- 28 Maart 2025
- Vrye Denker
- 6 min om te lees
- artikel 24 van 36
-
Laureen RossouwRedakteur: Vrye Tydskrif
'n MENS weet as iemand styl het.
Ek was so vyf of ses, een Saterdagoggend op ons voorstoep, toe ek die klipharde musiek in die pad hoor aankom. Dit was die tuinier wat laer af in die straat werk, met ’n rooi tartankep, sonbril, grys flenniebroek en toegeknoopte wit hemp op sy fiets en ’n draadloos agterop die bagasierooster vasgemaak, ’n wapperende rooi vlaggie aan die lugdraad en twee ronde spieëls op elke handvatsel. Hy was op pad dorp toe.
Dit was net ’n paar sekondes, toe’s hy verby. Ek het stokstil bly staan met net die musiek wat al hoe sagter word terwyl hy verder ry.
In daardie paar oomblikke het hy my betower. Ek wou nog sien.
Dit was styl, al het ek dit toe nie geweet nie.
Dis in die oorspronklikheid en vanselfsprekendheid waarmee sulke mense dinge doen.
Jy kan dit selfs op ’n prentjie sien, soos in ons geskiedenisboeke op skool.
Shaka Zulu het styl gehad. Trots, fier met skild en assegaai, pels om die bene, arms en heupe en kralekraag om die nek, kompleet met ’n regop veer in die kop wat hemel toe wys. Ek wou alles oor hom weet. Ek het elke veldslag waaraan hy deelgeneem het, geken en onthou.
En generaal Christiaan de Wet, met die lang geweer, goue horlosieketting, kakierybroek en leeromboorsels van sy baadjie. Die selfgemaakte man sonder militêre opleiding het ons verbeelding aangegryp met sy guerrilla-oorlogvoering, pin-up poster looks en viltfedora.
Daar is ook koning Moshoeshoe I in sy mantel, keil en nekserp. Meer soos ’n Charles Dickens-karakter as ’n tradisionele Sotho-koning, maar dit was die manier waarop hy sy kierie vashou wat maak dat hy sy plek op bladsy 64 in my handboek volsit en ek die details tot vandag onthou.
Vroue was skaars in ons leerplan. Lady Anne Barnard is beskryf as ’n sosiale vlinder aan die Kaap en die jong Olive Schreiner as iemand se vrou en dalk as skrywer. Daar was meestal net kop-en-skouerfoto’s van hulle en dit was dikwels uit fokus.
Daar was nooit langvrae oor hulle nie.
Dis in die houding. Hoe die persoon sit, staan en loop en hoe hulle klere dra. Dis meer in die hoe as in die wat.
Mrs Read was ’n Skotse weduwee wat naby my ouma-hulle op ’n plaas buite Pearston gewoon het. Wanneer ons vakansies daar gekuier het, het my ma en ouma van plaas tot plaas gery om die mense te groet. Ek moes altyd saampiekel met my bol wol en breipenne en het dit gehaat behalwe as ons na Mrs Read toe gaan.
Sy was niks om na te kyk nie.
Alles aan haar was vierkantig. Sy self, haar trui, haar skirt en haar hare.
Vir ons besoeke het Mrs Read haar binnemeubels buitentoe gedra. Voor haar huis, onder die peperboom, het ’n ronde houttafel met ’n kraakvars wit tafeldoek en vier stoele oorgetrek in pienk damas reggestaan. Sy het perskes en appelkose in skywe saam met tee voorgesit voordat die Scrabble-bord uitgehaal is en die drie begin speel het. Wat my bybly, is hoe hierdie “kamer in die tuin” my verplaas het (die lifeline van elke verbeeldingryke plaaskind); ek bevind my skielik onder ’n hemelruim, ver van die droë bossies van die Karoo, terwyl ek tjoepstil en tevrede sit en brei, 12 steke, 50 rye om die hangeroortreksel klaar te kry.
Toe ek onlangs op vier volksvreemde pienk damasstoele in ’n winkel met tweedehandse items in Wynberg afkom, het ek geweet wie my muse was en waarom ek hierdie stoele wou hê. Ek het al vier gekoop.
