In ’n diep, donker bos steel iemand ’n liegmasjien

WOENSDAG MET WILLEM

In ’n diep, donker bos steel iemand ’n liegmasjien

DEBORAH STEINMAIR onthou die geliefde kinderboekskrywer Martie Preller, en WILLEM KEMPEN vind iets waarvoor kletsbotte nog nie opgewasse is nie.

  • 08 Maart 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre


1. Die Suid-Afrikaanse ekonomie het in die laaste kwartaal van verlede jaar met 1,3% kleiner geword en sodoende selfs swakker gevaar as wat die konsensus vooraf onder ekonome was. Dinge soos volgehoue beurtkrag en duurder brandstof het gelei tot die swakste tydperk sedert die derde kwartaal van 2021, die tyd toe die plundery in Gauteng en KZN die ekonomie disnis geslaan het.

2. Die burg is nogmaals meesterloos: Tshwane se metroraad is weer sonder ’n leier nadat Murunwa Makwarela van Cope nie kon bewys dat hy nie insolvent is nie. Makwarela is ’n week gelede met die steun van die ANC en die EFF as burgemeester verkies toe agt raadslede uit koalisiegeledere vir hom en nie vir Cilliers Brink van die DA gestem het nie. Die Grondwet sowel as die Wet op Munisipale Strukture vereis dat ’n uitvoerende burgemeester bewys van solvensie moet kan lewer, wat Makwarela nie kon doen nie, het News24 berig. En omdat Makwarela Cope se enigste raadslid is, kan die party ook nie iemand anders in sy plek aanwys nie.

3. Die Inkomstediens het bevestig dat pres. Cyril Ramaphosa sowel as sy plase Ntaba Nyoni Estate en Ntaba Nyoni en hulle werknemers aan belastingwetgewing voldoen. Die Inkomstediens het die betrokkenes se toestemming verkry om dié normaalweg vertroulike inligting openbaar te maak nadat daar groot belangstelling daaroor by die publiek was.

4. NSFAS, die staat se finansiële hulpskema vir studente, werk glo volstoom om appèlle te hanteer van studente wie se beursaansoeke afgekeur is, berig eNCA. Vroeër is berig dat daar groot ontevredenheid onder studente is oor die menigte aansoeke wat nie goedgekeur is nie.

5. Die speelgoedvervaardiger Mattel gaan die Britse astronoom en TV-aanbieder dr. Maggie Aderin-Pocock vereer met ’n Barbie-pop wat soos sy lyk. Aderin-Pocock is onder meer die aanbieder van The Sky at Night op BBC One en CBeebies Stargazing. Sy is ook vroeër vandeesmaand aangewys as die nuwe kanselier van die Leicester-universiteit. Aderin-Pocock, wat swart is, het in reaksie gesê: “When I was little, Barbie didn’t look like me, so to have one created in my likeness is mind-boggling.”


Kyk weer ...

Die Noord-Kaap kan steeds toestande verwag wat die moontlikheid van brande bevorder. In dele van die Wes- en Oos-Kaap word swaar donderbuie verwag wat moontlik tot oorstromings kan lei. Enkele buie en donderbuie kan oor die grootste deel van die land verwag word.

Kliek hier vir meer.

Hier is die verwagte maksimum temperature vir vandag: Pretoria 30°C • Johannesburg 29°C • Polokwane 24°C • Mbombela 26°C • Upington 31°C • Bloemfontein 28°C • Kaapstad 22°C • George 24°C • Worcester 25°C • Durban 29°C • Gqeberha 27°C.


Deborah Steinmair | Los my uit!

Een van Afrikaans se mees geliefde kinderboekskrywers is oorlede. Martie Preller sal onthou word vir ’n klein pers karaktertjie wat diep in ’n donker bos woon en baie graag slaap. Eendag word hy gevang, in ’n boks geprop en ver van die donker bos weggeneem. Mense bekyk hom en wonder wat hy is. Hy vervies hom en skreeu: “Ek is ’n Babalela, los my uit!”

