Amper Absurde Atletiekprestasie: Gatskop-Gerda en haar...

BESTEMMING: TOKIO

Amper Absurde Atletiekprestasie: Gatskop-Gerda en haar op-rekord in die Comrades

Suid-Afrikaners is meegevoer deur die staal en sjarme van die Comrades-ster Gerda in die pas afgelope ultramarathon. MICHÈLE MEYER het met haar gesels.

Op die oog af fragiel, maar Gerda Steyn is absoluut onwrikbaar.
TITAAN EN TITANIES ... Op die oog af fragiel, maar Gerda Steyn is absoluut onwrikbaar.
Image: TOBIAS GINSBERG

TITAAN. So lig dat jy jou kan misgis deur te dink dis fragiel. Berekeningsfout: Dié element is onwrikbaar. Dié silwerige metaal kan baie punch vat. Gerda Steyn ís titaan (en titanies). Boonop nog nederig ook. En sonder voorbehoud doodgewoon gaaf.

Haar sensasionele sege en rekord van minder as ses uur – presies 5:58:53 – vir die berugte op-wedloop van die Comrades-marathon van Durban na Pietermaritzburg op 9 Junie 2019 word steeds landwyd met vreugde begroet.

Dalk is dit die heilsame Vrystaatse lug wat sy as kind ingeasem het wat haar so aards hou, of die geurige skaapvleis waarop sy grootgeword het. Sy is nie ’n banter nie en drink graag ’n glas wyn. “As iemand vir my kosmaak, eet ek wat vir my gemaak is. Daar is min dinge lekkerder as ’n skaaptjoppie, veral as dit oor ’n braaivleisvuur gaargemaak is.”

Haar ouers het in haar kleintyd buite Bothaville met skape geboer. Haar stem is warm wanneer sy oor die dorp praat. “Bothaville is so trots op my.” Toe ek sê dat die hele land hiep-hiep-hoera skree oor haar, gee sy ’n half-verleë laggie: “Baie dankie.”

Laerskooldae het Gerda in Kleinbroek, ’n plaasskooltjie op die gelyknamige plaas, deurgebring. Daarna is sy na die Hoërskool Bothaville. Sy het nie mededingend aan sport deelgeneem nie. “Dit was netbal en hokkie. Ek het atletiek probeer, kortafstande, maar het nie spoed gehad nie.”

Dis byna absurd dat die pasgekroonde Comrades-koningin nie die atletiekspan kon haal nie. Sy lag omdat dit boonop klein skole was met minder kompetisie. “Om die een of ander rede het ek nooit by landloop of langer afstande uitgekom nie. Miskien is dit juis daaroor dat ek nóú vars is.”

Gerda het vas geglo dat vanjaar se marathon hare was om te verloor. En sy wou wen.
AS JY WEET JY GAAN WEN ... Gerda het vas geglo dat vanjaar se marathon hare was om te verloor. En sy wou wen.
Image: TOBIAS GINSBERG

Onweerstaanbare werkaanbod

Op Kovsies het Gerda, soos haar broer, bourekenkunde geswot. Nadat sy haar graad gekry het, het sy in Johannesburg gaan werk en in 2014 ’n onweerstaanbare werkaanbod gekry: ’n geleentheid in die boubedryf in Dubai. “Ek het nie twee maal gedink nie.”

Dubai is ’n miernes van grootse projekte en mense van oraloor – waar jy ironies genoeg geïsoleer kan leef. As teenvoeter vir alleen wees het Gerda by ’n hardloopgroepie aangesluit – die ideale platform vir sosialiseer en fiks bly. Etlike lede van die groep het hulle vir die 2015- Dubaise marathon voorberei, en sy het by hul program ingeval. Haar oefenmaats het opgemerk dat sy vinnig vordering toon.

“Ek het nie besef ek verbeter nie. Dalk het die meer gestruktureerde oefenprogram my potensiaal begin slyp.”

Omdat sy wou bybly, het sy besluit om ook die marathon aan te durf. “Ek was dalk ’n sucker om in te skryf, maar daar gaan ek toe.”

Hoe draf jy in Dubai met die versengende hitte en kleredrag-konvensies, vra ek haar. “Die geriewe is puik,” vertel Gerda. “Daar is eksklusiewe drafpaadjies vir atlete, binnenshuise wêreldklas-gimnasiums en oefengebiede. Die oop, gemaklike samelewing maak voorsiening vir uiteenlopende kulture. Jy let op hoe jy aantrek, veral tydens Ramadan, uit respek. Daar is werklike verdraagsaamheid jeens byvoorbeeld atletiekdrag tydens padwedlope.”

Gerda het met mening gewen en in die proses die magiese ses-uur-afsnytyd haar eie gemaak.
REG VIR 'N REKORD ... Gerda het met mening gewen en in die proses die magiese ses-uur-afsnytyd haar eie gemaak.
Image: TOBIAS GINSBERG

Meer as gemiddeld

Gedurende haar eerste 42 km-wedloop in die woestyn het Gerda gekliek dat sy moontlik meer talent as die gemiddelde drawwer het. “Kort-kort sien ek hier gaan ek my oefengroep-pelle verby wat al lank oefen. Ek oefen toe vier maande. Miskien kán ek hardloop, het ek gedink.”

’n Paar oefenmaats het haar oortuig om ernstig te begin oefen en vir professionele status te mik. Een van hulle was Duncan Ross, ’n Britse vlieënier en bekwame atleet. Vandag is sy en Duncan getroud.

