Ras is (nog) nie irrelevant nie

MAANDAG MET MAX

Ras is (nog) nie irrelevant nie

MAX DU PREEZ skryf oor Siya Kolisi – ’n voorbeeld van hoe swart jeugdiges uit townships kan presteer en goeie leiers kan word as hulle die regte kanse gegee word. En oor hoe die DA hulleself nie as ’n aanvaarbare koalisievennoot vir die ANC gaan posisioneer in die 2024-verkiesing met ’n leliewit leierskap nie. Hy spreek ook sy misnoeë uit oor die gesamentlike militêre oefeninge van die SA en Russiese vloot in Februarie.

  • 23 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiedag!

1. Cyril Ramaphosa se “dringende samesprekings” om oplossings vir die elektrisiteitskrisis te vind, beteken toe hy het met onder andere tradisionele en kerkleiers en burgemeesters beraadslaag. Daar is geen noodplan om beurtkrag te beëindig of te verlig nie.

2. Die minister van energie, Gwede Mantashe, het dit intussen baie duidelik gemaak dat hy sy pos ná ’n kabinetskommeling wil behou met Eskom as deel van sy departement. “Meneer Steenkool” se reaksie op die teenstand wat hy uit sy eie party, van die media en van energiespesialiste kry, beteken Ramaphosa “sal nou tussen liberales en ANC-afgevaardigdes moet kies”, sê hy. Ramaphosa gaan waarskynlik sy nuwe kabinet in die volgende twee weke bekend maak.

3. Die binnegevegte in die presidensiële beskermingsdiens het nou die vlak bereik waar ’n senior offisier, kol. Chantal Sias, ’n strafregtelike aanklag van intimidasie teen ’n kollega, brig. Mbulelo Mbiko, by die polisie aanhangig gemaak het. Daar word nou gevrees dat die binnegevegte die president se veiligheid in gevaar stel.

4. Die DA se hofsaak om die ANC se beleid van kaderontplooiing uit te daag begin vandag. Die DA sê in hulle voorlegging: “Die gevolg van die beleid is dat die ANC, eerder as die staat, beheer het oor die funksionering van kritieke instellings van die regering.” Die ANC staan die saak teë.

5. Altesame 10 mense is dood en nog 10 gewond toe ’n man met ’n masjiengeweer in ’n dansateljee in Monterey Park in Kalifornië losgebrand het. Al of die meeste slagoffers was Asiatiese Amerikaners wat die Chinese Nuwejaar gevier het.


Vandag se weer

Mooi weer tot bewolk oor die grootste deel van die land, maar enkele buie en donderbuie in die sentrale gebiede. Daar is waarskuwings van hoë brandgevaartoestande in die noorde van die Noord-Kaap en Noordwes, terwyl ’n hittegolf oor Gauteng en KwaZulu-Natal verwag word.

Klik hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 35°C • Johannesburg 33°C • Rustenburg 33°C • Mbombela 29°C • Kaapstad 26°C • Durban 35°C • Worcester 34°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 27°C • Upington 39°C • Gqeberha 28°C • Oos-Londen 29°C.


Max du Preez | Rusland: Nie in my naam nie

Op 24 Februarie, vier weke van nou af, sal dit ’n jaar wees sedert Rusland sy buurland Oekraïne binnegeval het.

Daar is ’n groot waarskynlikheid dat Rusland dié verjaardag gaan gebruik om sy militêre slaankrag dramaties te demonstreer, meestal met aanvalle op burgerlikes en burgerlike infrastruktuur.

En terwyl die missiele ontplof en die groot kanonne in Oekraïne op dié dag bulder, gaan die Suid-Afrikaanse vloot en die Russiese vloot langs die kus van KwaZulu-Natal aan gesamentlike militêre oefeninge deelneem. Dit duur van 17 tot 27 Februarie.

Dit is obseen.

Boonop kom die Russiese minister van buitelandse sake, Sergey Lavrov, vandag in Suid-Afrika aan vir samesprekings met die regering.

Oekraïne is ’n demokrasie, ’n soewereine lidland van die Verenigde Nasies en het geen militêre bedreiging vir Rusland ingehou nie.

Rusland is ’n outoritêre staat wat alle onafhanklike media gesluit het, kritici van die oorlog by hulle duisende in die tronk stop en opposisiepolitici vermoor.

