- 28 Maart 2025
- Vrye Denker
- 17 min om te lees
- artikel 20 van 36
-
Angela TuckVWB se ontwerp- en kunsdirekteur
TEEN die mure van ons huis toe ons grootgeword het, was uitbeeldings van drie bebaarde mans: Jesus, 'n Kaptein en Die Generaal.
Elke ding wat ons besit het, het aan Die Generaal behoort. In my kinderlike gedagtes het ek gewonder wie op aarde hierdie persoon is wat my bed, die stoof, die matte en die gordyne besit – “Die Generaal se meubels". Elke mes en vurk en bord en koppie was Die Generaal s'n. Die hele huis, ook die bakstene en sement, het aan Die Generaal behoort.
“Liewe Here Jesus, bedank asseblief Die Generaal dat hy vir my 'n dak oor my kop gegee het.”
Sommige van die goed in ons huis het gelyk of dit al baie lank aan Die Generaal behoort het, en dit was duidelik dat ander mense voor ons dit ook al oor en gebruik het. Maar tog was ons geseënd om sulke dinge te hê. Ons was altyd bang om iets te beskadig, maar 'n span van vyf kinders veroorsaak noodwendig 'n bietjie chaos. Tog was ons berou gewoonlik in pas met ons dankbaarheid. Saam met my ma wat by enige denkbare geleentheid sou gil: “Wat sal Die Generaal sê?”
Glo my maar as ek sê Die Generaal het nooit kom kuier om te sien of ons wel mooi na sy goed kyk nie. Hy was wel altyd “daar" op een of ander manier, soos 'n onsigbare wese wat jou om die hoek dophou dat jy nie jou kêrel se naam op 'n kasdeur uitkerf of jou gordyne tie-dye nie. Die Phantom General was sekerlik een van die magtigste mense in die wêreld, het ek gedink. Hy het elke huis besit waarin ons ooit gewoon het, wat beteken hy het baie gehad en ons bitter min. Die Generaal was vrygewig, en ons was dankbaar.
Antwoord die roepstem
Ons het later ook gehoor van die huis wat my ouers wel in Port Elizabeth besit het toe hulle in 1963 getroud is; Taybank was 'n fantasiewêreld ver van Die Generaal se huis af. Daardie tye moes veral vir Ma wonderlik gewees het, want nes ek en my broers en susters het sy al haar kinderjare in Die Generaal se huise gewoon, in Suid-Afrika sowel as die buiteland: Slaap op Die Generaal se beddens in Nairobi. Trek Die Generaal se gordyne toe in Vendaland. Gebruik Die Generaal se eetgerei in Engeland.
G'n wonder sy het na Die Generaal geroep as selfs die geringste ding skeefgeloop het nie. Teen die tyd dat die eerste van ons kinders op pad was, moes sy régtig dankbaar gewees het.
Voordat ek die eerste keer na een van Die Generaal se huise getrek het, het ek saam met my ouers en my oudste suster, Janet, in Taybank gewoon. Dit was van korte duur vir ons vier, want Ma en Pa het 'n roeping gehad. Hulle het gesê hulle is deur God geroepe om Hom te dien so goed as wat hulle kon. Voltyds.
Dit het ook beteken hulle kon nie ander werk hê as die hooftaak waartoe God hulle geroep het nie, en jy moes opgelei word in daardie taak, en jy moes van toe af in Die Generaal se huise woon. Teen 1968 het ons in Die Generaal se grootste huis in Suid-Afrika gewoon, by Clarencestraat 20 in Troyeville, Johannesburg. Dié huis was eens die eiendom van sir Julius Jeppe, en in die 1980's is dit deur die hedonis, kunstenaar en sjef Braam Kruger gekoop.
Wat sou Die Generaal sê?
Van my eerste asemteug af het Ma en Pa uniforms op Sondae en ander spesiale geleenthede gedra. Ouma Golly het ook 'n uniform gedra, so ook Oupa Grampie elke nou en dan. Ander ouma en oupa het blykbaar niks anders as hulle uniforms gedra nie. Daar was twee soorte: 'n somerdrag en 'n winterdrag, hoewel eersgenoemde eers in ongeveer 1962 in Suid-Afrika vrygestel is.
