Die wurggreep van bevryding op ons politieke stelsel

SENZENI NA?

Die wurggreep van bevryding op ons politieke stelsel

Suid-Afrika is ʼn land van teenstrydighede. Die liberales het die politieke selfvertroue van ʼn meerderheid, en die meerderheid leef in die land van hul vaders as permanente slagoffers van die verlede, skryf PIET CROUCAMP. Dalk is dit so dat swart solidariteit meer pertinent uitgedaag moet word, soos ook regstellende aksie, rassisme en patriargie.

Pres. Cyril Ramaphosa en ministers Nkosazana Dlamini-Zuma en Naledi Pandor by die eerste sitting van die nasionale vergadering.
FEESTELIK ... Pres. Cyril Ramaphosa en ministers Nkosazana Dlamini-Zuma en Naledi Pandor by die eerste sitting van die nasionale vergadering.
Image: ESA ALEXANDER

NÁ afloop van die nasionale en provinsiale verkiesing in Mei 2019, tydens die eerste sitting van die nasionale vergadering, is die ampsdraers van die sesde parlement verkies. Die 400 lede van die huis het ook die president van die land verkies.

Dit was nog altyd 'n feestelike geleentheid, en oudergewoonte het lede van die huis die enkele ledige oomblikke in die administratiewe proses verwyl deur struggle-liedjies te sing. Die ritmiese chaos van wederstrewigheid in die huis van kompromis en konsensus sou altyd spreek tot sommige, maar ander met vertwyfeling, dalk selfs skuldgevoel laat.

Terwyl die ANC en die EFF se gedeelde politieke narratief dié twee partye vir ʼn oomblik in sang verenig het, was ander opposisiepartye vasgevang in 'n skisofreniese teenstrydigheid. Die swart lede van die DA-koukus se voete moes gejeuk het om mee te maak, maar dit sou beslis die wit DA-lede in 'n onmoontlike politieke posisie gelaat het.

Melankoliese terugreis

Die openbare galery het egter onmiddellik by die gesing ingeval. Vir ʼn oomblik was Suid-Afrika weer terug in die 1980’s, toe struggle-liedjies ʼn paramilitêre manifestasie was van die vlakliggende geweld wat nodig was om die apartheidstaat se militêre masjinerie te konfronteer.

As die EFF nie so luidrugtig meegemaak het nie, sou ek selfs kon saamsing. “Iyoh Solomon” is ʼn verering van die Umkhonto weSizwe-vegter Solomon Mahlangu, wat in 1979 deur die apartheidstaat tereggestel is. Dis ʼn melankoliese terugreis na ʼn era toe bevryding vir swart Suid-Afrikaners net ʼn hersinskim was.

‘Die EFF en die ANC het egter ʼn gedeelde politieke verlede en waarskynlik in vele opsigte ook ʼn gemeenskaplike politieke vyand.’

Maar dit is ook die baldadige dreunsange wat die priemende blik van Belinda Bozzoli, oud-akademikus en liberale lid van die DA in die Nasionale Vergadering, ontstig het. Die ANC en die EFF het in solidariteit met mekaar die waardigheid van die huis teruggeneem na ʼn vorm van swart nasionalisme wat strydig is met die orde van mededingende belange wat op ʼn balansstaat van rede en rasionaliteit verreken word. Daar is iets teenstrydigs in die welvarende, regerende elite wat mekaar aanmoedig of bemoedig met “Siyaya” (“we are going forward, despite them shooting at or hitting us”); sonder ironie in die konteks van ʼn Marikana.

Die EFF en die ANC het egter ʼn gedeelde politieke verlede en waarskynlik in vele opsigte ook ʼn gemeenskaplike politieke vyand. Apartheid en kolonialisme is ʼn historiese wrewel vir dié twee partye, en ʼn skeptiese disposisie jeens die vrye mark maak dat die EFF en ANC se koukusse soms luidkeels en militant die verlede en die hede met dieselfde weersin na die openbare debat sleep. Vir die liberales is die EFF eintlik maar net die paramilitantêre vleuel van die ANC.