Dis ’n noodsaaklike boodskap vir kinders hierdie: Moet my nie in ’n boks druk nie, aanvaar my vir wat ek is en los my uit.

Ek het Preller in 2007 ontmoet toe ek vir ’n publikasie genaamd Kakkerlak ’n onderhoud met haar moes voer. Sy was verfrissend anders en vol verwondering oor die lewe. Sy het vir my ’n swart T-hemp gegee met die pers wesentjie op en die woorde: “Ek is ’n Babalela, los my uit!” Ek het dit graag gedra. Eendag by die waterverkoeler in die oopplankantoor van Die Son, waar ek gewerk het, gaan staan ’n joernalis, Bontie, wat met die drankduiwel gestoei en die drankduiwel soms sommer op kantoor oopmond gesoen het, voor my en lees met groot konsentrasie, hakkelend, my T-hemp: “Ek is Babelaas. Los my uit.”

Sy het my vertel van haar kinderjare op Potchefstroom: “Ek het onder die akkerbome grootgeword en op my fiets biblioteek toe, swembad toe en ja, natuurlik, skool toe ook gery! Die seisoenale verkleuring van die akkerblare is vir ewig ingeprent in my siel. Die blare wat verkleur het van liggroen tot donkergroen tot geelgroen tot bros en bruin en dan krakerig onder my voete verkrummel en kompos geword het vir nuwe groei en nuwe liggroen blare, was vir my van kleins af die organiese sirkelloop van die lewe. Ek vermoed nou, as ek terugdink, dat ’n deel van my elke dag gefunksioneer het en ’n ander deel op ander plekke geloop of gedroom het.”

Ja, haar kop was vol stories. Ek het vir haar ’n boek geleen, my gunstelingboek, The Sense of Things van Alison Dye. Sy het dit terugbesorg en saamgestem dat dit die perfekte boek was, die een wat ons al twee sou wou skryf. Sy was verbaas dat ek op 45 nog verlief geraak, in verhoudings betrokke geraak en my hart laat breek het. Daarvoor, het sy eerlik erken, sien sy nooit weer kans nie.

Ek het die Babalela-boeke gelees en ook ’n jeugboek, In die tyd van die Esob. As jy nie soos ek ’n kompulsiewe woordskommelaar is nie: lees die laaste woord van agter om te sien wat dit beteken. Eersgenoemde is met die Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur bekroon en laasgenoemde met die Sanlamprys vir jeuglektuur en dit was op die ererol van IBBY (International Board on Books for Young People).

Sy het meer pryse verower, soos die ATKV-kinderboekprys meermale, die CP-Hoogenhout-medalje, die Alba Bouwer-prys en die MER-prys.

Sy was ’n aardse, onopgesmukte mens wat kinders gerespekteer en nooit afgepraat het na hulle nie. Nou loop en droom sy op ander plekke.


Image: ANGELA TUCK

Hoe bewys mens jou onskuld as jy ’n poligraafmasjien steel?

Dit was onafwendbaar dat iemand die wondere van kunsmatige intelligensie sou inspan om ’n nuuspublikasie te begin. Onafwendbaar, maar ook doodgebore as jy my vra.

Die eerste ouens uit dié blokke is ’n besigheid onder leiding van ene Alan Levy, wat verlede week opgewonde verklaar het: “NewsGPT is the world’s first news channel generated entirely by artificial intelligence. With no reporters and no bias, NewsGPT aims to provide unbiased and fact-based news to readers around the world.”

Van ver af klink nuus sonder vooroordeel en slegs op feite gegrond dalk nie na so ’n slegte idee nie, maar in die regte mediawêreld is daar heelwat plek vir subjektiwiteit en opinie. In die tyd toe daar nog telefoonboeke was, was dié min of meer die enigste (letterlik) gewigtige publikasie wat as “objektief” beskou kon word (en dan ook net as jy nie vrae gevra het oor waarom dieselfde uitgewers keer op keer daardie lekker lonende kontrakte met die Poskantoor losgeslaan het nie).

