Parlement sê ja vir nasionale gesondheidsversekering

WOENSDAG MET WILLEM

Parlement sê ja vir nasionale gesondheidsversekering

WILLEM KEMPEN hoop op meer dringendheid oor Agoa en Suid-Afrika, en oorweeg ’n ambassadeurspos in die buitenste ruimte. Plus sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 14 Junie 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre


1. Die Nasionale Vergadering het die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) aanvaar. Die wetsontwerp gaan nou na die Nasionale Raad van Provinsies, waarna provinsiale openbare verhore daaroor gehou sal word voordat pres. Cyril Ramaphosa dit sal kan bekragtig. Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het dit een “een van die mees revolusionêre" stukke wetgewing sedert demokrasie genoem.

2. Busisiwe Mkhwebane, geskorste openbare beskermer, het opnames bekend gemaak ter steun van haar bewerings dat onder andere die ontslape ANC-LP Tina Joemat-Pettersson omkoopgeld wou hê om die artikel 194-ondersoek na haar geskiktheid vir die pos in die wiele te ry.

3. Telkom, Suid-Afrika se derde grootste selfoonoperateur, gaan vir ’n vierde jaar nie dividende uitkeer nie nadat die maatskappy die afgelope boekjaar ’n verlies van meer as R10 biljoen gely het. Telkom se totale markwaarde is nou minder as R16 biljoen.

4. Suid-Afrika se hoop om in 2024 weer ’n Formule 1- Grand Prix aan te bied is net tydelik van die baan en nie heeltemal daarmee heen nie, het Anton Roux, voorsitter van Motorsport Suid-Afrika en ook ’n senaatslid van die FIA, aan News24 bevestig. So ’n moontlikheid het vroeër skipbreuk gely weens die FIA se besware teen Suid-Afrika se bande met Rusland.

5. Die Universiteit van Pretoria het bevestig dat prof. Tawana Kupe, visekanselier en rektor, bedank het en die pos volgende maand sal verlaat. Kupe se termyn sou in Januarie volgende jaar eers eindig.

6. Die genoteerde beleggingsbeheermaatskappy Brait van die magnaat Christo Wiese wil teen die einde van volgende jaar van R17,2 biljoen se bates ontslae raak om waarde vir aandeelhouers te probeer ontsluit. Dit kan onder meer beteken dat Brait se Virgin Active afsonderlik op die JSE genoteer word.

7. Die minderheidsaandeelhouers in die Takatso-konsortium het die Mededingingskommissie se voorwaarde aanvaar dat hulle van hulle aandele ontslae raak. Dit beteken dat Takatso se transaksie met die SAL dalk kan voortgaan, het News24 berig.


Daar is waarskuwings oor sterk wind wat vandag dele van die Wes-, Noord-, en Oos-Kaap kan raak. Dan kan die Wes-Kaap ook swaar reën verwag wat tot oorstromings kan lei, veral in Kaapstad en die Kaapse Wynlande. Moet ook nie vergeet van die opeenvolgende kouefronte wat môre die Kaapprovinsies gaan tref nie. Die noorde van die land het vandag sonnige weer en sal koel wees, behalwe vir KZN, wat warmer sal wees.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 18°C • Johannesburg 14°C • Mahikeng 21°C • Mbombela 24°C • Bloemfontein 17°C • Polokwane 22°C • Kimberley 20°C • Upington 20°C • Kaapstad 14°C • Gqeberha 19°C • Oos-Londen 21°C • Durban 25°C.


Willem Kempen | G’n teken van dringendheid oor kritieke Agoa

Uitsluiting van die begunstigde posisie wat Suid-Afrika danksy die Amerikaanse African Growth and Opportunity Act (Agoa) geniet, is nie ’n vae moontlikheid of ’n leë dreigement nie. Dis ’n werklike en onmiddellike gevaar, en as dit gebeur, gaan ons almal die prys betaal.

