’n Daggawolk hang oor Potchefstroom

'N KAMPUS VOL DWELMS?

’n Daggawolk hang oor Potchefstroom

Studente aan die Noordwes-Universiteit (NWU) kla dagga en ander dwelmmiddels is deesdae so volop op die Potchefstroom-kampus dat dit voel of mens nie daarvan kan wegkom nie. VIRGINIA KEPPLER het ondersoek ingestel.

Twee mans verkoop dagga aan 'n student.
OOP EN BLOOT ... Twee mans verkoop dagga aan 'n student.
Image: VIRGINIA KEPPLER

VOORHEEN sou dwelmsmouse dit nie sommer op die kampus waag nie, maar deesdae wóón hulle dikwels daar en verkoop vrylik hul produkte.

Studente vertel jy kan jou bestelling sommer tussen klasse plaas en dit word sonder enige gesukkel enige plek op kampus afgelewer. “Selfs al word jy uitgevang, kom daar niks van die saak nie,” vertel 'n derdejaarstudent.

Die studente wat met Vrye Weekblad gepraat het, verkies om anoniem te bly. Van hulle is self gebruikers, maar meen die NWU staar hom blind teen die junkies op kampus.

'n 21-jarige student in kommunikasiestudies het onder die skuilnaam Adam erken hy was self 'n “groot daggaroker tot onlangs”: “Die Potch-studentegemeenskap is so na aan mekaar, en studente in elke fakulteit rook dagga of gebruik 'n soort dwelm.

"Al die daggarokers en dié wat [onwettige] dwelms gebruik, ken mekaar en is vriende, of vriende van vriende. Dagga is volop op kampus en die meeste studente rook net dagga, maar Cat is ook 'n gewilde dwelm op Potch,” vertel Adam.

Adam het opgehou dagga rook nadat 'n vriendin hom geïnspireer het. “Sy het reguit vir my gesê: ‘Get your shit together,’ en toe weet ek dit is een van die eerste dinge wat ek moet los. Ek het erge onttrekkingsimptome gehad en was erg gefrustreerd, maar ek het deurgedruk. Ek is trots om te sê dat ek nou al vir meer as twee maande glad nie dagga gebruik nie.”

Adam sê hy het nooit dagga of enige ander dwelmmiddels óp kampus gekoop nie, maar wel buite die kampushekke. “Later was daar 'n WhatsApp-nommer wat mense kon gebruik om hul dagga of dwelms van hul keuse te bestel, en dit word by jou op kampus afgelewer of buite die kampushek.

Sommer tussen klasse

“Op 'n tyd het een van my vriendinne sommer die dagga tussen klasse afgelewer en omdat sy 'n meisie is, het niemand haar ooit verdink nie en kon sy wegkom daarmee,” vertel hy.

Volgens Adam raak dagga- en dwelmmisbruik 'n groot probleem op kampus. “Dit is erg, en daar is studente wat groot hoeveelhede skuif [gebruik]. Wanneer 'n mens 5 tot 10 gram dagga per dag skuif, dan is dit nie meer gesond nie,” meen hy.

“Van die studente is so jonk as 19 wat dagga en dwelms verkoop. Dit is jou tipiese student, en van hulle kom uit rêrige welgestelde families.

“Dan is daar studente wat dit verkoop om geld te maak. Ek weet van 'n paar studente wat duisende rande per week maak net met daggaverkope. Studente vind dit is makliker om dagga en dwelms te verkoop as om byvoorbeeld as kelnerin in 'n restaurant vir 'n klein tip te werk.

“Dit is eintlik regtig so maklik, want as jy tien mense ken wat dagga rook, dan stuur jy net 'n boodskap uit en sê: ‘Ek verkoop dagga.’”

Adam self was net 'n gebruiker, nie 'n handelaar nie. “Die oomblik as jou vriende betrokke raak by die verkoop van dagga, dan moet 'n mens bekommerd raak. Die risiko is net te hoog.

“Omtrent so agt van my vriende met wie ek 'n lang pad aankom, verkoop dagga. Dit raak erg, want 'n mens voel nooit veilig nie en jy weet nie wanneer die polisie gaan toeslaan nie, veral toe dagga nog nie wettig was nie.”

‘Een dosent het ons gewaarsku in die begin van vanjaar om ’seblief tog net nie hoog na haar klas te kom nie.’

