EERS het ek gedink die kwytskelding van die 6 Januarie-geweldenaars sou ’n verskil maak. Toe kom die voorneme om Groenland en Kanada in te lyf en Gaza van Palestyne te suiwer, maar dit het ook nie die naald laat skuif nie. Die besluit van die rykste man ter wêreld om die kwesbaarste en armste mense van medisyne en kos te ontneem, het in Suid-Afrika tot vingerwysings na die slagofferlande eerder as die daders gelei.
En so gaan dit nou al twee maande lank met skokberigte wat ons daagliks uit Amerika tref, maar wat nie ’n duik maak in die bewondering wat sommige Afrikaners vir pres. Donald Trump het nie. Die chaotiese besparingspogings, die gatomswaai oor bondgenote, die minagting van hofbevele, die korrupsie wat onder die oppervlak borrel ... nie eens ekonomiese wanbestuur of heulery met Rusland kan ons volkie se verering vir die oranje man ondermyn nie.
Die Amerikaanse konserwatiewe joernalis en ontleder David Frum verdeel MAGAs (Trump-bewonderaars) in twee groepe: diegene wat Trump blindelings aanbid en hom enigiets sal toelaat, en diegene wat besef iets is verkeerd, maar dit probeer verskoon.
Ons sosiale media loop oor van sulke verskonings deur Afrikaanse MAGAs. “Die man het ’n plan, hy sal dit nog onthul.” “Hy verstaan tariewe; hy is mos ’n briljante sakeman.” “Ten minste doen hy iets; ons eie president doen niks.” “Hy steun Rusland want hulle sal hom teen China help.” “Dis nie Amerika se skuld as kinders sterf nie – dis omdat Afrika altyd bakhandjie staan.”
En natuurlik, as iets duidelik verkeerd loop – soos ’n dreigende resessie of ’n tuimelende aandelemark – is dit gewoonlik Joe Biden se skuld.
Vir ander mense is dit weer duidelik dat Trump nie net ’n bewese con man en vrouemolesteerder is nie, maar ook ’n ontluikende outo- en kleptokraat. Hoekom vind sommige Afrikaners – vermoedelik darem ’n minderheid – dit dan so moeilik om deur Trump te sien? Ons is mos al deur Zuma – kan ons nie die ooreenkomste besef nie?
Dis ’n vraag wat al ’n paar keer hier op Vrye Weekblad gevra is, maar kom ons kyk wat sosiale media oor die motiverings van Afrikaanse Trump-aanhangers onthul, veral omdat aanlyn platforms vir baie Afrikaners ’n ruimte geword het waar hulle hul stories van marginalisering kan verwoord.
Sterkman-bewondering
Baie Afrikaanse mense deel ’n eienskap met Trump: Ons hou van sterkmanne. ’n Man wat sy man kan staan, met ’n arm wat ’n slag kan slaan (met apologie aan Jan F.E. Celliers). Veral mense van my geslag, wat in die 1970’s grootgeword het, onthou die ou Afrikaner- politieke leiers wat Suid-Afrika met ’n ysterhand regeer het.
Vir diegene is pres. Cyril Ramaphosa, met sy diplomatiese aanslag en sy afsku aan konfrontasie, die teenoorgestelde van ’n sterkman. Sterkmanne is stoere politieke leiers uit die tyd toe “kragdadigheid” ’n gonswoord was.
En hier daag ’n Amerikaner op wat regtig kragdadig is: Immigrante word gejag en uitgedryf, teenstanders word in die bek geruk, tradisionele bondgenote word onder die jis geskop, staatsdepartemente word met ’n kettingsaag afgemaai ...
Trump se Afrikaanse ondersteuners op sosiale media jubel. “Dis nodig dat iemand opstaan en die wêreld omkeer,” skryf een. En: “Die sagte aanslag het nie gewerk nie – daar moet maar ’n bietjie op tone getrap word.” “Hy moet maar buffelagtig wees om dinge reg te kry.”
