Dis moeilik om die ANC se rol in die drinkwater mis te kyk

WOENSDAG MET WILLEM

Dis moeilik om die ANC se rol in die drinkwater mis te kyk

WILLEM KEMPEN wonder hoeveel dinge daar is wat Thandi Modise nie weet nie, en soos altyd is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre


1. ’n Organisasie wat hulleself die Hammanskraal Lawyers Association noem, beplan om ’n groepseis teen die Stad Tshwane en die provinsiale gesondheidsdepartement in te stel weens die dodelike cholera-uitbraak in die area.

2. Terwyl Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, gister in die parlement volgehou het dat niks in Desember op die Russiese vragskip Lady R gelaai is terwyl dit in die Simonstadse vlootbasis vasgemeer was nie, het die ANC-LP Thabo Mmutle volgehou dat besonderhede van die vrag as “geklassifiseer” beskou moet word. “I will reiterate what I said [in a previous media interview]: We put fokol on that ship. Nothing,” het Modise gesê nadat sy toestemming gekry het om dié woord in die parlement te gebruik.

3. Oekraïne se minister van buitelandse sake, Dmytro Kuleba, het met ’n toer van Afrikalande begin in ’n poging om die Russiese diplomatieke invloed op die vasteland teen te werk. Kuleba het gesê sy grootste prioriteit is om Afrikalande aan te moedig om pres. Volodymyr Zelensky se vredesplan te ondersteun.

4. Pogings wat deur die VSA en Saoedi-Arabië gelei is om ’n skietstilstand in Soedan te bewerkstellig, is gister vir die soveelste keer verydel toe ’n reeks ontploffings Khartoem geruk het. Die gevegte in Soedan is nou al vir langer as vyf weke aan die gang.

5. Die voormalige Elle-rubriekskrywer E. Jean Carroll gaan ’n vroeëre lastereis teen Donald Trump wysig om ook van die oudpresident se uitlatings in te sluit ná die geding waarin ’n jurie op 9 Mei skadevergoeding van $5 miljoen aan haar toegestaan het. Trump het op ’n sogenaamde “town hall”-byeenkoms wat deur CNN aangebied is, onder meer gesê Carroll is ’n whack job”. Die betrokke saak, wat nog hangende is, kom uit 2019 en is afsonderlik van die een wat onlangs beslis is.


Kyk weer ...

Toestande wat ’n hoë brandgevaar inhou, kan in Upington en die omliggende gebiede verwag word. Intussen sal ’n kouefront môre die Weskus tref en selfs temperature in die Oos-Kaap beïnvloed. Daar is ook ’n kans vir swaar reën oor die Kaapse metropool en Wynlande. Die binneland kan vandag koel tot matige toestande verwag. Oggendmis kan verwag word in Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en die Kaap-provinsies. Behalwe vir Gauteng, sal die voorafgenoemde ook deels bewolk wees.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 23°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 26°C • Mbombela 22°C • Bloemfontein 22°C • Polokwane 24°C • Kimberley 25°C • Upington 30°C • Kaapstad 18°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 24°C • Durban 25°C.


Willem Kempen | Geen party kan hulle hande was aan dié walgwater

Benewens in Hammanskraal is cholera-gevalle nou ook al aangemeld in minstens Parys, Vredefort en Kroonstad. Dis eintlik verbasend dat die lys nie veel langer is nie, want cholera is die amper onvermydelike gevolg van die vrotsige of selfs afwesige watersuiwering en rioolverwerking wat so alledaags op soveel plekke in die land geword het. Dis al lankal nie meer vreemd om te hoor van ’n plek waar riool in ’n rivier gepomp is nie. Maar Hammanskraal is buitengewoon erg, en die probleem daar kom al ’n buitengewone lang pad aan.

Watersuiwering en rioolverwerking kom dikwels tot stilstand wanneer daar ’n natuurramp soos ’n aardbewing of ’n vloed is, of as daar ’n oorlog woed. In Suid-Afrika se geval is daar ’n ander gemeenskaplike faktor: die ANC. Dis nie toevallig nie dat die “sakeman” Edwin Sodi – die ANC-weldoener wat ook sy vingers saam met Ace Magashule in die Vrystaatse asbes-skandaal gehad het – se naam reeds in 2021 genoem is in verband met die verdwene R295 miljoen wat veronderstel was om vir die opgradering van die Rooiwal-suiweringsaanleg te help betaal.

’n Kamtige gebrek aan geld word nou al so te sê twee dekades gebruik as verskoning vir Hammanskraal se besmette water, maar tot vandag toe is daar nie rekenskap gegee van daardie R295 miljoen of waarom feitlik geen werk oënskynlik in ruil daarvoor gedoen is nie.

Die Menseregtekommissie het ook reeds in 2019 verklaar dat Hammanskraal se water ongeskik vir menslike gebruik is – dis trouens meestal nie eens geskik vir diere of vir die besproeiing van gewasse wat rou geëet word nie.

