ALI VAN WYK is in Durban gebore, maar nie getoë nie, want voor hy sy verstand gekry het, het sy dominee pa 'n beroep aanvaar na Balfour, tussen die mielielande op die Hoëveld. Ná sy diensplig as 'n Kanarie, het hy in Somerset-Wes skoonmaak-chemikalieë verkoop en in 'n kroeg gewerk, en in die jaar daarna besluit om eerder B.Mus. te gaan studeer op Stellenbosch.
In die derde van sy vier jaar het hy uiteindelik besef hy gaan nie Vladimir Ashkenazy op die klavierverhoë van die wêreld opvolg nie, maar lank in 'n prefab-klas agter 'n skool les gee aan kinders wat gedwing word om klavier te speel. Die daggarokers, queers, misfits, punks en anargiste by die studentekoerant Die Matie, het vir hom na 'n lekker lot gelyk, en hy't oorgeslaan na 'n BA-kursus met joernalistiek daarna.
1. Hoe lyk ’n tipiese dag in jou lewe?
Ek moet gereeld pub lunches vat om die eenselwige roetine van my daaglikse lewe te breek, want ek sit net in my tuiskantoor en skryf, wat wel ’n baie lekker spasie is en skryf kan soms riveting shit wees.
2. Wat is alles in jou aanlyn kantoor by die huis?
Ten minste vier ou verkykers (ek besit omtrent 10). Seker oor net my pa ’n verkyker gehad het in ’n kar van sewe mense in die wildtuin. Al my ou langspeelplate en CD’s. ’n Baskitaar. Rakke vol boeke en tydskrifte. ’n Rak vol vintage Hi-Fi-onderdele, soos versterkers en platespelers en luidsprekers wat ek op veilings opgetel het, want ek is mal oor goeie klank, en dan maak ek klankstelsels vir elke kamer in ons huis. ’n Hele spul veteraanmotormodelletjies (soos Ford Model T’s), want my ouma het gereken ek moes elke jaar een vir my verjaardag kry. ’n John Deere-modeltrekkertjie en -wa en -ploeg wat ons by die koöperasie gekoop het toe ek klein was en ’n SPCA-spaarbussie wat uit hout gesny is uit die ou Rhodesië – ek het geen idee hoekom nie. En nog baie ander vermaaklike junk.
3. En watter publikasies, websites lees jy meeste dae?
The Atlantic, The Guardian, New Yorker, The Wire (die Britse musiektydskrif), Daily Maverick en sport op Netwerk24 en in Rapport. Ek lees ook The Spectator, van wie ek polities verskil, omdat die skrywers so pittig is. Mens lag lekker.
4. Joernaliste, plaaslik en internasionaal wat jy volg?
Met Trump wat die nuuswêreld so oorheers, lees ek nogal gereeld wat Timothy Snyder, Matthew Yglesias, Mary Trump en Chris Hedges sê. Ek raak deesdae meer aangetrokke tot die soort joernaliste wat soos [Noam] Chomsky reken die hele politieke stelsel is gefok en Trump is net die vrat wat op die boud daarvan groei, soos Hedges [ook aanvoer]. Plaaslik sal ek altyd Chris Barron se onderhoude lees en wat Peter Bruce in Sunday Times sê. Ek het Max du Preez nog altyd gevolg, en ook Dana Snyman, Piet Croucamp, Mondli Makhanya, Prince Mashele, Tom Eaton en Justice Malala. Anneliese Burgess is besig om ’n belangrike, sielvolle, geestelike stem te word. Daar is ook giftige, bitter swape, wat ’n mens soos die pes moet vermy, soos David Bullard.
5. En beskryf jouself in ’n hashtag?
#grootbekintrovert
6. Suid-Afrikaanse bands om dop te hou?
Ek let nie eintlik op wat nuut en hot is op enige plek nie. Ek hou van ’n geweldige uiteenlopende spul musiekgenres. Ek is mal oor die elektriese blues en oustyl funk bands in Amerika in die 1970’s, met die volledige koperblaser-seksies en vier back-up-gospelsangers, soos Curtis Mayfield gehad het. Ek is mal oor Kubaanse en ander Latyns-Amerikaanse groepe soos die Buena Vista Social Club, en hulle Afrika-neefs soos die Orchestra Baobab in Senegal.
