Hoekom ek so óór Zoom is ...

SKAKEL DIE KAMERAS AF!

Hoekom ek so óór Zoom is ...

Dis amptelik: SARAH BUITENDACH is siek en sat vir Zoom-vergaderings. Instagram-beïnvloeders en ydeles hou dalk van video-oproepe, maar vir die res van ons gaan dit nooit pret wees om aanhoudend verlepte hare en vreemde, onwillekeurige uitdrukkings op mense se gesigte te sien nie, skryf sy.

Image: BLOOMBERG/TIFFANY HAGLER-GEARD

EK het laas week vir die eerste keer in maande ’n groot in-die-vlees-werkgeleentheid bygewoon. En soos jy sou verwag, het dit al die tierlantyntjies van ’n pandemiese produksie gehad. Beperkte getalle, temperatuurmetings, vate vol saniteermiddel – hoe was die lewe sonder al hierdie goed?

En dan was daar natuurlik die belaglike “dansie” van maskers afhaal en weer opsit tussen die kanapees en drankies. Almal probeer vreeslik beleefd wees en “die regte ding doen”, maar vergeet dan van etiket in die middel van ’n glas vonkelwyn terwyl ’n stukkie lap taamlik simpel aan een oor bly hang. Jy kan maar net lag oor hoe onbeholpe ons deur hierdie niemandsland tussen normaliteit en inperking voortsukkel.

Te midde van hierdie feestelikheid het nóg ’n snaakse ding gebeur: Ek het iemand met wie ek al maande lank elke dag saamgewerk het, vir die eerste keer in lewende lywe gesien. Ek sou hom tussen al die mense kon uitken – maar skielik was hy daar in 3D. Sy stem en humor was bekend, maar die betrokke meneer was langer as wat ek verwag het, en sy skouers breër. Ek kon nou al die lewenslyne op sy gesig sien, want dit was nie skermgrootte nie. En, het ek agtergekom, hy’t fantastiese skoenesmaak. Hy het ’n hele figuur van liggaamstaal en handgebare gehad! 

Eerlikwaar, dit het my ’n paar oomblikke gekos om aan te pas by sy liggaamsbou en lengte, asook die helder intensheid en kleur wat deel daarvan is om langs ’n persoon te staan en tydens ’n toespraak te kan inleun en ’n bietjie te skinder.

Nie ’n gesonde plaasvervanger nie

En terwyl ons skinderpraatjies uitgeruil het, het nog ’n gedagte deur my kop geflits: Ek is so óór Zoom. As ek nóóit weer daai klein blou kamera-ikon, vergaderingskakel en wagwoord sien nie, sal dit te gou wees.

Soos ’n goeie vriend oor hierdie video-ergernis gesê het wat ons wêreld die afgelope 18 maande verswelg het: “Skakel die kameras af!” Dis beslis nie ’n gesonde of hoegenaamd nuttige plaasvervanger vir ’n vergadering van aangesig tot aangesig nie. En toe voeg hy by, terwyl ons dieper in die gesprek oor die onderwerp gedelf het: “Dit is soos die een of ander belaglike situasie waar jy moet bewys jy leef nog, terwyl net die persoon se stem eintlik heeltemal voldoende sal wees.” 

Ek stem saam, en nie net omdat dit beteken ek kan in my pajamas bly en aanhou ontbyt eet terwyl jy praat nie. So tydbesparend soos ’n video-oproep teenoor ’n fisieke vergadering kan wees, het die “gemak” van hierdie virtuele terrein veroorsaak dat mense onophoudelik onnodige, sinlose skermvergaderings reël en aan die gang probeer hou. En dit terwyl ’n foonoproep, WhatsApp-boodskap (natuurlik wanneer dit nie aflyn is soos dit vir ’n lang tyd Maandagaand was nie) of e-pos baie produktiewer en vinniger as ’n hoogdrawende Zoom-oproep kan wees waar die helfte van die deelnemers se klankknoppies in elk geval afgeskakel is en hulle aan iets anders werk.

Dink hieraan as 2021 se antwoord op almal wat in ’n e-pos ge-cc word. Nee, daardie gesprek vereis nie ’n vergadering op skerm of ’n uitnodiging aan die hele stad om aan te teken nie. 

Kyk wat sê sielkundige studies 

Plus, soos ’n ander maat oor hierdie digitale moeras van op-die-skerm-gekuiery gesê het: “Ek het nog nooit in my lewe soveel tyd daaraan bestee om na myself te staar nie.” Vir die Instagram-beïnvloeders en ydeles is dit dalk wonderlik én voordelig, maar vir die res van ons gaan dit nooit pret wees om aanhoudend ons verlepte hare en vreemde, onwillekeurige uitdrukkings op mense se gesigte te sien nie.

Dit kan dalk soos ’n middelklasprobleem klink, maar wanneer jy hierdie Guardian-artikel lees, sal jy besef in watter mate die konstante beeld van ons eie gesigte, verklein en vanuit ’n snaakse hoek gesien, ’n impak op ons gehad het sedert Covid-19 toegeslaan het.

Die skrywer van die artikel, Ashley Abramson, stel dit soos volg: “Sielkundige studies het lankal uitgewys dat die tyd wat jy voor ’n spieël deurbring met groot onsekerheid verband hou.” Maar in hierdie geval reken die kenners is dit eerder soos om in ’n pretparkspieël te kyk waarin jou gesig skeefgetrek lyk. Abramson praat van mense wat velprodukte koop en selfs kosmetiese prosedures en chirurgie ondergaan om minder lelik op Zoom te lyk. Dis diep onrusbarend ...

Videokonferensietegnologie het ons gatte in die vroeë dae van die pandemie gered, en besighede en spanne in staat gestel om aan die gang te bly. Maar nou, soos die wêreld meer ingeënt word, sien ek uit na ’n tyd wanneer ons almal ons skerms gaan afskakel en weer op al die ander ou maniere met mekaar sal gesels. En sonder om oor erg oordrewe donker kringe onder ons oë bekommerd te wees.

* Die artikel het oorspronklik in Financial Mail verskyn.

♦ VWB ♦

>> Volg Vrye Weekblad op Facebook, Twitter en Instagram en kies watter nuusbriewe jy van ons af wil ontvang.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.