Oor kwynende vuur en die knolle onder ons

MAANDAG MET MAX

Oor kwynende vuur en die knolle onder ons

Cyril Ramaphosa is die foksterriër wat die bus gevang het. Wil hy hoegenaamd nog president wees? vra MAX DU PREEZ. Hy skryf ook oor sy 49 jaar in die joernalistiek. En soos gewoonlik is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

  • 15 Mei 2023
  • Daagliks
  • 12 min om te lees

Goeiedag!

1. ’n Senior amptenaar van die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika sê volgens Rapport die VSA het die Suid-Afrikaanse regering al in Desember en deurlopend daarna vrae gevra oor die Russiese vragskip die Lady R, wat die Simonstadse hawe besoek het. In Februarie het die regering aan die besoekende minister van finansies, Janet Yellen, die versekering gegee dat die saak ondersoek word. Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week aangekondig hy gaan nou eers ’n komitee onder die leiding van ’n regter aanstel om klaarheid oor die Lady R te gee. Die militêre spesialis Darren Olivier het gister gesê die Lady R het haar transpondeerder afgeskakel voor sy in Simonstad vasgemeer het, wat ontoelaatbaar is, en dat die regering dus niemand kan verkwalik as hulle agterdogtig oor die besoek is nie.

2. Die oudbaas van Eskom, André de Ruyter, skryf in sy nuwe boek, Truth to Power: My Three Years Inside Eskom, onder meer dat ’n senior polisiebeampte voorkom het dat padblokkades opgestel word op roetes wat steenkoolsindikate gebruik. By ’n ander geleentheid is ’n trok wat só voorgekeer is, laat gaan nadat die polisie ’n telefoonoproep “uit die Uniegebou” ontvang het.

3. Die hoofbestuurder van die Nelson Mandela-stigting, Sello Hatang, is op verpligte verlof geplaas hangende ’n ondersoek na “ernstige aanklagte van ongerymdhede” teen hom.

4. Cyril Ramaphosa en lede van die ANC se dagbestuur het dringende samesprekings met die ANC-leierskap in KwaZulu-Natal gehou om die ineensinking van dienste in die provinsie en veral eThekwini te bespreek. Die party se vinnig tanende gewildheid in die provinsie was ook ter sprake.

5. ’n Türkiyiese moonshot pact? Ses opposisiepartye het gister een kandidaat vir die presidentsverkiesing in Türkiye, Kemal Kilicdaroglu, gesteun om Recep Tayyip Erdogan ná 20 jaar uit die kussings te lig. As hy wen en die opposisiepartye wen in die parlementêre verkiesings, kan dit die land, sy buitelandse beleid en die geopolitiek van die streek drasties verander.


Vandag se weer

Waarskuwings oor ontwrigtende reën en moontlike oorstroming van nedersettings, paaie en brûe in die verre ooste en suidooste van die Oos-Kaap, langs die kus suid van Kaap St. Lucia in KZN en die aangrensende binneland. Gauteng, Mpumalanga en Limpopo: Deels bewolk tot bewolk met verspreide buie en donderbuie. Noordwes: Oggendmis en deels bewolk, later sonnig. Vrystaat: Oggendmis, andersins sonnig tot deels bewolk. Noord-Kaap: Sonnig. Wes-Kaap: Sonnig tot deels bewolk met matige tot sterk suidoostewind oor Kaapstad. Oos-Kaap: Bewolk, later sonnig. Klein kans op reën by Oos-Londen. KZN: Bewolk met verspreide buie en donderbuie met ’n matige tot sterk suide- tot suidwestewind langs die kus.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 19°C • Mahikeng 25°C • Mbombela 20°C • Kaapstad 20°C • Durban 21°C • Kimberley 16°C • Bloemfontein 19°C • Polokwane 21°C • Upington 21°C • Gqeberha 19°C • Oos-Londen 19°C.


Max du Preez | Cyril is sy aptyt kwyt

Dit is seker die mees bespreekte onderwerpe in die binnekringe van die Suid-Afrikaanse politiek, al word dit in sekere kwartiere met fluisterstemme gedoen: Wil Cyril Ramaphosa hoegenaamd nog president wees?

