Nogmaals mooi woordjies van Cyril, en totsiens, Adriaan Vlok

MAANDAG MET MAX

Nogmaals mooi woordjies van Cyril, en totsiens, Adriaan Vlok

MAX DU PREEZ skryf oor die ondernemings wat pres. Cyril Ramaphosa die afgelope naweek by die ANC se 111de verjaardagviering gemaak het, en groet Adriaan Vlok, wat gister oorlede is. En daar is soos gewoonlik vyf dinge wat jy wil weet.

  • 09 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 14 min om te lees

Goeiedag!

1. Die weghol-wetteloosheid, sabotasie, bedrog en diefstal by Eskom en die greep wat misdaadsindikate op die maatskappy het, is dramaties gedemonstreer met die nuus dat die uittredende hoofbestuurder, André de Ruyter, op 12 Desember verlede jaar op kantoor met sianied vergiftig is. Dit het saamgeval met sy dramatiese bedanking, maar die gifaanval is waarskynlik beplan voor sy bedanking bekend geword het. ’n Hele aantal Eskom-bestuurders gaan deesdae nêrens heen sonder koeëlvaste baadjies en lyfwagte nie.

2. Die vise-kanselier van die Universiteit van Fort Hare, prof. Sakhela Buhlungu, se lyfwag is Vrydagaand voor Buhlungu se huis doodgeskiet, maar hy en die polisie glo hy was self die teiken. In Maart verlede jaar het ’n man ook op sy huis geskiet en kort daarna is die universiteit se vlootbestuurder, Petrus Roets, deur ’n sluipmoordenaar om die lewe gebring. Buhlungu sê die aanval op hom hou verband met sy ondersoeke na korrupsie en dat die spesiale ondersoekeenheid op die punt staan om op senior mense by die universiteit toe te slaan.

3. Die ANC het bewys dat hulle wel in staat is om infrastruktuur gou en effektief te herstel. Die Dr. Petrus Molemela-stadion in Bloemfontein waar die ANC sy 111de verjaardag gevier het, was voorverlede week nog in ’n onbruikbare toestand, maar dit is blitsvinnig opgeknap en die strate in die omgewing is sommer ook geteer.

4. Brittanje se prins Harry se bekentenis/spoggery in sy boek, Spare, dat hy 25 Taliban-vegters doodgemaak het, is deur die militêre establishment in Brittanje gekritiseer en het ’n senior Taliban-amptenaar, Anas Haqqani, laat opmerk: “Mr. Harry! The ones you killed were not chess pieces, they were humans; they had families who were waiting for their return.”

5. Die Biden-administrasie het ’n nuwe hulppakket van $3 biljoen aan Oekraïne beloof, wat gesofistikeerde Sparrow-missiele en Bradley-gevegsvoertuie insluit. Intussen het Rusland se pres. Vladimir Putin stoksielalleen ’n diens in ’n katedraal van die Ortodokse Kerk bygewoon, eerder as om een van die vele ander vieringe van die Ortodokse Kersfees by te woon.


Vandag se weer

Ná die onlangse buie kan matige toestande oor die grootste deel van die land verwag word. Baie warm toestande word egter in die Sentraal-Karoo en dele van die Noord- en Oos-Kaap verwag, en daar is ’n hoë brandgevaar.

Klik hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Rustenburg 26°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 28°C • Durban 27°C • Worcester 34°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 26°C • Upington 39°C • Gqeberha 28°C • Oos-Londen 29°C.


Max du Preez | Cyril maak beloftes, maar wat is vyf jaar later werklik anders?

Die jaar wat voorlê, gaan ’n jaar van “decisive action” wees. Eskom gaan gou tot sy volle glorie herstel word. Plaaslike owerhede gaan hulle diens verbeter. Daar gaan harder teen misdaad en korrupsie opgetree word. Werkloosheid, veral onder die jeug, gaan aktief bekamp word.

Dit is alles baie gerusstellend, veral omdat dié ondernemings uit die mond van onse president, Cyril Ramaphosa, kom.

O, wag, dit is amper presies wat hy vroeg in 2018 gesê het toe hy president geword het. En die werklikheid is dat ons op elke terrein wat hy gister op die 111de verjaardag van die ANC in Bloemfontein genoem het, swakker daaraan toe is as vyf jaar gelede.