Die Agoa-wetgewing stel dit as ’n duidelike vereiste dat ’n begunstigde land nie betrokke mag raak by aktiwiteite wat Amerikaanse nasionale veiligheid of buitelandse belange ondermyn nie. Dis beswaarlik moontlik om aan n beter voorbeeld van sodanige ondermyning te dink as Suid-Afrika se geheul met Rusland te midde van die biljoene dollar wat die VSA aan Oekraïne gee om hulle land te verdedig.

n Invloedryke groep van vier Amerikaanse politici van albei die groot partye het op 9 Junie n brief aan Antony Blinken, Amerikaanse minister van buitelandse sake, en ander senior regeringsleiers geskryf waarin hulle ernstige bedenkinge uitspreek oor Suid-Afrika se aanbieding van die Agoa-forum later vanjaar.

Die brief, waaroor The New York Times ook vandeesweek berig het, is onderteken deur:

* Die Demokraat Chris Coons, onder meer voorsitter van die senaat se subkomitee oor buitelandse sake en verwante programme. Hy is bekend as n vurige teenstander van apartheid wat in sy jeug onder meer as n vrywilliger vir die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke gewerk het.

* Die Republikein James Risch, senior lid van die senaatskomitee oor buitelandse betrekkinge;

* Die Republikein Michael McCaul, voorsitter van die Huis van Verteenwoordigers se komitee oor buitelandse betrekkinge; en

* Die Demokraat Greg Meeks, senior lid van die Huis se komitee oor buitelandse betrekkinge.

Vier senior politici, dus, en al vier goed ingelig oor Afrika en Suid-Afrika. Hulle noem in hulle brief die bekendste voorbeeld van Suid-Afrika se dubbelsinnige posisie jeens Rusland: die Lady R; die gesamentlike militêre oefening met Rusland en China; die Russiese militêre vragvliegtuig wat toegelaat is om hier te land; die geskarrel om Vladimir Putin nie te hoef te arresteer as hy hierheen sou kom vir die Brics-beraad nie.

Hulle skryf: “We strongly support this program [Agoa], and support its reauthorization well ahead of its expiration in 2025.”

Maar ook: “If South Africa continues to demonstrate support for Russia in its unlawful invasion of Ukraine, then hosting the forum in another country in Sub-Saharan Africa would send a clear and important message that the United States continues to stand with Ukraine and will not accept our trading partners provision of aid to Russias ongoing and brutal invasion.”

By implikasie: Die skuif van die forum na n ander land is n voorlopige straf, maar erger wag op julle as daar nie bitter vinnig n verandering van houding intree nie.

Intussen is dit nou al meer as ses maande sedert die Lady R in die Simonstadse vlootbasis vasgemeer het, en meer as twee weke sedert pres. Cyril Ramaphosa 'n onafhanklike paneel aangestel het om dit te ondersoek. En hoe langer ons op dié bevinding moet wag, hoe sterker gaan die vermoede groei dat Suid-Afrika homself n skoot deur albei knieë toegedien het.


Jy sal nie glo wat kos ’n tow bar deesdae op Alpha Centauri nie

Ek oorweeg dit sterk om ’n ambassadeur te word.

Nie een van daai ambassadeurs wat hulle tyd deurbring deur elke aand van die week effens te min te drink saam met die ambassadeurs van ander lande wat ook effens te min drink nie, maar wel ’n ambassadeur vir ons aardlinge se eerste formele kontak met intelligente wesens van elders in die veelal.

Ek het die noodsaak van so ’n posisie besef nadat ek Maandag ’n taamlik dramatiese aanbieding deur Steven Greer van die Center for the Study of Extraterrestrial Intelligence (CSETI) vanuit die Amerikaanse nasionale persklub in Washington DC op YouTube gevolg het. Greer se aanbieding was die hoogtepunt van wat geadverteer is as “An Intensive 2-Day Conference and DC Screening of The Lost Century, Followed By The Disclosure 2.0 National Press Club Event”.

