Met panic buttons op die rommelhoop

DONDERDAG MET DEBORAH

Met panic buttons op die rommelhoop

Sy is beswaard maar bewaar en uitgespaar, skryf DEBORAH STEINMAIR. Die ANC en die EFF huiwer nie om mekaar se magies te krap as daar iets in die pot vir albei is nie, sê WILLEM KEMPEN. En soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 02 Maart 2023
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Konstitusionele Hof het pres. Cyril Ramaphosa se aansoek om die parlement se Phala Phala-verslag te betwis van die hand gewys.

2. David Mabuza het as parlementslid bedank en so ook as Suid-Afrika se adjunkpresident. Tog is daar steeds geen nuus van ’n kabinetskommeling nie.

3. Tshwane het ’n nuwe burgemeester: Cope se Murunwa Makwarela. Nou probeer die veelparty-koalisie glo vasstel wie vir ’n amptenaar van ’n party gestem het wat minder as 1% steun in die plaaslike verkiesing gekry het, teenoor die DA se Cilliers Brink.

4. Altesame 36 mense is in Griekeland dood ná ’n trompop botsing tussen ’n passasierstrein en ’n vragtrein, berig Reuters. Talle is ook beseer en owerhede verwag dat die dodetal verder gaan styg.

5. Twitter was gisteroggend vir amper ’n uur onbeskikbaar vir verbruikers, berig The Guardian. Dis glo net nóg een van ’n reeks tegniese probleme by die sosialemedianetwerk sedert Elon Musk oorgeneem het.


Weersake

Daar is ’n waarskuwing vir swaar donderbuie, moontlik gepaard met hael, wat tot oorstromings kan lei in dele van Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap. Toestande wat ’n hoë brandgevaar inhou kan steeds oor dele van die Noord- en Wes-Kaap verwag word. Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal kan enkele buie en donderbuie verwag.

Kliek hier vir meer.

Die maksimum temperature vir vandag: Pretoria 28°C • Johannesburg 25°C • Rustenburg 30°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 32°C • Durban 27°C • Howick 25°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 29°C • Upington 38°C • Gqeberha 27°C • Oos-Londen 26°C.


Willem Kempen | Wanneer kry ons die panic buttons, meneer Lesufi?

Gister was nog ’n teleurstellende dag vir Suid-Afrikaners wat gehoop het koalisiepartye kan saamstaan om plaaslike regering in die meeste van Suid-Afrika se grootste metro’s van ondergang te red.

Die meeste inwoners van Tshwane gee waarskynlik nie meer veel om wie van die ANC of ’n DA-geleide koalisie die stad beheer nie. Dis tog net ander gesigte en ander name wat nogmaals beloftes gaan maak wat niemand regtig dink hulle gestand kan doen nie.

As die nuwe burgemeester dan boonop kom uit die geledere van die laaste oorblyfsels van ’n party soos Cope, dan gaan nóg meer mense opgee op die politieke proses. Wat maak dit saak wie die meeste stemme kry as die wenners in elk geval maar net soos al die ander gaan swig voor die versoekings wat die groter partye voor hulle neuse gaan hou?

Nege partye het meer stemme as Cope in Tshwane gekry. Nege. Tog is die party se Murunwa Makwarela nou die burgemeester. Hoe het dit gebeur? Maak dit regtig saak?

Wat ons klaar geweet het, is dat die ANC en die EFF nie huiwer om mekaar se magies te krap as daar iets in die pot vir albei is nie. Wat ons ná gister ook weet, is dat daar in die geledere van die DA, ActionSA, die ACDP, die VF Plus en die IVP net genoeg raadslede was wat ’n geheime stemming misbruik het om stilweg gat om te swaai sodat die koalisie nogmaals in die hek geduik het. Wat hulle motiewe was, sal net hulle weet. Dis veilig om te sê dat grondwetlike of demokratiese beginsels nie juis ’n rol gespeel het nie.

ANC- en EFF-raadslede het ter viering van Makwarela se verkiesing saam liedjies gesing terwyl hulle honend na DA-lede gewys het. En Panyaza Lesufi, die Gautengse premier wat die provinsie se misdaadprobleem wil oplos deur vir inwoners panic buttons uit te deel, het gesê: “We are grateful to those DA members who remain firm and believe that if you do not do your work, you are voted out.”

