Ons grootste liriese minnaar van dood en verganklikheid

BREYTEN WAS 'N REVOLUSIE

Ons grootste liriese minnaar van dood en verganklikheid

Breyten Breytenbach se afsterwe in November 2024 wou net nie insink vir DANIE MARAIS nie, hy lewe dan nog. Maar hy kon die greep van ’n geweldige gevoel van verlies nie ontken nie.

Everybody's got this broken feeling,
like their father or their dog just died.

DIS dié woorde van Leonard Cohen waarmee ek wakker geword het. Gepas, want Breyten was baie lief vir Leonard. Die idee dat Breyten dood is, wil net nie insink nie, maar ek is in die greep van ’n geweldige gevoel van verlies, of dalk die voorbode daarvan.

Die laaste keer wat ek hom gesien het, was verlede September by die Tuin van Digters-digfees. By die huldiging van Dominique Botha, wat die Ingrid Jonker-prys gewen het, het hy ’n gedig gelees uit vyf-en-veertig skemeraandsange, wat eindig met: “Ek en my vriende moes leer die wêreld is nie vir verander nie.”

’n Paneelbespreking gereël deur PEN Afrikaans in die Bôrdienghuis by die Breytenbach-sentrum in Wellington in 2015. Van links, Danie Marais, Bettina Wyngaard, Adam Small en Breyten.

Ná die tyd het hy innemend met my en Catherine du Toit staan en gesels. Breyten was iemand wat 80 geword het sonder om ooit die indruk van ’n ou man te skep, maar hy het daai aand die eerste keer vir my regtig broos gelyk, en om daardie woorde dié aand so weerloos van hom te hoor, het my laat sidder. Dit het my herinner aan Simón Bolívar, die groot bevryder van Suid-Amerika, wat glo kort voor sy dood gesê het: “All who served the revolution have plowed the sea.”

Deurtrek van verlange

En tog het hy die wêreld vir so baie mense verander, my inkluis. Hy wás ’n revolusie.

Breyten was in sy vroeë werk al die grootste liriese minnaar van die dood en verganklikheid in Afrikaans – ’n stem wat tussen die ewige uitskot en verval van die aardse, dronk was op ’n beleërde taal en die terging van die onsêbare. Reeds in Kouevuur (1969) word die mensdom as “bannelinge van die dood” bestempel en word gesê dat net “dood die afsterwe stop”. En tog het sy woorde die wederopstanding van soveel harte moontlik gemaak.

In Kouevuur, ’n bundel deurtrek van verlange, het ek in my twintigs solidariteit gevind wat ek nêrens anders in Duitsland kon kry nie. My nou al 24-jaar-oue blou leerbaadjie het ek gekoop omdat dit my aan die omslag van hierdie bundel herinner het.

In Skin: Talking About Sex, Class And Literature het Dorothy Allison geskryf: “There is a place where we are always alone with our own mortality, where we must simply have something greater than ourselves to hold onto – God or history or politics or literature or a belief in the healing power of love, or even righteous anger ... A reason to believe, a way to take the world by the throat and insist that there is more to this life than we have ever imagined.”

Breyten was dikwels vir my daardie rede om te glo in en aan te dring op ’n lewe wat meer is en meer kan wees as wat ons ons ooit kan verbeel.

  • Hierdie artikel is die eerste keer op 25 November 2024 in VWB gepubliseer.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.