Kragkrisis: Vat kortpaaie en wees oop vir radikale nuwe idees

MAANDAG MET MAX

Kragkrisis: Vat kortpaaie en wees oop vir radikale nuwe idees

’n Kragnoodtoestand, ’n spitsberaad en gatskop nou nodig, sê MAX DU PREEZ. Hy skryf ook oor die teenvoeter vir rassisme en vrees. En daar is soos gewoonlik vyf dinge wat jy wil weet.

  • 16 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiedag!

1. Die Johannesburgse hooggeregshof lewer vanoggend uitspraak oor pres. Cyril Ramaphosa se aansoek om ’n interdik teen sy voorganger, Jacob Zuma, wat Ramaphosa privaat wil vervolg oor sy kwansuise versuim om teen die aanklaer Billy Downer op te tree toe dié na bewering privaat mediese inligting oor hom aan die media verskaf het.

2. Tembeka Ngcukaitobi, SC, berei ’n hofsaak oor die swak elektrisiteitsvoorsiening teen die regering, Eskom en die energiereguleerder Nersa voor. Die Build One SA-leier, Mmusi Maimane, die UDM-leier, Bantu Holomisa, en ’n aantal nieregeringsorganisasies het hulle reeds agter Ngcukaitobi se veldtog geskaar. Intussen beplan die DA ’n massa-optog na Luthulihuis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, op 25 Januarie uit protes teen die ineenstorting van Eskom.

3. Die Franse rugbyspan Racing 92 het R17 miljoen aan die Sharks betaal om Siya Kolisi se kontrak uit te koop en wil glo dieselfde met die Stormers se Manie Libbok doen.

4. Verdere geklassifiseerde dokumente is by pres. Joe Biden se privaat woning en kantoor gevind nadat verskeie sulke dokumente in November en Desember in dié plekke aan die owerhede oorhandig is. Dit is ’n groot verleentheid vir Biden en die Demokratiese Party wat verlede jaar Donald Trump se besit van sulke dokumente by sy huis ’n groot skandaal gemaak het.

5. Die Chinese regering sê bykans 60 000 burgers het weens Covid gesterf sedert die “zero-Covid”-regulasies ’n maand gelede opgehef is. Sowat 5 500 van dié sterftes was weens asemhalingsprobleme en die res was mense wat voor infeksie ander siektetoestande soos kanker en hartprobleme gehad het.


Vandag se weer

Waarskuwings vir swaar donderbuie en skadelike wind wat moontlik tot vloede kan lei word in die sentrale gebiede van die Oos-Kaap verwag, terwyl skadelike wind langs die kus vanaf Saldanhabaai tot by Kaap Agulhas verwag word. Daar word ook hoë brandgevaartoestande voorspel in dele van die Noord- en Wes-Kaap, Vrystaat en Noordwes.

Klik hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 31°C • Rustenburg 34°C • Mbombela 30°C • Kaapstad 29°C • Durban 33°C • Worcester 35°C • Bloemfontein 33°C • Polokwane 29°C • Upington 41°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 26°C.


Max du Preez | Elektrisiteitstekort is ’n megakrisis. Maak ’n plan. Nou!

Suid-Afrika se tekort aan elektrisiteit is nie ’n ongerieflikheid nie, dit is nou ’n megakrisis wat ons ekonomiese aktiwiteite ernstig kortwiek en dus onstabiliteit bevorder.

Wel, dit lyk nie juis of pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet dit in so ’n ernstige lig sien nie. Kommer word uitgespreek, gerusstellings word gemaak, vingers heen en weer gewys met so nou en dan ’n eufemistiese mea culpa, maar niks wat aandui dat dit as ’n eksistensiële krisis gesien word nie.

Hier is dalk ’n deel van die antwoord. Ek kuier gister saam met ’n ou vriend, ’n suksesvolle en welgestelde man. Wat kerm julle so oor beurtkrag, vra hy ons geselskap so half geïrriteerd. En toe kom ek agter hoekom hy kragonderbrekings nie juis as ’n krisis sien nie: Hy bly om die hoek van die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad, so sy huishouding word nie deur beurtkrag geraak nie. Hy lees maar net daarvan.

Cyril Ramaphosa, Gwede Mantashe, Pravin Gordhan en hulle kollegas in die kabinet het ook nog nooit beurtkrag aan eie bas gevoel nie, want die staat het vir al hulle huise en kantore kragopwekkers aangekoop.

Hulle weet niks van studente wat nie saans kan studeer nie, van klein haarsalonne wat bankrot speel nie, van eetplekke wat skielik verliese ly nie, van begrafnisse waar die lyke al ontbind is en deur brommers omring word nie. Of van besproeiingsboere wie se oeste op die land verdroog nie.

