Caffè cantata

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Caffè cantata

ANNELIESE BURGESS deel feite oor koffie wat sy onlangs eers self uitgevind het en doen soos gewoonlik ’n paar dit-en-dat-aanbevelings.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek groet julle vandag van Qolora, 'n beeldskone spikkel aan die Wildekus. Die huisie waarin ek bly, is nie veel meer as twee aanmekaargelapte rondawels met 'n skewerige stoep nie.  

Dit was nog pikdonker toe ek halfvyf vanoggend my Bialetti Moka-pot op die gasplaat gesit het vir die eerste koppie koffie van die oggend. Ek is mal oor dié stil, alleen ure voordat die wêreld wakker word, en dit gaan vir my hand aan hand met die ritueel van koffiemaak.

Koffie op die stoep (met ’n plastiekdinosourus wat ek op die strand opgetel het).
Koffie op die stoep (met ’n plastiekdinosourus wat ek op die strand opgetel het).

Tot onlangs het ek meestal 'n koffiedompelpot gebruik, want ek is gewoonlik te ongeduldig om te wag vir die prut-prut-prut van 'n pot op die stoof. Tydens my onlangse besoek aan Italië het ek 'n klein koffie-ontwaking ervaar wat my nou weer my Bialetti laat gebruik (ten minste vir die eerste koppie van die oggend).

In die kombuis van die huis waar ons in Italië gebly het, was daar net die tradisionele Italiaanse gereedskap vir koffiemaak – twee kleinerige mokkapotte en een met 'n dompelmeganisme waarmee jy skuim maak vir cappuccino.

Elke koppie koffie wat ek die twee weke in Italië gedrink het, was vir my 'n openbaring. Of dit nou om die kombuistafel in ons huurhuis was of in 'n bar, caffè of pastìcceria. Die espresso was konsekwent sonder enige bitterheid of asiditeit, net 'n volronde, romerige rokerigheid.

Toe ons met ons sakke kruideniersware op Filicudi van die veerboot afgeklim het, was daar 'n hele paar blikke Illy-koffie tussen die bone en botter. En daardie koffie, gemaak in die mokkapot, was baie naby aan perfeksie.

Koffie en Italië.
Koffie en Italië.
Image: ANNELIESE BURGESS

Ek het aanvanklik gedink dit is maar die vakansiegees wat die koffie so verstommend heerlik laat proe, maar ná 'n bietjie oplees weet ek nou daar is goeie redes hoekom Italiaanse koffie so lekker is (die koffiesnobs onder julle gaan nou lag oor hoe min ek tot nou toe geweet het 😆).

Eerstens, die mees vanselfsprekende feit, gaan dit oor hoe die bone gerooster word. Groen koffiebone het min smaak, maar deur 'n verhittingsproses word suikers, aminosure en essensiële olies vrygestel wat dan die smaak, kleur en aroma van koffie beïnvloed.

Italianers verkies medium- tot donker geroosterde koffie omdat hulle koffiekultuur om espresso draai. Donkerder geroosterde koffiebone is meer poreus en maak dit makliker om geur te onttrek, wat noodsaaklik is as jy 'n espresso wil maak binne die 25 sekondes wat die meeste espressomasjiene daarvoor toelaat.

Die twee groot handelsmerke in Italië is Illy en Lavazza. Illy gebruik net Arabica-bone, terwyl Lavazza ook Robusto bysit. Arabica-bone is duurder en het 'n gladder, soeter, delikater smaak met note van sjokolade, vrugte en bessies (aha!). Robusta, daarenteen, het 'n sterker, bitterder smaak met aardse en rubberagtige botone en bevat ook meer kafeïen (dubbel-aha). Nou verstaan ek hoekom ek al so baie aaklige, bitter koffie in my lewe gedrink het, want hoe minder Arabica, hoe goedkoper die koffie. Maar bygesê, dit is alles 'n kwessie van smaak. Daar is mense wat hou van die bitter van Robusto.

In my rondsnuffel na inligting vir dié brief kom ek af op 'n paar ander interessante staaltjies oor die Italiaanse koffiekultuur.

Koffie in Milazzo.
Koffie in Milazzo.

Wanneer Italianers by 'n koffiewinkel espresso drink of koffie by die huis voorsit, volg hulle die sogenaamde “galateo del caffè". Dit is die koffie-etiket waarvolgens koffie in porseleinkoppies met 'n piering voorgesit word. En ná my oplesery weet ek nou ook hoekom daar in Italië gewoonlik 'n glasie water saam met die koffie kom (om jou palet te reinig vóór jy jou espresso afsluk) en ook hoekom daar 'n teelepel of roerstokkie by is (nie noodwendig vir suiker nie, maar om die geure en aroma van 'n espresso te meng; en die korrekte manier is van bo na onder sonder om aan die kante van koppie te raak).


'n Laaste staaltjie: “Caffè sospeso" (Italiaans vir “opgeskorte koffie”) is 'n tradisie wat in die werkersklasbuurte van Napels ontstaan het. As jy 'n sospeso bestel, betaal jy vir twee koppies koffie, maar ontvang en drink net een. Iemand wat dit nie kan bekostig om 'n koppie koffie te koop nie, kan navraag doen of daar 'n sospeso beskikbaar is en ontvang dan 'n koppie gratis koffie. Is dit nie lieflik nie?

Die ander rede hoekom die koffie in Italië vir my so lekker was, het natuurlik met die espresso-basis te doen. En 'n espresso maak jy nie in 'n dompelpot nie – dit is die Franse styl. Die maklikste espresso by die huis is in 'n mokkapot op die stoof.

En dit is hoe ek nou my eerste en tweede koffie soggens maak. In my Bialetti met die koperbodem, op 'n nie te hoë vlam sodat die koffie nie bitter brand nie. En terwyl ek wag vir die espresso, maak ek skuimende warm melk in die melkskuimer wat die einste koffiesnob-maatjie ná Italië vir my laat aflewer het (ja, ook 'n Bialetti!). 

En só sit ek vanoggend hier op die stoep, met die reuk van dekgras en die see. My koffie proe na heuning en rook. Dit is donker en stil. Oor 'n uur sal die eerste lig oor die horison begin uitsypel. 

Salige Sondag. 

Anneliese


Love Comes Quietly

Love comes quietly, 
finally, drops
about me, on me, 
in the old ways.

What did I know
thinking myself
able to go alone
all the way.

– Robert Creeley 


Kyk hierna

Koswenk

Van Epicurious: die beste manier om avokado's te bêre.

Lees-kyk

'n Uitstekende visuele gids tot die 25 grootste stedelike parke in die wêreld.

Luister

Ná my Sondag-brief verlede week waarin ek oor oorlog en papawers geskryf het, het Johann du Toit The Fureys se weergawe van  “The Green Fields of France" aanbeveel:

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.