Ek weet dit, want toe Ma en Pa getroud is (in uniform), was Ma die eerste een wat gespog het met die nuwe uitrusting, tot almal se groot opgewondenheid. Hulle was 'n manjifieke paartjie: Pa, lank, donker, aantreklik, met maer bene en 'n Elvis-haardos; en Ma, 'n ware Engelse Roos met kurwes op al die regte plekke en haar lang blonde hare in 'n indrukwekkende beehive boontoe gestileer.
‘Saved to Serve’
Die uniform van die 1960's was stylvol, met 'n hoë kraag en epoulette. Prominent op die kraag was twee donkerrooi, amper maroen, stroke vilt, en hieraan, links en regs, was groot metaalletters vasgespeld. Ek het geleer dat die linkerkantste “S" (soos deur iemand anders gesien) vir “Saved” en die regterkantse een vir “Serve” staan. Ma en Pa is geredde sodat hulle kon dien. Dit was belangrik dat hulle met hulle voorkoms bo die massa moes uitstaan. Deur net na hulle te kyk, het jy geweet hulle is Saved to Serve.
Ma en Pa moes 'n spesiale streep by hulle uniforms voeg toe ons na Clarencestraat 20 getrek het. Hulle was reeds Saved to Serve, maar nou moes hulle opgelei word om dit behóórlik te kon doen. Hulle is Cadets genoem.
Al was dit toe nog nie vir my duidelik nie, moes jy baie spesiaal gewees het om deur God geroep te word, en selfs meer spesiaal om daardie roepstem te hoor en tot aksie oor te gaan. Soos dié besef gegroei het, het die ware identiteit van die Phantom General ook duideliker geword. Hy, of eintlik sy teen die tyd dat ek die eerste keer dapper genoeg was om die vraag te vra, was niemand anders nie as die persoon boaan die hiërargie van die Heilsleër, die kerkorganisasie waar Ma en Pa gekies het om hulle roeping uit te leef.
Tot in daardie stadium was hulle gewone soldate, nes Ouma Golly en soms ook Oupa Grampie. Nou was hulle kadette, opgelei om voltydse offisiere in die Leër van die Here te wees. Ouma en Oupa was reeds offisiere toe ek hulle ontmoet het. Hulle uniforms was baie fancy en mense het hulle luitenant-kolonel genoem.
Die opleidingskollege van die Heilsleër was vol kadette wat almal ook gehoor gegee het toe God hulle geroep het om by Sy Leër aan te sluit. Dit blyk toe dat selfs al het jy geweet God het jou geroep, jy nog steeds moes besluit of jy gaan gehoor gee of nie. Luister jy dalk nié, sou jy dalk jou hele lewe lank moes saamleef met die knaende wete dat jy jou plig versuim het deur nie andere te Save en Serve nie.
Mense het 'n roeping gehad om verskillende dinge te doen. God het nie nodig gehad dat elkeen 'n offisier hoef te wees nie. Hy het ook soldate van alle ouderdomme nodig gehad om op ander maniere regoor die land en die wêreld te dien. Jy kan tegelyk 'n loodgieter en 'n soldaat wees, maar jy kan nie tegelyk 'n loodgieter en 'n offisier wees nie (tensy jy reeds 'n loodgieter was toe God jou geroep het). As 'n loodgieter kon jy jou oorpak werk toe dra, maar jou werk vir die Heilsleër moes in jou soldaat-uniform gedoen word.
Die belangrikste ding van alles was om nooit skaam te wees nie, om nooit weg te steek wat jy doen nie. Jy kan nie in 'n leër wegkruip nie, want almal kan jou uniform van ver af al sien.