Sowel die ANC as die EFF is bevrydingsbewegings, maar ook politieke partye. Die ANC is aan die stuur van – in die terme van Hermann Giliomee – ʼn een-party-dominante staat. In so ʼn staatsvorm is verkiesings minstens ten dele net ʼn etniese sensus; die herbevestiging van ʼn normatiewe verbintenis tussen die dominante party en politieke bevryding.

Staat en party ononderskeibaar

Met die DA se 20% steun in die huis en die EFF se 10% is dit moeilik om Giliomee se argument te ondermyn. Wanneer die staat en die party ononderskeibaar raak, en swart nasionalisme nie net die dominante narratief is nie, maar ook die morele maatstaf vir reg en verkeerd, raak liberales soos Belinda Bozzoli en Helen Zille uiters ongemaklik.

Die feit dat meer as 50% stemgeregtigdes eerder wegbly van die stembus as om vir opposisiepartye te stem, is onder meer ʼn aanduiding van die wurggreep wat die bevrydingsnarratief op ons politieke stelsel het. Liberalisme bly ʼn swetswoord in die parlance van swart nasionalisme.

Selfs in die konteks van ʼn liberaal-demokratiese grondwet het die ANC ʼn uiters beperkte belang om te transformeer van ʼn bevrydingsbeweging na ʼn politieke party. Want onder kondisies van striemende armoede, ekstreme werkloosheid en sosio-ekonomiese verwaarlosing is bevryding steeds die hoop van die wanhopiges, al word die pyn en lyding toegedien deur die vaandeldraers van bevryding. “Noba besidubula, siyaya noba kubi.” (“Even when they shoot us, we will go in dreariness.”)

Die teenstrydighede van Suid-Afrika is in jou gesig; die liberales het die politieke selfvertroue van ʼn meerderheid, en die meerderheid leef in die land van hul vaders as permanente slagoffers van die verlede. Die patroonmatighede wat apartheid en kolonialisme gedefinieer het, is steeds meetbaar, en opsigtelik in die demografie van waar ons woon en werk.

Die weemoed van “Senzeni Na” (“what have we done”) trek steeds soos ʼn winterskleed oor gemeenskappe. Die enigste vooruitsig is steeds niks meer as oorlewing nie. Welvaart weerkaats in die ruite van verweerde taxi’s op reis tussen vervreemding en ontneming. “Thina sizwe esimnyama.” (“We the black nation.”)

Tydens die Mbeki-era het die ANC bevrydingsnasionalisme gebruik om ʼn swart middelklas op die been te bring. Massiewe bemagtigingsooreenkomste het, in die woorde van Moeletsi Mbeki, ʼn byna veredelde swart ekonomiese klas geskep wat saam met die nuwe politieke elite daarin geslaag het om ’n greep op die nasionale politieke diskoers te kry.

‘Die modernisering van die ANC en die verontideologisering van politieke mededinging is fundamenteel tot die oorlewing van die demokratiese grondwet.’

Die waarde van die bevrydingsdiskoers lê in ʼn groot mate in die wyse waarop dit die morele gesagsposisie okkupeer; dit gee aan die ANC en swart Suid-Afrikaners die laaste woord. Die swart middelklas op Twitter gebruik hierdie verhewe posisie baie effektief om mededingende gesprekke te smoor. Die lid van die Gauteng-wetgewer Panyaza Lesufi se standaardantwoord op kritiek is: “Rassis, gee terug die grond.” Dit laat selfs oorwoë kritiek sprakeloos.

Thuli Madonsela is heeltemal reg wanneer sy na wit bevoorregting verwys as ʼn byna universele verskynsel. In ’n globale samelewing waar universele waardes ’n romantisering van die koloniste se lewens- en wêreldbeskouing is, is Afrika nooit die norm nie. ʼn Morbiede werklikheid wat van sowel wit as swart in hierdie land slagoffers maak.

Vir liberales in die DA behoort politieke oorsig oor die werkwyse van die uitvoerende gesag – in die naam van gesonde demokrasie – in wetgewers gekoester te word. Die modernisering van die ANC en die verontideologisering van politieke mededinging is fundamenteel tot die oorlewing van die demokratiese grondwet.

