar by Zeitz MOCAA en die Norval-stigting te sien was, het HENK SERFONTEIN sy seminale animasiefilm Johannesburg Second Greatest City After Paris in Amsterdam herbesoek.

DIS 'n verbysterende ervaring om deur 40 jaar se kuns van sekerlik een van Suid-Afrika se mees gevierde kontemporêre kunstenaars te stap. Dié oorsig van William Kentridge se werk, Why should I hesitate: Putting drawings to work, is tans by die Zeitz MOCAA in Kaapstad te sien.

Die gulsige, gierige vraat in Kentridge se animasiefilm Johannesburg Second Greatest City After Paris.
Die gulsige, gierige vraat in Kentridge se animasiefilm Johannesburg Second Greatest City After Paris.

Terselfdertyd word Why Should I Hesitate: Sculpture, ’n keur uit sy driedimensionele werk die afgelope 19 jaar, by die Norval-stigting in Steenberg uitgestal.

Dit val saam met die nuus dat Kentridge die Praemium Imperiale-prys gewen het, wat jaarliks aan kunstenaars in vyf kategorieë toegeken word, en as die kunswêreld se “Nobelprys” beskou word.  

Ek wil egter skryf oor ’n Kentridge-uitstalling, 10 Drawings for Projection, wat ek enkele weke gelede in die Eye-filmmuseum in Amsterdam gesien het.

Hier is 10 kort animasiefilms wat dele uit Suid-Afrika se geskiedenis belig. Die filminstallasie O Sentimental Machine (2015) is deel van die uitstalling, asook van sy tapisserieë.

Felix Teitelbaum ... die dromer en gevangene in die stad.
Felix Teitelbaum ... die dromer en gevangene in die stad.

Johannesburg is twee stede

Wat my as Suid-Afrikaner onmiddellik opgeval het, was die onmiskenbaar grinterige sosiaal-polities gelaaide landskap. 'n Landskap wat reeds so vroeg as 1989 in sy seminale animasiefilm Johannesburg Second Greatest City After Paris voorkom.

Johannesburg is 'n stad wat bestaan vanweë onsigbare goud onder die oppervlak wat hy in 2010 in die ART21-video só beskryf: “It is also a city of dichotomy between very leafy suburbs which are man-made to a very bleak landscape around. A complete fiction."

Hy beskryf die uniekheid daarvan as 'n distopiese plek wat omring word deur mensgemaakte berge, wat die oorblyfsels is van mynaktiwiteite.

“The history of the city is of course the history of two cities. White city with black people living either invisibly in the city or in areas around the city. You didn't expect to see black people at the swimming pool or even in the bus, except at the back.

“How could people manage to survive in these physical conditions? But how could they survive psychically, the degradation and the abuse they were subjected to daily in a completely casual, unconsidered way by white people in South Africa?”

Dit was met hierdie woorde van hom in my agterkop dat ek na die openingsekwens van Johannesburg Second Greatest City After Paris gekyk het.

Houtskoolpanorama ... van 'n verwonde mynlandskap.
Houtskoolpanorama ... van 'n verwonde mynlandskap.

Die flikkerende houtskool-oog

Die hoofkarakter, 'n sigaarrokende selfvoldane kapitalis, Soho Eckstein, word aan die kyker voorgestel met die teks “Captive of the city". Hy is 'n ongure werkolis wat tussen die sigaardampe deur geld aanbid.

Die gelaatstrekke wat op sy verminkte gesig vorm, herinner aan die distorsie in die portrette van die Duitse Ekspressionis George Grosz. Geldelike ambisie vuur sy manlike ego aan en is sy enigste motivering.

Verwagtings word vroeg in die film geskep met die woorde: “Soho Eckstein takes on the world." Die gierigheid van 'n landlord flikker in sy houtskool-oog.

'n Kasregister klingel terwyl die volgende sekwens mevrou Eckstein aan die kyker voorstel met die woord “Waiting", en hoewel ons nie hier kyk na 'n lineêre narratief nie, kan die kyker wel aflei dat mevrou alleen in afwagting by die huis sit, vasgevang in die verhoudingspolitiek wat die patriargie meebring.

Terwyl manlief skatte by die werk versamel, vergaan sy van eensaamheid en verveling.

'n Wulpse tong pleeg fellatio met die gehoorbuis van 'n telefoon. Die ooraktiewe tong lek die palm van 'n hand.

Die volgende protagonis, 'n outobiografiese kunstenaarsfiguur, word voorgestel. Die naakfiguur – Kentridge self – word meestal in silhoeët geteken en 'n allegorie van die alledaagse begin voor jou oë afspeel.

Mevrou Eckstein neem Felix Teitelbaum as minnaar en 'n paar flitsende stomende tonele speel af.

'n Wulpse tong pleeg fellatio met die gehoorbuis van 'n telefoon. Die ooraktiewe tong lek die palm van 'n hand.

Bedwelm deur die liefde word Felix nie net vervul deur liggaamlike passie nie. Sy gewete begin by hom spook. Die teks “Felix Teitelbaum’s anxiety flooded half the house" lei 'n surrealistiese toneel in waarin die emosionele droogte van die karakters gejukstaponeer word met 'n vloed.

