Bewaring: Wanneer olifant-politiek swaarder weeg as...

GROOTVOETE

Bewaring: Wanneer olifant-politiek swaarder weeg as wetenskaplike feite

Botswana is die tuiste van sowat ’n derde van die wêreld se olifante, gedeeltelik danksy 'n jagverbod die afgelope vyf jaar. Nou wil Botswana se regering dié verbod ophef, glo weens die konflik tussen veral kleinboere en die olifante. ANGUS BEGG sê die besluit hou ook niks goeds in vir dié diere in Suid-Afrika nie.

  • 14 Junie 2019
  • Nuus & Politiek
  • 10 min om te lees
  • artikel 7 van 25
  • Angus Begg
Meer as 100 olifante is in die Hwange-natuurreservaat in Zimbabwe dood nadat hulle sianied by watergate ingekry het. Stropers beweeg al hoe meer suidwaarts namate die diere in die noorde uitgedun word.
VERGIFTIG ... Meer as 100 olifante is in die Hwange-natuurreservaat in Zimbabwe dood nadat hulle sianied by watergate ingekry het. Stropers beweeg al hoe meer suidwaarts namate die diere in die noorde uitgedun word.
Image: FOTO VERSKAF

“EK verstaan nie waaroor al die bohaai gaan nie. Dit is net 400 olifante per jaar.”

Dié klaarblyklik traak-my-nie-agtige uitspraak kom van iemand in bewaringskringe in Botswana in reaksie op die opskudding wat die opheffing van die jagverbod op 22 Mei veroorsaak het. Die opheffing beteken dat jaglisensies vir 400 olifante jaarliks uitgereik sal word, ’n terugslag vir pogings om die diere te beskerm en die onwettige handel in ivoor te bestry.  

Toe gevra is wat die besluit moontlik vir olifante in Suid-Afrika inhou, wou die persoon niks verder sê nie. “Ons werk nou saam met die (Suid-Afrikaanse) regering en ons sal dit haat om ons werk te verloor.” En wou toe skielik ook anoniem bly.

Die jag van olifante in Botswana is in 2014 deur oudpres. Ian Khama onwettig verklaar, maar pres. Mokgweetsi Masisi deel duidelik nie sy voorganger se bewaringsentimente nie.  Luidens berigte het Masisi net vyf maande nadat hy verlede jaar by Khama oorgeneem het met ’n openbare oorsig van die verbod begin.

Die omgewingsministerie het in Mei in ’n verklaring gesê ’n kabinetskomitee het bevind dat die konflik tussen mense en olifante, en die gevolglike impak op hul lewe, al hoe groter word.

Masisi skaar hom duidelik aan die kant van die plaaslike gemeenskappe, en die vraag kan gevra word of hy hul stem soek in die aanloop tot die verkiesings in Oktober.

'n Olifant in die Chobe Nasionale Park in Botswana
JAGVERBOD OPGEHEF ... 'n Olifant in die Chobe Nasionale Park in Botswana
Image: 123RF/SIMON EEMAN

Die ivoordebat

Internasionale ivoorhandel beloop jaarliks miljoene dollar, maar baie van die transaksies is beslis nie in die ope nie. Dié soort ding kan selfs 'n regering tot 'n val bring, en sommige waarnemers meen kommer oor Botswana se toerismebedryf skuil agter die opheffing van die jagverbod.

Politiekery bemoeilik lank reeds pogings om bedreigde spesies te beskerm weens onderlinge verskille tussen nieregeringsoganisasies. En dit terwyl olifantgetalle reeds skerp gedaal het. Die sowat een miljoen olifante in Afrika in 1970 het volgens betroubare lug-opnames teen 2014 met die helfte minder.

Botswana is glo die tuiste van sowat 130,000 van die wêreld se  ongeveer 430,000 olifante, die meeste in een land.

Olifantgetalle in Afrika het skerp gedaal.
IVOORDEBAT ... Olifantgetalle in Afrika het skerp gedaal.
Image: 123RF/CHRIS FOURIE

Voorstelle en reaksie

Organisasies soos Campfire in Zimbabwe ondersteun beheerde jag as ’n manier waardeur landelike gemeenskappe, wie se gesaaides en veiligheid soms deur die olifante bedreig word, 'n inkomste kan verdien. Só kan die gemeenskappe ook die waarde daarvan insien om die olifante te beskerm. Ander organisasies, soos die Internasionale Fonds vir Dierewelsyn (IFAW) en Save the Elephant in Kenia, was nog altyd ten gunste van ’n algehele jagverbod.