Ramaphosa het veel meer energiek en begeesterd gelyk as laat verlede jaar, toe hy amper bedank het. Sy besliste oorwinning oor sy RET-teenstanders by die Desember-konferensie, die verkiesing van net een RET-ondersteuner tot die topsewe en sy oorheersing van die gekose nasionale uitvoerende komitee (NUK) het sekerlik gehelp.

Ek het met versigtige hoop na sy rede geluister – dalk is daar ’n klein deeltjie van my oor wat ook hoop die Ware Cyril, die Thuma Mina-Cyril, die Nuwe Daeraad-Cyril, gaan opstaan nou dat hy soveel sterker in die ANC staan.

Maar toe dwaal my oë. En net agter Ramaphosa se linkerskouer op die verhoog sien ek die gesig van Bathabile Dlamini. Sy is minder as ’n jaar gelede weens meineed skuldig bevind, maar sy is weer deel van die NUK en het glo ’n goeie kans om weer die leier van die nuwe Vroueliga te word.

En aan Ramaphosa se ander kant sien ek die gesig van David Mahlobo, die gewese minister van staatsekuriteit wat sakke vol kontant by sy departement gaan haal het om aan Jacob Zuma te besorg. Regter Raymond Zondo het aanbeveel dat hy vervolg word, maar hy is weer in die NUK, saam met ander bewese skelms en geweldenaars soos Malusi Gigaba en Andile Lungisa.

Dít is die ANC, nie Ramaphosa se mooi beloftes nie.

As jy in ’n bui vir selfgeseling is, gaan lees die hele 8 Januarie-verklaring hier.

Die enigste werklike verskil tussen die ANC van Januarie 2023 en Januarie 2018 is dat Fikile Mbalula en nie Ace Magashule nie die sekretaris-generaal, die bestuurder van die party is. Hy was erg onbeholpe as minister, maar as sekretaris-generaal is hy in sy element. Tussen hom en die triomfantelike voorsitter, Gwede Mantashe, gaan die sweep makliker klap om dwarstrekkers in toom te hou.


Image: ANGELA TUCK

Daar was ’n Adriaan Vlok en toe was daar ’n Adriaan Vlok 2.0

Goeiedag, vriende

Adriaan Vlok, oudminister van polisie tydens die bewind van PW Botha, is gister oorlede.

Ek het ’n diepe renons in die man gehad. Maar toe stap hy in November 2019 by my huis in, onherkenbaar, en vra of hy my voete kan was as boetedoening vir alles wat hy my tydens die ou Vrye Weekblad-jare aangedoen het.

Dit is daardie Adriaan Vlok wat ek verkies om te onthou; die man wat, in die aangesig van die bespotting van sy ou vriende, sy vroeëre lewe eerlik in oënskou geneem het en toe sy berou nie net verkondig het nie, maar uitgeleef het.

Hy was ’n lewende bewys dat ’n mens regtig kan verander. Hy was een van die bitter min mense wat oor my pad gekom het wat verklaar het dat hulle Christene is wat ek werklik geglo het.

Hier onder volg die storie wat ek op 29 November 2019 geskryf het. Dit sê alles wat ek oor hom wil sê.

Groetnis

Max


Mooi loop, Oom Vlok

Max du Preez en Adriaan Vlok tydens hulle ontmoeting.
Max du Preez en Adriaan Vlok tydens hulle ontmoeting.
Image: ANGELA TUCK

Ek onthou Adriaan Vlok as ’n fier, harde man met ’n sardoniese glimlag. Van 1986 af, toe hy minister van “wet en orde” geword het, was hy vir my die gesig van die meedoënlose polisiemag van die apartheidstaat, van die veiligheidspolisie wat gemartel en gemoor het, van die moordkommando op Vlakplaas. Hy was die argetipe van ’n PW-man.

Die krom oubasie wat laas Vrydagoggend by my voordeur ingestap het, is nie dieselfde man nie, nie eens ’n ouer weergawe van dieselfde man nie.

Dis nie net sy 82 jaar wat hom klein laat lyk nie. Hy wíl klein wees. Hy wíl homself kleiner, minder maak.

’n Hele klompie polisiemanne, soldate en ander agente het my die laaste 20 jaar of so genader om te vertel hoe hulle my destyds dopgehou en lastig geval het, skinderstories en waninformasie oor my en Vrye Weekblad versprei het, ons werk ondermyn en my selfs probeer vermoor het. Ek was byna meer in die hof as by die koerant, het verskeie kriminele oortredings op my rekord en ons kantoor is met ’n bom aan stukke geblaas.

