Hoe om boekwurms sonder moerbeiblare te kweek

KINDERBOEKE

Hoe om boekwurms sonder moerbeiblare te kweek

Ons boekeredakteur het haar oorgegee aan die sjarme van kinder- en jeugboeke. Dis 'n wilde wipwarit.

Image: ANGELA TUCK

JUNIE is kindermaand. Hoe maak jy jou kinders lief vir lees, liewe ouers? Jy kan ten minste die perd tot by die water bring: dra arms vol boeke aan.

Kinderboeke sal altyd my oog vang en my herinner aan een van die lekkerste werke van my lewe – toe ek in die Potchefstroomse Openbare Biblioteek verban is na die kinderbib omdat ek te verstrooid was vir die toonbank. In die kinderbiblioteek het ek heeldag in ’n klein kantoortjie gesit en lees aan jeugboeke om te keur vir aankoop. Dit was betowerend.

Ouers en grootouers lees vir babas en kleuters voor, maar wanneer die kind self kan lees, is ons maar te bly om ons neus in ons eie boeke te verberg. Dus weet ons nie altyd waaroor hulle lees nie – as hulle wel lees, te midde van al die elektroniese afleidings wat beskikbaar is. Toe my dogters tieners was, was dit die Twilight-reeks.

Doen jouself die guns en lees soms ’n jeugboek. In ’n neutedop beleef jy die volle register van smart en vreugde wat hierdie lewe bied. Sommige kinderboeke is eenvoudig beeldskoon en liries, ander goddelooslik en skreeusnaaks met ’n grilfaktor, soos David Walliams s’n.

Ons het uitstekende jeugboekskrywers in Afrikaans, soos Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, Zelda Bezuidenhout, De Wet Hugo, Onke Mazibuko en ander. Dan is daar boonop uitstekende vertalings van oorsese kinder- en jeugboeke in sprankelende Afrikaans.

Ek het ’n paar kinderboeke gelees namens al die ouers, grootouers, peettantes, familievriende en onderwysers.

Nina-omnibus

Die skrywer van hierdie reeks (Elizbè Van der Colff) én die illustreerder (Chris Venter) is bekroon met ATKV-Kinderboektoekennings vir sowel Nina en die wacky hare as Nina en die funky eksperiment.

Die omnibus bestaan uit drie avonture. Besties Nina en Jessie gebruik ’n misterieuse swart-en-rooi pet om speurwerk te doen.

Konsternasie heers, want skielik het almal in die Laerskool Tierkop kopluise.

Die koeldrankfabriek wil met alle mag ’n nuwe energiedrankie aan die skool afsmeer.

Nina wil agter die kap van hierdie byltjies kom en ook uitvind waar die pet se spesiale kragte vandaan kom. Sy gaan steek kers op by die Eksotiese Eksperimente Ekspo.

Hier leer klein lesers lag-lag respek, waardes en nuuskierigheid. Hierdie boek met drie lekker Nina-stories is binnekort beskikbaar.

Die awesome speurklub deur Elizbè Van der Colff met illustrasies deur Chris Venter is deur Human & Rousseau uitgegee en kos R261 by Graffiti.


Onderbroekheld

Uit die pen van die Amerikaanse spotprenttekenaar Dav Pilkey – die skrywer van die gewilde Hondman-reeks – kom nou die skreeusnaakse Kaptein Onderbroek #3: Kaptein Onderbroek en die inval van die koelbloedige kostannies uit die ruimte (én die aanval van die ewe bose zombie-nerds).

George en Harald is berugte poetsbakkers by Leergierig Laer. Wanneer die skool se kostannies danksy hulle poets bedank en vervang word deur eienaardige tannies wat soos aliens lyk, is die kinders verward. Sal Kaptein Onderbroek die dag kan red?

Hierdie internasionale treffer is deur Kobus Geldenhuys in kraakvars Afrikaans vertaal. Kaptein Onderboek is ’n aweregse superhero met ’n wit y-front en ’n rooi mantel. Sy identiteit is so onbekend dat hy self nie seker is wie hy is nie.

Hierdie reeks is perfek vir kinders wat glo dat hulle nie van lees hou nie. Die lekker volkleur-illustrasies spreek vanself en voor jy jou kom kry, begin die kind lees.

Kaptein Onderbroek en die inval van die koelbloedige kostannies uit die ruimte (én die aanval van die ewe bose zombie-nerds) deur Dav Pilkey is deur Human & Rousseau uitgegee en kos R176 by Graffiti.


