Javier Marías én Tomás se laaste hoera

NA-OORLOGSE SPIOENASIE

Javier Marías én Tomás se laaste hoera

LOUIS GAIGHER is vir oulaas meegevoer deur die behendigheid van die Spaanse skrywer wat in 2022 oorlede is.

IN sy laaste roman, Tomás Nevinson, wat in Engels verskyn het presies ses maande ná Javier Marías se dood op 70 op 11 September 2022, keer die mees gerekende ná-oorlogse Spaanse skrywer terug na die spioenasiewêreld van sy Your Face Tomorrow-trilogie (2002 – 2008) en die gegewe van Berta Isla (2017). Sy tematiese bemoeienisse (verraad, onkenbaarheid, openbaarmaking, gevaarvolle kennis en die geskiedenis se nasleep), literêre verwysings, morele vraagstukke en anglofilie is alles hier te vinde. En die stem wat sy Engelssprekende lesers uit Margaret Jull Costa se vertalings oor 30 jaar leer ken het. (Jull Costa se nawoord in Tomás Nevinson is ook aangrypend, veral gelees saam met Marías, self ’n gerekende en gretige vertaler, se laaste en 939ste rubriek (https://www.the-tls.co.uk/articles/my-terror-and-pleasure-column-javier-marias-margaret-jull-costa/) vir El País.)

Selfs al gaan sy laaste paar boeke – groter in bladomvang en effe log – mank aan die vitaliteit en fokus van sy beste werk – romans uit die 90’s, Shakespeariaans betitel en in Engels bekend as A Heart So White, Tomorrow in the Battle Think on Me en Dark Back of Time – is dit ’n vreugde om vir oulaas meegevoer te word deur Marías se behendigheid met verteltyd teenoor vertelde tyd, en sy unieke sensibiliteit wat ontvou in lang tonele en uitgesponne sinne met wendings, tonale wisseling, weersprekings en ’n magdom verwysings.  

Tomás Nevinson is in Berta Isla aan lesers bekendgestel as ’n Anglo-Spaanse poliglot en meesternabootser. As student in Oxford word hy teen sy sin en met ’n slenter by die Britse intelligensiediens betrek. Wanneer hy in die 80’s op missies vertrek, bly ons in Madrid agter saam met sy jong gesin en sy jeugliefde, Berta Isla, wat uit gerugte, afwesighede, dreigende onheil en afleidings die stories van sy omswerwinge weef. Hy hou vol dat sy werk meestal klerklik en gemoeid is met die “protection of the realm”, oftewel die beskerming van die alledaagse orde gedurende vredestyd. Gegewe Britse diplomatieke brandpunte van dié tyd – Noord-Ierland en die Falklands – is ’n gevaarvolle lewe vir Tomás ’n waarskynlikheid. In die boek se sterkste toneel dring die eksterne gevaar Berta se huishouding op amper karnivaleske trant binne. Dit behels ’n potsierlike paartjie, ’n kletsende vuuraansteker en ’n babawiegie. Gedurende ’n lang verdwyning word Berta wysgemaak dat Tomás gesterf het en, soos Balzac se kolonel Chabert, het sy terugkeer ná ’n dekade onvoorsiene gevolge. ..

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.