Toe hy nog dagga gerook het, het hy omtrent daagliks klasse onder die invloed daarvan bygewoon. “Ek was elke dag gerook en hoog. Van my vriende, ons was seker so tien, het elke dag hoog klas toe gegaan. Ons het later selfs tussen die klasse gerook. Dit was een van daai situasies waar jy hoog raak om op te warm net sodat jy wéér kan hoog raak,” sê Adam.

“Ek het al situasies gehad waar ek en vriende van gebou tot gebou gestap en dagga gerook het. Mense ruik dit, maar weet nie waar dit vandaan kom nie. Hoe langer die student aanhou, hoe makliker raak dit om te rook.”

Adam sê daar is baie plekke op kampus waar mense vrylik rook omdat hulle nie bekommerd is dat hulle daar betrap sal word nie, soos in Lover’s Lane en bo in die amfiteater.

“Een dosent het ons gewaarsku in die begin van vanjaar om ’seblief tog net nie hoog na haar klas te kom nie. Sy het agtergekom dat van ons dik gerook was aan die dagga voordat ons na haar klas toe is. Die meeste dosente sê niks, want hulle wil nie regtig betrokke raak by die studente nie en is net daar om klas te gee.

“Daar is ook nie net een soort student wat rook nie. Van my vriende swot ingenieurswese, ander doen nagraadse studies, en daar is ander in die [natuur]wetenskappe. Man, glo my, in elke fakulteit is daar 'n groep wat dagga rook of harde dwelms doen."

Adam het vir 'n hele paar jaar aanhoudend en elke dag dagga gerook. “Ek het elke aand gerook om te kan slaap, en elke oggend om wakker te word. Dit het my normaal geword en dit het normaal gevoel. Dit wás my normal.

Onderwyser in wording

'n 23-jarige nagraadse onderwysstudent vertel hy rook elke dag voor sy eerste klas 'n skyf. Terwyl Josef (ook nie sy regte naam nie) sê daar is beslis 'n enorme mark vir dagga op kampus, meen hy dit is nie 'n probleem nie. “Dit is 'n persoon se reg om te rook terwyl jy niemand skade aandoen nie en jy nie gewelddadig is nie. Dis 'n persoonlike besluit.”

Josef erken openlik dat hy gereeld onder die invloed van dagga klasse bywoon, maar ontken dat hy al ooit op kampus dagga gekoop of gerook het. Trouens, hy sê hy het nie geweet hoe geredelik dagga en ander dwelmmiddels op kampus beskikbaar is nie.

Josef, wat duidelik gerook was terwyl hy met my gesels het, sê hy rook nie op kampus nie omdat hy nie in die moeilikheid wil beland nie, maar “ek weet nie eens of dit nog onwettig is om op kampus te rook noudat dagga wettig is nie”.

“Maar dit is so dat meer mense deesdae met dagga eksperimenteer, en sommige gebruik dit meer as ander. Sommige mense rook dit om hulle te help studeer, om beter te fokus, om stres te verminder of tussen studies. Ek rook vir verskillende redes, soos om sosiaal te verkeer, om te ontspan en om my gedagtes af te lei van my studies af.

“In Nederland het hulle kafees waar mense kan gaan rook, maar ons het dit nie. Ek glo daar is 'n tyd en plek vir alles, en op kampus is daar baie mense. As jy dagga rook en hoog raak, kan jy iemand wat dalk langs jou sit ook laat hoog raak, en dít is inbreuk op iemand se privaatheid,” sê Josef.

In die klas flou geword

Die 22-jarige Noleen (ook nie haar regte naam nie), sê niks word gedoen om die daggaprobleem op kampus stop te sit nie. Dié tweedejaarstudent was reeds op skool verslaaf aan dagga en heroïen, en was in gr. 10 in rehabilitasie nadat een van haar beste vriende weens 'n oordosis dood is. “Ek weet glad nie hoe ek deur die skool gekom het tot in graad 10 nie, maar ek het so 'n idee dat my onderwysers my deurgesit het as gevolg van die sport, want ek het 'n baie groot sportbeurs gehad. Ek het vir die eerste keer begin studeer in graad 11.”

Ná haar rehabilitasie in gr. 10 was Noleen skoon totdat sy by die NWU aangekom het. “Ek het onmiddellik 'n terugslag beleef omdat dwelms, veral dagga en Cat, oral om my beskikbaar was. Dit is tussen jou vriende beskikbaar, op kampus, by kuierplekke buite die kampus, net eenvoudig oral. Daar is ook 'n baie gewilde kuierplek op Potch waar dit vrylik beskikbaar is,” vertel sy.