Mense wat hom al lankal ken, praat van sy “lusteloosheid”, sy gebrek aan fokus, die maak van foute wat nie in sy aard is nie.

Ek self het die laaste jaar of drie begin wonder wat van sy kenmerkende vuur en energie geword het. Hy lyk vir my al hoe meer gatvol en geïrriteerd met sy taak. En dan wag die laaste verslae oor Phala Phala nog op hom.

Hy laat my ook al hoe meer dink aan die heelagter wat van ’n besering herstel het en nie meer lus is om die hoë bal te vang met voorspelers wat op hom afstorm of om ’n tromp-op duikslag uit te voer nie en dan net maak asof hy probeer. Maar wat kan hy doen – hy word dan elke keer in die span herkies, en wat sal sy pa sê as hy ophou rugby speel?

Ramaphosa se stamelende, Zuma-agtige antwoord op John Steenhuisen se vrae oor moontlike wapenverkope aan Rusland Donderdag in die parlement, ’n saak van die grootste nasionale belang, is die jongste voorbeeld van sy onbeholpenheid.

Die oudbaas van Eskom, André de Ruyter, skryf in sy pasverskene boek Ramaphosa se bestuurstyl is soos dié van ’n “goedige buiteklub-bestuurder”.

As ek van weddenskappe gehou het, sou ek nou geld daarop gesit het dat hy nie lank ná volgende jaar se algemene verkiesing meer president gaan wees nie. Hy kan kwalik voor dit loop; dit sal katastrofies vir die ANC se kanse in die verkiesing wees.

Dalk gaan hy ’n swak vertoning deur die ANC in die verkiesing as ’n verskoning gebruik om te bedank. Dalk ontwikkel hy hoë bloeddruk.

Van sy jong aktivisdae af was dit Ramaphosa se lewensdroom om eendag die president van ’n vrye, demokratiese Suid-Afrika te word. En nou is hy die foksterriër wat die bus gevang het.

Hy is nie meer herkenbaar as die man wat Cosatu in die vroeë 1980’s aanmekaar gesit het, in 1987 ’n reuse-mynstaking gereël het of ná 1990 kliphard met die Nasionale Party onderhandel het nie.

Sy 16 jaar as sakeman het hom dalk bederf. Dalk het hy gedink om president te wees is soos om ’n CEO te wees: Stel net die regte mense aan en laat hulle die probleme oplos; jy kan maar agteroor sit en jou geld (of jou beeste) tel.

Wat hy beslis gedoen het, is om die verrotting en onderstrome in die ANC te onderskat. Hy het gedink hy baklei net teen Jacob Zuma en sy RET-faksie, maar sy eie faksie was toe nie veel anders as die RET’s nie.

Ramaphosa is ’n skatryk man. Hy word binnekort 71 jaar oud. Hy stel baie meer belang in sy Ankole-stoetery as om in die vuil politiek rond te rol en oplossings vir Suid-Afrika se vele ernstige krisisse te soek, so asof dit benede sy waardigheid is.

Die skrywer Jonny Steinberg het onlangs geskryf dat Ramaphosa Suid-Afrika van ’n katastrofe gered het deur Nkosazana Dlamini-Zuma in 2017 te verslaan.

“But things have moved on. He no longer stands between SA and an abyss. On the contrary, the longer he remains in a job he fundamentally doesn’t want, the more he becomes a part of the problem.”


Image: ANGELA TUCK

Oor hoernaliste, gonzo-joernalistiek, liefde en stormagtige huwelike

Ek was 23 jaar oud toe ek as verslaggewer by ’n koerant aangesluit het. Ek is 49 jaar later steeds ’n joernalis.

Dit is ’n edel beroep, maar een wat in die gemeenskap onderaan die lys van gerespekteerde beroepe staan, selfs laer as prostitute en prokureurs, as ’n mens ’n opname van ’n paar jaar gelede kan glo. (Ek glo dit.)

Ek wou nooit iets anders doen nie. Ek het op hoërskool al besluit ek wou ’n joernalis word. Ek het regte gaan studeer omdat daar nie in die 1970’s joernalistieke kursusse by Afrikaanse universiteite aangebied is nie, maar ek wou nooit ’n prokureur of advokaat word nie.

