’n Ode aan eiers en ontbyt

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

’n Ode aan eiers en ontbyt

Vandag praat ANNELIESE BURGESS oor kos, want Sondae is vir gebou vir koeitjies en kalfies. Maar sy gee ook haar weeklikse aanbevelings – van artikels wat sy geniet het tot ’n gesprek oor die toenemend wankelrige verhouding tussen kapitalisme en demokrasie.

  • 12 Maart 2023
  • Daagliks
  • 3 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Sondae is daar tyd vir moeite met ontbyt. En nou dat hulle hulle reputasie as aarverstoppers oorleef het, wentel my ontbytgedagtes meestal na iets-met-eiers.

Gebraai in bietjie olyfolie in die pan totdat die rande bruin en krakerig is? Of gekook en kaal afgeskil in ’n mooi bakkie met ’n wolk rissievlokkies (my elkedag-ontbyt)? Of met ’n lepel uitgeskep op Marmite-toast? Of geroer in ’n stadige pan? Kollega Jacques Pauw maak uitstekende roereiers. Sy geheim is botter. Maar in hierdie weergawe word ’n bietjie melk en mielieblom (Maizena) gebruik om eiers blitsvinnig sonder botter of room romerig-gaar te kry, en dit werk uitstekend!

Links: My weergawe van Eggslut se eierpotjies. Regs: Eiers werk besonder goed met Marmite-toast.
Links: My weergawe van Eggslut se eierpotjies. Regs: Eiers werk besonder goed met Marmite-toast.

Eggslut is ikoniese kitskosrestaurant wat in Santa Monica, Los Angeles gebore is. Hulle maak sewe eenvoudige eiergeregte (met vars lemoensap en koffie). Die konsep was so suksesvol dat daar nou Eggsluts in onder meer Japan, Korea en Brittanje oopgemaak het.

Daar is altyd lang toue. My gunsteling ding op die spyskaart is die “cage-free coddled egg on top of a smooth potato purée, poached in a glass jar, topped with gray salt and chives, served with slices of baguette”.

Ek het dit die eerste keer in die Grand Central Market in downtown Los Angeles geëet, maar het dit sedertdien baie in my eie kombuis gemaak. Die geheim is om die kapokaartappels goed te geur met parmesaankaas, swartpeper en neutmuskaat, die eiers kom bo-op, en dit word dan in ’n waterbad in die oond gebak (die potjies moet deksels hê).

Die fiets-en-koffiewinkel in Port Alfred se brekfis-bun is selfs lekkerder as Eggslut s'n.
Die fiets-en-koffiewinkel in Port Alfred se brekfis-bun is selfs lekkerder as Eggslut s'n.

Maar ons kan nie oor eiers droom en nie praat oor ’n brekfis-bun nie. BB’s is my dogter se gunsteling-padkos. Ek koop soms sommer die by die plaaslike Spar voor ons plaas toe ry, want ’n BB kan moeilik opgemors word, al is dit catering-spek en geprosesseerde kaas. Ons eet ons s’n by die piekniektafeltjie net anderkant Stutterheim.

Maar ’n BB is ook een van daardie goed wat jy maklik kan verhef tot iets uitsonderlik. ’n Brioche-broodjie of Engelse muffin waarvan die binnekante gerooster word in die pan. Dik snye gerookte spek. Miskien ’n snytjie beleë cheddar. Of saggebraaide soet rooi uie. En ’n spatsel van die koljanderblatjang wat ek by die fiets-en-koffiewinkel in Port Alfred koop elke keer as ek daar deurry. Hulle BB’s is boonop die heel lekkerste wat ek nog ooit geëet het. Beter as Eggslut s’n (draai links, laaste pad, soos jy die dorp uitry rigting Kaapstad).

Daarmee groet ek. Gaan maak onmiddellik vir jou ’n BB.

Salige Sondag.

Anneliese Burgess
annelieseburgess@vryeweekblad.com


Hoe om VWB 3.0 heeltemal gratis te lees! 

Vrye Weekblad is voorlopig nog gratis. Al wat jy hoef te doen om dit te kan lees, is om 'n lesersprofiel met jou e-pos te skep. Gaan na vryeweekblad.com. As jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n boodskap by hulp@vryeweekblad.com en ek help graag.


For Danielle Collobert

One leaf touches another and not as comparison

– Lynn Xu


Kook

En aangesien ek nou op ’n eggroll is, deel ek twee verdere resepte uit my diep eierargiewe:

Lees

  • Oor hoekom die beroemde Matterhorn-ontwerp op die Toblerone-verpakking gaan verander nou dat dié sjokolade in Slowakye gemaak gaan word. Daar is blykbaar Switserse reëls oor waar en hoe “gesogte” Switserse ikonografie gebruik mag word. Lees hier.
  • Ek het hierdie onderhoud fassinerend gevind. Dis met Jacek Dębiec, ’n psigiater van die Universiteit van Michigan, oor die reuk van vrees.

Luister

Hierdie gesprek tussen Bernie Sanders, die FT-rubriekskrywer Martin Wolf en die “degrowth”-voorstander Kate Raworth is beslis 40 minute van jou tyd werd. Hulle gesels oor die toenemend wankelrige verhouding tussen kapitalisme en demokrasie. Van BBC Sounds. Kliek hier om te luister.

Kyk

  • Travel Alone Idea is ’n YouTube-kanaal wat jou laat saamreis op Japan se oornag-treine.
  • Die TomTom Traffic Index kyk na die gemiddelde reistyd, brandstofkostes en CO2-vrystellings van 390 stede in 56 lande oor 6 vastelande heen.

 VWB 



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.