Styl het niks met politiek, status of geld te doen nie.
Julius Malema in sy Baskiese baret en rooi oorpak het styl. Nêrens in die wêreld het iemand al met soveel bravade ’n overall as formele uniform gedra nie. Revolusionêre styl.
Winnie het styl ge-ooze. Dis haar sterk sin vir drama, goeie kleresmaak, selfversekerde en roekelose houding wat haar so verslawend gemaak het. En Nelson Mandela wat ná 27 jaar in die tronk nie lus was om ’n pak klere aan te trek nie en sy sagte, los hemp wat soos pajamas lyk, in sy ampsdrag verander het. Dis styl.
En ons eie filmster C.R. Swart, wat eers sy luck gaan traai het in Hollywood (blykbaar as ’n stuntman in cowboyfilms) en teruggekom het Suid-Afrika toe om die eerste staatspresident te word. Altyd in ’n manel, keil, ampserp en rye goue medaljes. Waar kom hy daaraan? Beslis nie by die ander gesien nie.
My ma het gesê hy is soos die koningin van Engeland; hy is nie die een wat die werk doen nie, maar hy is belangrik vir sy handtekening. En toe ek ’n prent soek vir die voorblad van my Voortrekker-plakboek, Leiers van Suid-Afrika, was dit sy volbladfoto in die Huisgenoot wat ek gekies het.
Styl is vertroue in jou eie standaarde, trek nie vir ander aan nie en doen niks vir effek nie.
Styl het staying power.
As dit nie vir die Kinderbybel was nie, het ons nooit geweet hoe mooi Jesus was nie. Ek kon vir ure daardeur blaai en na sy sagte blou oë, linnejurke en leersandale kyk; dieselfde met Dawid, Jonatan, Absalom, Simson en Delila, Salome en Maria Magdalena. Die tekenaars van die Kinderbybel het duidelik geweet wie die hoofrolle was en hoe om hulle uit te beeld. Dit is die verhale wat steeds uitstaan.
’n Plek kan styl hê: Sophiatown in die '50’s met sy sexy klubkultuur; weerstandstyl, in ’n ander liga, waar die divas Miriam Makeba, Dolly Rathebe, Thandi Klaasen en Dorothy Masuka in hulle blink wye uitskopskirts en die “Patha Patha” bekend geraak het.
Fiktiewe karakters kan dit ook hê: Pop in Verspeelde Lente, ant Stienie in Agter elke man, Tsotsi, en Het van Verlangekraal op TV om ’n paar gunstelinge te noem. En wat van Mark Condor en die Ruiter in Swart (nie suster Theresa nie)?
Vandag is daar te veel sterre, te veel stellings, te veel TikTok-sensasies, te veel van dieselfde en alles te inklusief om te weet wie is wie in die dieretuin.
Na-apers en konformiste het dit nie.
Die Duitse filosoof Arthur Schopenhauer het gereken “style is a safer index to character than the face”. Hy sê verder: “To imitate another man’s style is like wearing a mask, because it is lifeless; so that even the ugliest living face is better.”
En dan is daar styl se lelike suster: stylvol.
Stylvol is die laaste ding wat jy genoem wil word. Dis harde werk, kos baie geld, konsentrasie en is aspirerend.
En aspirasie is die begin van die ellende.
Die bekende stylikone van die 20ste eeu, soos Coco Chanel, Audrey Hepburn, Grace Kelly, Bianca Jagger en Jackie O wat styl gepolitiseer het, het ons onder die indruk gebring dat styl tot ’n elitistiese groep behoort.
Diana Vreeland, doyenne van styl, gewese redakteur van die Amerikaanse Vogue, het gesê mens kan en moet dit aanleer.
“You’ve got to have it. It helps you get down the stairs. It makes you wake up in the morning ... I’m not talking about lots of clothes.”
Waarna jy kyk, is die rok, die jas, die hoed, die bril, die broek, die hemp en die skoene, maar wat jy sien, is die onafhanklike, vreeslose karakter daaragter.
- Hierdie artikel is die eerste keer op 1 April 2022 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.