Die IFAW en die Humane Society International (HSI), wat in New York gesetel is, voorspel dat toerisme in Botswana nou sal afneem. ’n Direkteur van HSI Africa, Audrey Delsink, meen dat 35,000 tot 40,000 olifante jaarliks wêreldwyd deur stropers doodgemaak word. “Die jag van olifante moet nie net op morele gronde bevraagteken word nie, maar dit ondermyn ook internasionale pogings om hulle te beskerm en om die onwettige handel in ivoor en ander liggaamsdele stop te sit.”

Baie mense in die oorsese toeristebedryf vrees dat Amerikaanse toeriste met hul harte en dollars gaan stem en volgende jaar elders heen sal gaan.

‘Omgewingsbewustes wat Botswana se besluit kritiseer, sê die olifantbevolking is juis gesond weens die jagverbod.’

Die navorser Ross Harvey het tot onlangs gewerk vir die South African Institute of International Affairs, waar hy verslae saamgestel het oor die ivoordebat. Hy dink trofeejag is nie die oplossing vir Botswana se probleme met die konflik tussen die olifante en boere nie. “Intussen is die land midde-in ’n stroperkrisis waaroor niemand praat nie. Trofeejag sal net die situasie vererger deurdat die stropers en jagters op die bulle met groot tande sal fokus,” sê Harvey.

Botswana se regering ontken dit. Die omgewingsministerie het in ’n verklaring in Mei gesê ’n kabinetskomitee het bevind dat die konflik tussen mense en olifante, en die gevolglike impak op hul lewe, al hoe groter word. Die algemene konsensus was dat die verbod opgehef moet word, en dat jag op 'n ordelike en etiese manier weer ingestel sal word.

Omgewingsbewustes wat Botswana se besluit kritiseer, sê die olifantbevolking is juis gesond weens die jagverbod.

Delsink sê olifante se gedrag word beïnvloed deur mense se optrede en ander vorme van druk wat op hulle geplaas word. Voortgesette negatiewe assosiasies weens stropery en jag kan die diere dwing om te beweeg na gebiede waar hulle veiliger voel. Jag maak hulle aggressiewer, en verhoog dus die konflik.

In 1999, op besoek aan die Bwabwata Nasionale Park in die noordooste van Namibië, het ek dié verskynsel self waargeneem. Suid-Afrika se eens berugte en gevreesde 32 Battaljon se basis was op ’n heuwel in die park, waarvandaan hulle glo olifante afgemaai het. Die ivoor is dan gebruik om Suid-Afrika se bondgenoot in Angola, Jonas Savimbi, se rebellebeweging te finansier. Ek is gewaarsku dat die olifanttroppe dít nie vergeet het nie.

Toe ’n groot trop op pad na ’n watergat ons voertuig gesien het, het hulle met ’n trompetgeskal gevlug … ’n duidelike uitdrukking van vrees en woede. 'n Voorbeeld van aangeleerde gedrag, het Delsink bevestig.

“Dit is sekerlik een van die redes vir die olifantgetalle in Botswana, want hulle het skuiling gesoek binne die landsgrense waar hulle teen die stropers beskerm was,” meen Delsink.

'n Insetsel wat Angus Begg vir die televisieprogram Carte Blanche vervaardig het oor die vergiftiging van olifante.

Wat beteken dit vir Suid-Afrika?

Sommige mense voel dit is net Botswana se probleem en dat Suid-Afrika nog altyd sy olifantgetalle goed beheer het. Maar Delsink glo dit is ’n kwessie wat die streek as geheel raak. “Dit is kommerwekkend dat Botswana die boodskap uitdra dat trofeejag die oplossing is vir die konflik tussen olifante en mense.”

Daar is omtrent 17,000 olifante in die Krugerwildtuin, wat sowat 2 miljoen hektaar groot is. Ongeveer2 miljoen mense bly op die park se westelike grens alleen. Plaaslike gemeenskappe word nie geraak deur die olifante nie omdat Suid-Afrika se parke omhein is en goed bestuur word. Maar 2 miljoen stemme kan van die olifantkwessie ’n politieke speelbal maak as die jag op die diere, soos in Botswana, as ’n inkomstebron gesien word.

