Om meer van ons in die land se toekoms te laat belê

DONDERDAG MET DEBORAH

Om meer van ons in die land se toekoms te laat belê

WILLEM KEMPEN skryf oor die ekonomie sonder om enige syfers te gebruik, en DEBORAH STEINMAIR kondig opwindende nuus aan. Soos gewoonlik is daar ook vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 09 Maart 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Oos-Kaapse ANC het in ’n sonderlinge stap besluit om iemand af te dank. Die ongelukkige wenner is Xola Pakati, wat as burgemeester van Buffalo City “herroep” is, glo omdat die party nie tevrede is met hoe hy sy werk doen nie. Die name van drie moontlike opvolgers is nou aan die nasionale ANC gegee om oor te besluit.

2. Dit wat deurgaan as die staat se gesondheidsdienste is gister weer op verskeie plekke in die land ontwrig deur Nehawu-lede wat aandring op ’n 10%-salarisverhoging terwyl die regering net 4,7% aanbied.

3. Die nasionale vervolgingsgesag se spesiale ondersoek- en batebeslagleggingseenhede het beslag gelê op ’n landbouhoewe en plaas ter waarde van R53 miljoen wat wederregtelik van die staat na privaat entiteite oorgedra is. Die betrokke hofbevel verbied ook die volgende individue of entiteite om enigiets met die eiendomme te doen te hê: B and B Media, Nicolas Martinus Roets, Christopher Peterson, RCI Development en Segwapa Inc., het eNCA berig.

4. Edward Kieswetter, kommissaris van die Inkomstediens, het ’n beroep op leiers in die politiek en die openbare sektor gedoen om vrywillig openbaar te maak of hulle aan belastingwetgewing voldoen. Die Inkomstediens mag regtens nie dié inligting openbaar maak sonder die toestemming van die betrokke individu nie.

5. Noord-Korea het die VSA gewaarsku dat enige pogings om sy interkontinentale ballistiese missiele te onderskep of neer te skiet as “’n oorlogsverklaring” gesien sal word. Suid-Koreaanse media het vroeër berig dat die VSA nie missieltoetse in die rigting van die Stille Oseaan en Japan sou duld nie. Kim Yo-jong, suster van pres. Kim Jong-un, het in ’n verklaring gesê: “The Pacific Ocean does not belong to the dominion of the US or Japan.”


Weersake

Matige tot warm weer word oor die grootste deel van die land verwag. Daar word steeds geen reën vir die Noord-Kaap voorspel nie, maar wel enkele buie en donderbuie in Mpumalanga langs die platorand, asook in dele van KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Die maksimum temperature vir vandag: Pretoria 31°C • Johannesburg 29°C • Rustenburg 32°C • Mbombela 31°C • Kaapstad 20°C • Durban 29°C • Howick 29°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 30°C • Upington 33°C • Gqeberha 27°C • Oos-Londen 26°C.


Willem Kempen | Iets oor die vrot ekonomie, sonder ’n enkele stuk statistiek

“Ons moet werk skep in hierdie land,” hoor mens gereeld.

Nee, nie regtig nie. Ons het g’n ’n tekort aan werk nie. Ons het wel ’n tekort aan mense wat die werk doen waarvoor hulle reeds betaal word.

Daar is oorgenoeg werk, en oorgenoeg mense wat daardie werk wil doen. Baie van hulle is bereid om dit te doen vir minder as wat ander mense vir daardie selfde werk betaal wil word. Daar is selfs ’n skaflike aanbod van mense wat werk gedoen wil hê en bereid is om ander mense te betaal om dit te doen.

Dis nie almal wat die werk kan doen wat beskikbaar is nie, want sommige daarvan vereis vaardighede of ervaring of ander kwaliteite wat soms jare vat om op te bou. “Ander kwaliteite” sluit in ’n positiewe ingesteldheid en respek vir jou medemens.