Suid-Afrika is nou in fase 6-beurtkrag, met fase 8 wat dreig. Ek moes self die laaste week tot agt uur per dag sonder krag klaarkom, en ek woon in Kaapstad, waar ons meestal een fase laer as die res van die land is.

Fases 2 tot 4 was nog draaglik, mits Eskom ’n mens betyds inlig en by die tye hou. Fase 6 is rampspoedig. Fase 8 gaan katastrofies wees.

Die nuwe kragtariewe, ’n styging van 18,6%, ontstel my soseer nie. Ek dink regtig dit is vir die meeste huishoudings en kleinsake moontlik om minder krag te gebruik. As ons nie meer vir krag gaan betaal nie, sal ons meer belasting moet betaal, want geld gaan nodig wees om die energieprobleem op te los.

Maar wat my ontstel, is dat die president nie lankal ’n kragnoodtoestand afgekondig het en alle Suid-Afrikaanse kundigheid, energie en hulpbronne na die vind van vinnige oplossings gekanaliseer het nie.

Ek sou dink die eerste stap is dat Ramaphosa ’n spitsberaad moet reël waar nyweraars, sakeleiers, landbouers, ingenieurs, energiekenners, georganiseerde arbeid en intelligensiespesialiste met die Eskom-bestuurders en die kabinet oor noodoplossings kan besin. Betrek kenners uit ander lande. En maak seker Solidariteit is ook daar.

Gooi alle burokratiese rompslomp en bemagtigingsregulasies dadelik by die venster uit. Vat kortpaaie en wees oop vir radikale nuwe idees. Gebruik belastingkortings en substansiële subsidies vir groenkragopwekking, klein en groot. Steek onbeholpenes, korruptes en empire-bouers summier in die pad.

Skop gat. Maak ’n plan. Nóú.

Ons wag op die kaptein.


Image: ANGELA TUCK

Gemeenskapsbetrokkenheid is die medisyne vir rassisme en vrees

Is Afrikaners maar eintlik steeds (of weer) meestal ’n spul rassiste?

As ’n mens sosiale media moet glo, beslis ja. En ongelukkig is openbare persepsie relevant.

Ongelukkig herinner rassiste soos die mans wat swart tieners in Desember by die openbare swembad in Maselspoort aangeval het, ons landgenote aan die dae van apartheid en Boerebrutaliteit van ouds.

As die Vryheidsfront Plus, AfriForum en die Solidariteit Beweging helder en duideliker dié voorval verdoem en die DA ’n bietjie luider beswaar gemaak het as om net ’n persverklaring uit te reik, sou die verskoning “ons is nie almal so nie” dalk meer geloofwaardigheid gehad het.

Dit is ’n verskynsel wat ek sukkel om te verduidelik: die instink van mense wat self nie rassisties optree nie, om te weier om voorvalle van rassisme te verdoem en om telkens tot die rassiste se verdediging te kom wanneer so ’n voorval plaasvind.

Dit is asof kritiek op wit rassisme ’n aanval op “ons” is, ons wittes, ons Afrikaners. Dan trek “ons” laer. En vra, tot vervelens toe: Wat van Julius Malema, wat van swart rassisme?

Swart en bruin Suid-Afrikaners merk dit op en ons moet hulle vergewe as hulle dink dié wat die voorvalle probeer wegverduidelik of anderpad kyk, is eintlik self rassiste.

Ek sien dit gister weer met die reaksie op die oud-akteur At Botha se plasing op Facebook van die ou apartheidsvlag wat hy op ’n vriend se muur geskilder het. Gaan kyk maar na die kommentare op Netwerk24 se verslag hieroor – 227 toe ek Sondagmiddag gekyk het, en omtrent almal ’n vergoeiliking van die vertoon van die ou vlag en ’n geskel op bruin (Afrikaanssprekende) akteurs wat Botha durf kritiseer het. 

Ek is nogal seker elkeen van dié mense sal, as ’n mens privaat met hulle praat, erken dat die Oranje Blanje Blou aanstootlik vir verreweg die meeste swart en bruin landgenote is. Selfs AfriForum het sy lede om dié rede al ontmoedig om die vlag in die openbaar te gebruik.

Ons demokrasie is nou 29 jaar oud, so die laaste mense wat aan die Nasionale Party en die Afrikaanse kerke se siek propaganda oor “afsonderlike ontwikkeling” en die “swart gevaar” onderworpe was, is nou in hulle 40’s of 50’s, of ouer.

Dit laat ’n mens wonder of die rassisme van vandag deur ouers aan hulle kinders oorgedra is en of dit ’n nuwe soort rassisme is.