Deesdae word voornemende professionele joernaliste (die klompie wat nog probeer) gewoonlik geleer dat billikheid ’n veel belangriker oorweging as sogenaamde objektiwiteit behoort te wees.

’n Goeie voorbeeld is die spul Malemiane wat eergister sonder waarskuwing opgedaag het waar ActionSA besig was om van sy Tshwane-raadslede aan poligraaftoetse te onderwerp, en toe die masjiene gesteel het (na bewering).

Ek wil die mening waag dat kunsmatige intelligensie nog lank nie opgewasse is om oor dié soort gebeure verslag te doen nie. Daarvoor is ’n sin vir humor en die absurde net te belangrik.

Die eerste vraag, nog voor die nuusbot by die EFF se boewery sou kon uitkom, is waarom ActionSA sy lede poligraaftoetse laat ondergaan het. Vermoedelik is dit omdat ActionSA wou agterkom wie van sy raadslede nié vir Cilliers Brink van die DA as burgemeester gestem het soos wat die koalisie ooreengekom het nie. Selfs die slimste masjiene gaan nie eens die vraag verstaan nie, laat staan nog antwoorde hê.

In elk geval, hieruit volg dat die EFF’s die poligraafmasjiene afgevat het om ActionSA te keer om die identiteit van die verraaiers vas te stel. Waaruit mens dan nog drie dinge kan aflei: Eerstens weet die EFF wie minstens sommige van die verraaiers is, tweedens aan watter party(e) hulle behoort, en derdens probeer hulle daardie mense beskerm sodat hulle in ActionSA kan aanbly.

’n Mens kan ook die afleiding maak dat ActionSA sowel as die EFF poligraaftoetse heel ernstig opneem. Nou, ek het nog altyd gedink sogenaamde leuenverklikkermasjiene is net so ’n trappie of twee bo daai kontrepsies waarmee die Scientologists die krag van jou gebede (al dan nie) probeer meet (die nuutste weergawe van dié masjien heet terloops die “Scientology Mark VIII Ultra E”).

En hoewel ek nie vir ’n oomblik wil voorgee dat ek meer van leuens weet as beroepspolitici soos dié klomp nie, wil ek voorstel dat hulle almal ’n beter plan maak om (a) agter die waarheid te kom, en om (b) te keer dat die ánder ouens agter die waarheid kom.

Ek vermoed ook die EFF het hier vir ’n wêreld-eerste gesorg deur (na bewering) ’n poligraafmasjien te steel. Ek kan nie wag dat dié eiesoortige misdaad in ’n hof deurtrap word nie. Sal die aangeklaagdes hulle byvoorbeeld tot poligraaftoetse kan wend as ’n manier om hulle onskuld te probeer bewys? Of is dit die soort oortreding waar mens nie anders kan as om dadelik skuld te beken nie?

Dus, en welwetende dat dit tot ’n onherstelbare breuk in die tydruimtelike kontinuum kon lei, kon ek nie anders as om hierdie vraag aan ChatGPT te vra nie:

Is the Scientology Mark VIII Ultra E a better way of telling the truth than a polygraph machine?

Die antwoord, in ’n absoluut onverbeterlike voorbeeld van kliniese, onbetrokke en objektiewe waarheid, was:

“In conclusion, while both the Scientology Mark VIII Ultra E and polygraph machines have been used to assess truthfulness, the scientific validity and reliability of the Mark VIII Ultra E have not been established, while the use of polygraph machines is supported by some scientific evidence but is still debated by some experts.”

Laat dit vir ons ’n les wees.


Lusoord

Die rooivink se hart
brand soos 'n kool vir asgrou wyfies.
Soggens tjilp grys tarentale
se wakende skadu's in die bome;
ook die vaalkiewiet loop nooit alleen nie.

En ek soek voel-voel in die nag
na die voëlse baldadigheid
van my eie soort.

– Mari Grobler

(Uit: Eggo's in bewolkte water)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.