Ek hou van die nuwe afro-soul funk bands wat mens in Amerika en Engeland kry, soos the Budos Band, en die real thing, soos Fela Kuti. Ek is lief vir swing en bebop jazz, soos wat Charles Mingus se band speel, en die moderne weergawe van ’n big band, soos Snarky Puppy van Texas.
Ek was vir weke depressed to Amy Winehouse dood is, maar nou is daar Raye! Gaan luister na hierdie ongelooflike vrou wat ’n pop queen is, maar ook ’n jazz-headline show doen by die Montreux-jazzfees – divas soos Lady Gaga en Adele is nie op haar vlak nie. Ek luister pop en rock van die wortels daarvan af tot wat mens deesdae kry. Ek is ’n Beatles fanatic, maar ek hou ook van die lieflike Sabrina Carpenter wat nou die wêreld aan die brand het.
Ek is ’n groot Led Zeppelin fan en lief vir David Bowie en Frank Zappa. Ek luister baie sogenaamde klassieke musiek. Ek is veral mal oor Bach se klavierwerke, van die revolusionêre pianis Glenn Gould tot die nuwe hot sensation, Igor Levit.
7. Wat sou jy doen as jy weer kon kies?
Ek sou maar altyd een of ander verslaggewer of storieverteller wees. Dis lekkerder as werk.
8. Jou lekkerste werk sover?
Ek hou van hierdie job wat ek nou doen, want ek kan skryf waaroor ek wil en ek kan van die huis af werk. Ek was ook ’n redakteur by reistydskrifte vir 10 jaar, wat natuurlik heerlik was, en ek kon self soms reis en stories gaan doen. My eerste job as radioverslaggewer by die SAUK was ook soms fantasties – ek het van die Waarheid- en-Versoeningskommissie se verhore gedek, ’n ervaring wat my lewe verander het. Dit was van die mees aangrypende en hartseer stories wat ek nog teëgekom het.
9. Jou gunsteling-aftershave?
’n Mens moet lekker ruik. As ek geld het, Paco Rabanne, andersins is Adidas se produkte ’n lekker hack vir armgatte. Selfs hulle fancy parfuum is van goeie kwaliteit.
10. Wat is jou guilty pleasure?
Hokgevegte. Mixed martial arts. Die soort ding wat Dricus du Plessis in die UFC doen. Bokspuriste kyk neer daarop as straat- of kroeggevegte, maar dit is nie. Jy het ongelooflike vaardighede nodig en dit raak al meer tegnies. Dit is brutaal en jy het massiewe knaters nodig om in daai hok te klim teen ’n ou wat jou sal doodmaak as jy nie keer nie. Die vroue is amper beter as die mans.
11. Wat besit jy wat jy nooit sal weggooi nie?
Niks. Dalk my Hilux-bakkie. Dit simboliseer vryheid, want dit kan enige plek heen ry en het ’n yskas.
12. Die dier waarvoor jy die bangste is?
’n Hond wat oor jare getraumatiseer is of opgelei is om jou aan te val.
13. Waarvoor is jy bang?
Kriminele politici met onbelemmerde mag wat ons vryheid kan inperk.
14. Wat aan jouself sou jy wou verander?
Ek sou graag een van daai mense wou wees wat nie ekstra gewig aansit nie.
15. Wat vind jy sexy?
Slim oë met lagplooitjies.
16. Wat is op jou bedkassie?
My tablet, met Finding Endurance van Darrel Bristow-Bovey en Nexus van Yuval Noah Harari wat ek tans lees, en dan lê en wag Bun Booyens se samestellings van gewone dienspligtiges se stories, Troep, Ian Morris se Why the West Rules – For Now en ’n boek wat ek al jare probeer lees, Giles Foden se Mimi and Toutou Go Forth. Daar’s ook ’n stresbal wat soos ’n aap se kop lyk, en as jy dit druk, lyk dit of hy opgooi. Een van my weird kinders het dit vir my gegee.