In sy blinde liefde vir mevrou se wulpse skoonheid kniel hy voor haar. Lyflike ekstase word vernuftig tussen die twee minnaars geskets en hierdie kyker moet erken dat sy deernis by Felix Teitelbaum, die dromer, lê: “But still his dreams were filled with Mrs Eckstein."

Die emosioneel impotente Soho Eckstein vul daarna die skerm waarin die tafel voor hom in ’n Johannesburgse mynlandskap verander. Die aartskolonialis wat plunder in die braakland.

'n Kakofonie van klank word geskep deur 'n rits telefone wat lui en Soho se tafel word à la Marie Antoinette gevul met 'n oordadige banket van kos wat te veel is vir een mens om te eet. Sy emosionele afgestomptheid en gulsigheid word hierdeur verbeeld.

'n Intieme oomblik ... vir mevrou Eckstein en haar minnaar.
'n Intieme oomblik ... vir mevrou Eckstein en haar minnaar.

Die gekruisigde mynwerker

Johannesburg as distopiese landskap kom dan te voorskyn en op die horison van die landskap word houtskoolstippels vinnig suggestief omvorm tot 'n massa mynwerkers in optog. Dis 'n toneel wat my op onthutsende wyse herinner aan die Marikana-slagting. Die gesiglose massas kronkel deur die mensverwonde landskap totdat die gesig van 'n mynwerker, swart van die roet, voor jou oog kristalliseer. Dit word vinnig duidelik dat hy mynwerker maar ook gekruisigde is.

Dis nie net 'n geveg om die intimiteit van mevrou Eckstein nie, eerder 'n geveg wat herinner aan die Bybelse verhaal van Kain en Abel waarin die metafoor van goed en sleg vir die kyker uitspeel.

Soho vreet voort soos 'n bevoorregte Suid-Afrikaner in 'n gholflandgoed. Afgesny van en uit voeling met die werklikheid. Hy gooi 'n stuk brood in die rigting van 'n mynwerker wat van die figuur afbons in wat lyk soos 'n handeling van informele rassisme. Die ironiese teks “Soho Eckstein feeds the poor" laat my rondskuif op my stoel.

'n Vignette van 'n geweldige geveg tussen Soho en Felix vind in 'n swembad in die uitgestrekte landskap met leë inryteaterskerms plaas. Dis nie net 'n geveg om die intimiteit van mevrou Eckstein nie, eerder 'n geveg wat herinner aan die Bybelse verhaal van Kain en Abel waarin die metafoor van goed en sleg vir die kyker uitspeel.

Die film eindig met 'n optog waarin werkers weer in die landskap verdwyn met die enigste kontak tussen die werkers en die protagoniste die stuk brood wat in hul rigting gegooi word. Die paralelle werklikhede ontstel en geen gehoor word werklik gegee aan die myners wat betoog nie.

Die animasie duur 'n skamele agt minute, maar die restrospektief gee die kyker die geleentheid om na Kentridge se werk te kyk binne die veranderlike politieke en kulturele klimaat. Dis fassinerend om die wederkerende temas in die werk te identifiseer en dan te besef hoe poëties hierdie animasiewerk die Suid-Afrikaanse toekoms voorspel het.

Parallelle werklikhede ontstel ... optog van die ongehoordes.
Parallelle werklikhede ontstel ... optog van die ongehoordes.

Steeds geen tussengrond

Ons spook steeds om 'n tussengrond tussen die “leafy suburbs” en die verminkte landskap van die township te vind. Dis steeds 'n landskap wat grootliks bepaal word deur die versugting na grond wat ’n politieke speelbal geword het. Daar is steeds die politiek van die gierige en dié wat nie besit nie en die politiek van die persoonlike wat op dit alles inwerk.

Die tegniek los spore en skadubeelde en tonele vloei oormekaar. Die tekeninge onthou en vergeet.

Wat egter vir my die mees sentrale narratief op die oomblik in Suid-Afrika is, is die motief van Soho Eckstein en Felix Teitelbaum. Die narratief van die goeie en die slegte. Die edele versus die korrupte waarby ons almal daagliks betrek word.

Kentridge se werkmetode is ekonomies. Hy verfilm die tonele op 'n gewone 16 mm-rolprentkamera en maak nie afsonderlike sketse nie. Hy wysig die tonele deur uit te wis en by te voeg. Hierdeur verkry die werk die hipnoties ekspressionistiese karakter. Die tegniek los spore en skadubeelde en tonele vloei oormekaar. Die tekeninge onthou en vergeet.

Daar is die oorblyfsels van 'n bloedige verlede, van ongehoordes, van onderdrukkers en onderdruktes, van minnaars en mynwerkers en dit hou ons gevange.

Kentridge se werk gee vorm aan die nagmerrie-panorama waarin ons land een groot misdaadtoneel geword het, hetsy op persoonlike of politieke vlak. Dit beskryf die volharding van die geskiedenis wat ons nooit vinnig soos houtskool op 'n tekening sal kan uitvee nie.

  • Die ander wenners van die Praemium Imperiale-prys vir 2019 was die Palestynse beeldhouer Mona Hatoum, die Duitse violis Anne-Sophie Mutter, die Japannese verhoogakteur Bando Tamasaburo, en Tod Williams en Billie Tsien deel die prys vir argitektuur.
  • Hierdie artikel is die eerste keer op 20 September 2019 in VWB gepubliseer.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.