Ek het al male sonder tal gelees en gehoor dat mense sê die mislukkings van die ANC en die vrotsige regering is wat die rassisme in hulle wakker maak.

Ek kan insien dat die frustrasies van die chaotiese staat mense se vlakke van verdraagsaamheid kan verlaag, dat die trauma en vrees vir die toekoms mense na sondebokke laat soek.

Maar dit is mos regtig nie ’n intelligente, rasionele reaksie om te sê die ANC is vrotsig omdat hulle swart is nie? Dit is mos nie te moeilik nie om te verstaan dat dit ’n vrotsige party is weens hulle politieke kultuur en geskiedenis en swak leierskap.

As swart aan onbekwaam en korrup gelykgestaan het, hoe verklaar ’n mens dan figure soos Nelson Mandela, Desmond Tutu, Mmusi Maimane, Thabo Makgoba, Songezo Zibi, Bongani Baloyi, Herman Mashaba en van die DA se oorblywende knap swart leiers? Lees of hoor dié mense nooit wat swart intellektuele en gemeenskapsleiers oor die verval in die land sê nie?

Ek kom toevallig die ander dag af op ’n rubriek wat ek op 13 Januarie 1994 in die oorspronklike Vrye Weekblad geskryf het. Ek vertel daar dat ek in 1993 met ’n inbelprogram op Afrikaans Stereo (soos RSG toe genoem is) begin het met die naam Klip in die Bos – die eerste regtige geselsradio in Afrikaans.

Ek skryf daar dat daar ’n ontstellende aantal inbellers was wat gesê het swart mense is slegter, dommer en luier as wittes en moenie in die regering toegelaat word nie – en die meeste van dié mense het graag uit die Bybel aangehaal.

Vir ander was die kommunisme die Antjie Somers, skryf ek, maar vir baie was dit maar ’n verskoning vir hulle rassisme – “kom ons maak alle swart mense kommuniste en skel hulle dán uit”.

Maar my radiogespreksgenote was darem nie almal so nie. “Die ander helfte wat inbel, is goeie, rustige mense wat sê hulle aanvaar die Nuwe Suid-Afrika was onvermydelik, en Afrikaners moet nou die beste van ’n slegte saak maak. Daar is selfs so nou en dan mense – en vreemd genoeg, meestal ouer vroue – wat met groot geesdrif praat oor die nuwe bedeling en die uitdagings en heerlikhede wat dit bied,” het ek geskryf.

Daar is natuurlik vandag baie Afrikaners, progressiewes én konserwatiewes, wat nie rassiste is nie en ons nuwe nasie omhels (net nie die regering nie). Die oorweldigende meerderheid Vrye Weekblad-lesers tel onder diegene, as die kommentare onderaan ons artikels ’n aanduiding is.

Daar is inderdaad ook vele Afrikaners wat ’n aktiewe rol speel om die nuwe samelewing beter te laat werk.

Ek dink maar aan my eie vriendekring, soos die dierbare, energieke Theo Krynauw wat wondere in Hermanus verrig en oor wie kollega Anneliese Burgess in ons jongste uitgawe geskryf het. 

Soos Chris Otto, medestigter van PSG en Capitec Bank en direksielid van die oorspronklike Vrye Weekblad, met sy Otto Stigting wat wonderlike werk in swart onderwys doen. 

Soos Hannes van Zyl, oudjoernalis en gewese hoofbestuurder van NB Uitgewers, met sy innoverende inisiatiewe in Kayamandi in Stellenbosch.

My ervaring is dat mense baie gou by kleur en vooroordele en vrese verby begin kyk as hulle by gemeenskappe betrokke raak, met ménse begin werk.

En wat mense soos Theo, Chris en Hannes, en vele ander in die landbou, die sakewêreld en die kerke, doen, is nie net goed vir ons land nie, dit is goed vir wit mense en Afrikaners se beeld onder ons landgenote.

Ek hoop dit gaan ook vir AfriForum geld soos hulle by al hoe meer swart gemeenskapsprojekte betrokke raak. Kallie Kriel het onlangs twee stukke nuus hieroor (lees hier en sien die YouTube-video hier onder) met my gedeel – uitstekende werk. 

Groetnis

Max


Anglers' Arms

Hierheen kom hulle wat binnelands
gereis het, 'n rukkie rus
agter wenteltrap
van 'n skulp, na apokriewe kamers
wat die drang na die vorige arms
vervang in die nuwe blydskap
van 'n ander kul en krul
waar die ali-kruik (oop)sluit
met 'n oulap.

– D.J. Opperman
(Uit: Komas uit 'n bamboesstok)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.