Onhebbelik

Wie wil nie in die stoutste klas op aarde wees nie? Volgens die skoolhoof, mev. Brombrom-Bredeboud, is dit 4B. Sy glo skool gaan nie oor leeglê en lyf wegsteek, of, behoede ons, pret hê nie.

Poetsbakkers Alex en Manjit maak die hele klas siek met tuisgebakte koekies en dit gaan naar. Hierdie soort ding gebeur eenvoudig in 4B.

Dis die vierde boek in die reeks, onnutsig vertaal deur Kobus Geldenhuys.

Joanna Nadin is ’n spesiale raadgewer vir die Britse eerste minister, as dit ’n aanbeveling is? Sy het reeds meer as 70 boeke geskryf.

Die Stoutste Klas Op Aarde deur Joanna Nadin is deur Human & Rousseau uitgegee en kos R185 by Graffiti.


Harige oomblikke by Hogwarts

Hierdie towenaartjie wat soos Bennie Boekwurm lyk het die hele wêreld se kinders aan die lees gekry. Nou praat hy ook Afrikaans, danksy vertaler Janie Oosthuysen – Kobus Geldenhuys het ook ’n handvol Harry Potters in Afrikaans vertaal.

Harry se somervakansie is aaklig. Hy beleef die slegste verjaarsdag nog en dan kom waarsku ’n vreemde huis-elf genaamd Dobby hom om nie terug te gaan na die Hogwarts Skool vir Towerkuns en Heksery nie. Vreeslike dinge gaan glo gebeur. Dis nou maar wors. En dis waar. Die nare geheimenisse gaan kinders uit die slaap hou en laat gru dat hulle lekkerkry.

Harry Potter en die Kamer van Geheimenisse deur J.K. Rowling, vertaal deur Janie Oosthuysen, is deur Human & Rousseau uitgegee en kos R225 by Graffiti.


Jy gaan gekou word

Bea Malan, oftewel Koningin Bea, vind met ’n skok uit haar ouers gaan skei en dat sy en haar ma Johannesburg toe trek. Soos sy sal sê: groot poef-emoji. In Stellenbosch was sy die hoof van haar trop. Nou is sy tussen vreemde kinders in ’n vreemde stad en ’n raaiselagtige skool. ’n Sekere tergende geheim druk swaar op haar hart. Sal sy dit regkry om nuwe mense in haar lewe toe te laat? Want as sy nie vinnig grootword nie, gaan die lewe haar soos borrelgom kou.

Hulp is beskikbaar in die vorm van die rondloperkat Kol, asook Lea wat soos ’n ligstraal-emoji is en die verantwoordelike Daniël, maar is sy gereed om te dans?

Jana du Plessis Müller het reeds twee chic lit-boeke geskryf: Vat ’n gap en Mieke rock uit.

Borrelgom deur Jana du Plessis Müller is deur Human & Rousseau uitgegee en kos R198 by Graffiti.


Groot drome

Ethan is 14 en droom daarvan om eendag 'n rugbylegende te word. Leo, ’n Jack Russell-hondjie wat hy by die DBV aangeneem het, is sy hart se punt. Dan kondig Ethan se pa aan hulle gesin gaan Nieu-Seeland toe emigreer en hulle kan nie bekostig om Leo saam te neem nie.

Ethan begin dadelik planne maak om geld in te samel, want hy kan hom eenvoudig nie 'n lewe sonder sy beste vriend voorstel nie. Die teiken is R40 000 en hy het net drie maande om dit in te samel.  

Platsak maak ’n plan deur Anneke Langner is deur Best Books uitgegee en kos R170 by BookHub.

♦ VWB ♦

Kopkrap

Toegif: Wanneer die kinders aan die lees is, kan Ouma en Oupa hulle verdiep in 'n blokraai. Hoog aan te beveel is Die Groot Afrikaanse Blokraaiboek, met blokraaie, sudoko, koderaaie en pyltjieraaisels. Laasgenoemde is soos in Huisgenoot: Pyltjies dui aan in watter rigting die woord gebou moet word.

Wat my interesseer, is die samesteller: Gerda Engelbrecht is, volgens die agterblad, 'n onredbare boekwurm. Een van my troplede, dus. Sy stel feitlik al die woordspeletjies vir Media24 se publikasies op. 

Die Groot Afrikaanse Blokraaiboek, saamgestel deur Gerda Engelbrecht, is deur Jonathan Ball uitgegeee en kos R198 by Graffiti.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.