Die lewe het die afgelope 49 jaar te veel draaie geloop vir my om met enige geloofwaardigheid te kan sê wat my as 23-jarige se sterkste oorweging was om die joernalistiek te kies.

Ek kan seker sê ek wou die waarheid en die demokrasie dien, maar ek dink my liefde en aanleg vir skryf en my romantiese beeld van hardegat-joernaliste was meer prominent: hardebaarde (destyds meestal mans) met ’n fok-jou-houding wat hard drink, hard werk en die lewe op sy lelikste en mooiste ervaar en dan die publiek in roerende prosa daaroor inlig.

’n Soort subkultuur van avonturiers, storievertellers en waarheidsoekers wat ek baie aanloklik gevind het.

Hunter S. Thompson
Hunter S. Thompson

Die Amerikaanse joernalis/skrywer Hunter S. Thompson van gonzo-joernalistiek-faam was so iemand. Dit was die naaste wat ek ooit aan ’n rolmodel gekom het. Briljante, kreatiewe, wilde man.

Ek kan my vandag nog vereenselwig met wat hy van my beroep gesê het: “As far as I’m concerned, it’s a damned shame that a field as potentially dynamic and vital as journalism should be overrun with dullards, bums, and hacks, hag-ridden with myopia, apathy, and complacence, and generally stuck in a bog of stagnant mediocrity.”

Die joernalistiek het my ’n ryk, opwindende en interessante lewe besorg. Ek het die wêreld gesien, ek het onderhoude met baie magtige politici en generaals van hier en elders in Afrika en die Weste gedoen, ek het verskeie oorloë ervaar en lande soos Rwanda, Bosnië-Herzegowina, Serwië en Kosovo kort ná die konflik daar besoek.

Maar bowenal het ek honderde regtig interessante mense, helde en hoere, ontmoet en die gebeure in my eie land van die middel-1970’s tot vandag toe vanuit ’n voorste stoel kon beskou. Ek het die beste en slegste van my mede-Suid-Afrikaners eerstehands ervaar.

Dit was nie alles maanskyn en rose nie. Daar was twee sluipmoordaanvalle op my lewe, my kantoor is opgeblaas, ek was in ’n ernstige vliegtuigongeluk, ek is twee keer summier afgedank, ek het ’n lang kriminele rekord en ek was soms baie arm.

Dis ’n bietjie soos ’n stormagtige huwelik met ’n vrou vir wie jy vreeslik lief is.

Foto regs: Die span van Special Report oor die WVK (agter van links): Jann Turner, Hanné Koster, Linky Bierman, Gael Reagon, Nantie Steyn en Max du Preez. Voor: Anneliese Burgess.
Foto regs: Die span van Special Report oor die WVK (agter van links): Jann Turner, Hanné Koster, Linky Bierman, Gael Reagon, Nantie Steyn en Max du Preez. Voor: Anneliese Burgess.

Ek het wonderlike ervarings in radio en televisie gehad, veral Special Report oor die WVK en Special Assignment, maar in my hart was en is ek eintlik ’n koerantman. Wat ons vandag by Vrye Weekblad 3.0 doen, maak my baie gelukkig en dankbaar.

My nostalgie vir joernalistiek is die naweek geprikkel toe ek weer na Steven Spielberg se film The Post op Netflix gekyk het. Dit gaan oor die drama van The Washington Post wat in 1971 besluit het om die verdoemende Pentagon Papers oor die oorlog in Viëtnam te publiseer nadat The New York Times reeds deur die hof verbied is om dit te doen. Tom Hanks is die beroemde redakteur Ben Bradlee en Meryl Streep die formidabele eienaar, Katharine Graham.

Dis Hollywood, ja, maar gee ’n mens tog ’n realistiese kykie in die binneste van ’n koerant en die besluite wat soms geneem moet word.

Die publikasie van die Pentagon Papers het die Post beroemd gemaak en ’n kultuur in die Amerikaanse perswese verander waar redakteurs en eienaars intieme vriende met senior politici was. Die destydse minister van verdediging, Robert MacNamara, was een van Graham se beste vriende, terwyl Bradlee huisvriende van JF Kennedy was.

