Sing jy van huurmoord of sing jy van liefde?

RILLERS EN ROMANSE

Sing jy van huurmoord of sing jy van liefde?

Ons boekeredakteur wonder wat die meeste afleiding bied: onmoontlike morele dilemmas of gelukkige eindes.

EK het ’n misdaadriller, ’n huishoudelike noir en ’n lywige liefdesverhaal gelees en tot die slotsom gekom dat misdaad en waansin my meer boei as liefde, selfs al is dit middeljarige, onvolmaakte liefde met 'n agenda en baie bagasie. Maar miljoene lesers kan nie verkeerd wees nie.


Gregg Hurwitz is ’n topverkoper wat misdaadrillers, draaiboeke en strippe skryf. Sy Orphan X-boeke word deur lesers verslind. Ek het verlede jaar laat op die bus geklim met The Last Orphan; daar was al heelparty voorlopers. Dit het my ingesluk en ek het besluit om te gaan soek na die ander in die reeks, maar nooit daarby uitgekom nie. Tot sy jongste op my lessenaar beland het: Nemesis.

Orphan X of Evan, ook bekend as die Nowhere Man, leef onder die radar. Hy is as deel van ’n geheime projek as weeskind deur die regering opgelei om ’n moordmasjien te wees, en toe laat gaan. Hy gaan daarna voort om sy enigste vaardigheid uit te leef, maar verbasend genoeg, met sy eie soort moraliteit: Hy maai net mense af wat die wêreld ’n onleefbare plek maak, en net om hulpelose mense te help. Die persoon wat hy help, moet vir hom die naam gee van ’n volgende persoon wat in die nood is omdat hulle deur iemand monsteragtig bedreig word. Die teregstellings geskied skoon, sonder emosie of genoegdoening, en heeltemal gratis. Anders as Jack Reacher en ander is Evan nie besonder lank of aantreklik nie. Hy smelt saam met sy omgewing.

’n Morele dilemma

Dis bitter spannend, maar wat my aan die lees hou, is die verhoudings tussen karakters. Soos Stieg Larsson slaag Hurwitz daarin om karakters te skep in wie jy kan glo, vir wie jy omgee. En die dinamika tussen eksentrieke karakters gryp aan die hart. Daar is ’n tiener, Joey Morales, oor wie Evan hom ontferm, ’n kuberkraker van formaat wat herinner aan Lisbeth Salander – op die spektrum, onbeholpe, woedend. Daar is die sexy, dodelike Candy, ook ’n weeskind en lid van die program wat gesneuwel het, wat ook buite in die koue gelos is. Daar is Evan se amper-vriend, die wapenvervaardiger Tommy Stojack – ’n wettelose cowboy van ’n man met ’n filosofiese streep en ’n goeie hart, meestal. Nou vind Evan uit dat Stojack ook wapens verskaf aan uitvaagsels wat kinders uitwis en Evan self probeer vermoor het.

Dis ’n morele dilemma, en hy konfronteer Stojack, wat niks verduidelik nie. Hulle is nou aartsvyande wat mekaar wil uithaal. Stojack is ’n gedugte teenstander en hierdie keer is daar wel emosie betrokke.

Maar dan word Evan by Stojack se huis deur vyf booswigte in ’n hinderlaag gelei en so ampertjies bokveld toe gestuur. Sit Stojack daaragter, of was hý die eintlike teiken? Vier psigopatiese huurmoordenaars volg kort op die hakke van die hinderlaag. Stojack het iemand wat magtig is, baie kwaad gemaak. Evan is in die kruisvuur.

Ek beveel hierdie lywige boek hoog aan vanweë die vaardigheid van karakterisering en die skrywer se gesofistikeerde humorsin.

Nemesis deur Gregg Hurwitz is deur Penguin Random House UK uitgegee en kos R335 by Amazon SA.


The Crash is in wese huishoudelike noir en het my aan die nekhare beetgekry en nie laat los tot op die laaste bladsy nie. Freida McFadden is ’n breinchirurg van Boston en tans een van die suksesvolste spanningskrywers. Sy het drie Housemaid-romans geskryf (The Housemaid, The Housemaid's Secret en The Housemaid is Watching). Hulle het altesame meer as ’n miljoen eksemplare verkoop.

Tegan is 22 en mooi. Sy werk in ’n supermark, lang skofte, al is sy agt maande swanger. Sy is verstandig en versigtig, maar het ná ’n kuiertjie waarby drank betrokke was, ’n one-night stand waarvan sy nie veel kan onthou nie. Die man, Simon, is gesiene en welaf; sy prokureur beding ’n skikking en Simon moet ’n aansienlike bedrag in haar rekening inbetaal in ruil vir haar swye – hy is getroud. Sy sien uit na ’n beter blyplek en lewe vir haar en haar kind.

