Katools op die lughawe en ’n warboel van opposisie

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Katools op die lughawe en ’n warboel van opposisie

MERCY KANNEMEYER skryf oor haar ongewone vlieg-ervaring die naweek, WILLEM KEMPEN wonder waar sal Songezo Zibi se Rise Mzansi inpas as dit ’n volwaardige politieke party word, en daar’s vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 18 April 2023
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre

1. Japan het as aanbieder van die 49ste G7-spitsberaad besluit om die huidige voorsitter van die Afrika-Unie as ’n gas te nooi pleks van individuele lande uit Afrika. Dit beteken dat pres. Azali Assoumani van die Comore in Mei in Hiroshima sal wees en nie pres. Cyril Ramaphosa nie.

2. Die voormalige politikus Loyiso Nkohla, wat in 2013 as een van die sogenaamde “poo throwers” berug geword het, is by die Philippi-spoorwegstasie in Kaapstad doodgeskiet waar hy glo ’n groepie haweloses toegespreek het. Dis onduidelik wat die omstandighede was.

3. Die presidente van Nigerië en Tsjad het ’n gesprek gehad oor die situasie ná die derde dag van gevegte in Soedan, het eNCA berig.

4. Karpowership SA het die spertyd gemis om te appelleer teen ’n besluit deur die departement van bosbou, visserye en die omgewing om die maatskappy magtiging te weier om ’n drywende elektrisiteitsprojek in die Ngqura-hawe in die Oos-Kaap te bedryf. Karpowership SA het nou aansoek gedoen vir uitstel om te appelleer, het News24 berig.

5. Suid-Afrika het tans ’n tekort aan sampioene as gevolg van die sluiting van twee plase, een in Gauteng en een in die Wes-Kaap, weens onder meer beurtkrag. Een van die groot produsent Denny se Durbanse bedrywighede is boonop verlede jaar in ’n brand vernietig. Sowat 20% minder sampioene as tevore word tans weekliks aan markte gelewer.


Vandag se weer

Hoë brandgevaar in dele van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap. Die Richtersveld-munisipaliteit kan ook hittegolftoestande verwag. Sonnige en warm weer kan oor die binneland verwag word, asook in KZN, met moontlike buie en donderbuie die middag in Mpumalanga en Limpopo.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 24°C • Rustenburg 28°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 26°C • Durban 32°C • Paarl 29°C • Oudtshoorn 36°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 24°C • Upington 32°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 27°C.


Willem Kempen | Dinge om oor skiet te gee, dinge om oor vas te staan

Wat maak van Songezo Zibi se Rise Mzansi-beweging iets anders as net nóg 'n opposisiegroepering wanneer dit na verwagting môre 'n volwaardige politieke party word? Gaan dit anders wees as 'n nuwe variasie op die tema van die UDM of Cope of die ID en al die ander wat probeer het om 'n plek iewers tussen die ANC en die DA oop te skrop, maar uiteindelik weggekwyn het?

Waar pas dit in tussen die deurmekaarspul van nasionale en metro-koalisies en Pacts en Fronts en Actions en Alliances en so aan en aan en aan?

As ons praat van 'n alternatief vir die ANC, dan moet ons sekerlik ook mooi dink oor presies wat dit aan die regerende party is waarvan álmal ontslae wil raak. Ís daar hoegenaamd so iets, of kies die meeste opposisiegroepe maar net so 'n permutasie van drie of vier van die gewildste ANC-bashing-geregte op die spyskaart?

En as ons wil hê een of ander groot koalisie, of koalisie van koalisies, moet slaag, dan moet ons sekerlik ook bereid wees om oor sekere goed in te val by dit wat ons self dalk anders sou wou gehad het. Soos die fortuin wat die regering elke maand aan maatskaplike toelaes betaal. Iemand wat niks anders het nie, gaan mos nie stem vir 'n party wat geluide maak dat hulle daardie bietjie ook nog wil wegvat nie. Maar ons kan ook nie net aangaan soos nou nie.

