MENSE het roetine nodig, ’n raamwerk, struktuur. Gereelde ure voor die rekenaar met daarna die beloning van klein, kalmerende rituele: ’n skemerkelkie in die tuin, om jouself te verloor tussen die bladsye van ’n boek of die episodes van ’n uitstekende reeks wat jou laat onthou hoe broos en wonderbaarlik hierdie problematiese lewe is.
Maar op ’n dag begin jy soos ’n rot in ’n wiel voel: Jy hou aan skarrel na nêrens. Voor jou beweeg ’n blitsige produksieband verby en jy moet aanhou skep, op aanvraag, klokslag. Jy bly deadlines nekomdraai en kom nooit by die wenpaal uit nie. Weke waai verby en val grond toe soos dor blare. Die dae is leeg geleef en dun om die rand. Deurskynend. Jy begin soos die Prediker voel dat alles vergeefs is, ’n gejaag na wind. Die mens – soos gras is sy dae.
Dan knyp jy geld af en gaan reis. Vanuit ’n snikhete Pretoria stap jy ’n bytkoue Londen binne. Oornag het die seisoene verander. En jou oë het oopgegaan. Opeens ervaar jy weer soos ’n kind, toe alles nuut en raaiselagtig was en jy stadig begin sin maak het van jou omgewing.
Jy ervaar in twee weke die polsslag van drie wêreldstede en elkeen het sy eie, unieke hartklop. In Londen knetter dit dag en nag van statiese elektrisiteit. Die lug is vol blinkers. Alles is verwurgend duur, maar jy hou op om bedrae terug te reken na rand. Hoofrekene was in elk geval nog nooit jou sterk punt nie. Dit voel soos ’n droom, soos ’n rekenaarspeletjie. Oorsaak en gevolg val weg. Jy is jou eie avatar en jy betaal met gladde speelgoedgeld. As daar ’n padkaart is, maak jy nie kop of stert daarvan uit nie. Windrigtings was ook nooit ’n sterk punt nie.
Jy vind jou voete, jy mind the gap, jy asem ondergrondse lug in en skiet teen amper 300 km per uur in ’n tonnel van 50 km lank onder die see deur.
In Barcelona is die ritme anders, sensueel, aards. Die ure wat jy met Duolingo deurgebring het, baat jou min met die gladde Katalaans. Dis die stad van die guitige dromer Gaudi en oral is sy vingerafdruk te sien in die organiese vorms, rond soos paddastoele of boudheuwels, speels. Ook in die reusekerk wat al eeue in aanbou is: die Sagrada Familia wat die landskap oorheers soos ’n akrobaat op stelte of ’n engel op ’n wolk. In hierdie antieke kerkbank doen jy godsdiens op: lig wat syfer deur kleurglas lei die oog op, op, na bo, duiselingwekkend hoog, waar Sions top hom wentel uit die dieptes op. ’n Stilte neem van jou siel besit, omvou jou gemoed. Woorde wat jy liefgehad het toe jy baie jonk was, klop aan: And underneath are the everlasting arms.
Watter wetter het besluit die susterskerke moet so onooglik lelik wees, soos versteende sipresse uit geelbaksteen? Wie het van al die klokke en fluitjies, die rook en spieëls ontslae geraak en ons gestroop tot op die Calvinistiese been? Ek voel beroof, ontredderd.
Op reis stap jy vir ure. Jou voete is seer en jou bene styf, maar jy stap agter jou neus en oë aan, klim ontelbare stelle trappe na hoogtes gans verlore, waar jy uitkyk oor stadskappe, afkyk na mosaïekvloere verdiepings onder jou, rondkyk na ysterborduurwerk en vensters na die verlede. Verwondering kom sit op jou vel. Jy bewe liggies en voel op die rand van trane, soos ’n oorgestimuleerde kind.
Iemand by die huis het jou vertel van ’n klein kroeg wat slegs met ’n naamplaat op ’n houtdeur aangedui word in ’n stegie in Barcelona. Die naam eindig boonop op “Club”, wat dit eksklusief laat klink, slegs vir lede – ek gaan dit nie verklap nie. Jy stoot die deur oop en word ingelig dat dit vol is, eers in Katalaans en dan in Engels. Dan gaan daar tog twee plekke by die kroeg oop. En twee staanplekke, min of meer. Almal praat Spaans en ken mekaar. Daar is ongeveer 20 mense in ’n klein skemerruimte. Die kroegvrou is lieflik soos ’n visioen: iets van Penelope Cruz en elke supermodel ooit; lank en lenig, smeulend. Sy meng die drankies reg voor jou neus, want ruimte is beperk. Haar bewegings is vloeiend, dis asof sy sweef en die vloeistof in stadige aksie tussen houers in die lug laat hang. Dit smaak soos niks wat jy nog ooit geproe het nie, met gemmer en gekneusde basiliekruid.
Parys het altyd na ’n cliché gevoel: regtig, die Eiffeltoring, die stad van liefde en glanswinkels. Tot jy vir die eerste keer in haar strate stap. Die verkeer is ’n nagmerrie, die Franse het ’n gebaar – wurg jouself by die nek wanneer jy van die verkeer praat. Te voet werk beter. Boonop is daar ’n direkte verbinding tussen jou voete en jou kreatiewe brein. Indrukke word verskerp, insigte daal neer. Parys is ’n effens verslete maar stylvolle vrou. Die Eiffel verras in persoon, soos om iemand te ontmoet met wie jy aanlyn gesels en foto’s uitgeruil het: Jy moet daar wees om die volle impak te beleef. So ook skilderye in die museums: Ou vriende wat jy onderskat het, sien jy met nuwe oë en skat hulle uiteindelik na waarde. Die verstommende plooibaarheid wat meesterbeeldhouers aan marmer kon gee bring 'n knop na jou keel.
Jy loop en loop en versamel indrukke. Jou kop en hart swel soos lugballonne.
Ek het eenkeer ’n Duitse kinderboek gelees van ’n eekhoring wat nooit sy maats gehelp akkers bymekaarmaak nie. Hy het op die naat van sy rug gelê en droom terwyl hulle woeker. Toe dit winter word, wil hulle nie hulle akkers met hom deel nie, want hy was kwansuis lui. Maar in die wit-en-swart sneeulandskap begin hy vir hulle kleure beskryf, so haarfyn dat dit hulle harte verwarm soos sonstrale.
Soms moet ’n mens wegbreek en kleure gaan bymekaarmaak sodat jy nuwe dinge het om oor te skryf, ’n nuwe veerkragtigheid in jou siel, ’n wip in jou woorde.
Carcassone en Karnak
hier op my klein dorpie staan 'n kerk
en kantore hier's winkels en 'n klein kliek
en nog 'n kliek die plekkie waar ek werk
en 'n kerkhof en 'n veldfliek
vanoggend kom daar 'n tydskrif met die pos
met foto's van Carcasonne en Karnak stuur geld
Here vir my reis verlos
my van die halfrond van die kopspeld
– T.T. Cloete
Uit: Jukstaposisie
- Hierdie artikel is die eerste keer op 23 Februarie 2024 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.