‘Voorheen was Noleen soms so gerook dat sy net in die klas gesit en giggel het.’

Noleen sê haar “wakeup call” was toe een van haar daggarokervriende in 'n klas flou geword het. “Ek self het al baie keer hoog gerook aan die dagga klas toe gegaan, totdat een van my beste vriende in die klas sy bewussyn verloor het omdat hy te veel gerook het voor ons klas toe is. Hy het eenvoudig op my skoot bewusteloos geraak. Ek kon nie die dosent vertel wat gebeur nie, want dan sou ons albei in die moeilikheid wees.

“Ek en 'n ander maat het hom maar met water gegooi en hom wakker gekry. Daarna is ons uit die klas vir vars lug, maar buite het hy weer sy bewussyn verloor en ek moes die studentehulplyn bel en hy is per ambulans hospitaal toe geneem.”

Sy het net daar besluit sy het genoeg gehad van dwelms. “Ek het cold turkey gegaan en het nog nooit so goed gevoel oor myself nie.”

Voorheen was Noleen soms so gerook dat sy net in die klas gesit en giggel het. “Jy sit daar en giggle met die persoon langs jou, want julle al twee is so hoog dat nie een van julle eintlik weet wat aangaan in die klas nie. Jy luister nie vir die dosent nie. Jy kyk net na die dak en tel hoeveel blokkies daar is en probeer besig bly totdat sy vir jou sê jy kan gaan.”

Sy sê die meeste dosente ignoreer eenvoudig studente wat muf van die dagga klas toe kom. “Maar daar is wel dosente wat glad nie op die bek geval is nie en wat ons al gevra het om nie gerook en hoog na hul klasse te kom nie.

“Heel bo in die amfiteater is 'n baie gewilde plek waar studente gaan sit en rook, veral saans, wanneer dit donker is. Die sekuriteit is wel oral op kampus, maar hulle kom nooit tot bo by die amfi nie. Dit is eintlik net so half 'n unspoken rule – as jy onder sit, is jy nie besig met iets onwettigs nie, maar as jy bo sit, rook jy,” sê Noleen.

"Op kampus word daar die meeste van die tyd dagga en shrooms [mushrooms] gerook. Coke en crystal meth kry mens meestal op Potch in die wandellaan, en daar sal jy enigiets kry wat jy wil hê.” Die wandellaan is nie op kampus nie.

Sogenaamd emagic mushrooms word nie gerook nie, maar geëet of in 'n tee gedrink.

Die pak links is "lemon haze" en kos R100. Die klein pakkie regs was R30 en is bekend as "greenhouse". Dit is glo baie sterk.
VERSKEIDENHEID BESKIKBAAR ... Die pak links is "lemon haze" en kos R100. Die klein pakkie regs was R30 en is bekend as "greenhouse". Dit is glo baie sterk.
Image: VIRGINIA KEPPLER

So maklik soos dit

Hoewel Noleen deesdae van dwelms wegbly, het sy my gewys hoe maklik dit is om op kampus dagga te koop. Die meeste handelaars doen aflewerings op kampus by die G1-gebou, naby die amfiteater en Lover’s Lane.

Op Noleen se instruksie het ek 'n nuwe simkaart gekry en 'n WhatsApp-boodskap na 'n handelaar gestuur waarin ons R100 se “super lemon"-dagga en R30 se “greenhouse”-dagga bestel het.

Die boodskap het ook onder meer gemeld watter klere Noleen as die koper sou dra en presies waar sy staan en wag, sodat die handelaar haar maklik sou uitken.

Van die oomblik dat die bestelling omstreeks 14:00 die middag geplaas is, het dit die handelaar presies 14 minute geneem om die bestelling voor die G1-gebou af te lewer.

Die twee wat die dwelms afgelewer het, is studente aan die NWU en doen hul besigheid tussen klasse. Met die aflewering het hulle Noleen vriendelik gegroet, hande geskud en toe die dagga en die kontant geruil. 

Van die handelaars is studente, ander kom van buite om dwelms op kampus af te lewer. Baie van hulle is wit, maar daar is ook swart en bruin studente wat handelaars is.

Koshuisouers vergader

Aan die begin van vanjaar, net nadat die klasse begin het, het die kampus se koshuisouers 'n vergadering gehou om studente se rook van die sogenaamde hooka-pyp te bespreek. Die gevoel was dat die hooka-pyp op kampus verbied moet word omdat studente dit gebruik om dagga mee te rook. 'n Onderskeid word getref tussen 'n “skoon” hooka-pyp wat nie dwelms bevat nie en 'n “vuil” pyp wat wel dwelms bevat.