Trump en sy handlanger Elon Musk is ’n inspirasie vir mense wat gefrustreerd is met die onbeholpe manier waarop die Suid-Afrikaanse politiek aankarring. Hulle smag daarna dat die tweemanskap hierheen kom en van ’n kant af begin skoonmaak – kragdadig.
Nuwe uitdagings en ou verlangens
Wit mense, veral mans, het bevoorreg grootgeword in ’n wêreld wat meestal voorspelbaar was. Namate die sosiale landskap verander het, het hulle voorregte begin kwyn. In die werkplek moet hulle met vroue en mense van kleur meeding en mag hulle skaars vir ’n vrou oogknip. Daar word gedurig na hulle wit bevoorregting vinger gewys terwyl hulle voel hulle het hard gewerk en hulle land help opbou.
’n Omgewing wat altyd eenvoudig was en volgens sekere reëls gewerk het, is nou ingewikkeld, vyandig en onseker.
By baie Afrikaners is die ontreddering selfs meer intens, want ons identiteit was lank gekoppel aan Afrikanernasionalisme en Afrikaners se politieke, ekonomiese en maatskaplike oorheersing. Nou is daardie nasionalisme ’n vloekwoord, die politieke mag is weg en by die werk heers swart bemagtiging. Skole verengels en sommiges meen selfs hul kultuur is in die spervuur. In ’n neutedop – veral wit mans se posisie het gekwyn van uiterste mag tot amper geen mag meer nie.
Dit het gelei tot gevoelens van slagofferskap, maar ook tot gevoelens van wit meerderwaardigheid. Laasgenoemde sien ’n mens in die gereelde verwysings op sosiale media na swart regeringslui as intellektueel minderwaardig, of in opmerkings soos “wit sal weer hul gat red” by ’n foto van Ramaphosa by Ursula von der Leyen van die EU. Daar is ook heelwat nostalgie oor die ou dae op sosiale media, toe wit mense in beheer was en dinge “darem gewerk” het (vir hulle). Of, soos Trump dit stel: Alles was “great”, en hy gaan daardie “greatness” herstel.
Hy is skaars terug in die saal, of hy beëindig die aktiewe bevordering van diversiteit by instellings, departemente en selfs sommige privaat maatskappye. Hy wys ’n simboliese middelvinger vir swart bemagtiging, en sy Afrikaanse aanhangers jubel.
Toe gooi hy nog ’n stomp op die vuur van Afrikaners se slagofferskap deur ons te nooi om Amerika toe te vlug. “Afrikaners het weer ’n identiteit gekry en is ’n gesogte nasie,” laat hoor iemand onder toejuiging. “Die wêreld het wakker geskrik!”
Identiteit en populisme
Afrikaner-identiteit – met sy hoofbestanddele van ras, taal en godsdiens – is ’n belangrike begrip as ’n mens wil uitpluis hoekom Trump tot baie Afrikaners spreek. Navorsers oor sosiale identiteit sê mense verdeel hulleself in twee groepe: ons en hulle. “Ons” is die groep waartoe iemand glo hulle behoort, soos Afrikaners. Dis die ingroep. Die uitgroep, “hulle”, is diegene wat buite die ingroep val en dikwels met wantroue en meerderwaardigheid bejeën word.
Die kloof tussen “ons” en “hulle” hou verband met populisme, ’n politieke ingesteldheid wat die afgelope jare wêreldwyd toegeneem het. Dit vorm die grondslag van Trump se benadering en is een van die oorsake van die hewige verdeeldheid in Amerika.
“Ons” is byvoorbeeld Afrikaners wat meen ons word onverdiend gemarginaliseer, en “hulle” is die korrupte en onbevoegde ANC, wat ons te na kom. “Ons” is ook diegene wat Trump as ’n uitstekende president beskou, terwyl “hulle” die gehate hoofstroommedia en libs is. Afrikaanse sosiale media wemel van verwysings na liberales as “libtards”, “libdiote”, “demoonkrate” en ander onverkwiklike skelterme.