17. Wat is jou idee van ’n It Girl?
Mmmm. Seker Natalie Portman. Jennifer Lawrence. Raye. Redi Tlhabi.
18. Jou gunstelinggereg as jy mense oornooi?
Dit verander heeltyd. Deesdae kyk ek watse soort tamatiesoppe mens als kan maak, want dis maklik en verskriklik lekker. Ek is mal daaroor om nuwe kerries te ontdek en om mense te verras met hoe moerse lekker afvalgoedjies kan wees, soos lewer en netvet of beestong, want as jy dit anders as gewoonlik aanbied, as ’n happie in ’n voorgereg in kombinasie met ’n slaaiding en ’n sousie op ’n soort brood of dalk 'n blokkie gebraaide pap, is hulle meer geneig om dit te probeer en mal daaroor te wees.
19. Jou beste aksiefliek?
Aksieflieks is nie my go-to genre nie, maar as ek aksie kyk, hou ek die meeste daarvan as dit op die outydse manier gemaak word, met regte stunts. Car chases en brutale gechoreografeerde vuisgevegte. En dit moet snaaks ook wees, soos daai beroemde kroeggeveg in Three Amigos. Daar is ’n Franse fliek op Netflix, Lost Bullet (Balle Perdue), met Alban Lenoir, wat fantasties is. Ek het ook gehou van Ronin destyds, en selfs ’n bietjie van The Fifth Element en Die Hard. Die nuutste James Bonds en Mission Impossibles se CGI verveel my ná ’n ruk. Ek hou van baie goeie scifi, soos Blade Runner, en ek kan nie ontken dat ek nogal van Mad Max: Fury Road gehou het nie, al was dit sekerlik vrot van die CGI.
20. Watter series kyk jy?
Onlangs was White Lotus op my radar, Adolescence is ’n briljante Britse minireeks, maar dis nie ligte vrugte nie, A Thousand Blows is ’n heerlike reeks deur dieselfde mense wat Peaky Blinders gemaak het, toevallig met twee van dieselfde akteurs as Adolescence, die wonderlike Stephen Graham en Erin Doherty. Die Duitse The Empress is ’n lekker periode-reeks. My televisiegewoonte is borderline problematies. Breaking Bad bly vir my die beste reeks nog.
21. Jou droomkar?
Toyota Landcruiser Troopy wat eenvoudig uitgerus is met sonpanele en watertenks.
22. Beste vakansieplek?
Kaokoland, Mexiko, Morgansbaai.
23. Mees rampsalige vakansie?
Hoeveel woorde het ek? Ons is in ’n Desember toentertyd uit die Kaap weg Fouriesburg toe met twee klein kindertjies om saam met my ouers en broer en susters te gaan kamp met ’n 1975 Volkswagen Autovilla waarin ek ’n tweeliter-Toyota-enjin ingebou het. Dit was van die begin af ’n rampsalige situasie. Hy’t heeltyd oorverhit en 30 km voor Colesberg stotterend tot stilstand gekom. ’n Flatbed-insleeptrok het ons kom oplaai en ons het bo-op die trok, in die campertjie, die son sien ondergaan oor die Karoo. Dit was die laaste mooi.
Ons het die campertjie by ’n mechanic gelos en in ’n goedkoop motel gaan oorslaap. Die volgende oggend het die mechanic-oom vir ons gesê die top het geblaas en dit moet geskim word in Bloemfontein, maar dis 15 Desember en al die werkswinkels is toe tot in Januarie, “maar ons is ook toevallig die agente vir Budget-motorhuur!” Ons moes ten duurste ’n bakkie met ’n sleephaak by hom huur vir ons sleepwa waarin ons al ons besittings gegooi het, ook ’n tentjie wat ek wonder bo wonder as laaste gedagte in die camper gegooi het.