As dit maar so was, meneer Lesufi, as dit maar so was.


Image: ANGELA TUCK

Laat ons feesvier op die rommelhoop

Ek is gewoond aan isolasie en was lanklaas deel van ’n skare. Ek sit maar voor ’n skerm en praat met my vingers. En hoop daar is lesers aan die ander kant van die spieël.

Ek was by die Stilbaai-boekefees en ek het julle gesien: ’n Skare leesgierige, leergierige mense wat vir hulleself dink. En saam praat: Met vraesessies het hande opgeskiet soos pampoenranke. Elk het nie net ’n vraag nie, maar ook ’n eier of vyf om te lê. Dis immer interessant om agter te kom wat en waaraan mense dink.

'n Skraapsel hoop.
'n Skraapsel hoop.

Vrydagaand se sessie was deprimerend en tog het ’n mens daar weggestap met ’n skraapsel hoop. Die deelnemers (Max du Preez, Piet Croucamp, Anneliese Burgess en Anastasia de Vries) was dit eens dat ons geen hulp van die regering kan verwag nie; dat die ANC nie ’n politieke party is nie, maar eerder ’n misdaadkonsortium. En tog is ons, soos Max gesê het, woedend, veerkragtig en vol ondernemingsgees. Gewone mense, die privaat sektor, ons, sal die wa deur die drif moet trek. Ons wag nie meer op die kaptein nie.

Ons wag nie meer op die kaptein nie.
Ons wag nie meer op die kaptein nie.

Daarna was daar ’n skaapspitbraai by die rolbalklub. Dis enige nie-vleiseter se nagmerrie – die soet, gekruide reuk van geskroeide skaap op die aandlug. Daar was darem ’n kroeg. Beurtverkragting het ingeskop. Maar om skrywers en lesers te ontmoet is enige ongerief werd.

Saterdag was propvol. Daniel Hugo het met Chanette Paul, daardie wonder van produktiwiteit, kwaliteit en manuskripleiding, en die besadigde Frederik de Jager gesels oor die rol van plek in boeke.

Ek het met die aktrise Lindie Stander en pastoor Ivor Swartz gepraat. Hulle het hulle harte oopgemaak. Albei ly aan ’n mikstuur van problematiese DNS en kindertydtrauma wat oorgesit het in woede en soos Ivor dit stel, die wilde blou van depressie. Hulle kies om te lewe. Ek moes swaar sluk aan knoppe in die keel.

Elna van der Merwe het met tannie Betsie Lawrence en Ingrid Jones gesels oor vissersvroue wat ’n bestaan maak in kusdorpies, en met Thérèse Hulme oor kinders wat geleer word om te dig. Weer was daar nie ’n droë oog in die saal nie.

Die grasieuse Anastasia de Vries, sy met die kleurvolle rompe, het met Irma Venter en Cas Wepener gepraat oor spanningsromans. Hierdie twee skrywers het elk ’n voorkeur vir swart kleredrag en praat sinvol en pittig.

Die TV-persoonlikheid en redakteur van Tuis, Wicus Pretorius, het met Gerda Taljaard en Kirby van der Merwe gesels oor hulle boeke. Die program het nie gelieg nie: Hulle is meesterstoriespinners wat net so onderhoudend gesels as wat hulle skryf.

Die saal was stampvol vir die laaste gesprek van die dag: Max du Preez gesels met Jacques Pauw en Pieter du Toit. Hierdie here is een en almal begeesterde sprekers, soos hulle skrywers is. Die nuus was allesbehalwe opbeurend. Eskom was weer hoog op die agenda. Nou wag ons vir De Ruyter se boek.

Dit was ’n fees uit die boonste rak. Volgende vier ons fees in Cullinan: Hou die naweek van 14, 15 en 16 April oop. Die program word eersdaags aangekondig.

Dink vir jouself en maak planne om te oorleef in hierdie rioolvullisrepubliek, op hierdie grys muishond van ’n (in)kontinent.

Beswaard maar bewaar en uitgespaar
Deborah


ons drink daagliks
die helder bronwater van
myne
verffabrieke
staalgieterye
kernreaktors
met die heerlike smaak van
koper
chloor
en ammoniak

en hengel in ons wildste drome
na dooie visse

– Eddy van Vliet

(Uit: Na die wette van Afskeid & Herfs)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.