Van misdaadkoek in Sandton tot misdaadboek in Cullinan

DONDERDAG MET DEBORAH

Van misdaadkoek in Sandton tot misdaadboek in Cullinan

DEBORAH STEINMAIR sê Vrye Weekblad se eerste Cullinan-boekefees is dié ding om te doen in die noorde oor die naweek. WILLEM KEMPEN dink ons moet investeer in misdaadtoerisme, en soos altyd is daar vyf dinge wat jy wil weet.

  • 13 April 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Suid-Afrika soek antwoorde oor die Verenigde Arabiese Emirate se besluit om twee van die Gupta-broers vry te laat ná 'n mislukte poging om uitlewering. Daily Maverick berig die regering het 'n amptelike versoek – 'n démarche in diplomatieke terme – aan die land se ambassadeur in Suid-Afrika uitgereik om 'n verduideliking te gee, hoewel die presidensie dit gisteraand ontken het.

2. Eskom het aan die werk gespring om kragmaste wat Sondagaand in die ooste van Pretoria ineengestort het, te vervang. News24 berig die kragreus het reeds drie betonpale verskaf om die kragmaste te vervang wat hopelik vandale sal kniehalter.

3. LP's het gister die bestuur van die privaat sekuriteitsmaatskappy G4S met vrae en aantygings gepeper rakende die ontsnapping van die sogenaamde Facebook-verkragter by die Mangaung-tronk verlede jaar. Die maatskappy se bestuur het gesukkel om te verduidelik hoe Thabo Bester nie net kon ontsnap sonder dat hulle enigiets agterkom nie, maar ook 'n besigheid uit sy tronksel kon bedryf.

4. Iran het luidens berigte vlugte wat bedoel was om hulpbronne te vervoer vir slagoffers van 'n onlangse aardbewing in werklikheid gebruik om wapens aan Sirië te verskaf. Reuters berig verskeie bronne het bevestig die wapens is bedoel om Iran se posisie teen Israel te versterk en die Siriese regering te help. Duisende mense is dood tydens die skuddings wat Sirië sowel as Türkiye geruk het.

5. Die polisie is op soek na 'n groep verdagtes wat verantwoordelik was vir die skietdood van ses mans in Ocean View in Kaapstad. Owerhede vermoed dit was 'n bendeverwante aanval.


Weersake

Toestande wat ’n hoë brandgevaar inhou, word vir dele van die Noord- en Oos-Kaap, Noordwes en die Vrystaat voorspel. Gauteng, Mpumalanga, en Limpopo begin die dag deels bewolk, andersins word matige toestande verwag. In tussen word ligte reën vir dele van die Wes-Kaap voorspel.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 24°C • Rustenburg 28°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 19°C • Durban 25°C • Howick 26°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 24°C • Upington 29°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | Wat sal jý betaal vir ’n foto saam met Thabo Bester in Woolworths?

Die vyfde jaarlikse Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie begin vandag in die Sandton-konferensiesentrum. ’n Moedswillige mens sou dalk kon vra of dit nie beter sou gewees het om dit in Londen of Frankfurt of selfs in Kaapstad te hou nie, want op enige van daai plekke sal dit makliker wees “[to] reinforce South Africa’s position as an attractive business, investment, and tourism destination”, soos die konferensie se webwerf trots belowe.

Aan die ander kant, miskien sal van die konferensiegangers ’n draai gaan maak by die Woolworths net ’n entjie van die konferensiesentrum af, daar waar Thabo Bester agtergekom het dat jy in Suid-Afrika ’n beter kans het om in ’n supermark as ’n misdadiger herken te word as in jou plaaslike polisiekantoor. Dis mos ’n toerismegeleentheid: Laat neem jou af saam met ons eie Natural Born Killers in dieselfde winkel wie se berugte is-dit-regtig-gaar hoenders nie te lank gelede nie nog een van ons wetstoepassers se grootste prioriteite was.