Die reuk van sy naskeermiddel ...

Maar wanneer sy die kontrak moet teken, kom Simon saam na haar armoedige woonstel en die reuk van sy naskeermiddel laat haar herinneringe ontwaak: Hy het daardie aand iets in haar drankie gegooi en haar in haar woonstel verkrag. Sy kry sedertdien nagmerries daaroor, maar het geglo dis net nagmerries. Sy weier om die kontrak te teken en verklaar dat sy hom gaan aankla van verkragting.

Sy ry die aand ná haar laaste skof na haar broer toe; die een mens wat sy oorhet in die lewe. Ongelukkig beland sy in ’n sneeustorm en skryf haar motor af teen ’n boom. Haar enkel is gebreek en sy is vasgekeer in die kar, totdat ’n bebaarde, bot reus van ’n man wat soos ’n yeti lyk, haar bevry en in sy bakkie laai. Sy beland in sy kelder, nogal op ’n hospitaalbed, en sy verskrikte vrou sien om na haar. Maar wat wag op haar?

Dis uiters spannend, die leser haal skaars asem. Dinge is natuurlik nie soos dit lyk nie en vele verrassings steek kop uit. Ek het nou al soveel van hierdie tipe boeke verslind dat ek ten minste ’n paar daarvan sien kom het.

Snaarstywe spanning en uitstekende afleiding in hierdie dae.

The Crash deur Freida McFadden is deur Poisoned Penn Press uitgegee en kos R215 by Amazon SA.


Wanneer die hele wêreld gaande is oor ’n skrywer of ’n boek soos Eat Pray Love, weet ek by voorbaat ek gaan nie daarvan hou nie. So was dit vir my met Jojo Moyes. ’n Paar lesers het my al daarop gewys dat sy wéét hoe om ’n storie te vertel. Sy boer op die topverkoperlyste. Ek het in die boekwinkel deur haar boeke geblaai en die indruk gekry dis lig, populisties, chick lit, straight liefde wat seëvier oor beproewings.

Totdat Kerneels Breytenbach, ons boekghoeroe, ’n boek van haar aanbeveel het. Ek het dit gelees en besluit as iemand haar ambag só knap bemeester het, ontlok dit bewondering. 

Nou het ek ’n tweede opgeneem: We All Live Here. Ek moes maar volstaan het met een boek. Ek het gesukkel, maar aanvaar dat hierdie resep byval vind by miljoene lesers, soos ’n koek wat ’n mens aanhou bak omdat dit soveel aftrek kry.

Daar is weer ’n huwelik op die rotse, ’n vrou wat oorweldig is deur die eise van moederskap en haarself effens verwaarloos, wie se man afgevry is deur ’n jonger, wulpse, glamoreuse geskeide buurvrou. Nou woon hy ’n paar huise weg saam met sy jong bruid en haar seuntjie. Lila worstel met woede en verbittering en haar twee dogters word rebels en onhanteerbaar. Boonop woon haar oorlede ma se tweede man, haar stiefpa, tydelik by hulle om uit te help. Hy kook elke aand lensies en gestoomde hoender, kos wat die dogters verafsku. Hy is ’n netheidsvraat wat die huis militaristies regpak. Lila is dankbaar, maar wens sy kon meer van hom hou. Boonop lyk dit asof hy permanent begin nesskop.

Vermaaklik, maar voorspelbaar

Sy laai haar jongste dogter by die skool af, die skool wat die tweede vrou se seuntjie ook bywoon, en sien toevallig dat die jonger bruid swanger is. Asof dit nie genoeg is nie, val haar biologiese pa ook daar uit: down and out, hy wat sy rug op haar en haar ma gekeer het om Hollywood te gaan verower en nooit kontak behou het nie. Jy kan die atmosfeer tussen hom en haar stiefpa met ’n mes sny. Haar oudste dogter besluit sy wil nie meer skoolgaan nie. Daar is ook darem ’n oulike tuinargitek wat op die horison huiwer.

Jy sien die prentjie. Chaos. Ja, dis nogal vermaaklik en soms snaaks, maar dis nie my soort boek nie. Dis voorspelbaar en alles word uitgespel. Lees dit gerus en verskil van my.

We All Live Here deur Jojo Moyes is deur Penguin uitgegee en kos R350 by Amazon SA.


Waarna luister ons?

Miley Cyrus sing “Wrecking Ball":

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.