‘Ons hande is afgekap en ons kyk in werklikheid maar toe hoe die studente heeldag hoog rondloop.’

Op die vergadering het een van die koshuisouers vertel hoe 'n student wat betrap is, prontuit gereageer het met: “Fok jou, ek het die reg om dagga in die privaatheid van my kamer te rook, want dit is wettig.”

Die vergadering het nie veel bereik nie, hoewel dit bevestig is dat studente hoegenaamd nie in hul kamers mag rook nie, nie eens gewone sigarette nie.

“Ons hande is afgekap en ons kyk in werklikheid maar toe hoe die studente heeldag hoog rondloop. En dit is nie net jou kreatiewe studente nie, dit is studente in álle fakulteite,” vertel 'n koshuisouer.

Die NWU reageer

Louis Jacobs, NWU-woordvoerder, sê die universiteit is bewus daarvan dat daar studente is wat dagga en ander soorte dwelms op die kampus en ook buite die kampus gebruik. Hy het benadruk dat die rook van dagga op die kampus en die gebruik van enige ander dwelms onwettig is, en dat studente vervolg kan word. Dit is steeds onwettig om dagga in 'n openbare ruimte te gebruik.

 Jacobs sê daar was voorvalle waar studente bedags dagga in die amfiteater gerook het. Dié studente is geïdentifiseer en sake is aan die relevante owerhede oorhandig. “Spesiale operasies is ook gedurende die jaar deur die nag uitgevoer om die rook van dagga hok te slaan (asook die gebruik van ander dwelms) en waar studente in besit van onwettige dwelms was, is dit ondersoek en aan die owerhede deurgegee vir die verdere optrede.”

Terwyl verskeie studente beweer daar word gereeld saans bo in die amfiteater dagga en ander dwelms gebruik, hou Jacobs vol dit is “hoogs onwaarskynlik”. Hy sê dié area en Lover’s Lane is altyd bedrywig en daar is ook veiligheidswagte wat dag en nag diens doen.

“Verder is die universiteit bewus daarvan dat studente in dwelms handel dryf, op die kampus sowel as buite die kampus. Die studentebeskermingsdienste hanteer dié soort ondersoeke saam met die polisie.”

‘Jacobs sê die regskantoor vir studente hanteer tans vier sake van studente wat weens die gebruik van dagga vervolg word.’

Hy sê die NWU het 'n multidissiplinêre benadering tot die misbruik van enige middel. Dit sluit berading en bewusmakingsprogramme in. “Die NWU het ook 'n rehabilitasieprogram vir studente wat daggagebruikers is. Die universiteit het ook 'n goeie verhouding bewerkstellig met eksterne rehabilitasiesentrums en studente word na dié plekke verwys vir rehabilitasie. Ons het ook 'n 24-uur-krisislyn beskikbaar vir studente in die geval van nood en dit sluit in bystand in geval van dwelmmisbruik,” sê Jacobs.

Jacobs sê die regskantoor vir studente hanteer tans vier sake van studente wat weens die gebruik van dagga vervolg word. “Dwelmmisbruik is 'n gemeenskapsprobleem en die universiteit is 'n mikrokosmos van die res van die samelewing, so dit is net natuurlik dat 'n mens ook hier dwelms sal kry, en ek glo dit sal gevind word op elke kampus in die land en selfs wêreldwyd. Die NWU is nie immuun teen hierdie verskynsel nie.

“Onwettige dwelmmisbruik is in dié stadium 'n groter probleem buite die kampus as wat dit óp die kampus is, maar ons stuur 'n duidelike boodskap uit dat ons geen dwelms op die kampus duld nie,” sê Jacobs.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie in Potchefstroom, sê die universiteit en die polisie hou weekliks vergaderings om veiligheid en sekuriteit rakende die kampusgemeenskap te bespreek. Hoewel verskeie dwelmverwante arrestasies die afgelope jaar in die stad gedoen is, kon hy nie 'n spesifieke getal aan NWU-studente koppel nie.

  • Hierdie storie is op 24 Junie aangepas om duidelik te maak dat die Wandellaan nie op die universiteitskampus is nie. Hoewel 'n student in 'n onderhoud verwys het na die rook van sogenaamde mushrooms, word dit nie gerook nie maar geëet of in 'n tee drink. 

NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om kommentaar te lewer op hierdie artikel. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.