Ongeliefde ouditeure en ander maniere om jou hande skoon te hou

WOENSDAG MET WILLEM

Ongeliefde ouditeure en ander maniere om jou hande skoon te hou

Swaarder strawwe vir ouditeure kan dalk help dat bedrog en korrupsie gouer op die lappe kom, hoop WILLEM KEMPEN. Hy wonder ook of die wêreld die volgende pandemie anders sal hanteer as die vorige een. En daar is sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 21 Junie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre


1. ’n Jaar lange ondersoek deur die BBC se World Service het ’n internasionale netwerk ontbloot wat langstert-kuifapies gemartel en doodgemaak het sodat hulle geld op YouTube en elders daaruit kon maak. Kliënte van so ver as die VSA en Brittanje het glo geld aan veral Indonesiërs betaal om dié gruweldade te pleeg en te verfilm.

2. Verskeie organisasies het gevra vir strenger regulering nadat navorsers aan Cambridge en die California Institute of Technology verlede week in Boston besonderhede gegee het van hoe hulle stamselle gebruik het om strukture in ’n laboratorium te skep wat soos mens-embrio’s lyk. Die doel van dié navorsing is om ’n manier te vind om onder meer die oorsake van geboortedefekte en genetiese afwykings te identifiseer sonder om werklike mens-embrio’s te gebruik.

3. Suid-Afrika se Banyana Banyana is hard aan die voorberei vir Fifa se Wêreldbekertoernooi vir vroue wat oor ’n maand in Australië en Nieu-Seeland begin. Die 54ste-gekeurde Banyana sal hulle veldtog teen Swede in Wellington afskop. 

4. Die Franse polisie het gister toegeslaan op die hoofkantoor van die organiseringskomitee van volgende jaar se Olimpiese Spele in Parys. Die rede vir die klopjag was nie onmiddellik duidelik nie, maar die komitee “werk ten volle met die ondersoekers saam om hul ondersoek te vergemaklik”.

5. Wanneer Madoda Mxakwe se vyfjaarkontrak by die SAUK op 30 Junie verstryk, sal hy die eerste uitvoerende hoof die afgelope 15 jaar wees wat sy volle termyn in dié pos uitdien. Die SAUK het gister gesê Nada Wotshela, tans uitvoerende hoof van radiodienste, sal ná Mxakwe se vertrek as uitvoerende hoof waarneem.

6. Die hooggeregshof in Bhisho het ’n dringende bevel toegestaan aan Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, wat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) verbied om voort te gaan met ’n ondersoek na die kwalifikasies wat hy aan die Universiteit van Fort Hare behaal het totdat ’n geregtelike hersiening afgehandel is van die proklamasie wat die ondersoek gemagtig het.

7. Busisiwe Mkhwebane, geskorste openbare beskermer, sê dit is “blote toeval” dat een van die sogenaamde ekonomiekenners wat sy geraadpleeg het oor haar onregmatige bevel in 2017 dat die parlement die Reserwebank se mandaat wysig, vir die Staatsveiligheidsagentskap gewerk het. Dié “kenner” was boonop die Holocaust-ontkenner Stephen Goodson.


Mpumalanga en Limpopo is vanoggend mistig langs die platorand en kan ligte reën kry. Dis ook deels bewolk. Ryp kan vanoggend verwag word in Gauteng en Noordwes, asook die Noord-Kaap en die Vrystaat, waar dit ook deels bewolk kan wees. Bewolkte toestande met moontlike reën word in sowel die Wes- as die Oos-Kaap verwag. KZN kan ook gedeeltelik toetrek.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 19°C • Mahikeng 22°C • Mbombela 20°C • Bloemfontein 17°C • Polokwane 22°C • Kimberley 17°C • Upington 20°C • Kaapstad 15°C • Gqeberha 17°C • Oos-Londen 19°C • Durban 22°C.


Willem Kempen | ’n Bietjie aansporing om nie anderpad te kyk nie

Die soort grootskaalse bedrog en diefstal waaraan Suid-Afrika gewoond geraak het, is gewoonlik nie moontlik sonder dat die boeke iewers bekook word om alles in orde te laat lyk nie. En om die syfers te laat lieg, het jy boekhouers en ouditeure nodig wat óf self korrup is, óf nie besef wat regtig aangaan nie, óf te bang is om die alarms te laat afgaan.

Die wysigings aan art. 26 van die Wet op die Ouditeursberoep wat pas bekragtig is, maak drasties swaarder strawwe moontlik vir ouditeure onder wie se neuse bedrog en korrupsie plaasvind. Individuele ouditeure en firmas wat ongerymdhede miskyk of dit nie aanmeld nie, kan nou beboet word met bedrae van tot 125 keer wat voorheen moontlik was.

Individuele ouditeure wat skuld erken, kan met tot R5 miljoen per oortreding beboet word. As hulle wag totdat hulle in ’n tugverhoor skuldig bevind word, styg die maksimum boete tot R10 miljoen, met ’n ooreenstemmende styging as dit ’n firma is wat ter sprake is. Dit is bo en behalwe enige strafregtelike vervolging wat dalk ook op hulle wag.