Ek moet bieg ek weet nie wanneer Disclosure 1.0 was en of dit ewe dramaties was nie, maar al die onthullings die laaste jare van die Amerikaanse en ander weermagte se geheime dokumente oor buiteruimtelike besoekers was genoeg om my nuuskierig te maak oor die tweede poging.

In elk geval, Greer se Disclosure 2.0 volg ’n week nadat ene David Grusch, na wie sommige Amerikaanse media as ’n “UFO whistleblower” verwys, glo met nuwe getuienis vorendag gekom het wat bewys dat die Amerikaanse regering al dekades lank weet dat “we are not alone”, en selfs al kontak met intelligente wesens van elders gehad het. Grusch het nou ’n formele fluitjieblaser-klag ingedien omdat hy die slagoffer is van “vergelding” oor inligting wat hy glo aan die inspekteur-generaal van die Amerikaanse inligtingsgemeenskap bekend gemaak het.

Soos Grusch is Greer se eintlike groot missie nie om te onthul dat sulke wesens inderdaad ons planeet besoek nie, maar dat ’n geheimsinnige “black state” (met ’n enorme begroting) binne die Amerikaanse regering bestaan wat alles wat hulle van die onderwerp weet van die Kongres wegsteek (wat onwettig sou wees) en basies maak en breek en steel en lieg en moor soos hulle lus kry om alles dig te hou. Selfs opeenvolgende Amerikaanse presidente sedert Eisenhower het nie geweet van dié superkomplot onder hulle neuse nie.

(Wat ook dalk verklaar waarom geen UFO files in Trump se stort in Mar-a-Lago gevind is nie.)

Maar niks hiervan is so souserig soos al die stories oor die besoekers self nie. Almal van Mussolini tot by die Vatikaan (wat rakke en rakke vol lêers oor die besoekers in die pous se kluis of iewers bewaar) duik iewers op. Ook Suid-Afrika, wat die ET’s se aandag in 1979 getrek het met daai vreemde dubbele ligflits naby die Prins Edward-eilande: Dis nie net die Amerikaners wat vermoed dit was ’n geheime kernbomtoets saam met Israel nie ...

En wat gaan regtig alles aan by die Sanae-basis in Antarktika?

Sommige van die besoekers is glo so bedrewe met die manipulasie van tyd en ruimte dat hulle vaartuie groter aan die binnekant as aan die buitekant is, wat dalk ook verklaar waarom niemand nog ooit ’n UFO met ’n Ventertjie agteraan gerapporteer het nie – te veel bagasie is selfs op intergalaktiese reise nie ’n probleem nie.

(Terloops, baie van ons verkies deesdae die meer inklusiewe term UAP, oftewel Unexplained Anomalous Phenomenon.)

Dis sulke moontlikhede wat my laat dink ek moet ook van Greer se aarde-ambassadeurs word: “To support the work of disclosure and peaceful contact.”

Ek was vir ’n paar oomblikke hoopvol dat dié ambassadeurskap dalk met ’n bo-aardse salaris gepaard gaan, maar helaas moet ’n mens betaal vir die voorreg: Dit kos $5 per maand om ’n Star System-ambassadeur te word, $19 per maand vir Galactic, en $49 per maand vir Cosmic.

Hopelik is daar darem iewers ’n planeet waar ek dié soort uitgawes van inkomstebelasting kan terugeis.


Hier is maar een van die gesprekke waarvoor jy NOU AL moet bespreek by ons VWB-boekefees op Clarens – ons geliefde Hertzogpryswenner lees haar gedigte voor soos niemand haar dit kan nadoen nie.

Kliek hier vir die program en kliek hier om kaartjies te bespreek. 


Wenfoto

In die wieg van die aalwynboom
rus die sekelmaan
met gestadigde sluiterspoed
gevries op die einder
mik 'n kaktus sy vredesteken
na die môrester

– Celesté Fritze
(Uit Verdeelde stand | Divided Stance)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.