“Almal om my se ideaal was die Comrades. As kind het ek altyd vroeg opgestaan om na dié wedloop te kyk, maar nooit uit ’n deelname-oogpunt nie. Hier was my internasionale vriende meegevoer deur ’n stuk Suid-Afrikaanse erfenis Dit het my diep geraak.”

Ná een kragmeting het sy Nick Bester, nasionale bestuurder van die Nedbank-hardloopklub, ontmoet. Hy het vir Gerda gesê om hom te kontak sodra sy ’n marathon in minder as drie uur klaarmaak. Dit word toe ’n kragtige aansporing.

Sy lag weer. “Ek weet nie eens of hy dit onthou het nie, maar toe ek dit regkry, het ek hom gebel.”

Nick het haar oefenprogram aangepas en haar begin adviseer – en sy word toe lid van die Nedbank-hardloopklub.

In haar niche is optimale prestasie onafwendbaar. Haar oefentyd word verdeel tussen Dubai, die Franse Alpe en high-altitude oefenkampe in Suid-Afrika.

"Ek het besef dis moontlik om te doen wat ek begeer."
LEWENSDROOM ... "Ek het besef dis moontlik om te doen wat ek begeer."
Image: TOBIAS GINSBERG

Vreugde vs. dryfkrag

Die fyn lyn tussen die louter vreugde van hardloop – wat Bruce Fordyce beskryf in John Cameron-Dow se boek Bruce Fordyce: Comrades King – en dryfkrag om te wen, glim immer in ’n atleet se psige. Gerda glo persoonlikheidstipe speel ’n beduidende rol.

“Gelukkig kom ek voordag maklik uit die bed. Soms is ek bang vir wat ek moet gaan doen; dit vat baie uit my, maar ek wil dit doen.” Sy erken dat hardloop ’n harde sport is. “Selfs ’n gemaklike run is hard op jou lyf.”

Gerda glo dit tel in haar guns dat sy albei kante van hardloop ken – die sosiale sy en haar huidige status as elite-atleet. “Jy bly ewe bang voor die skoot afgaan, ongeag jou status.”

Nick het haar deur die skuif van sosiale na professionele en eindelik elite-atleet gelei. Sy sê onomwonde dat baie van haar sukses gebed is in haar afrigter en span agter die skerms. Op kompetisiedae is haar man deel van haar ondersteuningspan.

“Op televisie sien mense dis ek wat die lint breek. Niemand sien my span nie; hulle weet nie van die ontelbare sessies met Nick nie. Op 9 Junie het ek my man ’n paar keer langs die pad gesien. Dis ’n hengse voorreg en aansporing.”

Gerda vertel van haar twee duurste lesse as atleet.

In 2017 bereik sy ’n plato waardeur sy net nie kan breek nie. “Ek was vas op ’n sekere vlak, kon nie verbeter nie en was radeloos. Ek het begin gemaklik raak met waar ek was, byna op top-10-vlak van die Comrades. Iets het gesê: ‘Jy kan nou maar net hier bly.’ Dit was ’n kognitiewe besluit: Gaan ek bly, of harder werk, wegbreek?”

Gerda se volgende mikpunt is om vir die 2020-Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer.
NUWE DROOM ... Gerda se volgende mikpunt is om vir die 2020-Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer.
Image: TOBIAS GINSBERG

Toe kom sy tweede

Toe gebeur 2018. Pas terug as wenner van die Twee Oseane-wedloop het sy die gerusstelling van vele se raad in haar gemoed: Daar is genoeg tyd om te herstel voor die Comrades. “Ek het dit as ’n gegewe aanvaar dat ek die Comrades sou wen.” Toe kom sy tweede.

Haar brutale eerlikheid beïndruk. “Dit was bitter moeilik. Ek kon nie daai silwermedalje dra en vol spyt wees nie. Ek het geleer almal werk ontsettend hard daarvoor, maar dit sit in jou brein of jy dit gaan kan doen of nie.” Nick het haar in dié swaar tyd oortuig dat slegte ervarings onafwendbaar is, maar die belangrikste is wat sy daarvan maak.

Daar neem Gerda toe ’n wilsbesluit. “Ek het geweet ek gaan in 2019 wen. Dit was ’n lewensdroom.”

Sy het na opnames van Frith van der Merwe (haar sport-ikoon) se verbysterende 1989-Comrades-rekord begin kyk. Een sin van ’n kommentator bly soos ’n refrein in haar kop: “Frith het die wedloop met gemak gewen.”

Gerda beskryf daardie sin se mantra-waarde. “Ek het besef dit is moontlik om te doen wat ek begeer.”

Toe sy daardie lewensdroom bewaarheid, was dit met mening. Die magiese ses-uur-afsnytyd vir die op-reisies behoort aan die petite gatskopper met haar breë glimlag.

“Die Comrades-gemeenskap is uitsonderlik. Ironies dat ek eers moes weggaan uit Suid-Afrika om te kon leer hoe betekenisvol dié wedloop is.”

Wat is volgende? Die droom om vir die 2020- Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer. Sy het tyd tot volgende Junie daarvoor.

“Dis nie te sê ek gaan dit maak nie. Talent is ’n fraksie van sukses. Harde werk en deursettingsvermoë weeg heelwat meer.”

Dan spreek sy die toorwoorde: “Maar ek is nog lank nie klaar met die Comrades nie. Toe ek oor die streep trap, het ek gewonder wanneer ek weer kan begin!”

Ek sê mos. Titaan.

NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om kommentaar te lewer op hierdie artikel. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.