Harvey, deesdae 'n onafhanklike ekonoom, brei uit op Delsink se standpunt: “Ek verwag dat jagters nou hul safari’s na Botswana sal kombineer met ’n besoek aan Suid-Afrika, waar jag wettig is. Die vraag na jagtogte in Suid-Afrika kan dus toeneem, wat tragies is.”

Die grootvoete wat in Suid-Afrika oor is, sal ’n nog gewilder teiken word.

Voorstanders van jag wys daarop dat Zimbabwe se Campfire-gemeenskapsprogram hier kan werk. Campfire het begin as ’n program wat jagters toelaat om olifante in sekere gebied te jag, en die opbrengs, wat meer as R250,000 kan wees, aan die gemeenskap te gee. Die bedrae is nou waarskynlik baie meer.

‘Op die oog af kan die Campfire-model ook in die Krugerwildtuin werk.’

Hoe hierdie konsep kan werk, het ek sowat 20 jaar gelede waargeneem in die Shangaan-gemeenskap in die Gonarezhou Nasionale Park in die suidooste van Zimbabwe, waar dit in die dorpie Mahenye ontstaan het. Die inwoners van Mahenye het 'n verhouding met Chilo Lodge opgebou, was gashere vir van die jagters en het só baat gevind by die jagbedryf. Die konsep het intussen elders ook posgevat.

Op die oog af kan die Campfire-model ook in die Krugerwildtuin werk, maar daar is soveel gemeenskappe om die park dat die bestuur van die proses feitlik onmoontlik sou wees.

Harvey is bekend met die Campfire-program. “Die jagbedryf moet baie goed bestuur word om dit te  laat werk, wat omtrent nooit gebeur nie.”

Ek het oor die jare gehoor van gevalle waar daar probleme was met Campfire-programme. Korrupsie is gewoonlik die rede hoekom dit nie werk nie. Oudpres. Robert Mugabe van Zimbabwe het glo selfs daarop aangedring dat die geld regstreeks na hom toe moet kom.  

Olifante by 'n watergat in die Kruger-wildtuin.
JAG NIE TOEGELAAT ... Olifante by 'n watergat in die Kruger-wildtuin.
Image: 123RF/UTOPIA88

Die kommunikasiebestuurder van die Krugerwildtuin, Isaac Paahla, maak dit duidelik dat jag nie in nasionale parke toegelaat word nie, maar dat die provinsiale parke wel jaglisensies uitreik.

“Die park erken dat samewerkingsooreenkomste met naburige parke en gemeenskappe belangrik is. Dit is ’n voortgesette projek wat geduld verg en SANparke lei die gesprek hieroor.”

Dit bring ons terug na die politiek wat ’n rol speel in bewaring, veral rondom die Krugerwildtuin, waar die bestuur gemeenskappe moet respekteer en versigtig hanteer.

Wat baie mense nie verstaan nie, sê Harvey, is dat om bulle uit te roei om aantelingsredes en vir hul tande, slegs korttermynvoordele inhou. Dit ondermyn genetiese variasie en die gesondheid van die trop.

“Dr. Michelle Henley (van Save the Elephants) skryf in die verlede is bulle ouer as 50 jaar as oor die muur beskou, maar meer onlangse studies dui daarop die bulle eers hul seksuele fleur ná 45 jaar bereik.”

Wat beteken die amateuragtige voorval in Balule in Augustus verlede jaar waarin ’n jong olifantbul geskiet is ten aanskoue van sewe toeriste wat wou foto’s neem, hoogs oneties was. So ook die onwettige jag van ’n gemerkte bul 'n paar maande tevore deur 'n wildbewaarder in dieselfde reservaat. Die voorval het skerp kritiek ontlok van die hoofbestuurder van die Krugerwildtuin, Glenn Phillips. “ Die wildtuin sal nie enige praktyk ondersteun wat oneties is of tot nadeel van die reservaat is nie.”

Harvey sê ander oplossings moet gevind word, en foto-safari’s kan ’n rol speel in gemeenskapgebaseerde natuurlike hulpbronbestuur. 