Hierdie woordeskat kom regstreeks uit MAGA-Amerika, met die komplimente van die internet. Nie net bevorder die internet populisme omdat dit sekere groepe help om hul stem dikker as ander te maak nie; dit stel mense ook bloot aan media, beïnvloeders en aanlyn groepe wat die MAGA-boodskap spin en versprei.
En laat ons nou maar eerlik wees, die wêreld se regse boodskappers is tans baie luider, meer samehorig en beter georganiseer as enige opponerende liberale stem. Die gevolg is dat hulle ook meer invloedryk is en beter gehoor word.
Dit bring ons by eggokamers of inligtingsilo’s – aanlyn gemeenskappe en bronne waar Afrikaanse MAGAs in aanraking kom met regsgesindes vanoor die wêreld heen. Hier voel hulle meer tuis as in die realiteit van hul eie land omdat hulle griewe, frustrasies en opvattings bevestig en gedeel word. Die silo’s voed hulle vooroordele, beskerm hulle teen alternatiewe perspektiewe en dien as hospitaal vir hulle geknoude identiteit.
Dis helaas ook broeiplekke van disinformasie en samesweringsteorieë, en dit wemel van beïnvloedingsoperasies nie net deur MAGAs nie, maar ook deur Russe, Chinese en selfs Iranese.
Die Christelike hoek
Wat is wonderliker vir ’n Afrikaner wat stry met verwarring, selfbejammering, nostalgie en identiteitsangs as ’n Groot Wit Leier wat vir ’n slag op mense soos hulle fokus? Een wat wraak neem op almal wat Afrikaanse MAGAs grief: die ANC, die liberale, die politieke elites? Een wat vir die eerste keer in dekades hul waarde raaksien en wil beloon? En dit boonop met ’n gebore Suid-Afrikaner aan sy sy ...
Daarby staan Trump vir Christelike gesinswaardes, wat baie Afrikaners na aan die hart lê.
Dis juis sy gewildheid by Christene wat baie mense dronkslaan. Die man is al hoeveel keer aan korrupsie skuldig bevind, ’n jurie het hom tot seksuele teisteraar verklaar, hy is ’n egbreker, ’n haatspoeger, ’n ondersteuner van gewelddadige gedrag.
Hoe kan iemand wat so liefdeloos is en amper elke morele rigtingwyser in die Bybel ignoreer, steeds so baie Christene in sy kamp hê? In ekstreme gevalle word hy selfs beskou as iemand wat spesiaal deur God op aarde geplaas is om die mensdom te lei.
Dit kan dalk by sommige Afrikaners resoneer wat meen dat ons self met ’n goddelike doel in suidelike Afrika geplaas is.
Maar miskien het dit ook maar net met ’n verwonde identiteit te doen. Afrikaner-identiteit is onlosmaaklik verbind met godvresendheid. Op sosiale media sal jy maklik vermaan word om jou eerder by God se wil te bepaal as om oor Trump te kla.
As ’n leier jou identiteit bekragtig en jou goed laat voel oor jou ingroep, sal jy hom baie vergeef – al gedra hy hom sleg en al woon hy nie eens in jou eie land nie.
Bronne
- Sosiale media: Kommentare op die Facebook-blaaie van verskeie Afrikaanse gespreksgroepe, Netwerk24 en Maroela Media
- Autocracy, Inc – The Dictators Who Want to Run the World deur Anne Applebaum (Penguin, 2024)
- Confidence Man – The Making of Donald Trump and the Breaking of America deur Maggie Haberman (Mudlark, 2022)
- “The role of social media in the spread of health misinformation in South Africa: The Netwerk24 Facebook page, Afrikaner identity, and COVID-19 vaccine hesitancy” deur Nicola Davies-Laubscher (PhD-verhandeling, Universiteit van Kaapstad, 2024)
- In Conversation with David Frum: Trump’s Escalating Threats & Carney’s Leadership Victory (Podsending deur The Hub Canada, 13 Maart 2025, YouTube)
- “Donald Trump en sy Magafrikaners” deur Joan van Zyl (Vrye Weekblad, 5 Januarie 2024)
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.