Ons moet sommer ook weekliks ’n Groot Vyf van Suid-Afrikaanse misdadigers kies. En daarmee saam ’n Groot Vyf Step-Asides; dis nou soos in almal wat uitgevang is, maar wat ons nog nie in die tronk gegooi kon kry nie of nog nie uitgelewer kon kry uit plekke soos die Emirate, Switserland, Tanzanië, Vanuatu of Nkandla nie. Of wie se maandelikse mediese behandeling in Rusland nooit saamval met die geleentheid om hom in boeie te slaan nie. Of wie se vervolging so baie geld gaan kos dat ons dit op die vroegste eers in die 2028-boekjaar sal kan doen ás ons BTW tot 20% opgestoot kry.

Die probleem met ’n klem op die Groot Vyf is dat dit die rol van jou gewone misdadiger op straat misken – die klein mensies; hulle wat nooit die kans gehad het om ook ’n biljoenrand-tender aan ’n verdienstelike niggie, nefie of nyatsi toe te ken nie, maar tog elke dag hulle deeltjie doen deur dalk hier ’n stukkie van ’n kragpaal of ’n verkeerslig af te saag, of daar ’n vrag turfgrond as steenkool aan Eskom verkoop te kry.

’n Mens kan maar net hoop dat die konferensiegangers daar in Sandton die durf sal hê om ook te investeer in dié mensies se geweldige potensiaal om ons misdaadtoerisme-koek groter te maak.

Saam bereik ons immers altyd meer as elkeen op ons eie.


Image: ANGELA TUCK

Delf diep en dink vir jouself

Môre begin Vrye Weekblad se eerste Cullinan-boekefees. Cullinan is 'n dorpie sowat 30 kilometer uit Pretoria op die N4. Al die gesprekke en etes vind plaas by @Church, 'n swierige trouvenue in Oakstraat, oorkant die Wimpy. Dis 'n ou Herbert Baker-kerkie en -saal van sandsteen. Daar is veilige parkering. Kaartjies kan by Quicket bespreek word en is ook by die deur beskikbaar. Kos en drank is te koop en daar is boekgesprekke wat jy nie moet misloop nie. Leonie van Rensburg van Graffiti slaan 'n boekwinkel op.

Hier is die volledige program, met plakkate deur Angela Tuck:

Vrydag 14 April

Om 17:30 praat van Vrye Weekblad se redaksielede soos Max du Preez, Anneliese Burgess en Piet Croucamp 'n hond uit 'n bos oor die stand van die land in die gesprek Daar’s 'n mier in my broek. Hierdie soort gesprekke trek telkens 'n groot gehoor – bespreek. Kaartjies @ R90.

Om 19:00 gooi die legendariese Cullinaniet Lientjie Wessels 'n swierige diamantdorpse dinee op die stoep. Sitplekke is beperk – bespreek direk by Lientjie: 082 531 6141. Kaartjies @ R400.

Vir diegene wat nie plek besprek het by Lientjie nie, sit Anita van die venue pizza's voor, in die saal. 


Saterdag 15 April

9:00

Willemien du Preez is ’n bekende Suid-Afrikaanse aktrise. Sy gesels met Renée Rautenbach Conradie oor haar debuutroman, Plaas se prys, wat onlangs by Protea Boekhuis verskyn het. Wat opval, is haar sin vir humor en die fyn waarnemingsvermoë wat van haar ’n briljante akteur maak. 
Kaartjies vir Futility Farm en die Afrikaner se plaasgeen @ R90.

10:00

Sophia Kapp is ’n bekroonde liefdesverhaalskrywer en taalpolisievrou. Sy is ook ’n kampvegter teen die onwettige verspreiding van e-boeke. Haar boek Heimwee was die eerste publikasie van Leonie van Rensburg se nuwe uitgewery, Boekdiva, en boer steeds op die topverkoperlys. Phyllis Green, boekeredakteur van Sarie, vra hierdie twee bedonnerde divas die kuns af. Kaartjies vir Hoe skryf mens 'n topverkoper? @ R90.