Dit beteken jy moet verstaan dat om ’n werk te hê van jou ’n bevoorregte Suid-Afrikaner maak. Dat jy soms uitgebuit word, soos as jy nie genoeg betaal word of nie behoorlik deur jou seniors bestuur word nie, maak nie van jou minder van ’n bevoorregte Suid-Afrikaner nie. Daar is dalk baie mense wat méér bevoorreg as jy is, maar sonder twyfel is daar ’n massa wat maar net kan wens dat hulle ook so oorwerk en onderbetaal soos jy kan wees.

Een van jou voorregte is dat jy jou arbeid van jou werkgewer mag weerhou. Dis ’n basiese mensereg wat werkers in hierdie land vir baie lank nie gehad het nie. Om daardie voorreg te misbruik, soos wanneer stakende verpleegsters ’n ingang versper sodat ’n siek kind nie by die hospitaal kan uitkom nie, is om in die gesig te spoeg van almal wat daarvoor baklei en selfs met hulle lewe daarvoor betaal het.

Maar hoekom sal mense ophou maak soos hulle lus kry as daar geen prys voor te betaal is nie?

Gister se syfers wys die land se ekonomie het einde verlede jaar gekrimp. Of ons volgens ’n amptelike definisie reeds in ’n resessie is of nie, maak nie veel saak nie. Met feitlik niemand gaan dit béter as ’n jaar gelede nie; met baie mense gaan dit selfs slegter.

Tog is die naaste aan ’n oplossing wat Cyril Ramaphosa vir die krisis aanbied, om nuwe ministers en adjunkministers aan te stel – een van die min voorbeelde waar werkgeleenthede die afgelope jaar meer geword het en nie minder nie.

Die ekonomie kan net behoorlik begin groei as entrepreneurs, soos die eienaars van plase, myne, fabrieke en ander besighede, genoeg vertroue in die toekoms het om skaars kapitaal daarin te belê sodat daar dalk oor vyf of 10 jaar iets is wat nie vandag daar is nie.

Hoe word daardie vertroue herstel?

’n Goeie begin is om al ons bestaande reëls en wette streng en konsekwent af te dwing en seker te maak daar is werklike gevolge vir almal wat hulle nie daaraan steur nie.


Image: ANGELA TUCK

Vrye Weekblad hou boekefees in Cullinan

Cullinan is ’n klein dorpie 30 kilometer oos van Pretoria. Die grootste diamant ter wêreld is in 1905 daar gevind. Dit wemel van historiese, kunstige gastehuise en knus restaurante vir fynproewers. Dis ’n feestelike dorpie vir leeglê en lewensgenot. En nou: boeke.

Van 14 tot 16 April vier ons Vrye Weekblad se eerste Cullinan-boekefees daar. Alles gebeur by @Church, Oaklaan 134. Die skilderagtige kerkie, wat nie meer in gebruik is nie, is deur Sir Herbert Baker ontwerp en in 1904 vir myners opgerig. Die meeste van die sessies vind in die ruim saal plaas, met een sessie in die kerk. In die saal sit lesers by tafels aan en eetgoed en drank is deurentyd beskikbaar. Leonie van Rensburg van Graffiti slaan ’n boekwinkel vir die geleentheid op. Jy kan die boeke wat bespreek word, op die plek aanskaf en deur die skrywers laat teken. Daar is volop veilige parkering oorkant die feesterrein.

Gauteng se skrywers, wat redelik afgeskeep word wat feeste betref, was vuur en vlam om betrokke te raak.

Die dorp is ’n gewilde naweekbestemming, so bespreek so gou as moontlik jou blyplek sodat jy die hele fees kan meemaak. Lekkeslaap is ’n goeie opsie.

Sien julle daar, dan delf ons diep en dink vir onsself!

Ek maak met trots die program bekend:

Vrydagaand 14 April:

17:30: Daar’s ’n mier in my broekRedakteursgesprek met onder andere Max du Preez, Anneliese Burgess en Piet Croucamp.