“The Salvation Army – what a strange name! What does it mean? Just what it says – a number of people joined together after the fashion of an army; and an army for the purpose of carrying Salvation through the land, neither more nor less than that.”William Booth, 1878
Ek is in die Leër gebore 101 jaar nadat dit deur William en Catherine Booth begin is. Hy was die eerste generaal in 1865, saam met Catherine. Toe Ma in 1943 gebore is, was Ouma en Oupa reeds offisiere. Ma is ook in die Leër gebore. Ek en Janet is gebore uit soldate wat as 'n verpleegster en 'n tekenaar gepraktiseer het. Teen die tyd dat Carol, Gordon en Gregory gebore is, was dit as die kinders van voltydse offisiere.
Soos ons, het Ma grootgeword as 'n “O.K."; 'n Officer's Kid. Om self een te wees en dan nog van ons in die wêreld te bring, het gewys dat sy regtig seker was oor wat God haar geroep het om te doen. En Pa moes ook geweet het, want hulle het ontslae geraak van die huis en hul ander wêreldse besittings en die oproep van God gehoorsaam.
Voorwaarts, Christen-stryders.
Die afgelope Donderdag, op 27 Mei, het die Salvation Army kommissaris Lyndon Buckingham as sy 22ste generaal verkies. Mamma, wat nou 80 is, was so vervul met die Bloed en Vuur asof dit William Booth self was. Sy het vir ons die skakel op WhatsApp gestuur om die aankondiging regstreeks van die High Council by Sunbury Court in Londen te kyk.
Dit het my teruggeneem na daardie Generaal wat altyd teenwoordig was toe ek grootgeword het: teen die mure, in liedjies, en in my ma se dreigemente.
Die Booths was die Leër se eerste ouers, en die beeld van veral William was vir ons so bekend as wat Kersvader vir ander kinders was. Trouens, hulle was amper dieselfde – elkeen met 'n regstreekse skakel na Jesus en elkeen met 'n lang baard. Maar die Booths se missie was nie net iets wat een keer per jaar plaasgevind nie. Die stories oor hulle was en is steeds baie beter as enige van die ander stories, beter as dié van Dawid en Goliat en miskien selfs beter as Daniël in die leeukuil.
Die Booths het hulle Christelike sending in die armste dele van Londen se East End uitgeleef nog lank voordat hulle die Salvation Army begin het. Dag in en dag uit sou hulle vir die ergste denkbare sondaars vertel om hulle te bekeer voor dit te laat was.
Een van die stories word vertel deur ene Miss Short, wat vanaf 1867 vir 'n paar jaar by die Booth-gesin gewoon het. Een Kersfees was William vasbeslote om “a thoroughly happy old-fashioned Christmas" te hê, so daar was groot opgewondenheid in die huishouding toe die voorbereidings die vorige week begin het. Hy het daardie Kersoggend in Whitechapel gepreek, maar met sy terugkeer van daar af was hy baie ongelukkig.
“Hy het sy bes gedoen om mee te doen aan die kinders se pret en plesier, maar vergeefs; hy het bly terugkeer na die stilte en somberheid. Hy het vreeslik bleek en teruggetrokke gelyk, asof hy siek was of deur een of ander erge bekommernis beklem is. Toe skielik roep hy uit: ‘I’ll never have a Christmas Day like this again'," het Miss Short vertel.
“We think our Shelters have amply proved the fact that religion and soup can be very intimately connected without any detriment to the salvation of souls ... soup may be made a most helpful handmaid to salvation."The Deliverer, 1 March 1890
Hy het op en af begin stap terwyl hy die gesin vertel het van die armoede wat hy daardie oggend gesien het. Hartseer en kwaad oor die drankmisbruik het William uitgeroep: “The poor have nothing but the public house – nothing but the public house!"
Dit was die laaste Kersfees wat die Booth-gesin saam by die huis deurgebring het. Van die volgende jaar af het hulle en ander sendingwerkers oral in die krotbuurte rondgeloop om pruimpoeding aan die armes uit te deel. Daardie eerste Kersfees het hulle 150 van dié nageregte weggegee.
Soos Miss Short vertel het: “Other people only saw the drinking; he saw the poverty, the misery, the disease, and the godlessness behind it; the sins of London didn’t shock him, they seemed to tear at his heart with claws that drew blood."
Bloed en Vuur!