Swart nasionalisme smoor weerstand en stigmatiseer kritiek. Dit laat wetgewers impotent en skep ruimte vir outoritêre of selfs korrupte uitvoerende politiek. Jacob Zuma en die staatskaping-projek het baie te doen met ʼn wanfunksionele nasionale vergadering wat in solidariteit met die president toegelaat het dat die staatskas geplunder word.

Onaanvegbare posisie

Dalk is dit hierdie finale woord, die monopolie op die morele gesagsposisie wat swart nasionalisme het, waarna Helen Zille effe lomp verwys het as “black privilege”: die byna permanente, onaanvegbare moreel verhewe posisie wat die swart politieke elite beskerm teen oorsig, kritiek, en die verantwoordbaarheid van ʼn moderne politieke bestel en wetgewer.

Uiteindelik ondermyn die solidariteit van swart nasionalisme die instellings van die Grondwet. Veral wetgewers, wat die uitvoerende gesag verantwoordelik moet hou, word verlam. Die lojaliteit van die ANC in die nasionale vergadering aan die heersers in die uitvoerende gesag inhibeer weerstand teen swak regering. Op ʼn ironiese wyse skep dit die persepsie dat swart regering ook swak regering is.

Die afgelope 25 jaar het die ANC in die nasionale vergadering aandeelhouers in die korrupsie van die uitvoerende gesag geword. Jacob Zuma is beskerm teen die grondwetlike kritiek en oorsig van opposisiepartye. “Umshini wami” (“bring me my machine gun”) is gemik op die Bozzoli’s in die wetgewer, en dalk ook die boer op sy plaas. “Dubula iBhunu” (“shoot the boer”). Die historiese konteks vervaag wanneer die drukkoker van politieke spanning die verlede en die hede verwar.

Struggle-liedjies sluit waarskynlik wit Suid-Afrikaners uit. Wit Suid-Afrikaners sal op ʼn bepaalde wyse altyd inkommers wees. “Africa for the Africans”. Jy kan slegs tot ʼn identiteit behoort indien daardie groep jou in die eerste plek in die binnekring aanvaar. Verduur is nie aanvaar nie. Om begrip, meelewing en empatie te hê vir die struggle bring ook nie insluiting nie.

Wat liberalisme betref, is die antwoord eenvoudig: Indien die ANC en die EFF nie moderniseer en politieke partye word nie, is daar ʼn wesenlike kans dat die stigmatisering van mededingende standpunte ons kan terugneem na ʼn outoritêre demokratiese regime. Die artefakte van liberaal-demokratiese strukture bestaan, maar gesonde wederstrewigheid en mededingende opinies word aan bande gelê deur morele oordele, eerder as om deel te vorm van ʼn oop gesprek. Die morele regverdiging vir “swart nasionalisme” verdoof die noodsaaklike wedywering tussen idees.

‘Swart nasionalisme het historiese grense wat periodiek in die grond getrek word ten koste van die algemene belang.’

Dalk is dit wat Belinda Bozzoli so ontstel het. Daar was iets Zuma-agtigs in die solidariteit van die dreunsange. Die gemeenskaplike vyand van die “morele oordeel” was ook in die teater. Hulle sit in wetgewers; die bevrydingsbeweging kan hulle hoogstens verduur. Maar hulle moet konformeer tot die narratief van die bevrydingstryd se simboliese artefakte en rituele.

Rede en introspeksie word opgeskort ter viering van politieke mag. Die gevoel van uitsluiting: Swart nasionalisme het historiese grense wat periodiek in die grond getrek word ten koste van die algemene belang. Die “pre-moderne” manifestasie van “insiders” versus “outsiders”.

Dalk is dit so dat swart solidariteit meer pertinent uitgedaag moet word, soos ook regstellende aksie, rassisme en patriargie. Geen narratief behoort agter die heilige gordyn van morele regverdiging rus te vind nie. Zille en Bozzoli is vreesloos in dié verband; hulle eie intellektuele weersin in apartheid is skroomloos. Makes you think.


NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.