LESERSBRIEF | Munisipaliteite: Waaksame gemeenskappe noodsaaklik

VEG TEEN WANBESTUUR

LESERSBRIEF | Munisipaliteite: Waaksame gemeenskappe noodsaaklik

Winsgewende munisipaliteite is in wanfunksionele, bankrot entiteite omskep. Nou moet elkeen van ons help om die stand van sake te beredder.

  • 12 Julie 2019
  • Vrye Denker
  • 2 min om te lees
  • artikel 28 van 29
Image: 123RF/KU2RAZA

DIE ouditeur-generaal het ’n donker prentjie van die finansiële wanbestuur in die land se 257 munisipaliteite geskilder en gesê verantwoordbaarheid neem steeds af terwyl ongemagtigde uitgawes hoog bly.

Staatskaping het ’n vernietigende invloed op alle fasette van die Suid- Afrikaanse samelewing. In terme van verslaggewing geniet staatskaping voorrang. Die kaping van munisipaliteite is selfs meer vernietigend.

Winsgewende munisipaliteite is in wanfunksionele, bankrot entiteite omskep as gevolg van staatskaping, onbevoegdheid, wanadministrasie, gulsigheid en blote diefstal. Dit het die vernietiging van dorpe, besighede en werkgeleenthede tot gevolg. 

Ten spyte van die feit dat baie van ons verantwoordelikheid vir die roof van nasionale bates kan omseil, is dit nie die geval waar die plundering van die omgewing waarin ons woon en werk plaasvind nie – op munisipale vlak.

Dit het voor ons oë plaasgevind, maar ons het verkies om nie betrokke te raak nie; ons het selfs verkies om nie te weet nie.

Nuwe maatreëls

Die minister van finansies, Tito Mboweni, en die tesourie het onlangs regulasies ingestel om korrupsie en vrugtelose uitgawes teen te werk.

Hierdie regulasies beïnvloed uitgawes op alle terreine van munisipale sake – besigheidsklasvlugte, duur motors, partytjies, spanbou-oefeninge, etes tydens begrotingsredes, die finansiering van verkiesings- en reklameveldtogte, ensovoorts.

Die regulasies beklemtoon die mate waarin munisipale amptenare en openbare verteenwoordigers rojaal gelewe het op die koste van die fiskus en belastingbetalers, en voortgaan om openbare geld aan nie-prioriteitsitems te spandeer.

Hierdie maatreëls stel die gemeenskap in staat om munisipaliteite verantwoordbaar te hou. Die regulasies maak dit vir elke munisipaliteit verpligtend om ’n kostebesparingsplan op te stel – wat op die munisipaliteit se webtuiste vertoon moet word – met gevolge ingeval dit nie toegepas word nie.

Ons moet deelneem

Sonder waaksame deelname sal daar egter niks van kom nie. Hierdie optrede deur die tesourie is ’n positiewe stap in die proses om munisipaliteite tot op ’n funksionele vlak te herstel. Gewone mense moet egter hulle rol vervul om te verseker dat dit plaasvind:

  • Besighede (en individue) moet op ’n georganiseerde en ywerige grondslag betrokke raak;
  • Kostebesparende planne moet geëvalueer word;
  • Munisipale prestasies moet noukeurig gemonitor word;
  • Swak prestasie en nie-nakoming mag nie geduld word nie; en
  • Waar munisipaliteite nie positief reageer nie waar en wanneer voldoening vereis word, moet die tesourie versoek word om die aangeleentheid te besleg.

Hierdie stappe deur die tesourie is in werking gestel om munisipaliteite verantwoordbaar te hou. Dit is egter net die plaaslike gemeenskap, in besonder die sakegemeenskap, wat in staat is om verantwoordbaarheid te eis.

Sonder ’n waaksame gemeenskap sal die ou destruktiewe gewoontes voortgesit word en sal ons net onsself kan blameer. Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika (Neasa). Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.


PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie brief kommentaar te lewer.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.