Organisasies so uiteenlopend soos Cosatu en die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure steun die nuwe maatreëls. Dit sal nie net groter druk op ouditeure plaas om hulle werk behoorlik te doen nie, maar dit ook vir fluitjieblasers soos Babita Deokaran makliker maak om hulp te kry wanneer hulle onreëlmatighede vermoed.

Ouditeure is nie veronderstel om gelief te wees binne ’n organisasie wie se boeke hulle hanteer nie; inteendeel, ook eerlike werknemers gaan dikwels geïrriteerd wees in die wete dat daar later vrae kan wees oor selfs die onskuldigste afwyking van die reëls. Maar die alternatief is veel erger: dat almal weet hulle kan met enigiets wegkom.

Dis naïef om te dink dat beter ouditeure in die pad sou gestaan het van ’n Salim Essa of alles wat by organisasies soos die Inkomstediens, Transnet en Eskom gebeur het, maar wie weet, dalk gaan sulke dinge voortaan net ’n bietjie gouer op die lappe kom.


Die sterkste konsensus: Jy moet jou hande skoon hou

Wanneer laas het jy iemand hulle hande sien skoonmaak voor hulle by 'n winkel ingaan?

Hier en daar sien jy nog by 'n ingang een van daai handewas-kontrepsies wat nie so lank gelede nie met Covid nog verpligtend was, maar die meeste van hulle lyk deesdae of hulle eintlik nog net daar staan as 'n soort monument aan ons verlossing van die pandemie. As 'n herinnering aan die tyd toe jy dit nie van die een kant van die mall tot by die ander kon gemaak het sonder om 17 keer te moet “saniteer" nie.

Maar, agterna beskou, was dít nie die enkele sinvolste van al die openbare maatreëls teen die coronavirus nie? Ek raai kiemvrye hande het meer mense gesond gehou as minstens daai vuil stukkies lap wat sommige siele as “maskers" so skuins oor die helfte van een neusgat gedra het.

(En skoon hande gaan jou vandag nog beskerm teen al die ander kieme wat nog steeds oral om ons is.)

Een van die gevaarlikste verskynsels van die pandemie was die gaping wat ontstaan het (of dalk net sigbaarder geword het) tussen een of ander vae en vloeibare “konsensus" aan die een kant, en aan die ander kant 'n hele spektrum van opinies wat gebou is op enigiets van ingeligte skeptisisme tot by volslae kranksinnigheid.

Dis die ander ding van Covid: Ons is van die begin af in kampies ingedwing. Eers was dit óf 'n regte krisis, óf dit was glad nie 'n krisis nie en als net een groot komplot. Mettertyd het die vrae komplekser geword, maar die kampies het min gebly. En hoe meer verwoesting die virus gesaai het, hoe moeiliker het dit geword om soms toe te gee dat 'n ander kamp dalk ook 'n punt beet het.

Wat my laat wonder: As die volgende pandemie môre sou uitbreek, hoe gaan ons – en ek bedoel die hele wêreld – dit anders hanteer? Gaan dit volgende keer gouer duidelik wees na wie om te luister, of wat die beste manier is om 'n pasiënt te behandel, of hoe om 'n sinvolle balans tussen mediese en ekonomiese realiteite te vind?

Of gaan ons weer maande en jare deurbring met 'n gestry oor die Sweedse versus die Italiaanse model of presies hoe immuniteit werk of watter soort masker die beste is of wie se skuld alles was om mee te begin? Of oor die geloofwaardigheid van Donald Trump of Antony Fauci of Bill Gates of die Wêreldgesondheidsorganisasie of die Chinese Kommunisteparty? Gaan selfs net een kenner van openbare gesondheid iewers in die wêreld erken dat hulle verkeerd was oor hoe die pandemie hanteer moet word?

Die grootste ironie van Covid is dat dit nog net in einste China is waar die siekte steeds 'n probleem is – dieselfde land wat die res van die wêreld help oortuig het dat inperkings 'n noodsaaklike deel van die oplossing was, is steeds nie self ontslae van die probleem nie.

En tot vandag toe weet die publiek nie vir seker hoe die virus daai eerste keer die sprong gemaak en 'n mens geïnfekteer het nie. Dalk, as ons dít eers weet, gaan daar volgende keer minder agterdog en vinniger oplossings wees.

En ons weet mos daar gáán 'n volgende keer wees.


Kom luister hoe ons letterkundekenner, Louis Gaigher, met ses plaaslike boekmense gesels oor Clarens en lees.

Kliek hier vir die program en kliek hier om kaartjies te bespreek. 


It was deep April, and the morn

It was deep April, and the morn       
Shakespeare was born;
The world was on us, pressing sore;
My Love and I took hands and swore,  
Against the world, to be
Poets and lovers ever more,
To laugh and dream on Lethe’s shore,
To sing to Charon in his boat,
Heartening the timid souls afloat;
Of judgment never to take heed,
But to those fast-locked souls to speed,
Who never from Apollo fled,
Who spent no hour among the dead;         
Continually
          
With them to dwell,
Indifferent to heaven and hell.

– Michael Field

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.