Oekraïne: Dit was toe nooit ’n Afrika-inisiatief nie

MAANDAG MET MAX

Oekraïne: Dit was toe nooit ’n Afrika-inisiatief nie

Pres. Cyril Ramaphosa se hantering van die oorlog in Oekraïne was van die begin af ’n strategiese flater, maar nou raak dit katastrofies, skryf MAX DU PREEZ, met die nuus dat die hele besoek aan Oekraïne en Rusland deur Vladimir Putin-vertrouelinge georkestreer is. (Daar is ook soos gewoonlik sewe goed wat jy vandag wil weet.)

Image: ANGELA TUCK

DAAR is nou goeie inligting dat Ramaphosa se besoek saam met ander staatshoofde aan Kyiv en Sint Petersburg glad nie ’n Afrika-inisiatief was nie, maar dié van twee skaduagtige biljoenêrs in Vladimir Putin se dampkring: Jean-Yves Ollivier en Ivor Ichikowitz.

Boonop blyk dit nou dat die gehuurde vliegtuig wat 100 soldate en polisiemanne en ’n handvol joernaliste vervoer het wat saam met Ramaphosa sou reis, op die Chopin-lughawe teruggehou is omdat daar nie dokumentasie vir onder meer kiste met langafstand-skerpskuttergewere was nie, berig die Sunday Times. Sulke wapens word in oorlogvoering gebruik en nie vir beskerming nie.

Pieter du Toit van News24.com wat op die vlug was, berig dat die lugmag die polisie gewaarsku het dat hulle dokumente nie voldoende was nie, maar die hoof van die presidensiële beskermingseenheid, genl. Wally Rhoode, het op ’n perskonferensie gesê dit was weens Pole se rassisme en sabotasie. Die Poolse regering het dit vererg ontken.

Jean-Yves Ollivier
Jean-Yves Ollivier

Jean-Yves Ollivier, hoof van die Brazzaville-stigting in Londen, het bande met apartheid-Suid-Afrika en die Bell Pottinger-groep gehad en was ’n konsultant vir die Russiese kernkragmaatskappy Rosatom, met wie Jacob Zuma ’n ooreenkoms aangegaan het wat later deur die hof ongeldig verklaar is. Hy was ’n vriend van Pik Botha en het ’n groot rol gespeel om die weermagkaptein Wynand du Toit in 1987 uit ’n Angolese tronk vrygelaat te kry.

Sy “goeie vriend” Ivor Ichikowitz is die eienaar van die Suid-Afrikaanse Paramount Group, wat in die wapen- en verdedigingsbedryf aktief is en al groot bedrae geld aan die ANC geskenk het. ’n Woordvoerder van sy familiestigting in Suid-Afrika, Nico de Klerk, het aan die Kanadese koerant The Globe and Mail bevestig dat Ichikowitz die Brazzaville-stigting met die vredesinisiatief bygestaan en die deelname van ses Afrikastate “verseker” het. 

(Daar was gister bespiegeling dat dit dalk van Ichikowitz se maatskappy se wapentuig was wat in Desember in die Simonstadse vloothawe op die Russiese vragskip die Lady R gelaai is. Hy verkoop wapens aan Saoedi-Arabië en verskeie Afrikastate. Paramount maak onder meer bewapende hommeltuie.)

Die eerste vermoede dat Ollivier agter die besoeke aan Oekraïne en Rusland sit, het gekom toe hy (met Ichikowitz op die agtergrond) ’n videokonferensie met press. Macky Sall van Senegal, Yoweri Museveni van Uganda, Azali Assoumani van die Comore-eilande, Hakainde Hichilema van Zambië, Abdel Fattah al-Sisi van Egipte, en Ramaphosa gehad en Museveni beeldmateriaal daarvan op Twitter geplaas het.

Die Russiese nuusagentskap Tass het op 17 Mei berig dat Ollivier die presidente se besoek reël. Tass haal Ollivier aan: “It has been agreed with the president [of Russia, Vladimir Putin] that the visit should take place before the summit between Russia and Africa at the end of July. So I figure it should take place between 15 June and 15 July, not later.” 

Ivor Ichikowitz
Ivor Ichikowitz

Volgens die Russiese publikasie Embassy Life het Ollivier vier weke gelede die Russiese adjunkminister van buitelandse sake en Putin se Afrika-man, Mikhail Bogdanov, in Moskou gaan sien. 

Newsweek haal Ollivier aan dat hy met verwysing na die presidente van Suid-Afrika, Senegal, Uganda, Zambië, die DRK en Egipte gesê het: “Most of them were my personal friends. Why not have a peace mission, an independent peace mission lead by heads of state representing Africa? And we started negotiating with Moscow and Kyiv about it.” 

Ollivier (78) het sy stigting na Brazzaville genoem omdat hy deel was van die onderhandelinge in die Kongo 35 jaar gelede wat die onttrekking van die Kubaanse troepe help fasiliteer het.

Hy was ’n middelman wat Frankryk se wapensanksies teen apartheid-Suid-Afrika help breek het en was ’n aandeelhouer in die wapenvervaardiger Thompson CSF, wat later Thales geword het en nou saam met Jacob Zuma weens korrupsie aangekla word.

Tim Bell, stigter van die skakelmaatskappy Bell Pottinger, wat deur Zuma en die Gupta-broers in ’n propagandaveldtog gebruik is, was tot kort voor sy aftrede ’n trustee van die Brazzaville-stigting.

