Laas jaar se oorveeg en Oscar-boude op ’n sjampanje-mat

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Laas jaar se oorveeg en Oscar-boude op ’n sjampanje-mat

DEBORAH STEINMAIR en MERCY KANNEMEYER skryf oor die jaarlikse Academy Awards, en soos gewoonlik is daar vyf goed wat jy wil weet.

  • 14 Maart 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Die arbeidsappèlhof het ’n interdik bevestig wat verdere nywerheidsoptrede in die staatsdiens, insluitende stakings en betogings by werkplekke, deur Nehawu, sy lede en werknemers verbied, het News24 berig. Die hof het opdrag gegee dat Nehawu teen 13:00 gister al sy lede en amptenare van die beslissing in kennis stel.

2. Die Amerikaanse Federal Deposit Insurance Corporation het deposante te hulp gesnel wat geraak is deur die ineenstorting van die Kaliforniese Silicon Valley Bank. Alle SVB-deposito’s is oorgedra na ’n oorbruggingsbank waar kliënte dit gister reeds kon onttrek. SVB is volgens Reuters die grootste bank wat ineenstort sedert die finansiële krisis van 2008 en daarna.

3. Die Fort Hare-universiteit het Noxolo Kiviet, wat pas as minister van die staatsdiens en administrasie aangewys is, by die spesiale ondersoekeenheid verkla omdat sy ’n honneurs- en ’n meestersgraad behaal het sonder dat sy die vereiste voorgraadse kwalifikasies gehad het.

4. Prof. Daya Reddy is as waarnemende visekanselier van die Universiteit van Kaapstad aangewys. Die raad van die universiteit het in Februarie ’n skikking met prof. Mamokgethi Phakeng bereik om vroeg af te tree.

5. Die BBC het Gary Lineker se skorsing as aanbieder van Match of the Day opgehef nadat ’n skikking bereik is. Die BBC het Lineker vroeër geskors nadat hy gesê het die taalgebruik in Brittanje se nuwe beleid oor asielsoekers vergelyk met dié van die Duitse regering in die 1930’s. “However difficult the last few days have been, it simply doesn’t compare to having to flee your home from persecution or war to seek refuge in a land far away,” het Linker gister op Twitter in reaksie gesê.


Vandag se weer

Dele van die Noord-Kaap kan steeds toestande verwag wat ’n uiters hoë brandgevaar inhou. Sterk wind word voorspel langs die kus tussen Kaappunt en Kaap Agulhas. Gauteng sal deels bewolk wees, terwyl enkele buie en donderbuie in verskeie dele oor die land verwag word. Sonnig tot deels bewolk in die Wes-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 26°C • Rustenburg 30°C • Mbombela 26°C • Kaapstad 29°C • Durban 27°C • Paarl 35°C • Oudtshoorn 35°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 27°C • Upington 36°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 27°C.


Deborah Steinmair | Boude en taai klappe

Verlede jaar het die seremonie waarna verwys word as die Oscars opslae gemaak toe Will Smith vir Chris Rock ’n taai klap gegee het nadat Rock ’n grap oor sy vrou, Jada Pinkett Smith, se alopesie gemaak het. Smith is vir 10 jaar van die toekennings verban. Vanjaar was die aanbieder Jimmy Kimmel, nie ’n naam wat by my klokkies lui nie. Hy is ’n akteur en vervaardiger met ’n breë tandepastaglimlag en glo bekend vir Jimmy Kimmel Live!, The Man Show en Win Ben Stein’s Money.

Hy het sommer vroeg in die aand oor die oorveeg gegrap deur te sê as enigiemand in hierdie teater in enige stadium ’n daad van geweld pleeg, sal hulle die Oscar vir beste akteur ontvang en toegelaat word om ’n toespraak van 19 minute te lewer.

Hy het ook geskerts oor Ozempic, ’n voorskrifmedisyne wat ingespuit word vir diabetes en wat glo gewild geraak het onder akteurs omdat dit gewigsverlies teweegbring. Hy het laat val: Almal lyk so goed. As ek in die vertrek rondkyk, kan ek nie help om te wonder of Ozempic reg is vir my nie.

Soos dikwels die geval is, het een rolprent met die meeste van die louere weggestap. Everything Everywhere All At Once was die oorwinnaar in sewe van die 11 kategorieë waarvoor dit benoem is, waaronder beste rolprent en beste regisseur.

Dis ’n absurde komedie wat handel oor Evelyn Wang, ’n Chinees-Amerikaanse immigrant wat deur die departement binnelandse inkomste geoudit word en terselfdertyd uitvind dat sy met parallelle weergawes van haarself moet kontak maak om te keer dat ’n magtige wese die multiversum vernietig. The New York Times noem dit ’n rolprent met ’n sweem van genre-anargie, met elemente van surreële komedie, wetenskapfiksie, fantasie, Oosterse gevegskunsflieks en animasie. Lees Mercy Kannemeyer se loflied daaroor hier onder.

Michelle Yeoh was (sowaar) die eerste Asiatiese vrou wat as beste aktrise bekroon is. In haar aanvaardingstoespraak het sy dit ’n baken van hoop en moontlikhede genoem vir al die seuntjies en meisietjies wat soos sy lyk.

Die toekenning vir beste akteur het na Brendon Fraser gegaan vir The Whale. Daar was allerlei onmin omdat hy as straight en slank akteur die rol van ’n oorgewig gay man vertolk het.