Hier by ons was dit ook so. Ek het in 1974 by Die Burger begin werk en is kort daarna na die eerste redaksie van Beeld verplaas. Die redakteurs en politieke skrywers was almal gabbas en drinkebroers van die NP-binnekring en op een na, sover ek weet, lede van die geheimsinnige Broederbond. Daarna, in 1982, was ek die politieke redakteur van die Financial Mail met die redakteur, Stephen Mulholland, wat in die binneste binnekring van die Engelssprekende geldbase was, en toe politieke korrespondent van Sunday Times, met die redakteur, Tertius Myburgh, wat huisvriende van die top-Natte én die sakebase was.

[Nelson Mandela] was baie kwaad vir my toe ek oor sy destydse vrou, Winnie, se wandade berig het. Sorry, oubaas, you win some, you lose some.

Dit het my altyd dwars in die krop gesteek en ek het, tot my eie nadeel, herhaaldelik hierteen in opstand gekom. Ek het nog nooit ’n sosiale verhouding met enige senior politikus, sakeleier of amptenaar gehad nie – dis in elk geval nie my dam se eende nie. As ek probeer het, sou dit nie lank gehou het nie, want ek sou hulle gebrand het as hulle droogmaak en ek sou nooit die geheime kon hou wat hulle met my deel nie.

Die een politikus wat ek by sy huis ontmoet het, was Nelson Mandela, wat my vir tee genooi het vier dae ná sy vrylating in 1990. Hy het later mooi goed oor my in die openbaar gesê, maar was baie kwaad vir my toe ek oor sy destydse vrou, Winnie, se wandade berig het. Sorry, oubaas, you win some, you lose some.

Praat van geheime. Ek weet vir ’n feit dat my destydse base by die ou Naspers-koerante en hulle politieke korrespondente die stories van die Inligtingskandaal in die laat-1970’s deeglik geken het, maar hulle het daaroor geswyg en toegekyk hoe die Rand Daily Mail en die Sunday Express dit stukkie vir stukkie openbaar gemaak het – hulle het soms self saam met die NP probeer om dié verslaggewing verdag te maak.

Links onder: Redaksielede van die oorspronklike Vrye Weekblad, afgeneem deur die tydskrif Style in 1988. Voor is Karien Norval, Max du Preez, Elsabé Wessels en Chris du Plessis. Agter is Jacques Pauw en Victor Munnik.
Links onder: Redaksielede van die oorspronklike Vrye Weekblad, afgeneem deur die tydskrif Style in 1988. Voor is Karien Norval, Max du Preez, Elsabé Wessels en Chris du Plessis. Agter is Jacques Pauw en Victor Munnik.

Toe ons by die oorspronklike Vrye Weekblad Dirk Coetzee se stories van die polisie se bloedige Vlakplaas-moordbende gepubliseer het, het die Afrikaanse koerante en die SAUK aktief aan die staat se propagandaveldtog deelgeneem om ons (en vir Coetzee) te diskrediteer, met leuens wat hulle gewéét het is leuens.

Die Suid-Afrikaanse media is deesdae op ’n veel beter plek, hoewel die Guptas se avonture met ANN7 en The New Age en Iqbal Survé se stelselmatige vernietiging van eens trotse koerante laagtepunte is.

Ek lees gereeld op sosiale media en elders dat die “hoofstroommedia” nie te vertrou is nie en almal donker agendas het. Van die mees eerbare, etiese en dapper mense wat ek in my lewe ontmoet het, was joernaliste. (Daar was/is ook ’n paar knolle, waar watter beroep het dit nie? Ons moet dié ouens net self uitwys.)

Die meeste joernaliste is mense wat ’n stryd voer om jou in te lig oor wat in jou wêreld aangaan en om jou regte te beskerm deur dié in magsposisies verantwoordbaar te hou.

Help asseblief om hulle ook te beskerm as hulle onder druk kom.

Groetnis
Max


All day I watch the cooking shows, perhaps
for the company of the colours. I have slow
apricot memories. I think I seek in them
a grandmother and a kitchen heavy
with years. I think I watch

for beginnings, perhaps all beginnings.
A girl learning to keep from crying
when she slices an onion, when
she remembers the country she has left.
All day I watch to keep from crying.

– Gabeba Baderoon

(Uit: The Dream in the Next Body)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.