Ek het maar na al dié ouens geluister en blad geskud of ’n bier saam met hulle gedrink. Ek het nie gedink hulle het juis berou nie. Met party van hulle het ek selfs gedink hulle spog so ’n bietjie. Ander wou my dalk gebruik om hulself te oortuig dat hulle nou regtig deel van die “nuwe Suid-Afrika” is en om hul gewetens effe te sus. Van hulle het selfies saam met my geneem. En dis maar orraait met my.

Adriaan Vlok is nie só nie.

Hy het my vooraf gebel en gevra of hy Kaapstad toe kon kom om “sake met jou reg te maak”. Ek kon kwalik weier, al maak sulke intieme interaksies met vreemdelinge my erg ongemaklik. Hy het boonop my nommer by my dominee-broer gekry, en sy broerskind is met my vrou se suster getroud (hy het dit nie geweet nie).

Eerw. Trevor Nthlola, Adriaan Vlok en Max du Preez.
Eerw. Trevor Nthlola, Adriaan Vlok en Max du Preez.
Image: ANGELA TUCK

Hy daag toe saam met ’n predikant op, eerw. Trevor Nthlola van Soweto. Nthlola en Vlok doen saam ’n landwye bediening, as dit die woord is, en Nthlola doen sy doktorale proefskrif oor sy interaksie met “Oom Vlok”. Nthlola is ’n vrolike, charismatiese pastoor wat eens onder my swaer, prof. Willem Saayman, teologie studeer het en, sê hy, al my boeke gelees het.

Nee, ek is net Adriaan, sê Oom Vlok vir my toe ek hom nog “Meneer”, en toe is ons sommer ou Max, Adriaan en Trevor. Ons gaan sit in die sitkamer en my vrou, Angela, bring piesangbrood en koffie. Adriaan drink sy koffie baie flou, so ek gaan haal eers nog kookwater om by te gooi.

En dan sit hy reg langs my, vat hy aan my arm, kyk my in die oë en sê hy wil my om vergiffenis vra vir al die onreg wat hy my aangedoen het. Dit is wat Christus hom gebied het om te doen.

Maar nou moet ons Engels praat, want Trevor verstaan nie Afrikaans nie. En Trevor neem net foto’s met sy selfoon. Nou praat Adriaan sommer met Trevor ook. Ek het die man se lewe probeer verwoes, sê hy vir Trevor. Ek het uit my pad gegaan om sy lewe hel te maak.

Diep in gesprek ...
Diep in gesprek ...
Image: ANGELA TUCK

Hy het die bloed van vele aan sy hande

Kan jy dit in jou hart vind om my te vergewe, ou Max? Dit sal ’n baie spesiale dag in my lewe wees as jy kan. Ek het verskriklike goed gedoen en ek moet dit nou regmaak. Ek lewe nou vir Christus en vir my medemens, nie vir myself nie.

Daar sit ek, half met ’n mond vol tande. Baie goed gaan deur my kop, en nie juis my eie swarigheid nie.

Dis die man wat ’n hele paar keer by Vlakplaas gaan besoek aflê het om Eugene de Kock en sy mede-wreedaards aan te moedig, wat medaljes aan moordenaars uitgereik en aan die bors gesteek het. Dit is die man onder wie se bevel tienduisende mense, onder hulle kinders, sonder verhoor aangehou is; wat toegesien het dat die polisie die Raad van Kerke en Cosatu se geboue opgeblaas het; wat sy naam onderaan dokumente geteken het wat vra dat aktiviste “geëlimineer” word; die man onder wie die stratcom-veldtog geloods is om vals inligting oor mense in die UDF en ANC te versprei; wat sluipmoorde en marteling help geheim gehou het. Hy het die bloed van die Pebco 3, die Mamelodi 10 en vele ander aan sy hande.

Maar dit is ook die man wat die voete van die weduwees en ma’s van die Mamelodi 10 gaan was het en hulle gesmeek het om hom te vergewe; wat vir Frank Chikane gaan sê het hy is jammer dat die polisie hom vergiftig het, en toe ook sy voete gewas het; wat sy hart aan Thabo Mbeki en sy familie gaan oopmaak het.