My ma se volgende WhatsApp het Vrydag deurgekom toe sy besig was om voor te berei aan wat sy sou sê by die 140ste herdenking van die Heilsleër in Suid-Afrika die volgende oggend. Sy het gesê daar sou 'n optog deur Gqeberha wees om die Celebration Torch te dra. Die fakkel, het sy gesê, sal voortgaan om oor Suid-Afrika te reis tot September, wanneer die nuwe Generaal Afrika gaan besoek.
Die Heilsleër doen niks op klein skaal nie, en om in die strate te wees as openlike getuies is in pas met die vroeë sendingwerk van William en Catherine Booth. Wanneer Ma en Pa op straat uitgegaan het, moes hulle hulle hoofbedekking dra. Pa het 'n pet soos 'n polisieman s'n gehad. Dit was donkerblou met 'n maroen lint wat om die voorkant gedraai is, en afgewerk met 'n donkerblou vlegsel. Dit het 'n klein puntjie aan die voorkant gehad, en in die middel van die lint was die kenteken van die Heilsleër wat uit dieselfde metaal gemaak is as die twee S'e van Saved to Serve op sy kraag.
Dit was nie naastenby so wonderlik soos Ma se uitrusting nie. Die punt van haar hoed se kappie was soos 'n gebeeldhoude skulp met 'n plat punt wat aan die agterkant van haar kop gerus het. Dit het opwaarts gekrul in 'n skepping met blou linte aan die kant en 'n gespe wat onder haar ken deur gestrek het. Pa het ook 'n band onder sy pet gehad, maar syne was dunner en harder as Ma s'n. Sy het gelyk soos 'n engel met haar blonde hare wat in 'n Franse rol netjies in die hoë skulp ingevou is, en haar sagter lokke wat 'n golwende raam om die satyn-gevoerde kant van die kappie gevorm het. 'n Pragtige offisier-soldaat.
Die Heilsleër glo daarin om 'n vreugdevolle en dikwels welluidende geraas vir die Here te maak, met 'n blaasorkes en tamboeryne. Pa is gebore met 'n merkwaardige musikale gawe, en hy sou soms op sy eie genoeg geraas moes maak vir 'n hele orkes, want die korps waar hy en Ma gestasioneer was, was te arm om nog instrumente te bekostig.
Hy was 'n prentjie om te aanskou, met sy maer bene wat die gewig van die trekklavier moes dra terwyl hy met een hand op sy kornet blaas (soortgelyk aan 'n trompet, maar kleiner), en met die ander hand die trekklavier speel. Hy sou sy bene só buig dat sy rug agtertoe geboë was en die trekklavier soos 'n swanger maag voor hom gehang het. Met sy oë toe sou hy sy lippe styf saamtrek om die perfekte toonhoogte op die kornet te kry. Op een of ander manier, met sy hande vol, sou hy die trekklavier dan in- en uittrek om die nodige volume te kry. Pa, die wandelende orkes.
Generaal Booth moet die volle krediet kry (en volle verantwoordelikheid neem) vir dié soort orkes-idee. By geleentheid, nadat hy werkers na 'n byeenkoms in die buitelug genooi het, het Booth verklaar: “I often wish I was a soldier dressed in a red coat, so that it would attract the crowd and bring them to the feet of Jesus."
Enige leër hou van magsvertoon, en die Heilsleër was geen uitsondering nie. Ek en Janet het met die aanhoor van die woord “army” altyd gevra: “The bang-bang Army or the Jesus Army?"
Carol, Gordon en Greg sou later dieselfde vraag vra. Ons sou dikwels die regte leër sien paradeer met hulle gewere en uniforms en orkes.
’n Weermag sonder gewere
Die Jesus Army het dieselfde gedoen, maar sonder die gewere. Die vlagdraer sou reg voor in die troep wees. Hy of sy sou 'n harnas, gewoonlik van wit leer, aan hulle vasgemaak hê. Die paal van die hoë vlag sou in 'n sakkie rus wat net groot genoeg was om dit regop te hou. Boem, boem, boem het die groot basdrom reg agter in die groep gedoef om die ritme te vestig. “A-a-and, march!" Dit was iets om te beleef.
