DIE vraag kon nie vermy word nie, en dit het toe ook gekom, in November 1994, toe ek in Mario’s Restaurant in Groenpunt aansit saam met Breyten Breytenbach en Ampie Coetzee. “Van watter Breytenbachs is jy?”
Ampie het my gewaarsku dat ek dit moes verwag. Dit was deur sy bemiddeling dat ons kon aansit. Ek het verduidelik dat daar net een Breytenbach na Suid-Afrika gekom het: Johan Jacob Breitenbach, wat in 1738 uit Duitsland per boot hier aangekom het. “Dis ver genoeg,” het Breyten gesê.
Jare later, toe ons vasstel dat die familieband teruggevoer kon word na Johan Hendrik Breytenbach, wat in 1789 in Swellendam gebore is, was daar al te veel boeke gepubliseer, etes geëet en tande gekners vir dinge soos familiebande om enigsins saak te maak. Dit was nooit 'n faktor nie.
Die enigste persoon wat ooit sports gemaak het met ons genealogie, was Cloete, Breyten se broer. Hy het homself aan Hettie Smith, Human & Rousseau se ontvangspersoon, voorgestel as my pa in ’n (suksesvolle) poging om nie in die ontvangslokaal te moes sit en wag nie. Hettie het daardie stukkie disinformasie wêreldkundig gemaak en ons kon haar nooit van enigiets anders oortuig nie.
Die ete by Mario’s had vir my ’n baie lang aanloop.
Neelsie se held
Met die publikasie van die ysterkoei moet sweet in 1964 het Die Transvaler ’n foto van Breyten gepubliseer waarin hy deur die traliewerk van ’n stoel se rug staar. Ek het dit uitgeknip en geplaas in ’n musiekboks van my ma, een met mooi hout-inlegwerk. Wanneer 'n mens die deksel gelig het, het ’n draaimasjientjie ’n klein deel uit Mozart se 10de klaviersonate gespeel. My pa was ’n onderwysinspekteur met sterk Broederbond-bande. Die mense wat hom besoek het, het gereeld daardie musiekboks oopgemaak en teruggedeins vir Breyten se starende oë. Hul vyand. Neelsie se held.
Wat my tot hom aangetrek het, in my tienerjare, was sy anargisme. Hy het geblaf in die duiwehok van die Afrikaner se hooghartigheid. In my studentejare het ek Jane Austen se woorde gelees oor hoe sy sommige gedagtes vir haarself gehou het omdat sy nie die taal daarvoor gehad het nie. Ons was gelukkiger. As ek aan die 1970's dink, dink ek aan Breyten wat vir ons die taal van liefde en die retoriekvrye woordeskat van protes gegee het.
My eerste kontak met hom was by verstek, in 1984. Ek was joernalis in die Kaap, op besoek aan Johannesburg. Breyten word die Herzogprys toegeken vir (‘YK’), maar hy laat weet een van sy uitgewers by Taurus, John Miles, dat hy dit van die hand gaan wys. Ek het daardie middag saam met Miles en Gerrit Olivier geëet, en toe ons agterna die vrolikheid by John en Elza Miles aan huis gaan voortsit, wag dié nuus ons in.
Soepel uitkakspiere
Breyten het sy verklaring oor die foon gelees. John het elke sin herhaal, en ek het by die tikmasjien gesit en probeer byhou. Dit was ’n vreemde ervaring, gedompel in ironie. 'n Mens is by wanneer geskiedenis gemaak word, maar Breyten se uitkakspiere was in daardie jare, pas twee jaar ná sy vrylating, besonder soepel en gespierd. En die media was deel van sy teiken.
In 1989 het ek by Human & Rousseau begin werk, en een van my eerste take was om deur die korrespondensieleggers te werk, veral dié van die gevierde skrywers. As oudjoernalis was dit vir my die wonderlikste maande – om agter te kom wat mense soos Peter Blum, Stephen le Roux, André Brink en Breyten Breytenbach gedink en geskryf het – off the record.
Só het ek geleer hoekom Breyten Breytenbach ná die huis van die dowe (1967) bande met Human & Rousseau verbreek het. Koos Human beskryf dit in ’n Lewe met boeke. Ek is nie iemand wat lysies maak van doelwitte en ideale nie, maar ek het in 1989 besluit dat ek baie hard daaraan sou werk om Breyten weer aan H&R as tuiste te laat dink.
Vandaar die ete met Ampie as snoer – en met die stille aanmoediging op die agtergrond deur Breyten se goeie vriendin Sylvia Krige, weduwee van die kunstenaar Francois Krige.
Oor die musiekboks en foto
Ek het soos ’n bakvissie vertel van my ma se musiekboks en die foto. Ek het vertel van my bewondering vir hom en ons familie se gebruik, met my tante Annie Schumann vooraan, om by Kerstyd ’n kaartjie aan vriende te stuur met ’n aanhaling uit sy gedigte daarop. Ek het hom vertel van die backstory van die (‘YK’)-weiering.
Toe kom die vraag wat ek self antisipeer het: “Is dit genoeg rede vir my om weer by Human & Rousseau te publiseer?”