Ek het ook geweet, en Trevor het my verder daaroor ingelig, dat Adriaan deesdae al sy tyd, energie en bronne daaraan bestee om kinders in die plakkerskampe te voed, dat hy net in twee kamers van sy huis woon omdat die res ’n klomp behoeftige mense huisves.

Dankie vir die gebaar, sê ek

Adriaan kyk vir my en wag vir my antwoord. Nee, dis reg, Adriaan, as ek iets het om jou oor te vergewe dan vergewe ek jou, en dankie vir die gebaar, sê ek.

Met Trevor daar, en die aard van die gesprek, kom ek nie daarby uit om die vraag te vra nie: Nou wat is dit presies wat jy en jou manne aan my gedoen het, Adriaan? Wat is daar wat ek nie weet nie?

In ’n stadium moet ek hom uit sy stoel help, want sy knie het ingegee. Gaan vir ’n knievervanging, Adriaan, maak ek geselsies. Nee, sê Adriaan half driftig. Die dokters sê vir my as ek ’n knievervanging kry, sal ek vir maande nie kan bestuur nie. Dit kan nie gebeur nie, want ek moet elke dag die kinders gaan kos gee.

Trevor praat nou saam. Oom Vlok se optrede en getuienis maak ’n baie groot impak in die swart gemeenskappe wat hulle besoek. Sy eerlikheid en nederigheid tref die mense en laat hulle anders dink, sê hy. Mense is verstom dat ’n ou Afrikanerman en boonop nog ’n apartheidbaas so kon verander en so oortuigend met hulle kan kommunikeer. Hulle glo hom en hulle is lief vir hom, veral die arm en sukkelende gemeenskappe. Hy ráák aan mense se harte.

Ons drie praat oor die waansin van apartheid. Hy het waaragtig gegló apartheid is goed en reg, sê Adriaan, tot Christus die skille van sy oë laat afval het. Hy haal ’n klein Nuwe Testamentjie uit sy sak (hy is ook deel van die Gideons) en lees uit Handelinge 17:26: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon.”

Één bloed, sê Adriaan.

Dis geen toeval nie, sê Trevor, dis Jesus

En toe kom die oomblik wat die outistiese deel van my persoonlikheid gevrees het. Adriaan sak op sy slegte knieë voor my neer en vra: Sal jy my asseblief toelaat om jou voete te was? Dit sal vir my ontsettend baie beteken. Ek moet dit doen.

Ek mompel iets en trek maar my skoene uit. Hy vat ’n botteltjie water en smeer ’n bietjie water met ’n lappie aan albei my voete en droog dit dan af. Dis darem net simbolies, nie ’n hele gewassery in ’n skottel nie. En toe moet ek hom weer ophelp. Ek trek gou weer my sokkies en skoene aan.

Adriaan se hart is duidelik ligter. Hy gee my ’n druk en bedank my weer vir my groothartigheid, en sê weer dat my vergiffenis ’n baie spesiale dag in sy lewe is.

Ek sê: Weet julle dat dit juis vandag presies 30 jaar gelede is dat Vrye Weekblad die bestaan en aard van Vlakplaas onthul het? Adriaan en Trevor kyk verras na mekaar. Dis geen toeval nie, sê Trevor, dis Jesus. Geen twyfel nie, sê Adriaan. Dis Jesus se werk. Daar is nie iets soos toeval nie.

Ons stap uit voortuin toe, want die vliegtuig terug Johannesburg toe vertrek sommer netnou. Eers nog foto’s onder die boom. Nog drukke en bladskud. Adriaan blom; Trevor is in sy noppies.

Ek verstaan nie mooi wat dit alles beteken nie. Maar ek het geen twyfel nie dat Adriaan Vlok opreg en outentiek is. Wat hy doen en hoe hy nou lewe, is buitengewoon. Was daar maar meer Christene wat hul geloof met soveel oorgawe uitgelewe het.

Mooi loop, Adriaan.


When You Are Old

When you are old and grey and full of sleep,
And nodding by the fire, take down this book,
And slowly read, and dream of the soft look
Your eyes had once, and of their shadows deep;
How many loved your moments of glad grace,
And loved your beauty with love false or true,
But one man loved the pilgrim soul in you,
And loved the sorrows of your changing face;
And bending down beside the glowing bars,
Murmur, a little sadly, how Love fled
And paced upon the mountains overhead
And hid his face amid a crowd of stars.

– William Butler Yeats

(Uit: Collected Poems)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.