11:00

Sihle Khumalo is die outeur van onder meer Almost Sleeping My Way to TimbuktuHeart of Africa en die topverkoper Dark Continent, My Black Arse. Hy is in 2011 gekies as een van die tydskrif Destiny se 40 top-Suid-Afrikaners onder die ouderdom van 40 wat bestem is vir groter dinge. Hy het ’n heerlike, oneerbiedige humorsin en sal in gesprek wees met die kunsjoernalis en blogger Diane de Beer oor sy jongste boek, Milk the Beloved Country. Kaartjies vir Rainbow Nation My Zulu Arse @ R90.

12:00

Mercy Kannemeyer is ’n regisseur wat Jeanne Goosen se roman Ons is nie almal so nie op die verhoog vergestalt het, met groot trefkrag. Sy is ook ’n gereelde bydraer tot Vrye Weekblad. Gielie Hoffmann gesels met haar, hy wat individue en spanne help om veerkragtiger te wees. Kaartjies vir Van papier tot planke @ R90.

Middagete is te koop op die perseel.

14:00

Ilse Salzwedel, skrywer en radiopersoonlikheid, gesels met Bettina Wyngaard en Elizabeth Wasserman oor hulle krimi’s, Lokval en Die fantastiese mevrou Smit. Al twee romans het vreeslose vroue wat misdaad ontrafel. Kaartjies vir Vrouespeurders tot die redding @ R90.

15:00

Kom kyk hoe agt vroue die pot roer, want vroueskrywers kan toor. Michele Meyer is die Moer in, Marida Fitzpatrick is so bitter soos Mara, Renée Rautenbach Conradie hys Die Vierkleur in Parys, Gerda Taljaard is so uitgeslape soos een van Vier susters, Bettina Wyngaard gaan vir jou in ’n Lokval lei, Celeste Theron sal jou Helder oordag laat droom en Emma Bekker gaan onder jou Vel kom. Hulle deel hulle geheime met Deborah Steinmair. Kaartjies vir Borrel, gorrel, smoeg en wroeg @ R90.

17:00

Max du Preez, wat geen bekendstelling nodig het nie, gesels met Pieter du Toit en Johann van Loggerenberg oor hulle boeke en die stand van ons chaotiese land. Johann is mede-outeur van die topverkopers Rogue, Death and Taxes en Tobacco Wars. Hy was groep uitvoerende beampte van die SAID voordat hy bedank het. Pieter du Toit is ’n joernalis en die skrywer van die boeke The Stellenbosch Mafia en The ANC Billionaires. Kaartjies vir ANC-biljoenêrs en rogues @ R90.

Anita van @Church sit ’n Boerekos-aandete in die saal voor. Bespreek by haar: 061 274 9743.


Sondag 16 April

9:00

Nege digters lees van hulle gedigte voor in die historiese kerkie. Kom vat boeke en luister na die woorde van Johan Myburg, Jolyn Phillips, Kirby van der Merwe, Emma Bekker, Johann Lodewyk Marais, Eunice Basson, Jaco van der Merwe, Martjie Bosman en Pieter Odendaal. Kaartjies vir Boekevat @ R90.

12:00

Frik de Jager is ’n swerwer, sjef en storieverteller. Hy kuier gereeld by Amore Bekker en deel sy resepte op RSG. Kom sit aan by sy StorieKosKuier en beleef sy reise en wedervaringe. Kaartjies @ R90. Sitplekke is beperk; bespreek by Quicket.


Hier is al die skrywers wat wag om met jou te gesels. Kom kuier saam!


gedig vir myself

en wat van die kaste vol ou klere
en al daardie jare lange ongebruikte gebede
vir jou
wat nog iewers in die ruimte hang
soos lig onderwerg,
van baie sterre

hoe dun het jou vel nie geword

soos papier

– Petra Müller

(Uit: om die gedagte van geel)

 ♦ VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.