Nee, was my antwoord, dit is nie. Die rede hoekom hy weer by ons moes uitgee, was omdat ons al sy publikasies weer in druk sou plaas, en sorg dat dit beskikbaar bly. Insluitend Katastrofes, waaroor hy en Koos Human die uitval gehad het. Ons het reeds sy Taurus-publikasies oorgeneem nadat John Miles-hulle besluit het om Taurus dormant te maak. (Ons het later dieselfde gedoen met die publikasies van Hond, wat ook van sy werke gepubliseer het.)
In daardie jare het ek kontak gehad met dr. Marco Costa van die Italiaanse uitgewer Mondadori. Ek en hy het in 1994 diep gesprekke gehad oor CD-ROM's en die bedreiging, asook moontlikhede, wat hulle vir die boekbedryf ingehou het. Die Encyclopedia Brittanica het reeds in 1990 begin met die publikasie van hul ensiklopedie op CD-ROM naas die gedrukte uitgawe, en in die bedryf is voorspraak gemaak vir die ontwikkeling van ’n Walkman-tipe boekleser wat CD-ROM's sou gebruik.
Moontlikhede het gewink
Dié moontlikhede het gelê en wink. Ek het op grond daarvan beloftes gemaak en Breyten was bok daarvoor.
In 1995 het ons Ampie Coetzee se keur uit Breyten se gedigte, Die hand vol vere, gepubliseer, en in 1997 het gevolg Oorblyfsels: ’n roudig, onder die skuilnaam Jan Blom. Breyten het goed opgeskiet, soos die Nederlanders sê, met sy redakteur Alida Potgieter. Ná haar aftrede het Nèlleke de Jager oorgeneem as vroedvrou – vir 'n digter van Breyten se statuur was net die eerste span van redakteurs goed genoeg.
Daarna was H&R sy huis. In 2001 het ek my belofte aan hom kon nakom met die publikasie van ysterkoei-blues, ’n versameling van sy gedigte uit die jare 1964 tot 1975. Die CD-ROM's was toe nooit ’n ding nie, maar Breyten se digkuns is vrylik in elektroniese formaat via Amazon beskikbaar. Die boekwinkel sonder afsluitingsdatum.
Afrikaans is ’n sonderling, ’n taal wat binne die eerste 80 jaar ná dit amptelike beslag gekry het, digters van die formaat van N.P. Van Wyk Louw, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Antjie Krog en Breyten opgelewer het. Van hulle was Breyten die een wat ná sy vrylating deur sy openbare verskynings en uitsprake volksbesit geword het – veral nadat FW de Klerk die juk van PW Botha se noodtoestand afgeskud het.
Die allerhoflikste van mense
Ek dink nie ek sal ooit maklik kan skryf oor die geledinge van die vriendskap wat oor die jare met hom ontwikkel het nie. Ek dink ook nie dat dit goeie maniere is om so iets te doen nie. Wat ek wel kan sê, is dat hy my altyd beïndruk het as die allerhoflikste van mense. Ek het hom wel kwaad gesien, en hoe hy hom vir mense kon vererg.
Die Veiligheidspolisiemanne van die ou bedeling, en die tronkbewaarders wat hom so dikwels by kunsfeeste of die Tuin van Digters tromp-op geloop het asof hy ’n ou boesemvriend van hulle was, selfs vir húlle het hy met beleefdheid aangespreek.
Hy het só ’n ongelooflik eiesoortige manier gehad van praat, van taal gebruik, dat mense wat hom gehoor het, dikwels onder die indruk gekom het dat hy die luisteraars die hof maak.
Dit laat my dink aan ’n vriendin van my wat vertel het dat sowel André Brink as Breyten uniek was in die manier waarop hul stemme jou kon betower. “As André met jou praat, is dit asof jy die enigste ander mens in sy heelal is.” Wanneer Breyten met haar gepraat het, was sy reeds verower. (Sy het dit anders gestel, maar ek glo nie ek durf haar geile woordkeuses hier aanhaal nie.)
Toe André oorlede is, het sy weduwee, Karina, ’n klein gedenkgeleentheid aan huis gereël. Breyten was daar, en toe dit tyd word dat iemand iets moes sê, het ons kele toegetrek. Breyten het die situasie gered en uit die vuis ’n huldeblyk gelewer soos ek dit nog nooit gehoor het nie. Bevestiging van die versoening wat daar tussen hulle gekom het, agting, ’n loflied, alles. Uniek in die volste sin van die woord.
Geen vonkpos meer nie
Met Breyten se dood is daar een hartseer-invalshoek wat ek sukkel om te verwerk. In die maande wat hy siek was, het hy reeds opgehou om sy gebruiklike vonkposse aan sy vriendekring te stuur. Dís hoe ons agtergekom het iets makeer.
Noudat hy weg is, weet ons dat hy in die laaste weke van sy lewe nooit Afrikaans gehoor het nie. Van al die persoonlike en politieke terugslae wat hom in sy lewe getref het, is die verdwyning van sy moedertaal uit sy ore sekerlik een van die bitterstes.
En die vrou wat so in die jare sestig deur Verwoerd en Vorster en hul juigkommando’s verguis is, Yolande, sy was die een wat tot op die laaste saam met hom geveg het vir sy lewe.
- Hierdie artikel is die eerste keer op 29 November 2024 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.