Here comes a thing, liewe vriende!

DONDERDAG MET DEBORAH

Here comes a thing, liewe vriende!

MAX DU PREEZ is opgewonde oor môre se volledige Engelstalige uitgawe van Vrye Weekblad, DEBORAH STEINMAIR skryf oor die katjies van die tennisbaan, en soos altyd is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre!

1. Gemiddelde pryse het in April vir die eerste keer sedert Januarie stadiger gestyg as die vorige maand, blyk uit syfers van Statistieke Suid-Afrika wat gister uitgereik is. April se syfer was 6,8%, teenoor Maart se 7,1%. Dié daling in die inflasiekoers is waarskynlik nie genoeg om die Reserwebank te keer om vanmiddag omstreeks 15:00 aan te kondig dat die amptelike uitleenkoers vir die tiende agtereenvolgende keer sal styg nie.

2. Die DA en groepe soos Solidariteit het opnuut beswaar gemaak teen die voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming (E.E.) en gesê dis afgejaag en vol foute, gebou op “drakoniese rassekwotas” en gaan noodwendig veroorsaak dat duisende wit, bruin en Indiër-mense hulle werk verloor. Die Grondwetkenner prof. Pierre de Vos het op sy blog geskryf die Wysigingswet is 'n “incoherent mess", maar dat die DA en Solidariteit se syfers oor werkverliese op verskeie onjuisthede berus.

3. Die amptelike dodetal weens die cholera-uitbraak in Hammanskraal het tot 17 gestyg en altesame 67 pasiënte is in die hospitaal met die siekte, het die Gautengse departement van gesondheid gesê.

4. SA Rugby het voorgestelde salarisperke vir sy franchises goedgekeur, maar dit moet nog deur MyPlayers, die spelers se  verteenwoordigende liggaam, goedgekeur word. MyPlayers vergader môre oor die hersiene regulasies, wat R85 miljoen vir 'n maksimum van 53 spelers toelaat, asook vier bykomende aanstellings wat aan 'n franchise beweegruimte sal gee om buitengewone talent te lok.

5. Dirk Schreiber, voormalige uitvoerende direkteur van Steinhoff Europe Group Services, het in die streekhof in Oldenburg in Duitsland erken dat hy geweet het van fiktiewe transaksies wat wederregtelik in die maatskappy se boeke aangeteken is. Dit is die eerste keer dat 'n Steinhoff-topbestuurder so 'n erkenning doen.


Weersake

'n Kouefront sal vandag oor die  binneland van die Wes-Kaap en die suidelike hoogliggende gebiede van die Namakwa-streek in die Noord-Kaap beweeg met nat, koue toestande wat later vandag en môre die Oos-Kaap kan bereik. Daar is ook 'n waarskuwing oor swaar reën wat tot oorstromings kan lei oor die suidwestelike dele van die Wes-Kaap. Oggendmis kan oor Gauteng en Mpumalanga verwag word, asook Limpopo, waar dit – soos in Noordwes en KZN – deels bewolk kan wees. Geïsoleerde buie en donderbuie word in die Vrystaat en die Noord- en Oos-Kaap verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 26°C • Johannesburg 25°C • Mahikeng 29°C • Mbombela 24°C • Kaapstad 14°C • Durban 28°C • Kimberley 28°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 25°C • Upington 24°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 25°C.


Max du Preez | Ex Afrika(ans) semper aliquid novi

Vrye Weekblad stel môre 'n volledige Engelstalige uitgawe bekend. Dit maak van ons die enigste werklik tweetalige koerant in die land.

Die Afrikaanse webwerf bly dieselfde, hoewel dié van julle met 'n skerp oog 'n paar ontwerpveranderinge sal sien. Ons begin ook met 'n gereelde stuk wat dinge verduidelik, handige inligting deurgee of feite nagaan: Feit van die Saak.

Maar die groot verandering is dat mense wat nie Afrikaans kan lees nie, nou ook toegang tot ons inhoud kan hê.

