Gryp jou Donderdag en maak elektrisiteit

DONDERDAG MET DEBORAH

Gryp jou Donderdag en maak elektrisiteit

Wie is die grootste wenner en verloorder in Trump se siviele verkragtingsaak, vra WILLEM KEMPEN. DEBORAH STEINMAIR vertel van groot dinge wat in die geskiedenis op ’n Donderdag gebeur het. En soos altyd is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre!

1. Die JSE-genoteerde pluimveebesigheid Quantum Foods moes in April altesame 420 000 kuikens by die Lemoenkloof-lêplaas in die Wes-Kaap tot niet maak weens ’n uitbraak van die hoogs aansteeklike voëlgriep. ’n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het aan Netwerk24 gesê die siekte is op geen ander plase aangemeld nie, maar wel onder wilde hoenders elders in die Wes-Kaap, Mpumalanga en Gauteng.

2. Die voormalige Pakistanse premier (en krieketkaptein) Imran Khan het gister in die hof in Islamabad verskyn weens beweerde korrupsie. Khan se inhegtenisname die vorige dag het gelei tot woedende betogings oral in die land wat gister voortgeduur het.

3. Die handelsmisdaadsaak teen die Steinhoff-grootbaas, Markus Jooste, en sy medebeskuldigdes Siegmar Schmidt en Dirk Schreiber het gister in Oldenburg, Duitsland, hervat. Schmidt en Schreiber was albei direkteure van Europese filiale van Steinhoff. Hulle word onder meer daarvan beskuldig dat hulle transaksies versin het om Steinhoff se winste en die waarde van bates groter te laat lyk as wat in dit in werklikheid was.

4. Die Britse regering het opnuut in die House of Lords onder skoot gekom vir planne om Rwanda as ’n aflaaipunt vir onwettige immigrante te gebruik. Justin Welby, ’n lid van die huis en ook ’n senior leier in die Anglikaanse Kerk, het premier Rishi Sunak gevra om die plan te herdink en dit as “moreel onaanvaarbaar” bestempel.

5. Louis Liebenberg, diamantsmokkelaar en vryskut-finansier van twyfelagtige politieke randfigure, sê hy word “geteister” deur die voorlopige likwidateurs van sy Tariomix-maatskappy. Hy vrees glo vir sy lewe. Die hooggeregshof in Pretoria het vroeër ’n tussentydse bevel aan dieselfde voorlopige likwidateurs toegestaan wat Liebenberg en sy dampkringetjie verbied om lasterlike bewerings teen hulle te maak.


Weersake

Waarskuwing vir erge golwe wat navigasie op see kan bemoeilik tussen Saldanhabaai en Kaap Agulhas. Uiters hoë brandgevaar oor dele van die Noord-Kaap. In Gauteng, Noordwes, Vrystaat en KZN is dit sonnig en koel tot matig, maar deels bewolk langs die kus. Mpumalanga en Limpopo deels bewolk. Wes-Kaap bewolk en koel tot matig met verspreide buie en matige tot sterk wind. Oos-Kaap eers sonnig, maar bewolk met geïsoleerde buie en reën vanaf die namiddag en ligte wind wat later fris raak. Baie koue, nat weer vir die naweek oor die Wes-, Noord- en Oos-Kaap voorspel met ligte sneeu op bergpieke, sterk wind en onstuimige see. Swaar reën kan lei tot oorstromings aan die kus en aangrensende binneland. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 23°C • Rustenburg 26°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 17°C • Durban 26°C • Howick 26°C • Bloemfontein 23°C • Polokwane 23°C • Upington 30°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 25°C.


Willem Kempen | Trump, hoof-harlekyn in VSA se politieke teater

Die jurie het nog skaars ’n skadevergoedingseis van altesame $5 miljoen teen Donald Trump toegestaan, of iemand vra: Wie is die grootste wenner hier, en wie die grootste verloorder?

Die grootste wenner, was gou die konsensus onder die soort mense wat hulle met sulke dinge bemoei, was nie die rubriekskrywer E. Jean Carroll, aan wie daardie eis toegeken is nie. Beslis ook nie vroueregte of die regte van verkragtingslagoffers nie.

Nee, die grootste wenner is Ron DeSantis, die goewerneur van Florida wat tans lyk of hy die enigste mens is wat Trump kan klop in die stryd om die Republikeinse Party se benoeming as presidentskandidaat vir volgende jaar se verkiesing. Want wat sleg is vir Trump, is goed vir DeSantis, sien?

Oor wie die grootste verloorder is, is daar minder konsensus. Selfs nie onder Demokrate is daar veel oortuiging dat dit Trump is nie. Dieselfde mense wat hom voor dié hofgeding gesteun het, gaan dit steeds doen. As dinge soos die Billy Bush-opname jou nie destyds al laat besef het wie Trump regtig is nie, gaan Carroll se getuienis in die afgelope siviele saak dit nie nou doen nie.

Dit lyk vir my die grootste verloorder is eintlik daardie groot gros Amerikaanse kiesers wie se aandag nogmaals afgelei is van die werklike politieke kwessies. Hulle wat geen ander keuse as dié tussen die Demokratiese en die Republikeinse partye het nie; twee partye wat ewe behep is met veldslaggies in die Great War for Attention, en minder gepla is oor die praktiese implikasies van hulle beleidskeuses. Dis mos makliker om vir iemand te vertel hoe gevaarlik woke culture is as om te verduidelik hoe die staat se boeke gemaak klop moet word.