Luidens ’n verslag van die Waarheid-en-versoeningskommissie is Ollivier deur die apartheidsregering betaal om hulle belange in Franssprekende Afrika te bevorder.

Volgens die publikasie Swiss Leaks is een van Ollivier se HSBC-bankrekenings gekoppel aan “a former member of the apartheid era SADF”.

Jean-Yves Ollivier en Ivor Ichikowitz by ’n spesiale vertoning van Plot for Peace by The Curzon Mayfair op 9 Desember 2013 in Londen, Engeland.
Jean-Yves Ollivier en Ivor Ichikowitz by ’n spesiale vertoning van Plot for Peace by The Curzon Mayfair op 9 Desember 2013 in Londen, Engeland.

Ollivier se stigting het in 2020 ’n vennootskap met die Dialogue of Civilizations in Berlyn gesluit wat aan Vladmir Yakunin, ’n Putin-oligarg wat die hoof is van Rusland se RZD-spoorvervoermaatskappy, behoort. Die stigting het toe gesê die twee instellings “share many of the same objectives”.

Ollivier dryf al dekades lank handel in Afrika en onderhandel tussen strydende groepe. Hy is ’n persoonlike vriend van Kongo se kleptokratiese president, Denis Sassou Nguesso, en het aandele in myne en ’n selfoonmaatskappy vir sy dienste gekry.

Ichikowitz se Paramount-groep in Rusland spesialiseer in in- en uitvoere uit Rusland. 

Ramaphosa se hartlike ontvangs in Rusland, insluitende ’n dubbeldruk van die kiemfoob Putin, was in sterk kontras met die kille ontvangs in Kyiv.

Is die hele inisiatief deur die Kremlin georkestreer om sy eie belange te dien? Dit lyk nie meer onmoontlik nie, maar heelwat verdere ondersoek sal nog gedoen moet word.


1. Die vervoer- en logistieke kenner prof. Jan Havenga het aan Rapport gesê Transnet se vernielde spoorweginfrastruktuur kos die Suid-Afrikaanse ekonomie gemiddeld sowat R1 biljoen per dag aan bykomende uitgawes en verlore inkomste. 

2. Suid-Afrika se enigste masjien wat rybewyskaarte kan druk, is herstel en weer in gebruik, het die departement van vervoer gesê. Die masjien was die afgelope drie weke onklaar.

3. Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, het gister verdere gesprekke in Beijing gehad met sy Chinese eweknie, Wang Yi, in 'n poging om die spanning tussen die twee lande te laat afneem. Hulle het sake soos handel, menseregte en Taiwan bespreek.

4. Minstens 41 mense, onder wie verskeie kinders, is dood in 'n aanval Saterdag op 'n skool in die dorp Awach in die noorde van Uganda. 'n ISIS-verwante rebellegroep word van die aanval verdink, het CNN berig.

5. Die polisie in Oostenryk het Saterdag 'n aanval op Wene se jaarlikse Pride-parade gefnuik en drie verdagtes met beweerde bande met Islamitiese ekstremisme in hegtenis geneem. Die drie, van onderskeidelik 14, 17 en 20 jaar oud, is Oostenrykse burgers van Bosniese en Tsjetsjniese oorsprong. Aanvalsgewere en 'n byl is onder meer by hulle gevind.

6. Duisende mense het uit noodlenigingskampe in die weste van Indië begin terugkeer huis toe namate die sikloon Biparjoy begin bedaar het. 

7. Die Suid-Afrikaner Brad Binder kon geen punte aanteken in gister se Duitse MotoGP nie nadat hy 11 rondes voor die einde en in die derde plek op draai agt van die Sachsenring geval het. Jorge Martin was eerste, Francesco Bagnaia tweede en Johann Zarco derde. Binder is nie ernstig beseer nie.


Die kouefronte gaan gepaard met waarskuwings oor sterk wind en hoë golwe langs die Wes-Kaapse kus; swaar reën wat tot oorstromings kan lei oor die Kaapse Wynlande en die Overberg; asook sterk wind oor die grootste deel van die Wes-Kaap, suide van die Noord-Kaap en weste en sentrale gebiede van die Oos-Kaap. Daar is ’n hoë brandgevaar in die noordooste van die Noord-Kaap, asook dele van Noordwes en die Vrystaat. Dis vanoggend mistig oor dele van KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 23°C • Mahikeng 25°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 14°C • Durban 27°C • Kimberley 27°C • Bloemfontein 19°C • Polokwane 24°C • Upington 18°C • Gqeberha 19°C • Oos-Londen 22°C.


The New Remorse

The sin was mine; I did not understand.        
So now is music prisoned in her cave,
        
Save where some ebbing desultory wave
Frets with its restless whirls this meagre strand.
And in the withered hollow of this land        
Hath Summer dug herself so deep a grave,
        
That hardly can the leaden willow crave
One silver blossom from keen Winter’s hand.
But who is this who cometh by the shore?
(Nay, love, look up and wonder!) Who is this        
Who cometh in dyed garments from the South?
It is thy new-found Lord, and he shall kiss        
The yet unravished roses of thy mouth,
And I shall weep and worship, as before.

- Oscar Wilde


Watter rol speel 'n boekomslag in die sukses en verkope van die boek? Wie besluit daaroor, en watter faktore neem hulle in ag? Diane de Beer, kunsjoernalis en blogger, gesels met die kunstenaars Hanli Deysel en Angela Tuck. Moenie hierdie gesprek misloop nie! 

Bespreek nou jou kaartjies by Quicket en kom kuier saam!

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.