EK sukkel nog om aan die idee gewoond te raak: Daar gaan nie volgende week ’n Vrye Weekblad wees nie.
Van een ding kan julle seker wees: Ons sluit ons koerant nie met die stert tussen die bene nie. Ons doen dit met waardigheid en trots op wat dit vir die Afrikaanse leserspubliek beteken het en die rol wat dit in die nasionale diskoers gespeel het.
Ons motto was net drie woorde, maar het ’n diep betekenis:
Soos ek reeds elders gesê het: Vrye Weekblad het die laaste ses jaar essays en artikels sonder weerga gepubliseer en dit visueel uniek en prikkelend aangebied. Dit kan sy plek onder die heel bestes ter wêreld inneem.
Ons “sonde” was om hardnekkig te glo dat Afrikaanse mense nie almal eng, etniese nasionaliste met ’n slagofferhoed op is nie; dat daar genoeg Afrikaanse lesers is wat dieper wil lees as oor misdaad, celebrities en skandaal en graag dieper insigte en prikkelende ontleding en idees wou lees, ook dié wat hulle eie siening uitdaag.
Daar was toe ongelukkig nie genoeg van dié mense wat bereid was om ’n skamele R75 per maand te betaal nie. Toe hulle moes begin betaal, het tienduisendes opgehou om Vrye Weekblad te lees.
Afrikaanse taalaktiviste maak ’n sterk argument uit dat die “hoër funksies” van die taal beskerm en bevorder moet word.
Ek sou sê die skryf- en dinkwerk in Vrye Weekblad was ’n manifestasie van dié hoër funksies, of praat die taalaktiviste net van akademiese en vakterminologie?
Dood soos ’n dodo
In-diepte, gehalte-tydskrifte met ontleding, mening en konteks in Afrikaans is nou soos die dodo in Mauritius. Dit bestaan net in die museum of argiewe: Die eerste, gedrukte weergawe van Vrye Weekblad, Die Suid-Afrikaan en Insig, en nou vryeweekblad.com.
Dit is beslis ’n verlies vir Afrikaans en die diskoers onder Afrikaanse mense.
Maar daar is darem nog Klyntji (klyntji.com), LitNet (litnet.co.za) en natuurlik die daaglikse netwerk24.com. Ek hoop die mense wat Vrye Weekblad tot nou gelees het, gaan dié publikasies ondersteun en help lewensvatbaar hou. En op hulle tone hou.
Wat Vrye Weekblad ekstra spesiaal en regtig uniek gemaak het, was die beskaafde, intelligente debatte in die kommentaarseksie onderaan artikels. Elders, ook in Engels, is dit meestal naamlose mense wat skel en beledig, soos padwoede-uitbarstings.
Ons wat deel van die Vrye Weekblad-familie was en aan die kommentare deelgeneem het, behoort nou ook die kommentaarruimtes in ander publikasies te gebruik om die standaard te lig. Moet asseblief nie toelaat dat die reaksionêres, bitterbekke en raasgatte daar domineer nie.
Die ererol
Ons op die redaksie is diep geraak deur die stortvloed van aanprysing en waardering vir ons publikasie van die kant van lesers en medewerkers die laaste weke.
Ons het maar altyd te min geld en te min mense gehad, maar dit was ’n liefdesdaad en ’n avontuur om elke week ’n uitgawe voor te berei en elke dag ’n bulletin met nuusbrokkies, ’n gedig en ’n geselsbief te publiseer.
In my boek sal my kollegas, die mense wat Vrye Weekblad gemaak het, altyd op die ererol van spesiale mense bly. Dit sluit ons gereelde medewerkers in. Dankie dat julle my verdra het. Ek gaan julle almal baie mis.
Ek ken natuurlik nie almal van julle se name nie, maar die intekenare op Vrye Weekblad hoort ook op my ererol. Dankie, dankie, mense, vir die ondersteuning en lojaliteit, en die lewendige interaksies.
Die argief
Ons gaan nie toelaat dat die inhoud van Vrye Weekblad van die laaste ses jaar verlore gaan nie.
Die digitale platform wat ons tot dusver gebruik het, is hopeloos te duur en onnodig kompleks en gaan gestaak word. Ek is besig om ’n nuwe platform met ’n soekfunksie te laat ontwikkel waarop al ons inhoud beskikbaar gaan wees. Ek sal julle almal wat met julle eposadresse by ons geregistreer is, laat weet sodra dit aanlyn kom – dit kan dalk ’n maand of twee neem.
Afhangende van hoe dié nuwe domein gaan funksioneer, is daar selfs ’n moontlikheid dat dit weekliks met nuwe skryfwerk aangevul kan word. Beslis nie Vrye Weekblad 4.0 nie, daardie skippie het geseil, maar miskien ’n beskeie, mini-Vrye Weekblad 3.1, wie weet.
Ali van Wyk, Piet Croucamp, Anneliese Burgess en Laureen Rossouw het julle reeds ingelig dat hulle wil aangaan om hulle gedagtes met julle op Binne+Land te deel. Dit is ’n goeie idee en ek wens hulle voorspoed toe.
Ek is bly om te kan sê dat ons boekeredakteur extraordinaire, Deborah Steinmair, ook ’n digitale ruimte geskep het waar julle haar van volgende week af kan lees: DeborahWoorde. Deborah is ’n briljante rubriekskrywer en haar Saterdag-geselsbriewe was gereeld ons gewildste. Registreer gratis hier.
En so het dit tyd geword om te groet.
Lank lewe Afrikaans.
Lank lewe kritiese denke.
Lank lewe verdraagsaamheid en medemenslikheid.
Lank lewe ons demokrasie en oop gemeenskap hier aan ons geliefde sonnige suidpunt van Afrika.
♦ VWB ♦
- Lesers wat vooruitbetaalde intekengeld wil terugeis, kan Vivien Wray kontak by [email protected] of op WhatsApp by +27 82 897 2721. Stuur asseblief jou faktuurnommer (indien beskikbaar) en e-posadres aan Vivien. As jou betaling met 'n direkte oordrag gedoen is (EFT) en nie per kredietkaart nie, stuur asseblief ook jou bankrekening-besonderhede. Ons vra jou geduld aangesien die proses 'n paar weke kan duur.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.