Ons het die laaste paar maande agtergekom nie-Afrikaanssprekers gebruik Google Translate om ons artikels te vertaal. Maar dié sagteware verstaan nie idiomatiese Afrikaans of die fyn gebruik van woorde nie, en begaan soms liederlike foute.

Ons gebruik nou wel ook kunsmatige intelligensie om uit Afrikaans te vertaal, maar dan sit ons die artikel eers deur die meule: word die regte betekenis weergegee, weerspieël dit Afrikaansismes korrek? En dan gaan dit na 'n professionele Engelse subredakteur voor ons dit plaas.

As jy na vryeweekblad.com gaan, sal jy 'n knoppie sien waarop jy kan kliek om op die Engelse blad te beland.

Image: ANGELA TUCK

Ons het natuurlik 'n kommersiële oorweging ook om tweetalig te word – gehalte-joernalistiek sonder stories oor celebrities, sosiale skandale, gister se grusame misdaad en dramas op die sportveld het in Suid-Afrika maar 'n beperkte mark.

Ons gaan juis later vanjaar lesers vra om vir abonnemente te begin betaal. Ons was tot dusver gratis om Vrye Weekblad 3.0 (weg van Arena Holdings) ver en wyd bekend te stel, en dit het goed gewerk. Ons sal julle betyds van dié planne inlig.

Ons leserskap het só uitgebrei dat ons nie juis meer as 'n “nispublikasie” of 'n “alternatiewe koerant” geklassifiseer kan word nie, en ons het dit reggekry sonder om populisties of sensasioneel te word.

Maar in die eerste plek reageer ons op 'n aangevoelde behoefte van nie-Afrikaanses om toegang tot ons soort joernalistiek te kan hê.

Van die oorspronklike Vrye Weekblad van 1988 af was ons altyd effens anders; meer onafhanklik van druk van eienaars, adverteerders en drukgroepe; meer disrespekvol teenoor mense en magte met invloed en geld van alle kante van die spektrum; meer gesteld op goeie skryfwerk; meer onideologies; minder voorspelbaar.

Ons neem ons motto van Dink vir jouself ernstig op. Ons gee gestalte aan die konsep van 'n Markplein vir idees sonder om ons basiese aktivisme téén rassisme, seksisme en homofobie, en vír grondwetlikheid, demokrasie en persoonlike vryheid op te offer.

En, sonder om oor ander gehalte-publikasies te wil skinder, ons verveel nie ons lesers nie.

Dit geld nie net ons politieke en aktuele ontleding nie, maar ook ons hoogaangeskrewe boeke-afdeling en ons fokus op geestes- en fisieke gesondheid, kultuur en leefstyl.

En nou kan jou Engelstalige kollegas en vriende saamlees. Laat weet hulle gerus van ons nuwe Engelse aanbieding.

As daar van julle is wat nie die opskrif verstaan nie, dit kom van die befaamde sêding van die Romeinse filosoof Gaius Plinius Secundus: Ex Africa semper aliquid novi – daar is altyd iets nuuts uit Afrika.


Image: ANGELA TUCK

Katjies van die baan

Ek kyk graag sport en soos wanneer ek lees, is ek ingestel op karakters. Ek moet vierkant aan iemand se kant wees. Tennis is by uitstek ’n sportsoort waar jy mense kan dophou; en nie net die spelers nie. Die fanatiese ma in die pawiljoen, met te veel oogpotlood. Die senuwrak van ’n afrigter wat boonop nou en dan vanaf die baan uitgeskel word. Die popperige kinderbruid wat verveeld lyk. Die arme skeidsregter, wat ook soms uitgevloek word.

En dan die spelers. Met die kamera wat inzoem kan jy tot die mikro-uitdrukkings waarneem. Almal wil deur die skare bemin word, wil as ’n goeie ou beskou word. Behalwe miskien Nick Kyrgios – dit lyk asof hy ’n veer voel. En onder soveel druk kan niemand voorgee nie.