Die volgende dag toe ons uiteindelik in Fouriesburg uitkom, kom ons agter ons moet kamp langs ’n 10 m-afgrond sonder heining, met ’n 16 maande oue baba wat nou net lékker aan die stap was. En die man wou stap. Ons het geen kamptoerusting gehad nie, behalwe die tent. Ek het ’n heining prakseer met toue en stroppe om die kind se lewe te bewaar. Ons was ’n meter of twee weg van drie ander gesinne in ons familie, ingeprop op ’n kampeerplek.
En toe begin dit reën, en reën, en reën, en ons goedkoop tentjie lek en lek en lek. Ons ouer kind, ’n dogtertjie, was ook toe op die toppunt van ’n militante tantrum-fase, en sy het gegil en geskreeu en gegil.
Op die tweede aand het ons agtergekom die kinders het kopluise in die goedkoop motel opgedoen. Dit was ook omtrent presies op daai stadium dat my ma se hare begin uitval het van chemoterapie. En terselfdertyd het die skreeuende dogtertjie se tantes gratis dissiplinêre advies en kommentaar op ons ouerskapstyl van ’n afstand af begin uitdeel.
Net ná Kersfees het ek genoeg gehad. Ek kry ’n lift Johannesburg toe, vlieg Kaapstad toe om ons ander motor te gaan haal, ry deur die nag Vrystaat toe, installeer ten duurste ’n sleephaak in Bethlehem, en gaan haal my gesin en ry huis toe.
Toe ek in Januarie die campertjie by die mechanic in Colesberg gaan haal, sê die oom: “O nee, dit was toe nooit die top nie. Dit was net die clutch wat ons sommer maklik reggemaak het in ’n uur of twee.”
24. As jy môre die Lotto wen, wat sal jy doen?
Wel, dit hang af hoeveel ek wen. As dit regtig obseen is, sal ek genoeg belê dat ek vir altyd van die rente kan leef, en ek sal daai Land Cruiser Troopy koop en ek sal ry en gaan stories soek. Ek sal dokumentêre flieks maak met ongelooflike stories en as iemand dit nie wil koop nie sal ek dit net op YouTube sit.
25. Jou ideale dag? Kan maar fantasie ook wees.
Die beste dag van my lewe was om in Maputo rond te loop, na die stad se mark, ’n stokou merry-go-round met klein restaurantjies, die Natural History Museum, wat ’n museum is van ’n museum, die heerlike restaurantjies oral, die seiljagklub. Laas toe ek daar was, was daar ’n African vibrancy bo-op die kolonialistiese oorblyfsels. Dis ’n morsige stad, maar lewendig dwarsdeur die nag. Ek hoor egter dit gaan sleg daar.
26. Jou gunstelingspeelding as ’n kind?
Ek reken toe my pa uiteindelik ’n demonstrasie-hoëtroustelsel by ’n plek in Springs gekoop het teen ’n moerse afslag, het dit my gunstelingspeelding geword. Ek het grootgeword in platterige mieliewêreld, nie juis prikkelend vir die verbeelding nie. Ek het voor die speakers gaan lê en die enigste langspeelplate in ons huis geluister, Beethoven-simfonieë, Tchaikovski-ballette, Mozart-klavierkonserte. Ek kon nie glo dat mense so ’n allesomvattende alternatiewe en abstrakte wêreld in klank kon skep nie. Jy kon letterlik vir ’n halfuur of meer in ’n fantasiewêreld inbeweeg en jou eie droewige en vaal realiteit verlaat.
27. As jy drie mense kan nooi om saam met jou te gaan kamp (behalwe jou gesin), wie sal dit wees?
Frank Zappa, Wolfie Mozart en Duke Ellington.
28. As jy net een song kan kies om na te luister?
Ek sal een van Bach se groot misse kies, want jy kan dit nooit volledig ken nie. Of David Kramer se “Meisie Sonner Sokkies”. Ek raak NOOIT gatvol daarvoor nie.
29. Jou laaste maaltyd?
’n Franse omelet en ’n glas goeie witwyn.
30. Hoe wil jy onthou word?
Ek gee regtig nie ’n duit om nie. OK, nee wag, my kinders moet dink ek was ’n pittige, onderhoudende en verrassende mens en ’n goeie pa.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.