19:00: Ou diamantdorpse swierdinee
Aandete deur Lientjie Wessels by @Church, teen R400 per kop. Bespreek asseblief direk by Lientjie: 082 531 6141.

Spyskaart:

* Amuse-bouche: Tamatiesop, suurroom, togarashi, parmesaan-kraker & tamatie-bruschetta

* Voorgereg: Botterskorsie-hummus, hoenderkroket, geroosterde beet, feta & kruiekrummels

* Hoofgereg: Wildsvleis & miso-bobotie, geelrys met peerblatjang

* Nagereg: Persiese liefdeskoek & lemoenkaramel

* Vegetariese opsie beskikbaar

Saterdag 15 April:

09:00: Futility Farm en die Afrikaner se plaasgeen
Die skrywer Renée Rautenbach Conradie praat met Willemien du Preez oor Plaas se prys.

10:00: Hoe skryf mens ’n topverkoper?
Die boekeredakteur Phyllis Green gesels met Sophia Kapp en Leonie van Rensburg oor Heimwee en uitgee.

11:00: Rainbow Nation my Zulu Arse
Die kunsjoernalis Diane de Beer gesels met Sihle Khumalo oor sy onweerstaanbare oeuvre en sy nuwe boek, Milk the Beloved Country.

12:00: Van papier tot planke: Boeke op die verhoog
Die spreker en skrywer Gielie Hoffmann gesels met Mercy Kannemeyer, regisseur en gereelde VWB-bydraer.

14:00: Vrouespeurders tot die redding
Die radio-aanbieder en skrywer Ilse Salzwedel gesels met Bettina Wyngaard (Lokval) en Elizabeth Wasserman (Die fantastiese Mevrou Smit) oor hulle krimi’s.

15:00: Borrel, gorrel, smoeg en wroeg
Vroue wat skryf, kan toor: Gerda Taljaard, Bettina Wyngaard, Renée Rautenbach Conradie, Michèle Meyer, Celeste Theron, Emma Bekker en Marida Fitzpatrick gesels met Deborah Steinmair oor hulle werk.

17:00: ANC-biljoenêrs en rogues
Max du Preez gesels met Johann van Loggerenberg en Pieter du Toit.

Sondag 16 April:

09:00: Boekevat
Johan Myburg, Jolyn Phillips, Kirby van der Merwe, Eunice Basson, Martjie Bosman, Emma Bekker, Johann Lodewyk Marais, Pieter Odendaal en Jaco van der Merwe lees hulle poësie voor in die kerk.

12:00: StorieKosKuier
Frik de Jager gooi ’n langtafel waar elke gang van ’n storie begelei is; bespreek asseblief jou plek vooraf deur Quicket.

Spyskaart:

* Vars olyf-ciabatta met tuisgemaakte Peppadew-en-olyf-tapenade en mosterdbotter

* Waatlemoen-tamatie-kruisement-en-basiliekruid-gazpacho

* Tuisgemaakte tagliatelle met romerige salm-dille-en-kappertjiesaadsous

* Spanakopita met hollandaise

* Geurige Marokkaanse hoender met rooi lensies en gepekelde murgpampoen

* Nagereg: “Vrolikheid op die tong”

Alle kaartjies vir die fees kan by Quicket bespreek word, behalwe Lientjie se ete, wat direk by haar bespreek en betaal word.


Kinderkonsert

Die topswaar Engel van Verkondiging
is nog nie in sy vlerke ingegroei nie;
hy wakkel en hy hou hom dom.

Oor sy heiligsprekende lippe
lê ’n strepie stuifmeel van die josefslelie,
vanoggend in die kerktuin aangekom.

Hy dra dit soos ’n staalswaard oor sy skouer.
En Maria, met ’n speldjie wat hinder in die sy,
sis: Sal jy regop staan, vat reg die blom.

“Gegroet, Maria, jonkvrou, moenie vrees!
Wat nou so klein,
sal eendag groot en magtig wees!”

– Petra Müller
(Uit: Patria)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.