Daar is oorweldigende getuienis dat die Russiese magte en die huursoldate van die Wagner-groep hulle aan oorlogsmisdade skuldig gemaak het. Meer as 1 000 lyke van burgerlikes is in massagrafte net in Bucha en Kharkiv opgegrawe. Rusland het by verskeie geleenthede skole, hospitale en skuilplekke vir bejaardes en kinders gebombardeer.

Volgens die VN se kommissaris van menseregte is meer as 7 000 Oekraïniese burgerlikes tot dusver dood en meer as 11 000 gewond.

Pres. Vladimir Putin se aanvanklike verduideliking van sy magte se aggressie was dat Oekraïne ’n Nazi-beheerde staat is met geen eie bestaansreg nie en dat Amerika en Navo eintlik die oorlog genoodsaak het. Dit is deur die gebeure sedert 24 Februarie as geheel en al vals bewys.

Die ANC-regering weier om Rusland se imperialisme te kritiseer en het herhaaldelik by die VN geweier om saam met die meeste ander lidlande te eis dat Rusland hulle magte onttrek. Regeringsleiers soos die minister van verdediging, Thandi Modise, het boonop die afgelope jaar verskeie kere vriendskaplike vergaderings met Putin se binnekring bygewoon en pro-Moskou-sentimente uitgespreek.

Met sy klakkelose steun vir Rusland het die regering Suid-Afrika nou in die klas van diktature soos Noord-Korea geplaas.

China, ook ’n diktatuur, gaan ook aan die komende vlootoefeninge deelneem. Ten minste is China nie in ’n oorlog betrokke nie, al het dit pas alle demokrasie en persoonlike vryhede in Hongkong uitgewis.

Suid-Afrika se handelsbande met Rusland is minuskuul vergeleke met dié met Amerika, Brittanje, lidlande van die Europese Unie, Suid-Korea en Japan, almal lande wat Rusland se militêre aggressie sterk teenstaan.

My kritiek is nie soseer op die besoek van Lavrov nie, want Rusland is deel van Brics en ons kon kwalik vir hom sê hy is nie welkom nie. Die regering moet hulle net daarvan weerhou om tydens en ná Lavrov se besoek weer die lof van die Kremlin te besing.

Maar alle vredeliewende demokrate in Suid-Afrika moet oor die komende vlootoefeninge helder en duidelik sê: nie in my naam nie.


Image: ANGELA TUCK

Maak soos Siya Kolisi

Siya Kolisi verteenwoordig die beste van ons land se mense; die gees en benadering wat ons ten spyte van al die teëspoed en rampe in een stuk gehou het.

Daar is groot opgewondenheid in Franse sportkringe oor die Springbokkaptein se besluit om ná die einde van die Wêreldbeker in Oktober vir die Franse klub Racing 92 te gaan speel, en nie net omdat hy ’n briljante rugbyspeler is nie, maar ook ’n charismatiese en inspirerende simbool van verdraagsaamheid, versoening en hoop en ’n trotse Afrikaan.

Kolisi is nie vir ons verlore nie. Hy gaan selfs meer van ’n internasionale heldefiguur van sport word, ’n uitstekende ambassadeur vir sy geboorteland wees en ons sal deurentyd van hom bewus wees. En hy kom terug, verseker hy ons.

Sy storie, die tema van ’n dokumentêre film wat oor ’n paar weke vertoon gaan word – Rise: The Siya Kolisi Story – vertel ook die verhaal van ons land, die probleme, maar ook die hoop.

Kolisi is in 1991 in die Gqeberha-township Zwide gebore, die seun van tienderjarige ouers wat nog op skool was. Sy ma is dood toe hy 15 was en sy ouma het hom grootgemaak.

Hy was maar 12 toe rugbyafrigters die eerste keer sy talent raakgesien het. Dit het tot ’n beurs by die Hoërskool Grey gelei en gou daarna was hy ’n Cravenweek-ster. Hy het in 2013 sy eerste toets as Springbok gespeel.

In 2019, ’n donker tyd vir Suid-Afrika aan die einde van die rampspoedige Zuma-era, het kaptein Kolisi en sy span nuwe hoop gebring toe hulle die rugby-wêreldbeker gewen het.