Vir wie stem jy as jy glo in ’n kleiner regering en laer belasting, maar jy vind die Republikeine hopeloos te konserwatief as dit kom by maatskaplike kwessies? Vir wie stem jy as jy glo toegang tot goeie mediese sorg behoort nie net die rykes beskore te wees nie, maar jy dink ook nie die staat kan jaar ná jaar net nóg skuld aangaan om vir alles te betaal nie?

Dis oor einste sulke vrae dat die twee groot partye nou stry in ’n poging om die Amerikaanse wetlike kredietplafon betyds gelig te kry sodat die land sy skuldverpligtinge kan nakom. Ons het al gewoond geraak aan dié jaarlikse drama wat gewoonlik op die laaste nippertjie tot ’n skikking lei, maar dié keer is dalk nou net anders.

Hieroor sê Janet Yellen, Amerikaanse minister van finansies en die vorige voorsitter van die Federale Reserweraad:

“There is no way to protect our financial system and our economy other than Congress doing its job and raising the debt ceiling and enabling us to pay our bills. And we should not get to the point where we need to consider whether the president can go on issuing debt. This would be a constitutional crisis.”

En, soos die Demokraat Jim Himes dit stel:

“The full faith and credit of the United States is the bedrock on which the global financial system is built.”

As die krake in daardie rots begin groter word, gaan die res van die wêreld ook in die gleuwe beland. En in Suid-Afrika se geval gaan ons groeiende vriendskap met China en Rusland nie veel help om ons weer daar uit te kry nie.


Image: ANGELA TUCK

Goeie donder, dis Donderdag!

Dis Donderdag en die naweek is in sig. Jy kan jou hand uitsteek en daaraan raak. Teen Vrydag is die naweek amper al weer ’n spikkel in jou truspieël. Uitsien is dikwels beter as belewenis.

Ek leef my lewe teen fast-forward-spoed. Die oomblik suis verby. Ek gaan haal die bobbejaan agter bult, en die buit. Ek verlang na jou voor jy nog weggegaan het. Teen Vrydag rou ek reeds oor einde van naweek, want as iets eers begin het, is dit so te sê verby. Maar Donderdag is blink, perfek en vol belofte. Die eerste bladsy van ’n kraaknuwe boek.

Op ’n Maandag gaan almal op dieet en besoek die gim. Geen sjokolade of rooiwyn vandag of ooit weer nie. Teen Donderdag het almal opgegee of vrede gemaak met hulle situasie, want ons leef met ’n helse lot pyn in hierdie land, soos in elke land ter wêreld. Óf dit, óf jy het so mooi uitgehou met jou onmenslike regime dat jy darem seker ’n beloninkie verdien?

Terwyl ek hierdie skryf, is dit natuurlik Woensdag, die dag waarvan ek die minste hou. Woensdag is so gemiddeld. Die week raak te lank en tog voel die naweek nog oneindig ver. Maar; môre is Donderdag: so blitsig kan die landskap verander. Ek hou my oë op die horison, soos my persoon wat laasnag uit ’n diepe slaap regop kom met haar hand bokant haar oë soos ’n verspieder, met die ander hand se voorvinger wat in die verte wys, en duidelik sê: “Daardie carb-goedjies!” Ek sien visioene van die happies wat jy by boekbekendstellings kry wat ek bakpoeierbommetjies noem en wat my laat opswel soos ’n koei wat toegang gekry het tot die lusernland. Ek weet om nie in te meng in haar gekompliseerde droomwêreld nie, en sy gaan lê en slaap verder. 

Image: ANGELA TUCK

Donderdag is op pad na opwindende bestemmings – Thursday’s child has far to go, lui die ou gediggie. 

Ek is op ’n Vrydag gebore, sesuur die oggend – gereed vir die naweek, en die pas is aangegee vir die res van my lewe: Daag altyd vroeg op vir alles. Friday's child is loving and giving, glo.

Hierdie daaglikse patrone van uitsien na en opsien teen is vasgelê toe ek skoolgegaan het – daardie lang jare van uiterste verveling – en toe ek daagliks in ’n kantoor moes gaan werk. Nou lyk alles anders: Ek werk dwarsdeur die naweek, met groot vreugde, en skep hier en daar op die ingewing van die oomblik ’n Saterdag.

Donderdag is genoem na die god van donder, Thor, en word gerig deur die mees invloedryke planeet, Jupiter – daarom word dit allerweë as gelukkig beskou.

Groot dinge het op Donderdae gebeur. Volgens Douglas Adams se The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy het die Vogons Planeet Aarde op ’n Donderdag opgeblaas. En op ’n Donderdag in 1752 het Benjamin Franklin sy beroemde eksperiment gedoen wat bewys het dat weerlig en elektrisiteit een en dieselfde ding is.

Gryp jou Donderdag en maak elektrisiteit. 

Terloops, ek kon nie onthou wat Sondag se kind was nie. Ek het gaan kyk en my maggies, sy is familie: And a child that's born on the Sabbath day Is fair and wise and good and gay.


Kom luister, dis gratis

Piet Croucamp praat met Jan Oberholzer,  Khaya Sithole en Chris Yelland. En jy is genooi.

Kliek hier om te registreer.


III. Always for the First Time

We tell our stories of war like stories
of love, innocent as eggs.

But we will meet memory again
at the wall around our city,

always for the first time.

− Gabeba Baderoon

(Uit: “War Triptych: Silence, Glory, Love”, The Dream in the Next Body)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.