Dié uitspattige glansgeleentheid was nog altyd gekenmerk deur kontroversie, skandaal en klagte.

Vir die eerste keer tot nog toe het die Oscars nie ’n rooi nie, maar ’n sjampanjekleurige tapyt gehad, glo gekies om die sonsondergang op te roep. Mense het geskerts dat die afwesigheid van die rooi tapyt wou kommunikeer dat daar vanjaar geen bloedvergieting wou wees nie. Of is rooi te Russies, wonder ek?

Waar kom die naam van die goue standbeeldjie vandaan? Daar is slegs bespiegeling, soos dat die bibliotekaresse van die Akademie verklaar het dat dit soos haar oom Oscar lyk, of dat Bette Davis haar man se middelnaam aan die beeldjie gegee het omdat sy agterent haar herinner het aan haar man se boude wanneer hy soggens uit die stort kom.


Image: ANGELA TUCK

Om alles, oral, en alles tegelyk te ervaar

Everything Everywhere All At Once (EEAAO) verdien al die toekennings. Ek het oor die naweek my asem opgehou om te sien hoe die fliek, uit die pen van Daniel Kwan en Daniel Scheinert, by die Oscars gaan vaar. Julle weet tog ’n mens kan nie aldag die Oscars vertrou om die regte besluite te neem nie. Daar was hoeka onlangs weer sprake in die Twitterverse van Oscar-stemmers wat óf nie al die flieks kyk nie, óf net flieks met hulle gunstelinge in kyk, of net flieks soos EEAAO sal oorslaan omdat dit nie by die picture-perfect Amerikaanse white-picket-fence-fliek-kak pas nie.

Ek het EEAAO Vrydagaand gekyk, en die res van die naweek het die fliek gereeld penorent in my gedagtes kom opstaan. Het jy al ooit daai gevoel gehad, nadat jy iets besonders gekyk het, dat jy net ’n bietjie alleen wil wees en vir jouself uitfigure wat so pas met jou gebeur het? Ná die fliek het ek besluit om ’n entjie te gaan stap en net toe te laat dat die fliek se gebeure oor en deur en in my spoel. Dit het bitter lanklaas met my gebeur dat ’n fliek my so bietjie verander.

Michelle Yeoh in Everything Everywhere All At Once. Sy is die eerste Asiatiese vrou wat met 'n Oscar as beste aktrise bekroon is.
Michelle Yeoh in Everything Everywhere All At Once. Sy is die eerste Asiatiese vrou wat met 'n Oscar as beste aktrise bekroon is.

Oukei, voor ek te liries raak. Vir julle wat dit dalk nog nie gekyk het nie, eerstens, STOP ALLES waarmee jy besig is, en kyk dit. Maar ernstig nou. Die fliek handel in ’n neutedop oor Evelyn Wang (meesterlik meesterlik meesterlik vertolk deur Michelle Yeoh) wat onwillekeurig in ander heelalle (die fliek praat van multiverses – is dit dan veelal in plaas van heelal? Hahahahah) beland, verskillende kragte en magte kry, gevaar uit die weg moet ruim om uiteindelik die heelal waarin sy en haar familie moet wees, te red. Verwarrend? Wel, kyk dit. EEAAO voel soos een van daai flieks wat ’n mens nie regtig kan beskryf nie. Dit moet ervaar word.

Jamie Lee Curtis is as beste ondersteunende aktrise bekroon vir haar rol in Everything Everywhere All At Once.
Jamie Lee Curtis is as beste ondersteunende aktrise bekroon vir haar rol in Everything Everywhere All At Once.

Hierdie fliek verdien ál die toekennings en lof. Dit is verby kreatief, innoverend, vreemd, meesleurend, en steeds genotvol. Dis een van daai flieks waar jy hardop wonder: “Hoe dink iemand so iets uit?” Hierdie fliek weerspieël die tipe kreatiwiteit wat slegs haalbaar is wanneer jy jouself toelaat om totaal en al te laat gaan; nie te dink aan begrotings nie, nie te worry of mense daarvan gaan hou nie, nie te tob oor of mense dit dalk nie gaan verstaan nie, en nie om te gee oor wat ander mense doen nie. Dis ook een van daai flieks waar almal wat daaraan deelneem, daarop móét inkoop, anders gaan dit nie werk nie. En hier sien ’n mens dit – uiters toegewyde akteurs, redigeerders, crew – flippit, net almal.

Danksy EEAAO is ek vir ewig verander.


VWB-Cullinan-boekefees se rolspelers:

Lientjie Wessels is legendaries. Sy is lank en elegant. Sy is skilder en kok en oral waar sy kom, skep sy skoonheid. Haar kookboek, Geure, is opeetbaar mooi en sy was op TV in die kosprogram Kokkedoor. Sy is ’n inwoner van Cullinan met een voet in die Karoo. Sy kook Vrydagaand 14 April ’n swierige, sinnelike storm los vir Vrye Weekblad se eerste Cullinan-boekefees.

Kliek hier vir die volle program en kliek hier om kaartjies te bespreek.


Openbare besit

Die wye tuine van my kindertye
het tot ’n broeiende balkon gekrimp
waar g’n rose blom, g’n boontjie spruit
en katte sukkelende kruie knou.

Maar gaandeweg leer ek die grense
van die res publicae beproef:
groet daagliks al die bome van die stad
en eien elke park my toe.

– Martjie Bosman

(Uit: Landelik)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.