Herman Mashaba, wat self in Hammanskraal grootgeword het, se ActionSA het in 2021 sy eie kommissie aangestel om die gebied se vrot water te ondersoek. Dis gelei deur prof. Jonas Letsoalo, en die verslag daaroor verwys onder meer na die Tshwane-metroraad as “insensitive, irresponsive, non-transparent, unaccountable and marked by delinquent inertia on the water crisis in Hammanskraal”.

Die verslag is oorhandig aan die destydse DA-burgemeester, Randall Williams, wat onderneem het om die opgradering van Rooiwal af te handel en gesê het dis die sleutel tot ’n blywende oplossing. Terselfdertyd het ActionSA se verslag die hele kwessie selfs meer verpolitiseer, tot op die punt waar al wat politieke party is gister oor hulle voete geval het om vingers te wys oor wie se skuld dit is dat Hammanskraal se water gevaarliker as ooit tevore is.

Tussen aktief meedoen aan korrupsie aan die een kant, en “delinquent inertia” aan die ander, kan mens nie anders nie as om te dink dié partye moet álmal hulle deel van die skuld kry.


Image: ANGELA TUCK

Anderkant die ANC wink so baie dinge wat gemaak werk kan word

Die dowwe gedoef van kanonskote in die verte is gewoonlik nie ’n goeie ding om mee wakker te word nie, maar dit kan vreemd gerusstellend wees as jy soos ek naby ’n artillerieskool woon. Klompie jare gelede nog het mens gereeld snags of vroeg soggens die ontploffings gehoor, maar deesdae is dit nogal seldsaam.

Gerusstellend, want dit laat mens dink daar is darem nog lewe in die weermag. Ons hét nog kanonne, ons hét nog ammunisie vir hulle, ons hét nog mense wat weet hoe om hulle afgevuur te kry sonder om Eie Magte op te blaas in die proses (sover ek weet, in elk geval).

Maar dan wonder jy: Hoekom juis nou? Het die nuwe begroting vir die jaar ingeskop, of word daar geoefen vir een of ander nuwe gevaar iewers waarvan die res van ons nog nie weet nie? Is dit regtig ’n prioriteit vir ons gehawende leër om ingeoefen te wees op kanonne wat ’n teiken 40 km weg kan tref? Of is dit eintlik die plaaslike ammunisiefabriek wat daar aan die toets is aan produkte wat hulle iewers heen gaan uitvoer?

Letterlik af in die straat van my huis af is ’n kruising waar drie wêrelde bymekaar kom. Op een hoek, die een punt van die weermagbasis. Oorkant die straat na die ooste, die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit. Na die suidooste, ’n drieverdieping-woonstelkompleks, een van die menigte in ’n buurt vol studentebehuising waar boontoe gebou moet word omdat grond so skaars is. Op die vierde hoek, sportvelde wat ook aan die universiteit behoort.

Aan drie van die vier kante van daardie kruising is die grond ontwikkel om die beste daarvan te maak. Selfs die sportvelde is glo eintlik net ingerig sodat dit nie braak lê totdat daar eendag goedkeuring is om ’n mediese fakulteit daar te begin nie. Grond is kosbaar en niemand kan bekostig dat dit onbenut bly nie.

Image: © DefenceWeb

Behalwe aan die weermag se kant. Dáár is g’n teken van ontwikkeling of vooruitgang nie. Net oop stukke veld; hier en daar ’n oorgroeide paradegrond; ’n klompie vervalle bungalows met stukkende ruite waarin dienspligtiges eens op ’n tyd vir ’n klompie maande op ’n slag gebly het; ’n skuur of twee waar ’n paar Samils staan en verroes. Verder na die noorde is daar ’n paar eenhede wat wel nog funksioneer, soos die skool vir taktiese inligting waar mens nog soms soldate vir kursusse sien opdaag, maar na die suide gaan daar omtrent niks aan nie. Selfs die rugbyvelde word bitter selde op gespeel.

Ek wonder of selfs ons pelotons vol generaals en admirale eens naastenby weet hoeveel grond die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag besit, nog minder hoeveel daarvan behoorlik of selfs enigsins benut word, of hoeveel vir iets anders gebruik kan word. Ditto die minister van verdediging.

Enorme stukke grond in staatsbesit oral in die land waarop niemand meer leer hoe om oorlog te maak of vrede te bewaar nie, maar wat ook nie gebruik word om op te boer of om huise of fabrieke of skole op te bou nie.

Dink net wat is al hierdie grond dalk in die regte hande werd. Dink net wat kan ’n bekwame staat doen met die opbrengs op die verkoop daarvan. Dink net as ons ’n deel van daardie geld kan gebruik om ’n kleiner maar effektiewe professionele weermag te bou wat ons viswaters en landsgrense kan patrolleer en almal weghou wat nie daar mag wees nie.

Dink net as ons ’n regering gehad het wat al hierdie dinge kon laat gebeur.


Selkie Weaning Young

Finding her hide we trailed                                     
fingers down then against              
grains of fur thrusting shoulders into its waxy skin. 

                                                                This is how she found us
                            the past draped about us like a cloak 
hands separating peach halves from a core. 

                                   Her form in the sound 
a pandan leaf peeking through milk. The only seals in Vietnam:                                                                      American men with green faces.

– Diana Khoi Nguyen


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.