In die skadu van bruin

JUST AIN'T FOR MOI

In die skadu van bruin

Daar is dae waarop stilte ’n aanklag word en daar is dinge wat ’n mens nie vir ’n ander mens kan sê nie. Dan skryf jy dit maar neer, sê ANASTASIA DE VRIES.

Image: NATHAN TRANTRAAL

HOE meer ek met grootmense te doen kry, hoe minder hou ek van mense. Ek skrik vir my eie stem. Gelukkig is my kantoor vir ’n slag leeg. Mens praat nie lelik van grootmense voor die kinders nie. Tog? Gewoonlik sê ek nie sommer wat ek dink nie. ’n Toe mond is ’n heel mond mos. Maar daar is dae, en deesdae al hoe meer, dat ek weet dié klein, benoude ou wêreldjie is nie vir my nie. Hier, meer as elders, weet ek dis alles net, hoe sê die Prediker? ’n Gejaag na wind.

Het dit eens vir iemand gesê. Imposter syndrome much, het sy my toes (toestand, vir dié wat nie turbotaal praat nie) gediagnoseer. Sy het haar wimpers gefladder, veelseggend, toe sy dit sê, o, die stelligheid! Nee, het ek teëgepraat, dit het niks te doen met ’n gevoel dat ek nie hier hoort nie, maar alles met die wete dat ek nie híér wil wéés nie. Daar’s ’n verskil. Ek wil daar wees tussen die jongmense vir wie ek gekom het. Al maak dit net vir een kind saak dat jy daar is, het die wyse professor in Johannesburg gesê toe ek raad loop soek het oor bly of gly. En een van my Ravensmead-anties: “Jy kan maar teen die karre skop, maar die liewe Here sal jou sit waar hy jou nodig het.” Dié sê ek nie vir professor Weetals nie, dié dink ek net. Daar is dinge wat mens nie vir ’n ander mens kan sê nie.

Nou moet ek bysê dit was ná nog ’n vergadering met lang agenda wat eintlik maar kon doen met ’n vinnige e-pos. Sê ek toe, van die e-pos. En ’n gejaag na wind. En die professor dat sy dink dis “awfully nice of the bosses to check in on us every so now and then”. Streng gesig. Ek giggel soos die kind wat ek nie hier behoort te wees nie. Maar van al die woorde in die Engelse woordeboek die woord “nice”!? Not for me, sê ek, this tiny, little old musty world just ain’t for moi. Imposter syndrome, verklaar sy. Daar is dinge wat een vrou eenvoudig nie vir ’n ander vrou moet sê nie, veral nie as die een kom uit ’n wêreld waar haar ma en haar ouma en hulle ma’s en oumas geleer het soms is humor jou beste wapen nie. Kyk, ek dink sy draai nou nog in die rook oor my gelag, soek ’n plekkie ver van my af in vergaderings, sal seker op die vloer loop sit as die enigste stoel langs my oop is, maar ek is net hier, deel van die juigkommando. Mens moet weet hoe om jouself hier te amuseer, al is dit net in jou kop.

Maar daar is dae, soos dié dag, wat humor selfs vir my na valse verweer klink. Onse gang is stil, ongewoon. Waar is die mense? Sjuuuuut, sê iemand, vinger op die lip. Die grootmense het glo gekla, oor die geraas, hulle is vermaan. Ek slaan my deur hard agter my toe. Dit weergalm in golwe die gang af. Hoe meer ek hier met grootmense te doen kry, hoe minder hou ek van mense. Ek huil ’n bietjie. Iewers in ons gebou by ’n ingang hang ’n kennisgewing: Silence. Academics at work. Dis so stil soos die graf daar, die akademie as grafkelder. Ek vermy daai gang soos die pes, kry altyd ’n intense begeerte om die hele gang af wawiele te maak.

Maar sê ons hier in ons klein ruimtetjie dan nie gereeld vir mekaar hoe wonderlik, verwonderlik dit is dat selfs kinders wat nie by ons klas kry nie, hul toevlug hier kom soek nie? Dalk liefde ook, aandag, dalk ’n klankbord, ietsie teen die honger? Lei alle paaie op hierdie wye kampus dan nie vir hulle na Afrikaans toe nie? Hoeveel sit ons klasse wat die eerste geslag in hulle familie is wat verder kon kom studeer? Ons vra nie, ons ontvang, en ons gee. Van julle kantore ruik na mens, het iemand op ’n keer gesê. Stink, het sy eintlik bedoel. Die dag as myne nie meer soos mens ruik nie, kan die liewe Here my maar kom haal, al het hy my hier met sy eie hande gesit, het ek gesê. Skies, my Ravensmead-antie, maar grootmense.

My foon het gelui. Onbekende nommer, maar anders as gewoonlik antwoord ek. Gaan dit goed met jou, vra die stem. “Sê my, gaan dit goed met jou?” vra sy weer, professor Debra Meyer, onlangs aangestel as adjunk-visekanselier van Sol Plaatje. Die woorde stort oor my lippe, dalk het ek gehuil. Ek wil nie in die akademie hoort nie, nie hier waar dit al hoe meer elkeen vir homself en God vir almal word nie, sê ek. “Hond eet hond” sal ek nie gebruik nie, want ek moet nog ’n hond sien wat ’n ander hond sal eet. Jy moet, sê sy, nog bly. “Onse kinders, veral onse meisiekinders moet ons sien en beleef in die plekke wat hulle dalk dink hulle net van mag droom. En hulle moet sien dat ons dit goed maak, dat ons vaardig is, beter as maar net goed of swart of bruin in onse posisies, dat ons omgee vir hulle wat ná ons sál kom.”

Sy laat my praat oor die vroue na wie ek hier opkyk, vroue hoog op wat tyd maak, veral vir ander vroue, vir die dinge waarvoor hulle soms geen applous of erkenning kry nie. Jy moet nog bly, sê sy. “Vandag het ek jou nodig gehad, nodig om met jóú te praat. Ons het tog gereeld daar bo (in Johannesburg) kontak gehad. Laat ons praat, gereeld. Dis goed om hier te wees, maar soms is dit swaar met al my mense ver. Ons het mekaar nodig. Jy weet nou waar ek is.” Ons praat oor die dinge wat ons daar bo beleef het, saam gedoen of al oor geskryf en verskil en gestry het. Ná meer as ’n uur groet sy. Die gang is stil. Ek is lus om wawiele te loop maak. Maar daar is dae wat lag nie help nie. Ek haal die stukkie gedig uit my boonste laai wat ek lees in sulke tye. “In die skadu van bruin,” het die vrou bo-aan geskryf die dag toe ek gesê het ek wil terug na waar ek vandaan gekom het. In diens van één gedeelde doel, om keer op keer die beste (publikasie) vir ander mense te gee. Skaars ses maande hier, sit ek in ’n opleidingsessie wat sy aanbied. Vandag het ek dit nodig, die uittreksel wat sy toe in haar eie handskrif vir my neergeskryf het uit Alexis Pauline Gumbs se “Bark memory”:

behind you stands a tree, it’s brown like like you. And maybe here your spine is not yet crooked, not yet weighted down by backpacks full of printed afterlives. So stand here in the dignity of tall, in the sureness of brown, the shade. Trust me there will be years enough to twist and curve, stand here where you already know your roots, stand here where you already feel your reach, stand here and remember who you are, I’m right behind you.

  • Hierdie artikel is die eerste keer op 1 Maart 2024 in VWB gepubliseer.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.