In Ghana se Mole Nasionale Park stap kinders verby olifante skool toe.
ALLEDAAGS ... In Ghana se Mole Nasionale Park stap kinders verby olifante skool toe.
Image: ANGUS BEGG

Daar is ook ander oplossings om gemeenskappe en hul landerye teen olifante te beskerm. Doug en Sandy Ross het byvoorbeeld in 2011 vertel van hul opvoedingsprogram in die Okavango. Een van hul inisiatiewe was om jong mense bekend te stel aan hul “familie” van olifante wat eens in die sirkus was of in gevangenskap geleef het, om só hul vrees vir die diere te probeer besweer. Hulle is geleer van alternatiewe metodes om olifante te keer om gesaaides te verniel, soos om rissies op die houtpale en grensdrade te smeer, en byekorwe in die omgewing.

Dr. Henley stem saam dat bye en rissies ’n oplossing kan bied. So ook veilige gebiede waardeur migrerende olifante kan beweeg. Indien gemeenskappe bemagtig word om voordeel te trek uit die bewaring van die diere, kan die konflik beheer word.

Die direkteur van Elephants Without Borders in Kasane, Mike Chase, het in ’n onderhoud met National Geographic in Februarie gesê hy is bekommerd oor die internasionale herrie en hoe dit die ekonomie in Botswana kan raak. Hy het egter simpatie met die gemeenskappe wat onder die olifante deurloop en het die afskaffing van die jagverbod gesteun. Die olifante het weens die onlangse droogte al hoe meer met mense in aanraking gekom in hul soeke na kos. “Om hul lewe te deel met ’n vyftondier wat lewens bedreig en hul gesaaides vernietig – ek deel in hul vrees,” het Chase gesê. “As jy al alles probeer het en die dier is nog steeds gevaarlik, dan moet hy doodgemaak word. En die gemeenskappe behoort voordeel daaruit te trek deur ’n jagter toe te laat om dit te doen.”

Olifante loop deur die ontvangsgebied van 'n lodge in Zambië. Hierdie olifantfamilie het 20 jaar lank dié pad na hul gunsteling-mangoboom geloop sonder om enige skade aan te rig.
TUIS ... Olifante loop deur die ontvangsgebied van 'n lodge in Zambië. Hierdie olifantfamilie het 20 jaar lank dié pad na hul gunsteling-mangoboom geloop sonder om enige skade aan te rig.
Image: ANGUS BEGG

Stropery kommerwekkend

Stropery het die afgelope sewe jaar suid beweeg en namate die getalle in ander Afrikalande afneem, sal Suid-Afrika se gesonde troppe al hoe meer geteiken word. Die situasie met renosters wys dat Suid-Afrika klaarblyklik nie in staat is om stropers te stuit wat dikwels tot die tande toe bewapen is nie.

‘Die blote gedagte dat jagters en stropers in die Krugerwildtuin met mekaar sal meeding, is uiters kommerwekkend.’

Die Afrika-olifantstatusverslag van 2016 vertel ’n skokkende storie. Van 2007 tot 2015  het olifantgetalle, soos beraam deur opnames en skattings in digbewoude gebiede, met tussen 104,000 en 114,000 afgeneem. Die afname is grootliks weens die toename in stropery vir ivoor sedert 2006, die ergste tot nog toe in Afrika sedert die 1970’s en 1980’s. Tanzanië het die ergste deurgeloop.

Die groot olifantsensus, wat ook in 2016 gedoen is, het aangedui daar is 352,271 Afrika-olifante in 18 lande. In 15 van dié lande het getalle oor sewe jaar met 30% verminder. Die massiewe verliese die laaste paar jaar in veral Tanzanië wat aan regeringskorrupsie gekoppel kan word, sluit in die moord op ’n Suid-Afrikaner in die Selous-wildreservaat.

Die blote gedagte dat jagters en stropers in die Krugerwildtuin met mekaar sal meeding, is uiters kommerwekkend. Nog meer so dat 400 olifante nou jaarliks in Botswana doodgemaak gaan word weens politieke en nie wetenskaplike oorwegings nie.

En dít, om die vraag aan die begin van die artikel te beantwoord, is waaroor die bohaai nou eintlik gaan.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om kommentaar te lewer op hierdie artikel. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.