Daar is ander dinge waaroor ons nié kompromieë durf aangaan nie, soos respek vir die oppergesag van die reg en om op te leef na die gees van die Grondwet – pleks van net kyk waarmee jy kan wegkom binne die letter van die wet, soos wat die ANC gewoonlik doen.

Met 'n bietjie geluk kom ons dan uit by die soort Groot Alliansie waarin 'n Makashule Gana net so tuis voel soos 'n Geordin Hill-Lewis, of 'n George Pappas soos 'n Mbali Ntuli. Waar 'n Bongani Baloyi en 'n Corné Mulder saam om 'n tafel kan sit om te begin regmaak wat als stukkend is.

As 'n spesiale bonus is dit dalk sommer ook die soort beweging waar die Gwede Mantashes, Fikile Mbalulas, Bheki Celes en Julius Malemas van die wêreld in dieselfde mate óntuis voel.


Image: ANGELA TUCK

Wil jy vry of wil jy vlieg?

Was jy al ooit so ietwat aroused deur lughawesekuriteit? Nie? Oukei, maar luister gou; laat ek eers die prentjie skets.

Woensdagmiddag vlieg ek van OR Tambo af George toe vir werk. En dit was ’n wilde, wilde Woensdag. Ek is vroeg op vir werk en moes nog ’n paar goedjies klaarmaak voor my vertrek. Op pad lughawe toe was dit asof elke liewe verkeerslig nie gewerk het nie. In my kop vloek ek Johannesburg se moer, want hoekom is die stad so vervalle?! Die New York van Suid-Afrika?! My Uber-bestuurder het ook op die dag besluit dat hy déúr die slaggate wil ry en nie óm dit nie.

By die lughawe was ek net-net betyds vir my vlug. Die vriendelike persoon agter die toonbank skuif my sitplek na besigheidsklas en sê hy voel vandag om iets goeds vir iemand te doen. Ek het nie eintlik ’n verskil agtergekom nie. My sitplek was in die tweede ry, naby aan die toilet. In besigheidsklas kan dinge ook maar net so sleg ruik. My tas is geweeg en net-net lig genoeg bevind. Al te dankbaar stap ek deur na die plek waar jy jou laptop moet uithaal en deur die sekuriteit se bieper-dingetjie moet loop.

Image: ANGELA TUCK

Soos ek deurstap, word die liggies rooi. Ek vries.

Het ek per ongeluk ’n geweer ingepak? Of dalk ’n bom? Shit, dalk het iemand iets op my geplant waarvan ek niks weet nie. Hoekom dink ’n mens die onrealistiesste goed wanneer jy moet vlieg?

Die sekuriteitspersoon vra of hulle my maar kan ondersoek. Ek is oorvriendelik, want ek wil net nie hê hulle moet dink ek’s ’n krimineel of iets nie. Hulle sê in Engels: “Lift your arms.” Ek sê ek’s kielierig. Hulle lag nie. Hulle vat-vat so aan my kopdoek, dan een arm en dan die volgende arm. Bene. “Spread your legs, Miss.” Ek maak so. Ek wil giggel, want iemand het nog ooit só aan my gevat nie. En terwyl hierdie persoon so aan my vat, dink ek, wow, dis nou lekker! Shame, die arme persoon probeer net hulle werk doen, en hier maak ek al trouplanne. Ek voel op daai oomblik soos Fleabag toe sy dokter toe gaan vir haar borsondersoek, en ewe droog afsak: “It’s nice to be touched.”

Ns. Jammer Mammie en Deddie dat julle nou hier van my katoolsgeid moet lees.


[When you told us our glances, soft, timid, and mild,]

When you told us our glances, soft, timid, and mild,
Could occasion such wounds in the heart,
Can ye wonder that yours, so ungovern’d and wild,
Some wounds to our cheeks should impart?

The wounds on our cheeks, are but transient, I own,
With a blush they appear and decay;
But those on the heart, fickle youths, ye have shewn
To be even more transient than they.

– Wallada bint al-Mustakfi

(Uit Arabies vertaal deur Joseph Dacre Carlyle)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.