As ’n skoolafrigter hom nie 19 jaar gelede op ’n stowwerige Oos-Kaapse rugbyveld raakgesien het nie, as niemand hom gehelp het om na ’n goeie rugbyskool toe te gaan nie, is die kans groot dat Suid-Afrika vandag heeltemal onbewus van sy bestaan sou gewees het.

Kolisi se benadering is so inklusief en nierassig as wat jy kan kry, maar dit is nie weg te redeneer nie dat dit relevant is dat hy swart is. Spelers soos John Smit en Jean de Villiers was ook goeie Springbokkapteins, maar Kolisi het ’n X-faktor, en baie het daarmee te doen dat hy swart is en uit die omstandighede kom waarmee hy grootgeword het.

Siya Kolisi is meer as net die kaptein van die nasionale rugbyspan.

Dit klink natuurlik vanselfsprekend, maar dit is goed dat almal daaraan herinner word dat swart jeugdiges uit die townships uitstekend kan presteer en goeie leiers kan word as hulle net die regte kanse gegee word.

Songezo Zibi, byvoorbeeld, is in Zwelitsha buite Oos-Londen gebore en is deur sy ouma en oupa, bestaansboere, grootgemaak. Hy was self ’n veewagter en plaaswerker, maar later die redakteur van Business Day en vandag een van die mees belowende politieke leiers en stigter van die Rise Mzansi-beweging.

As ek vandag rondkyk op soek na ander jong leiers wat Suid-Afrika uit sy huidige verval en skaakmat kan help lei, dan dink ek aan mense soos Lindiwe Mazibuko, Mmusi Maimane en Bongani Baloyi.

Die ironie is dat al drie dié mense hulle politieke ervaring in die DA opgedoen het, maar toe uit protes uit die party gestap het.

Die DA se credo is deesdae dat ras irrelevant is en dat etnisiteit nie saak maak nie, net meriete.

As Siya Kolisi ’n wit ou was, sou hy waarskynlik net nog ’n John Smit pleks van ’n nasionale simbool van hoop en eenheid gewees het.

Ons moenie dat ras ons politiek oorheers nie en ons moet aandring op meriete-aanstellings, ja.

Maar ras is nie irrelevant nie, ongelukkig nog nie.

Die aanduidinge is dat die DA in April vir John Steenhuisen as leier en Helen Zille as federale voorsitter gaan herkies. Die party se topstruktuur gaan waarskynlik hoofsaaklik bleekvellig bly.

Dié twee leiers en hulle kollegas verdien heelwat lof daarvoor dat hulle die DA as ’n goed-funksionerende en hopelik groeiende party bestuur wat uitstekend in Kaapstad en die Wes-Kaap regeer.

Maar Suid-Afrika se D-dag is oor 18 maande, wanneer ons as kiesers hopelik gaan sorg dat die ANC minder as 50% steun gaan kry en dus in koalisie met ander sal moet regeer.

As kieser stel ek baie minder daarin belang presies hoe goed die DA in 2024 gaan vaar as in of hulle die party as ’n aanvaarbare koalisievennoot vir die ANC gaan posisioneer.

’n DA met ’n leliewit leierskap gaan nie die paal haal nie. Al is Steenhuisen en Zille die verkose leiers, sal die DA in die komende 18 maande uit hulle pad moet gaan om aan Suid-Afrikaners te demonstreer dat dit nie primêr ’n party vir wit mense is nie.

As die DA gaan aangaan om ander opposisiepartye die harnas in te jaag met hulle sin vir meerderwaardigheid en hulleself as die redder op die wit perd van klassieke liberalisme gaan voordoen, behoort hulle eie ondersteuners hulle te straf.

As die ANC in 2024 besluit om eerder met die EFF in koalisie te gaan, moet Zille en Steenhuisen nou al weet die geskiedenis gaan hulle baie sleg behandel.

Groetnis

Max


Rysmiere

Die reën het ons die dag verras;
en toe, meteens teen sononder
borrel rysmiere uit die gras
o, wonder

Lank sal dit ons gedagtes hinder:
die fladdering van vlerke, sagte,
ontliggaamde wit hande
wat vlug uit die graftes van die nag.

– Barend Toerien

(Uit: Om te onthou)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.