Djokovic, wat onder sekere van my vriende geliefd is, stoot my af. Sy toewyding en dissipline is sekerlik bewonderenswaardig, maar hy kan sy reptielaard nie wegsteek nie. Sy oë flits soos ’n roofdier of likkewaan s’n. Soos die grys hond van die djin. Soms uiter hy ’n rou kreet waartydens hy vir my na ’n eeue oue heks lyk. Selfs sy klein, dunlippige, triomfantelike glimlaggies gril my.

My liefling van alle tye is Rafael Nadal. Hy straal suiwerheid en edelheid uit. Hy word net ooit vir homself kwaad nie, en ook nie spektakelagtig nie. As hy fokus en gevaarlik probeer lyk, lyk hy soos ’n hasie wat konsentreer.

Nou is daar, soos dit maar gaan, ’n spul jongetjies. Een wat vir my na die Klein Prinsie lyk, het opgeskiet tot boontjierank. Hy dra baie goue bling en het al so kwaad geword dat hy die skeidsregter se stellasie met sy raket bygedam het. Geen liefling van my nie.

Die jong Spanjaard wat aandag trek, lyk vir my soos ’n seun wat gesukkel het om houtwerk (die teorie) deur te kom. Sy mond kan maar nie toe bly nie, sy voorkop is laag en sy haarlyn agter in die nek gaan tot by die blaaie. Maar hy lyk na ’n aangename seun en speel opwindende tennis.

Ek is ambivalent oor Stefanos Tsitsipas. Hy het hom al swak gedra, maar hy lyk soos liewe Jesus of soos die lang dogter met haakneus wat op skool gedigte geskryf het omdat sy nooit dates gekry het nie. Sy pa is ’n silwer Griekse vos met veel te sê. Sy ma, vind ek nou die dag uit, is Russies. Sy was ook op die pawiljoen, blond en bleek met ’n rosigheid, rosacea, vermoed ek, op die wange. Sy het die pawiljoen verlaat nadat Tsitsipas op haar geskel het om nie vir hom aanwysings in Russies te gee nie – sy opponent was die Rus Medvedev.

Oor Medvedev is ek ook ambivalent. Hy is ’n geraamte met ’n baardjie wat ’n bietjie na ’n vrou se uitwendige geslagsorgaan lyk, so ’n graspol. Hy het ’n groot voorkop en kieriebene. Hy het, veral vroeër, sy oë gerol soos ’n drama queen en sy span ten hemele gevloek as iets skeefloop. Dit lyk soms asof hy homself in woede middeldeur wil skeur soos Repelsteeltjie. Hy kan hase uit die hoed pluk, maar ek is nie aan sy kant nie.

Nou is daar ’n sakgrootte- Matt Damon met ’n agterstevoor keps waar ’n weerbarstige spriet kuif uitpeul, ’n regte klein testosteroonbom wat die bal baie hard en baie sekuur moker. Hy lyk vir my hiperaktief en saggeaard. Miskien word hy my nuwe speler.

Om aanskoulike tennis te speel, is nie genoeg nie – almal op daardie vlak kan toor met ’n raket. Jy moet my verbeelding aangryp en my laat glo jy het diepte en edelheid. Pot, stel en wedstryd.

Moenie my vra oor vrouetennis nie. Ek kan die gille nie hanteer nie.


o lyf. o liggaam

daar is geen eggo van lied
geen soom van lig
geen nabyste klank of sleutelbeen van sterre
wat jy nie oor die jare na my toe bymekaargemaak het nie

nou, hier in my sewentigste jaar
draai my ore na binne en vind tekens
dat jy besig is om ons te verlaat

in die paar jare wat oor is
moet ons ons vestig in vrede
ons vreugdevol plooi en krimp terwyl ons kyk
lank en eerbiedig soos ’n oudagmens moet kyk
na die brandend ondergaande son

– Antjie Krog

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.