Met sy lang, forse, ritmiese treë sou die vlagdraer die optog lei en die vlagpaal met een hand op borshoogte vashou terwyl die ander arm heen en weer in pas geswiep het. Na bo het die geel, rooi en blou vlag gewapper. Elke nou en dan kon jy die Heilsleër se kenteken sien met die woorde “Blood and Fire" op die banier aan die onderkant. Boem! Boem! Boem!
En reg agter die waaiende vlag was die groep vroue met die tamboeryne, elkeen versier met geel, rooi en blou linte in gelyke lengtes. Dit was betowerend om te hoor en te aanskou. Maak nie saak watter tyd van die dag dit was nie, die silwer metaalringe sou glinster terwyl hierdie vroue hulle tamboeryne tegelyk in die lug gooi en weer vang. Hulle sou heen en weer beweeg op maat van die musiek, en die ritme sou van oral eggo.
Die orkesmeester sou die reguit eerste en tweede rye kornette en soms 'n trompetspeler lei. Dan die eerste en tweede horings, miskien 'n Franse horing en ander instrumente, met die basse na agter. Die tromspeler was in 'n ry van sy of haar eie, uit vrees dat 'n uitbundige swiep een van Jesus se ander soldate teen die kop sou tref.
Die groot bastrom is van die nek tot die knieë aan die voorkant van die tromspeler vasgemaak met 'n dik harnas. Dit was die maklikste instrument om te speel, maar sou die tromspeler se aandag vir net 'n oomblik afgelei word, sou die hele orkes begin rondval en bekommerd na agter kyk. Die orkesmeester sou beslis iets daaroor te sê hê!
“We want a body of red-hot people to sing the songs of salvation. The world has not yet seen what might be done by the singing of a people whose hearts were full of the spirit of God.”William Booth
Oom William het sy sin gekry met die lok van skares. Afgesien van die soldate wat geen instrument kon bespeel nie en maar net agterna geloop het, was daar ook al die ander wat langs die pad sommer by die optog aangesluit het.
Jy sou hulle net mooi kon sien as die optog iewers tot stilstand kom en almal in 'n kring bymekaarkom vir die “opelugbyeenkoms". Meestal sou die dronkies hard hande klap en saamsing, of een van die orkeslede entoesiasties op die rug klap. Vroue in stywe, kort rompies sou teen 'n lamppaal leun terwyl hulle na die Bloed-en-Vuur-boodskap luister. Soms sou iemand uit die publiek in spoggerige klere sommer ook begin preek in 'n harder stem as die eintlike prediker, spottenderwys “Amens" skree tydens die gebed, of iemand sou wankelrig saam met een van die tamboerynspelers dans.
En dan, in 'n oomblik van stilte, sou een van die agternalopers stadig vorentoe tree en gaan kniel by die trom in die middel van die sirkel. Hulle sou hulle koppe in hulle hande hou en só hard begin snik dat jy nie kon help om een oog oop te hê tydens die gebed nie.
Dié persoon sal dan soms oorgee aan die emosie terwyl 'n Heilsman langs hulle kniel met 'n vertroostende arm om hulle skouers. Hulle sou praat en bid solank dit nodig was vir die sondaar om bekeer en gered te word. Dit het nie altyd die eerste keer gewerk nie. Op die agtergrond sou die soldate en offisiere eerbiedig aanhou sing totdat die soldaat en die nuwe bekeerling van die trom af opstaan.
As Officer's Kids het ek en my broers en susters geen ander lewe geken as die Jesus Army nie; 'n kleurvolle, meestal vreugdevolle dog harde, streng – en vergewensgesinde – uitgebreide familie wat in 133 lande die boodskap al marsjerend uitdra, van New York tot in Kalkutta.
Ma en Pa het hulle lewens as offisiere aan die Heilsleër gewy en 'n oorlog teen armoede gevoer as 'n praktiese uitlewing van hulle geloof.
En terwyl my pa nou al na “sy ewige beloning" vertrek het, is my eie Moeder Teresa nog lank nie klaar met hierdie wêreld nie.
- Hierdie artikel is die eerste keer op 2 Junie 2023 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.