Kom hou saam boekefees op Stilbaai!

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Kom hou saam boekefees op Stilbaai!

ANNELIESE BURGESS deel die program vir ons boekefees wat einde Februarie in Stilbaai gehou word, asook 'n gunsteling-gedig en haar gebruiklike aanbevelings van dinge wat die afgelope week haar oog getref het.

  • 22 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre, liewe vriende

Ons hou vanjaar weer die laaste naweek van Februarie boekefees in Stilbaai! Ons feesdirekteur (en Vrye Tydskrif-redaksielid), Elna van der Merwe, het al haar knope deurgehak en uiteindelik kan ons die program bekendstel waaroor so baie van julle al navraag gedoen het. Kaartjies en die volledige program is nou beskikbaar by Quicket.co.za

Image: ANGELA TUCK

Vrydagoggend 24 Februarie begin ons met ’n Italiaanse kosdemonstrasie deur die Afrikaanse Italianer en oud-Stilbaaier Reinette Anastagi, bygestaan deur Wicus Pretorius, redakteur van Tuis. Die kaartjies hiervoor is beperk. Bespreek so gou as moontlik.

Die aand spring ons amptelik om 17:30 weg met Niel Rademan wat agter die klavier inskuif. Ons redakteursgesprek begin om 18:00. Ek, Max du Preez en ons twee bydraende redakteurs, Anastasia de Vries en Piet Croucamp (en julle!), gaan gesels oor die stand van die land. Die onderwerp is: “Hoe oorleef ons Suid-Afrika se donker uur?”

Daarna gaan ons om ’n spitbraai kuier (en Niel gaan weer optree). Uit Vrye Weekblad se geledere sal julle onder andere vir Willem Kempen, Pieter van der Merwe, Laureen Rossouw, Kerneels Breytenbach, Deborah Steinmair, Ali van Wyk en Elmari Potgieter kan ontmoet. Die kaartjies is beperk omdat die rolbalklubhuis (wat ’n kontantkroeg het) nie plek vir ’n hele skare het nie. Bespreek so gou as moontlik.

Op Saterdag 25 Februarie kom ons weer by die lieflike Baptistekerk-op-die-heuwel bymekaar. Elna het vanjaar die program ’n bietjie aangepas sodat daar tussendeur meer tyd is vir koffie drink en pannekoek eet en boeke koop.

07:30 – Ontbyt beskikbaar in die markiestent.

08:30 – Frederik de Jager (Ver in die wêreld) en Chanette Paul (Die vywervrou-trilogie) gesels oor die plek van “plek” in skryfwerk. Gespreksleier: Daniel Hugo

09:30 – Die aktrise Lindie Stander (Agter my glimlag) en die pastoor Ivor Swartz (Kies die lewe) het albei hard geval en weer opgestaan. Albei ken ook depressie. Gespreksleier: Deborah Steinmair

11:00 – Ingrid Jones (Beyond the blue: Women of the sea), tannie Betsie en Thérèse Hulme (Práát jy!) voer ’n gesprek oor vissersvroue wat ’n bestaan maak in kusdorpies en agtergeblewe kinders wat geleer word om te dig. Gespreksleier: Elna van der Merwe

12:00 – Irma Venter (Die verkeerde vrou) en Cas Wepener (Roman) skryf verskillend oor spanning, maar albei sleur jou tot die einde bladsy vir bladsy mee. Gespreksleier: Anastasia de Vries

12:45 – Middagete beskikbaar in die markiestent. Al die koeke (vet-, panne-, rooster-), toebroodjies, vars koffie, koeldrank, ensovoorts.

14:30 – Gerda Taljaard (Vier susters) en Kirby van der Merwe (Eugene) is twee meesterstoriespinners wat net so onderhoudend gesels as wat hulle skryf. Gespreksleier: Wicus Pretorius

15:30 – Pieter du Toit (The ANC Billionaires) en Jacques Pauw (Our Poisoned Land) skryf oor dinge wat jy wil weet en moet weet. Kry ’n wyer blik op ons wêreld. Gespreksleier: Max du Preez

Ons kan nie wag om julle op Stilbaai te verwelkom nie!

Bespreek jou kaartjies nou by Quicket. Die kosdemonstrasie kos R150, die redakteursgesprek R90 en die spitbraai R250. Die kaartjies vir Saterdag se individuele gesprekke is R90 elk, maar as jy ’n pakket vir die hele dag koop, werk dit uit op R70 per gesprek.

Daarmee groet ek! Salige Sondag.

Anneliese Burgess
annelieseburgess@vryeweekblad.com


Hoe om VWB 3.0 heeltemal gratis te lees! 

Vrye Weekblad is voorlopig nog gratis. Al wat jy hoef te doen om dit te kan lees, is om 'n lesersprofiel met jou e-pos te skep. Gaan na vryeweekblad.com. As jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n boodskap by hulp@vryeweekblad.com en ek help graag.


Gedig

Spel

Bedags vermy jou oë my, my
oë jou
maar skemer word die hele
mens vervang

en elkeen wonder snags in sy
nou
kamer of die ander met
dieselfde pyn verlang!

– Adam Small

(Uit: Mixtape van die liefde, saamgestel deur Antjie Krog)


Lees

  • 36 lesse van ’n Boeddhistiese monnik. Cory Muscara het ses maande lank, 15 uur per dag gemediteer en ’n lys op Twitter gemaak oor die 36 dinge wat hy daaruit geleer het.
  • Tegnologie het ons lewe verander en sal aanhou om dit te doen. Hierdie artikel in die MIT Technology Review kyk na die 10 grootste tegnologiedeurbrake in 2023.  

Kyk

Ek, die super-vroeg-gaan-slaper, het Donderdag begin om die tweede reeks van White Lotus op Showmax te kyk. Ek moes myself Vrydagoggend tweeuur dwing om op te hou, want ek moes vroeg uit die vere om my dogter by die skool te kry. Anders het ek aangehou tot die son opgekom het.

Kook

Jy kry inspirasie om iets te bak. Die botter moet kamertemperatuur wees, maar al wat jy het, is kliphard gevries. Bon Appétit het nuttige wenke om botter vinnig sag te kry.

Lystikel

Een van my gunstelingnuusbriewe is Cultural Reads (boeke, musiek, flieks). Hier is nege boeke wat Thomas Plaatsman in 2022 gelees het en wat ’n blywende indruk op hom gelaat het. ’n Lekker lys! Insluitende die wonderlike Ryszard Kapuscinski se The Shadow of the Sun.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.